Geagte Jahwe deur Willie Esterhuyse

  • 7

geagtejahweGeagte Jahwe

Die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse se jongste boek, Geagte Jahwe, is ’n kombinasie van ’n persoonlike en historiese verhaal, het hy tydens die bekendstelling van sy boek by D’Aria-wynlandgoed in Durbanville gesê.

Dit was nie vir hom ’n maklike genre om in te skryf nie, sê hy. Die inspirasie vir sy boek, wat deur Naledi uitgegee word, het hy op die stormagtige klein eiland Malta gekry. Dis daar waar hy met Jahwe begin korrespondeer en 11 briewe aan hom geskryf het. Malta se geskiedenis word gekenmerk deur gewelddadige oorloë waar mense mekaar by meer as een geleentheid grusaam doodgemaak het in die naam van godsdiens.

Esterhuyse het die gaste met aangrypende foto’s op ’n toer deur Malta geneem om die agtergrond van sy boek te skets en die eiland se gewelddadige geskiedenis met hulle gedeel.

Hierdie en ander gebeure op sy lewensreis het hom op ’n spirituele reis geneem wat sy godsbeeld dramaties verander het sedert die dae toe hy as jong tokkelok by die kweekskool op Stellenbosch aangekom het om teologie te studeer.

Mense se godsbegrip het deur die eeue heen geëvolueer, het Esterhuyse gesê. Ook sy eie godsbegrip het oor die jare wesenlik verander.

Hy het weggestap van die geloof in ’n persoonlike skeppergod. Vandag beskou hy “God” as ’n  metafoor vir die Onsienbare wat mens nie in woorde of dogmatiese geloof kan omskryf nie. Dit is nie vir hom belangrik om God as ’n persoon te sien nie, sê Esterhuyse. As ander mense hieroor met hom verskil, is dit goed so en hy respekteer dit, maar hy tree nie meer in debat daaroor nie. Dis húlle saak.

Untitled-14

Wat wel vir hom belangrik is uit die tradisie waaruit hy kom, is Jesus se boodskap van vrede op aarde. “Of hy nou uit ’n  maagd gebore is of nie, maak nie vir my saak nie. Die mites van maagdelike geboortes kom in elke geval al van lank voor Jesus se tyd.”

Wat vir Esterhuyse belangrik is in Jesus se boodskap, is die etiese beroep wat hy op mense doen om vrede op aarde te probeer bewerkstellig – die hiermaals nou en hier en nie die hiernamaals na die dood nie.

Die Ou Testament bekyk hy vanuit twee perspektiewe. “Die een is die gewelddadige aard daarvan, waarmee ek my glad nie kan vereenselwig nie. Dit verskil geensins van die geweld wat mens ook in die Koran teëkom nie,” het hy gesê.

Die tweede perspektief van die Ou Testament wat hom fassineer, is die profetiese deel daarin, die dele waar profete onbevrees opstaan teen die mag van konings en hulle teen ongeregtigheid verset. “Waar is die hedendaagse profete?” wou hy weet. “Waar is ’n Martin Luther King en ’n Gandhi? Ons het nie meer sulke mense nie.”

Op ’n vraag uit die gehoor hoe mens dan jou kinders moet opvoed rakende geloof en die Bybel het hy gesê hy beskou nie die Bybel of enige ander boek as ’n heilige boek nie. Maar vir hóm is die Bybel heilig weens die volheid daarvan. “Die verhale in die Bybel kan wonderlike lewenslesse wees vir kinders sodat hulle kan verstaan waaroor universele waardes behoort te gaan. Baie van daardie verhale het ook nie hulle oorsprong in die Bybel nie, maar is veel ouer as die Bybelse verhale.

Untitled-13

D’Aria se wynmaker, Rudi von Waltzleben, het hulle nuutste wyn, The Songbird sauvignon blanc van 2015, wat aan die einde van die maand amptelik beskikbaar sal wees, aan die gaste bekendgestel. Hulle was van die eerste mense wat daarvan sou proe. Vorige oesjare van die wyn het reeds verskeie toekennings ontvang. Volgens Rudi hou ook vanjaar s’n groot belofte in.

  • 7

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Waarom King en Gandhi vir verering uitsonder? Albei was so hoogs onvolmaak (bv moreel) dat net oorverligtes hulle tot helde kan verhef.

  • Kobus Engelbrecht

    Jean Oosthuizen skryf: Vandag beskou hy (dis nou Willie Esterhuyse) “God” as ’n metafoor vir die Onsienbare wat mens nie in woorde of dogmatiese geloof kan omskryf nie. Maar wat beteken dit nou eintlik? Dat 'n persoonlike skeppergod oorbodig geraak het en dat die woord ''God'' (met 'n hoofletter) maar uit ons woordeskat kan verdwyn. Dat ''God" eintlik maar net 'n aspek van die werklikheid is wat ons nie tans met behulp van die wetenskaplike metode kan verstaan nie, maar later wel; of dalk nooit. Nou stel dit dan so! Waarom dit steeds ''God'' noem? Waarom nie bloot onderskeid maak tussen die verstaanbare werklikheid (danksy die wetenskap) en die aspek (of aspekte) van die werklikheid wat nog vir ons duister is (misterieus as jy wil) sonder dat ons enigsins die woord ''God'' hoef te gebruik, letterlik of metafories. God (die transendentale wese) is dood, het Nietzsche reeds meer as 'n eeu gelede verklaar. Dit is tyd dat die woord "God'' ook dood verklaar word (en ons ander eenvoudiger en verstaanbare woorde gebruik om ons bedoeling te kenne te gee - dit kan tog nie so moeilik wees nie!) Kom ek probeer: Ek glo nie meer in 'n persoonlike skeppergod nie. Ek glo dat die werklikheid - materie en energie (soos ons dit met behulp van die wetenskap ten dele ken) al is wat daar is. As daar iets meer is, dan sal die wetenskap dit vir ons ontsluit, nie metafisiese bespiegeling nie! En selfs met so 'n werklikheidsbeskouing kan ons steeds dinge soos Skoonheid, Waarheid en Geregtigheid najaag, asook vrede en liefde. Ons hoef nie 'n godheid te postuleer nie - letterlik of metafories!

    • Waarmee Kobus in sy redenasie moet rekening hou, is om te beweer dat "God dood is" 'n bewering is wat impliseer dat hy geweldig baie moet weet. Hoeveel sou daar gevra kon word. Kom ons hou dit eers net op 'n materiële vlak. Kobus sou die volle fisiese universum moes kon ondersoek het om hom een stap nader aan sy gevolgtrekking te bring. Maar, is dit enigsins moontlik? Wie kan immers die omvang van die fisiese universum in getalle uitdruk, bv x kubieke kilometer. Sodra jy immers jou afbakening gedoen het, is daar altyd nog gedeeltes van die universum wat opdoem wat anderkant jou afbakeningsgrense geleë is - en dit hou aan ad infinitum. Gevolglik moet ons erken dat ons nie kan weet wat daar alles is en nie is nie. Ook behoort dit baie duidelik te wees dat hierdie nie 'n tipe probleem is wat deur die "wetenskap" opgelos kan word nie. Veel eerder moet ons begin dink aan dit wat ek ons "kognitiewe geslotenheid" wil noem. Dit impliseer dat baie dinge vir ons altyd 'n misterie sal bly. Ek staan gevolglik 'n mistisistiese benadering tot die werklikheid voor.

  • Elna Steenkamp

    Ek sou net graag een vraag wou stel aan Prof Esterhuyse:
    Waar plaas hy satan in die raamwerk en watter metafoor is hier ter sprake?
    Geestesongesteldheid?
    Afhanklikheid van dwelms?
    Evolusie vind plaas ja op elke terrein van die lewe maar die realiteit van God is so ver bo ons gedagtes en denke dat ek geen twyfel daaroor het dat El Shaddai steeds vandag van toepassing is ...

  • As Christus nie 'n werklikheid is nie en werklik gedoen het wat in die Bybel opskrif geplaas word nie,dan is alles te vergeefs en kan ons net sowel al die kerkdeure sluit, want dan is geloof in die versoeningswerk van Christus soos tyd 'n illusie.

    Maar geloof kom nie deur menslike oortuigings en skrywes nie en die wat dit verstaan het 'n reddingsboei in die midde van alle verwarde denke.

  • Willie Esterhuyse het omvattende navorsing gedoen , lees maar ook "God en die Gode van Egipte" en dit kon nie anders as om hom persoonlik ander insigte te gee nie. Ook ek het met die lees daarvan besef dat geen mens God ooit in sy volheid sal kan verstaan nie. En hoe goed is dit nie! God openbaar homself aan elke mens op Sy manier en op die vlak waar daardie mens in sy soeke na God en sy persoonlike verhouding met Hom staan. Daar is dus geen nut daarin om enige ander mens se siening van God en die Bybel te probeer oordeel of dit te beredeneer nie. Dis slegs elkeen se plig om tot God te nader en sy persoonlike verhouding met God te koester en te verdiep en God sal daarop reageer.

    Willie se boeke is insiggewend, goed nagevors en het nie die bedoeling om mense van oortuiging te verander nie. Boeke en mense kan dit nie doen nie - net God kan.

  • Connie van Rensburg

    Mense wil so graag bewys dat God nie bestaan nie, maar dit maak nie saak wat jy gló nie, dit is jou geloof. As jy glo God bestaan nie is dit jou geloof. Hoekom gebruik mense só graag die naam van die Here en veral van ons Verlosser ydelik, as hulle nie glo nie. Die wetenskaplikes het nog eintlik niks bewys nie. Hulle is in hulle eie geloof, want hulle teorieë is nog nie bewys nie. My vraag aan Willie Esterhuyse hoekom wil jy so graag bewys dat God nie bestaan nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top