GEBED VIR CORLIE (WAT KANKER HET)

Foto: Canva
My vriendin het ’n donsiekop waarop trotse haartjies loer, ragfyn
kanker het gekom, maar U weet van dit
U weet van die huil en die onseker en van die baie pyn
Meeste van alles weet U van die bid
U weet alles want Corlie se hart is nie versteek nie
Ek het gevra hoekom en sy het gesê hoekom nie
sy is sterk en ek is vergeleke in geloof so klein en swak
wanneer ek wonder is dit net die noodlot wat met ’n dobbelsteen bie
kom sy en lag en gee en offer en dis asof haar moed net nooit sak
ek gaan jok as ek sê ek was nie kwaad nie
Vader, maak my sterk in geloof, het ek al so baie gebid
dan kyk ek na haar en raak bang
want is die antwoord dat geloof in swaarkry lê, in onsekerheid sit?
Sal ek U nog kan dank in soveel seer met vertroue en met sang?
Corlie het my geleer al is die note vals en die stem bewe, God hoor die hart
My vriendin se hare en geloof en wysheid groei
elke dag is daar meer en al is dit hoe swaar hoor ons haar juig
daar is vreugde en opregte geloof wat soveel kleingelowiges om haar boei
En U kom soos eeue terug en bring genesing en verlossing en ons wil getuig!
Dankie. Dankie dat sy haar kinders hierdie feestyd kan vashou – U is goed.


Kommentaar
Reinet, jou gedig is so raak! Ons is dankbaar dat ons ook deel van Corlie se lewe kan wees en by haar kan leer.
Hou moed, Here stort U seën van genesing oor Corlie dat sy lopende wonderwerk sal wees🤲🤲
Vergroot haar grondgebied🤲🤲
Neem haar en haar gesin, familie onder U beskerming🤲🤲
Weerhou haar van enige onheil🤲
Sodat geen smart haar sal tref nie, Amen. God never leaves or forsake you.