Gebed vir Suid-Afrika
Vader
wat in die hemel is,
laat u naam
geheilig word
deur elke moffie
in die Kaap.
Laat u koninkryk kom
op die rûe van swart beeste
uit Van Rensburg-visioene.
Laat u wil geskied
met traangas
in Distrik Ses,
om plek te maak
soos in die hemel,
net so ook
op aarde.
En gee ons vandag
ons daaglikse brood
gebedel of gesteel
in Adderleystraat,
want u vergewe ons skulde
al het ons
ons skuldenaars begrawe.
En lei ons
nie in versoeking
met nuwe huise nie,
maar verlos ons
van die bose minderhede
wat aan u behoort,
die koninkryke
van grys generaals,
die mag
van wit preke
wat gee
en gee
en gee …
aan u die heerlikheid
tot in ewigheid.
– Amandla!
![]() |



