Gay cruising is dood

  • 1

Tegnologie het die opwinding van cruising vir gay mans vernietig. Herman Lategan vra: Is dit die dood van ‘n era?

Dit is ’n mistige aand in Seepunt met die geur van vroegherfs en kikoejoe alom. Die promenade se gras is nat en sag onder sy voete. Lampe se lig skyn deur ’n newel van dansende vog.

Brad Davis in Rainer Werner Fassbinder se Querelle, ’n rolprent waarin cruising voorkom.

Die branders bruis en breek wit teen skerp rotse. Hy ruik bamboes en seewater. Onder die boompies sien hy ’n paar figure. Verder af op ’n bankie sit iemand wat hy ken.

Hy wil nie oogkontak maak nie en stap stil-stil in die rigting van Graaff se swembad. Die nag haal liggies asem. Agter die muur staan twee mans: ’n wit blonde man en ’n swart man met ’n gladgeskeerde kop.

Die man met die blink hoof en hy kyk na mekaar. Hy loop stadig terug na die esplanade, na sy motor; hy hoor sy voetstappe agter hom.

Wat daarna gebeur, kan ’n mens maar aan die verbeelding oorlaat, maar welkom in die wêreld van gay-cruising, kamp, mans optel, delfiniums soek, noem dit wat jy wil.

’n Dekade of meer terug, voor gay-maatsoek-apps soos Gaydar, Grindr, Scruff en ’n horde ander, was dít deel van die gaywêreld se manier van flikflooi wat gereeld tot katelkaskenades en verhoudings gelei het.

Daar was ook iets koppigs en balsturigs daaromtrent. Straight mense kon in die openbaar hande vashou, soen, en in kuierplekke flankeer en rinkink. In die dae toe homoseksualiteit erg gestigmatiseer was, was dit bykans onmoontlik vir queers om dieselfde te doen. Ons het dus spasies, ruimtes en kodes vir onsself geskep en geannekseer.

Plekke om te kuier, gesels, soen en erotiese ondervindings te ontgin en verken. Vreemde lywe wat anoniem verby mekaar skuur met die hoop op die groter liefde. Of dalk nie.

Oor die aardbol heen was ons terreine onder meer parke, strande, openbare toilette (cottaging), gimnasiums, ons eie klubs en kroeë, winkelsentrums, stasies, stegies en stadspleine. Daar was altyd ’n sweempie gevaar in die lug, want die polisie kon te eniger tyd toeslaan.

Menigte male onthou ek hoe ’n vangwa opeens op die promenade sou toeslaan en ’n paar mans agterin boender. By die polisiestasie is hulle verneder en hul families ingelig.

In Tongues United word die lewens van swart gay mans ondersoek.

By die openbare toilette is agente provocateurs aangestel. Jong, aantreklike polisiemanne wat gay mans moes uitlok sodat hulle in hegtenis geneem kon word.

By klubs is daar gereeld klopjagte uitgevoer, met die pers aan die polisie se sy. Die modus operandi was om vinnig op ’n disko toe te slaan en dan foto’s te neem.

Koerante sal die volgende dag foto’s plaas van verskrikte mans op ’n dansvloer. Sulke artikels het bygedra tot verwerping deur familielede, afdankings by die werk, ’n kriminele rekord en ’n skandvlek op jou naam.

Hierdie spasies was ook nierassig, lank voordat apartheid afgestel is. Al is dit ’n geval van, O tempora! O mores! sal dit jammer wees om van hierdie geskiedenis te vergeet.

En dit is presies wat nou besig is om onder ’n jonger geslag in die LGBT-gemeenskap plaas te vind. Onthou, dit was nie alles sleg nie; daar was groot pret ook. Ons moes met mekaar práát, van aangesig tot aangesig, nie deur ’n selfoonskerm nie.

Jon Voight speel die rol van die sekswerker in Midnight Cowboy.

Jy moes deur innuendo van iemand se liggaamshouding, stemtoon en gesigsuitrukkings kon aflei waarheen die interaksie dalk kan lei. Vriendskappe is gesmee; jy moes sosiale vaardighede aanleer; jy was gedwing om vernuwend te wees.

Vir die meeste millenniërs is verhale soos hierdie so ver van hul realiteit verwyder dat dit vir hulle byna komieklik is. Twee jongelinge vertel anderdag hulle was nog nooit by ’n dinner party, ook nie by ’n partytjie nie.

Met die druk van ’n knoppie kry jy nou toegang tot ’n smorgasbord van potensiële minnaars. Jy hoef nie na ’n kroeg te gaan en oogkontak met ’n vreemdeling te maak nie. Om dalk te gaan uiteet en iemand te leer ken is oorbodig.

Die dae van ’n anonieme gevry in die buitelug langs die see is ook daarmee heen. Ook die bosse by Sandybaai bewe nie meer nie.

Daar is ’n dokumentêre program gemaak oor die einde van cruising.

Graaff se swembad se mure is afgebreek, soos die Berlynse Muur, en daarmee heen ’n hele stuk van gay mense se cruise-geskiedenis.

Die meeste van die ou gevestigde gay-eetplekke, -kroeë en -klubs het toegemaak. Daardie wat wel bestaan, is afgewaterde weergawes van die oorpronklike oproerige en stroomop speelruimtes.

Groenpunt is nie meer Queen Point nie. Die Gat-paarties, waar boeremoffies kon sakkie-sakkie, skop nie meer gat nie.

Die kuns van flirt en kletspraatjies is verlore.

Met die koms van gay-maatsoek-apps omhels ons die toekoms, maar vergeet ons soms die lesse van die verlede.

Gereeld is daar hierdie kru en bevooroordeelde aanmanings op van die profiele: No femmes, no fats. Straight acting only. No old men over 35. Whites only please. No whites.

Huh? Hierdie, liewe millenniërs, is nie waarvoor sommige van ons in die tronk gestop is, ons werk verloor het of deur ons families op straat gegooi is nie.

Cruising, die rebelse, aweregse opwinding daarvan, en die filosofie daaragter, is inderdaad dood. Soos Hennie Aucamp in een van sy kortverhale vra: Wat bly oor van soene?

Bitter min. Net avatars en die flou lig van ’n selfoon.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top