![]() Foto: Wikipedia
(openbare domein) |
|
Sêgoed van GA Watermeyer Oor die moeilike tyd (vroeë 1940’s) van sy lewe: “Ek het bykans geen aardse besitting nie; terwyl ander mense geld maak, probeer ek gedigte skryf. Al wat ek het, is my vrou en my kind, en selfs hulle mag nie by my wees nie, selfs my seuntjie moet by vreemde mense bly tot my vrou saans tuiskom van die werk en ons het geen vooruitsig op ’n huis hier nie. Hoe kan ek skryf in sulke omstandighede? En as ek nie skryf nie, mis ek die hele doel van my bestaan.” (Volksblad, 18 Maart 1950) “Ek het nog altyd meer gemeenskap met die veld, die rante, die bome en die berge gehad as met mense.” (Transvaler, 14 Oktober 1967) “’n Digter skryf baie keer oor die dinge wat hy verloor het. Eers ná ek my in die stad gevestig het, het ek besef wat ek verloor het toe ek die plaas in die Sneeuberge verlaat het omdat ek te hardekop was om te boer en my eie potjie wou krap. Toe het ek begin dig.” (Transvaler, 14 Oktober 1967) “Die hand wat die kruisie maak, is die hand wat aan die toekoms raak.” (Uit: Die Republiek van duisend jaar) “Digwerk is alles behalwe pret. Dit is harde werk.” (Vaderland, 6 Junie 1972) “Die toekoms wil ek liewer aan die toekoms oorlaat. Ek besef die tyd word min. Daarom droom ek nog steeds van ’n plaas aan die voet van die Sneeuberg – miskien nog, wie weet, dieselfde ou familieplaas, wat nou in vreemde hande is. Eendag sal ek hom weer wil besit waar ek rustig sal kan skryf.” (Transvaler, 14 Oktober 1967) |
Gebore en getoë
Godfried (sommige bronne gee sy naam as Gottfried) Andreas Watermeyer is op 15 Oktober 1917 op die plaas Spitskop in die Sneeuberge te Middelburg in die Oos-Kaap gebore. Hy was die oudste seun van ’n gesin van ses en sy ouers was streng Boeremense wat van hul kinders verwag het om talle take op die plaas te verrig.
Die plaaslewe en natuurskoon het op die klein Godfried ’n onuitwisbare indruk gelaat en dit het gelei tot ’n hartstogtelike liefde vir die natuur – die massiewe en rustige berge, die steil daskranse, die populierbos, die groen koring- en lusernlande – wat later in sy digkuns na vore gekom het.
Wanneer daar ’n blaaskans was van al die plaaswerk, het hy graag met sy geweer en die honde veld in gestap. Hy het later, toe hy deur die stadslewe ingeperk gevoel het, geskryf:
In die skadu van die Sneeuberge,
Onder ou Spitskop,
Daar lê my hart in ’n rooigraspol
Langs ’n kwartelnes en klop.
“As seun het hy krappe gevang, koggelmanders gejag en later met ’n windbuks klipdasse en wildeganse geskiet. Hy was ’n sterk seun en het menige van Richmond se voorste koringsnyers in die stof laat byt en Sneeuberg se wildste perde getem. Toe hy nog maar veertien jaar oud was, het hy lag-lag ’n sak koring van 218 pond oor sy skouer gegooi.” (Volksblad, 16 Januarie 1972)
Tot standerd ses (graad agt) het hy sy skoolopleiding aan ’n plaasskool ontvang. In 1932 is hy na die Hoërskool Middelburg, waar hy in sport uitgeblink het. Sy gesondheid was egter nie baie goed nie (hy het sy hele lewe onder ’n rugbesering gely) en in 1935 moes hy sy studies tydelik staak. In 1936 is hy terug skool toe, en hy het al sy vakke vir matriek in die eerste klas geslaag.
Verdere studies en werk
Godfried wou graag ná skool universiteit toe gaan, maar die nadraai van die Depressie het dit op daardie stadium onmoontlik gemaak. Aan die begin van 1937 is hy na die destydse Transvaal, waar hy ’n betrekking in die Staatsdiens aanvaar het. Later is hy na die Vaalharts-nedersetting as spesiale korrespondent vir Die Transvaler. Gedurende hierdie tyd het daar ’n swaar droogte geheers en was daar konflik tussen die plaaslike boere en die hoofbeampte van die departement oor weiveld. Godfried, nog altyd ’n boer in murg en been, het in ’n kras bewoorde artikel agter die boere gestaan. Hierdie aksie van hom het egter die nadraai gehad dat hy sy werk verloor het. Dit was vir hom ’n groot skok en het sy vertroue in sy medemens ’n groot knou gegee.
Vir die volgende paar jaar het hy ’n klerklike betrekking by die Padkantoor op Middelburg in sy geboortekontrei beklee. In 1940 is hy na die Universiteit Stellenbosch om sy naskoolse studie te begin. Hiervoor het hy £200 by Elisabeth Eybers geleen. Hy het al sy vakke in sy eerste jaar geslaag, maar het ongelukkig nie genoeg fondse gehad om sy studie in sy tweede jaar voort te sit nie. In 1941 is hy terug op die Rand, waar hy tot die einde van 1948 as boekhouer by ’n Engelse vervoerfirma gewerk het – ’n werk waarvan hy niks gehou het nie.
Op ’n Vrydagaand, 13 November 1942, het Godfried die toneelspeelster Letsie Ferreira van Willowmore ontmoet en in Maart 1943 is hulle getroud. Na hulle huwelik het moeilike jare gevolg vanweë siekte en oorlogsviktimisasie, en die gesin, wat intussen met ’n seun vergroot is, het gesukkel om ’n lewensvatbare bestaan te voer. Godfried is gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van die destydse Smuts-beleid uit sy werk by die Rand Club ontslaan, en was vir minstens twee weke werkloos. Letsie het hom egter moedig bygestaan en dit was grootliks aan haar aanmoediging en vertroue in hom te danke dat hy in 1945 ná jare van “skryf-barheid” weer begin skryf het.
Ná die verskyning van Sekel en simbaal is Godfried deur die Reddingsdaadbond en Helpmekaarfonds gehelp om verder te gaan studeer, aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Dit was in 1949 toe hy reeds 30 jaar oud was. Een van sy medestudente, Pierre Coetzee, het ná Godfried se dood onthou hoe hy altyd in die Engels-klas gehakkel het. Hy is ook toegelaat om in die klas te rook, iets wat in daardie dae ongehoord was. Dit het hom effens gehelp om die woorde uit te kry, hoewel hy sonder uitsondering bitter begin hoes het van die “diep-ingeteugde rook”. (Vaderland, 6 Junie 1972)
Hy het sy BA-graad verwerf en is terug na Johannesburg, waar hulle ’n woonstel gehuur het, maar dit was só klein dat daar net vir sy vrou en seun plek was. Hy het by ander mense in ’n solderkamer geslaap. (Volksblad, 16 Januarie 1972)
Kort daarna het hy by die SAUK begin werk teen R90 per maand. En toe breek die keerpunt in sy lewe aan.
In 1955, wat as ’n bakenjaar vir hom beskryf kan word, pas nadat hy Atlantis, or, The crying of the waters geskryf het, het Godfried vir Nic Tredoux as Afrikaanse kopiehoof by Grant Advertising opgevolg. Ook vir die Afrikaanse taal was dit ’n jaar om te onthou: die taal het ’n digter en ’n woordtowenaar ryker geword. Woorde wat later deel van die volkstaal sou word, het vir die eerste keer in Godfried se reklamekopie verskyn.
In die laat sestigerjare is hy na die reklamefirma LPE Leo Burnett, waar hy tot sy dood kopie geskryf het. Sy reklamespreuke het vanweë sy aardse taalgebruik en humor sterk herinner aan die poësie van sy eerste bundel, Sekel en simbaal. Diep binne-in was hy maar altyd die boerseun uit die Sneeuberge wat die graagste met plaasmense gesels het. In ’n reeks advertensies vir Total, die brandstofmaatskappy, met humoristiese sketse deur TO Honiball, het hy byvoorbeeld gesê: “Saal af by die netjiese diensstasies waar die Rooi Vlam in die Blou Sirkel brandwag staan ... en kry vir jou vuurperd die kragvoer wat hy nodig het.” En vir manne het hy goeie raad gehad: “Skink Roses-lemmetjiesap by elke brandewyn-kap!” Of kry “Dou vir die dors” – sy bekende slagspreuk vir Castle Lager.
Hy was ook die vader van die woord kits as vertaling vir die Engelse instant in bepaalde samestellings. Eers was dit in kitshawermout, daarna het kitskoffie en die res gevolg. Van sy mededigters het Godfried gedurende hierdie tyd beskryf as Suid-Afrika se hoogs betaalde digter. (Bibliografiese skets by NALN)
Godfried se loopbaan in die reklamewese was ’n klassieke suksesverhaal. Die huis in Linden is verruil vir ’n spogplek in Northcliff, dié weer vir ’n Spaanse villa in Bryanston en dié vir ’n yslike kasteel teen die hang van Aasvoëlkop. Hy was ook die besitter van vertrekke vol kosbare oudhede en baas van vier plase. (Volksblad, 16 Januarie 1972)
Hieroor het hy gesê: “Teenswoordig kan ek antieke meubels versamel en ook al die gewere waaroor ek maar net kon droom sedert daardie dag, toe ek as kind, my enigste .22 op ’n ratel stukkend geslaan het.
“Nogtans is ek dankbaar oor die moeilike tye wat ek moes deurmaak. Voordat ek vir die volk – die mense vir wie ek skryf – ’n boodskap soos in Die republiek van duisend jaar kon bring, moes ek eers die Woord van God in sy werklikheidswaarde leer ken.” (Transvaler, 14 Oktober 1967)
Vanweë die veeleisende aard van sy werk het daar soms etlike jare verbygegaan sonder dat hy ’n enkele gedig geskryf het.
Van Godfried se eerste gedigte is in 1946 in Stiebeuel, ’n versamelbundel, gepubliseer. “Oestyd”, “Stadsbestaan” en “Dansende vrou” het die aandag getrek. Daarna is verse in Die Huisgenoot en Standpunte gepubliseer en het die verse nie net dieselfde peil gehandhaaf nie, maar in party gevalle selfs ’n verrassende ontwikkeling getoon.
In 1948 is Sekel en simbaal deur Nasionale Pers gepubliseer. Sy hunkering na die plaas (sekel) en sy renons in die stad (simbaal) kom in die bundel sterk na vore.
DJ Opperman het ’n belangrike aandeel aan die konstruksie van Sekel en simbaal gehad. Opperman het in ’n brief aan GS Nienaber (31 Mei 1953) meer vertel oor die totstandkoming van Sekel en simbaal. Opperman het vir Godfried in September 1947 ontmoet toe hy ’n paar dae op besoek was by sy broer Maans in Braamfontein. Ná sy terugkeer in Kaapstad het hy brief ná brief van Godfried ontvang met fragmente van ’n lang gedig wat later “Ballade van die bloeddorstige jagter” sou word. Dit was die belangrikste enkele gedig in Sekel en simbaal.
Kort daarna het Opperman ’n manuskrip van Watermeyer ontvang. Daaruit het Opperman ’n keuse gemaak en ook van die gedigte verkort of gewysig, die geheel in vier rubrieke verdeel en as titel Sekel en simbaal gekies wat die landelike en stedelike wêrelde van Watermeyer verbind. Die resultaat is ’n bundel wat tot op hede steeds as een van die beste debuutbundels in die Afrikaanse poësie beskou word. (Boekewêreld, 1 Julie 1998)
Godfried het kort ná die verskyning van die bundel in ’n brief aan Opperman sy erkentlikheid uitgespreek. Hy het op al die gedigte gewys waaraan Opperman ’n aandeel gehad het en waarsonder “daar geen Sekel en simbaal (sou) verskyn het nie. Daarby kom nog die streng, eerlike kritiek wat jy altyd gewillig aangebied het. Selfs (tot op ’n paar maande gelede) ... was dit jou finale keuring wat hierdie bundel uiteindelik afronding en indeling besorg het – tot selfs die naam toe.”
Kannemeyer het Sekel en simbaal in ’n artikel in Boekewêreld van 1 Julie 1998 ’n verrassing genoem, “’n bundel wat met sy metaforiese beeldkonstruksies, alliteratiewe spel en sangerige inslag vandag steeds ’n plesier is om te lees”.
Ernst van Heerden (Huisgenoot, 17 September 1948) het geskryf: “Die uitwerking van die kritiek en leiding nadat Watermeyer in Stiebeuel gepubliseer het, onmiskenbaar is in die hoë gehalte van die bundel. Nie alleen het hy in die bestek van net twintig gedigte ’n kompakte beeld van sy digterpersoonlikheid gegee nie, maar met enkeles daarvan is ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse poësie gelewer.
“Sy taal is byna deurgaans vlot. Alliterasies, konstruksies met die omskrywende bywoord voorop, soos ‘blink breek my ploeg die middelvoor’, die gebruik van klankryke name soos Bloukrans, Bethesda en Graaff-Reinet, verhoog die musikaliteit van die vers. Dit is opvallend hoe liries hy skrywe, as ons met liriek bedoel ‘die wondere dialoog van die siel met stoflike werklikheid’. Die sjarme van sy werk is ’n spontane onmiddellikheid, veral die landelike verse (in teenstelling tot die stadsgedigte), wat ’n direkte eggo by die leser wek. In poëtiese sin is die sekel se ‘raspende geluid’ suiwerder as die skellende klank van mynbore en fabrieksfluite. In hierdie rigting lê Watermeyer se ware krag, en sy hoogstaande debuutbundel laat veel van hom in die toekoms verwag.”
S Ignatius Mocke kon nie verstaan hoekom die Hertzogprys vir poësie nie aan Sekel en simbaal toegeken is nie, aangesien dit ’n uitsonderlike nuwe liriek is.
In 1954 word Godfried se enigste bundel in Engels, Atlantis, or, The crying of the waters, gepubliseer. Hy het dit self gepubliseer. Hy het in Die Brandwag van 23 Julie 1954 vertel hoe hierdie bundel sy ontstaan gehad het: “Een aand aan die begin van die winter van 1953 het ek ’n stoel voor die kaggel reggetrek en my eerste boek oor Atlantis – dié van Donnelly – opgeneem om te lees. [...] Ek het in die stoel teruggeleun en begin lees in Plato se beskrywing van die verlore Atlantis wat Donnelly in sy boek oorgedruk het. Nadat ek sowat drie bladsye deurgegaan het, het ek slaperig begin voel – ek het toevallig ’n vermoeiende dag agter die rug gehad – en aanstaltes gemaak om te gaan slaap. Maar ek was skaars in die bed of ’n onaardige rusteloosheid het my beetgepak en woorde het deur my kop begin maal. Uiteindelik het ek opgestaan en die volgende drie reëls neergeskryf:
The waves have drawn us to the deep,
The waves have veiled us and we sleep
among drowned pillars and the stone ...
“Hier het ek, ’n Afrikaanse digter, skielik Engels begin skrywe, maar dit was nie al nie. Terwyl ek daar voor my lessenaar gesit het, het daar ineens voor my geestesoog ’n uitgestrekte vlakte verskyn met berge aan die een kant wat steil afloop in die see. Op die berge was daar paleise en tempels en in die middel van die vlakte het ’n geweldige pilaar hoog in die lug opgeskiet.
“Ek is nie heldersienend nie; ek is nie ’n persoon wat met geeste omgaan nie, en daarby was ek hoegenaamd nie in ’n beswyming of trance nie, maar wakker en doodnugter. Ek het voortgegaan om ’n beskrywing van die pilaar te gee en toe gaan slaap. Toe ek twee dae later weer die boek opneem en verder lees, kom ek etlike bladsye verder aan tot my verbasing op Plato se beskrywing van hierdie pilaar af.
“In die begin was ek dronkgeslaan, maar nou het dit nogtans my gewoonte geword om met potlood en papier voor my lessenaar te gaan sit en wag ... net maar wag. Weer moet ek beklemtoon dat dit nie ’n geval was dat my potlood deur ’n onsigbare hand bestuur is, soos spirituele mediums na bewering ondervind nie, maar dat woorde in my kop gekom het en dat ek hulle dan neergeskryf het – soms sonder wysiging, soms met wysigings. Party van die dinge wat ek geskryf het, verskyn nie in my boeke nie [...]; party gedigte het nooit klaargekom nie en kon gevolglik nie in my bundel ingesluit word nie.”
In Atlantis word voorspellings gemaak van ’n nuwe sondvloed wat Europa sou tref. Volgens hierdie voorspellings sou gedeeltes van Engeland, Nederland, België en gedeeltes van Frankryk en Portugal waarskynlik voor die einde van 1956 onder die see verdwyn. Die boek is egter nie baie gunstig deur kritici ontvang nie.
In die inleiding tot Atlantis het Elisabeth Eybers geskryf: “A poet, it has been contended, can only say what he really means in the one language which defies translation: the idiom and figures of speech of the mother language. But Godfried Watermeyer upsets this theory by his rare ability to express inner meanings in two languages.”
Watermeyer se volgende digbundel, Die republiek van duisend jaar, word in 1957 deur Dagbreekpers in Johannesburg gedruk met geldelike steun van Volkskas Bank.
In Standpunte van Maart/April 1958 was Rob Antonissen se kritiek op hierdie bundel nie baie vleiend nie. Hy het sy resensie só begin: “’n Lywige brosjure sou gewy kon word aan die politiek- en godsdienstige-ideologiese uitlatinge van GA Watermeyer in Die republiek van duisend jaar. Die taak sou dan liefs moet berus by ’n politikus, sosioloog, wysgeer, teoloog of so iemand. Maar ek vrees dat niemand van daardie here dit die moeite werd sal vind nie, en hulle het gelyk. Want in dié opsig is Die republiek van duisend jaar – mag die Hemel ons bewaar vir só ’n res publica! – ’n oorvloedshoring van platitudes sonder voorgaande in die Afrikaanse letterkunde, ’n afskrikwekkende getuienis vir die chauvinistiese ‘volkskultuur’-mite op sy slegste.”
Volgens Antonissen is daar in hierdie bundel deurgaans hope “kaf en versvulgariteit” gepraat. “Byna honderde bladsye lank brul die gelaarsde hordes van paarsgewys-rymende dreunverse dreigend op jou aan. Die einde- en stafrym-mitraillette knetter die wêreld vol en aans die republiek leeg; ‘eindrymvas’ waai bloei-groei-broei-vloei, gloed-vloed-bloed, roer-Boer-broer, bot-God en ander kartetse hul spervuur na alle kante; die alliterasies – wat in los buitjies soos hierbo nogal oulik mag klink – word allengs, soos hulle jou trommelvlies vers na vers (letterlik: vers na vers), met eksplosiewe behamer, met spirante bespuug en besis, ’n nagmerrie.”
En hy het afgesluit met: “Maar dit alles gee nog nie die flouste idee van die ongelooflike onding wat Die republiek werklik is nie. Dis onopsombaar. En, dank die Vader, ook nie duisendjarig nie.”
Gerrit Dekker (bron en datum onbekend) het Die republiek van ’n duisend jaar ’n “chauvinistiese en ongelooflik retoriese bundel” genoem, maar Watermeyer tog beskryf as die towenaar van die woord.
“Die verse in Sekel en simbaal was persoonlike liriek waarin van eie gemoedservaringe getuig is, maar waarin tog reeds ’n verbreding en verruiming na die algemeen menslike te vinde was. In plaas van die enge, ingekerkerde individualisme wat aanhoudend net bo die poel van eie sielsbelewenisse bly draai, het Watermeyer hom na die volheid van die aarde gekeer. Ook in Die republiek van duisend jaar keer hy hom na die mens en sy probleme daarbuite; meer spesifiek na sy eie Afrikaanse mense met hulle mymeringe oor die verlede, hulle besinning op die hede en hulle verwagtinge van die toekoms. Dis die droom oor die uitblom van ’n volk tot volwassenheid in stoflike en geestesdinge – die trotse voortdra van die vadere se geloof aan ’n eie nasieskap in die toekoms in:
En nimmer word die stryd volstry
voordat my volk sy erfdeel kry ...”
Volgens die resensie in Die Transvaler van 15 September 1957 begin die bundel by die droom van gister, die skim van Paul Kruger, rondom wie die vryheidsverwagtinge van die volk deur die jare die suiwerste gebind was:
“Hy wat ons hoop en anker was,
penwortel van die Boereras,
hy bly sy burgerskap ontbeer
tot vryheid oor ons vlaktes keer ...
“In verse wat soos ’n wekroep klink, soms gespierd en vol manlike daadkrag, word die hede besing. Dis veral die gedig ‘Die onterfdes’, wat een van die ontroerendste verse in die bundel is, waarin die patos van die tragiek van die droogteverdruktes wat hulle krom werk in die stad om weer eendag die erfplaas te kan loskoop, in skerp reliëf gestel word. Die toekomsblik vind in die laaste paar verse gestalte – die droom oor die republiek van ’n duisend jaar waarin die Afrikaner as die rigtervolk van Afrika gesien word.
“Nie al die verse in die bundel is van dieselfde gehalte nie. Maar Watermeyer se woord- en beeldgebruik is ’n treffende eienskap van hierdie verse. Dis Afrikaans op die aambeeld geklink, strak, kantig en fors.”
Volgens WEG Louw (21 September 1958) het Watermeyer met Die republiek van ’n duisend jaar ’n grootse greep gewaag wat slegs ten dele geslaag het. “Wat hy van die bundel oorhou, is die digter se visioen van ’n ideale staat, sy brandende liefde vir die eie, en sy byna profetiese kastyding van daardie magte wat daaraan afbreuk doen en vervreem. Hy het ’n ongewone aar van die poësie aangeboor waaruit daar in die toekoms nog helder water sal vloei.”
Watermeyer het enkele kleiner letterkundige toekennings ontvang. In 1948 het die Afrikaanse Letterkundige Vereniging aan hom ’n eerste prys toegeken, hoofsaaklik vir Sekel en simbaal. Hierdie prys het £75 beloop. In 1949 het hy die Kanseliersmedalje vir tweetaligheid van die Universiteit van Suid-Afrika ontvang. Hy het ook in 1949 die eerste en tweede prys in die SAUK se poësiewedstryd verower (hoofsaaklik vir Sekel en simbaal).
In 1961 het Taalfeeskwatryne verskyn. Hierdie bundel bevat ’n twintigtal vierreëlige verse wat tydens die taalfees in 1959 in die amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria voorgedra is. Dit is dus geleentheidspoësie en is in opdrag van die FAK geskryf.
Anna van Zyl (Volksblad, 27 September 1962) het gemeen dat daar as gevolg daarvan iets kunsmatig en opsetlik in die bundel is. “Die digter streef te naarstiglik daarna om elke werkgroep te laat meepraat al het hy nie juis iets anders te sê as wat in die wandel algemeen bekend is nie. Sommige van die verse kan met reg as retories bestempel word.”
WEG Louw (Die Burger, 23 Februarie 1962) het soos volg geskryf: “Daar was nog altyd ’n verskil tussen verse wat ’n mens hardop hoor voorgedra word, of selfs gedeklameer word, in die opgewonde stemming van ’n volksfees en dié wat ’n mens in stilte vir jouself lees. Nadat ’n mens Die republiek van ’n duisend jaar gelees het, sal ’n mens verstaan dat in Taalfeeskwatryne meermale ’n vaardige vakman aan die woord is, maar dat die meeste gedigte, met hul nogal slim versifikasie en opsetlike draaie, in die laaste instansie eintlik ‘volgens resep’ gemaak is. Dit gaan hier selde oor die ‘taal’ alleen en só ‘deug dit nie’.”
Afrikaanse Pers-Boekhandel het in 1965 Watermeyer se laaste bundel voor sy dood, Bitter brood, gepubliseer. Dit was die vrug van twintig jaar se skryfwerk (1945 tot 1965), jare waarin die digter veral as reklameman sy brood verdien het. En dit is inderdaad gedigte van die brood, en nogal ryk brood, was FIJ van Rensburg (Volksblad, 28 Januarie 1966) se mening. “Die digter sit in sy huis en laat sy oog genietend en goedkeurend oor sy besittings gaan:
die Lotuskelk van Isfahan
gloei op my vloere langs Kashan
met statig teen die dak se nok
die hoë vlamme van barok ...
“As hy ’n simbool soek waarin hy sy opvatting van geluk kan vergestalt, dan vind hy dit in die huis – ’n goedgeboude en ryk-gestoffeerde huis:
... ’n huis met balke van swart hout
en vloere van geelhout;
’n huis met groen skouers,
met ’n breë gebaar van balkonne
en ’n voorstad van kamers:
’n kamer vir brood
en ’n kamer vir biljart,
’n kamer vir kliënte,
en ’n kamer vir kwatryne,
’n kamer vir liefde
en ’n kamer sonder haat ...
“Maar die brood is bitter, en met sy dubbelkantige titel is dit duidelik wat die bundel wil sê: dit gaan hierin om die spanning tussen digter en reklameman, tussen beroep en roeping, om roeping wat in diens van beroep vereer word.”
Van Rensburg het verder geskryf: “Watermeyer se gedigte het nog altyd ’n sekere reklamekwaliteit gehad: iets klinkends en kompak in aparte frases: neonflitse van afsonderlike gelukkige formuleringe; geen stromende, onopgeskorte verloop oor langer afstande tussen begin en einde nie. Selfs in sy vrye verse was hy in werklikheid die skematikus van aparte ritmiese reekse en noukeurig afgestemde alliterasies, die argitek wat as ’t ware met die klein vierkantige blokkies van kwatryne en koeplette bou.”
Van Rensburg het die afdeling getiteld “Klein siklus” die mooiste gevind. Dit is ’n verruklike brandskatting van die liefde, het hy gesê. “Dit bevat ouer gedigte (uit die periode van Sekel en simbaal), ’n hele paar eggo’s van ander digters, byvoorbeeld WEG Louw, asook herhalinge van homself, en is telkens lukraak van woordgebruik en idee-voltrekking; maar as ’n geheel is dit ’n afdeling waarin idee en vergestalting mekaar op ’n mooi, natuurlike wyse gevind het. Hierdie ligte brandskatting van die liefde het ’n veel oortuigender resultaat gelewer as die swaarder brandskatting van die skrywerskap.”
In die algemeen was Van Rensburg bly dat Watermeyer met hierdie bundel opnuut sy intrede in die Afrikaanse letterkunde gemaak het. Hy het sy resensie afgesluit met: “Wat soek ’n mens in Atlantis en Duisendjarige republieke as ’n kleinood soos die liefde so in jou onmiddellike bereik lê?”
In 1971 het Watermeyer en die bekende Nederlandse komponis Henk Badings die gesogte Radio Televisie Italiana-prys ontvang. Hierdie internasionale Italiaanse toekenning, waaraan 40 radio-organisasies deelgeneem het, is in Venesië gemaak, vir Badings se toonsetting in kantate-vorm van Watermeyer se gedig “Die ballade van die bloeddorstige jagter”. Hoewel Godfried se gesondheid op daardie stadium weer swak was, het hy tog na Venesië vertrek om self die prys in ontvangs te neem. (Afrikaner, 18 Oktober 2007)
HJ Truter was die resensent van Bitter brood vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe van Junie 1966: “Hier is geen groot visie nie; wesenlik toon die geestelike klimaat ’n merkwaardige ooreenkoms met Sekel en simbaal [...]. Soos in sy debuutbundel is Watermeyer ook hier bowe alles ’n liriese digter; getuig sy beste gedigte van ’n ekspressiwiteit van klank en beeld wat selfs in sy strenger besinnende verse merkbaar is.
“Ryper en ryker belewenisse gepaard met ’n drang na die mitologiese en klassieke simbole het ’n breër verskeidenheid van inhoude tot gevolg. [...]
“Nieteenstaande die meervoudigheid in tematiek van die bundel en die komplekser struktuur van sommige verse, bly Watermeyer se poësie essensieel eendimensioneel: die lied en die enkeling.
“Nou is dit so dat Watermeyer nie groot gestaltes haal uit die vormlose nie; nie so moeisaam en kripties die ‘engel uit klip’ wring nie; andersyds bly dit ook nog waarheid dat die lied en die liriek die naelstring is waaraan die poësie lê.”
Met In kringe: ’n verhaal in drie stemme, wat in 1999 gepubliseer is, het Van der Walt Uitgewers ’n interessante eksperiment gedoen. In 1956 verskyn Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die Vuurpyle Vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die Lewe verskyn.
Tipies postmodernisties reageer twee ander skrywers op Watermeyer, en die publisiteitstuk wil hom dan tot Douw verklaar, Estelle Marais tot Myrna, en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.
Watermeyer se oorspronklike verhaal, Waar die vuurpyle vlam, is oerbekend: ’n man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus ’n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.
Joan Hambidge (Volksblad, 13 Desember 1999) skryf in haar resensie: “Die waarde van die novelle lê in die vermoë om subteks te hanteer; onder meer die kernpassasie wanneer die hings getem word, en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies. ’n Mens lees jou soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat ’n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.
“Puriste sal waarskynlik die piep kry, maar dit is tog ’n interessante literêre eksperiment. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag vol te hou, moet die leser maar self besluit.
“Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om vanuit ’n psigoanalitiese perspektief te ontleed) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. ’n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met ’n ongeskonde oog kan lees nie.
“Onder meer hou Myrna in Marais se verhaal ’n dagboek. Hierdie belydenistegniek is by uitnemendheid geskik om al die intieme besonderhede aan die leser bekend te maak wat andersins onbekend sou bly. Maar verskeie passasies kon maar aan die lesers verbygegaan het. [...]
“Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit ’n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die Oedipale struktuur (die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by ’n jong student. Sy is weer op haar beurt verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees. [...]
“Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel, en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser (en hier by name Hambidge) met ’n rooi pen sit en tik-tak. Vir Hambidge is dit jammer dat ’n vertelling met soveel moontlikhede verongeluk het. ’n Beter redakteur kon beslis meer met In kringe uitgerig het.
“Aan die positiewe kant: ’n student wat vir ’n postmodernistiese projek wil navorsing doen, kan al die aanhangsels bestudeer. En hom miskien afvra of die eerste verhaal nie reeds al die implikasies dra wat die ander uittamboeryn nie? En navorsers in populêre fiksie kan eweneens die taalgebruik nagaan, en die leë metaforiek van liefdesverhale,” aldus Hambidge.
Godfried Watermeyer is op 4 Junie 1972 in die vroeë oggendure in sy huis in Northcliff, Johannesburg aan ’n hartaanval oorlede. Hy was 54 jaar oud en het sy vrou, Letsie, en seun, Fred, agtergelaat.
Hy het ’n jaar vantevore ’n beroerte-aanval gehad en hoewel hy so herstel het dat hy weer kon werk, het hy nooit weer sy kragte heeltemal herwin nie.
Hy is privaat veras en ’n roudiens is in die NG Kerk Aasvoëlkop gehou. Sy vrou het gesê sy as sou op die Sneeuberge in die distrik Middelburg in die Oos-Kaap gestrooi word.
Huldeblyke
- PJ Nienaber: “Dis jammer dat Watermeyer se Sekel en simbaal nie bekroon is nie. Hy was ongelukkig om nie die Hertzogprys te wen nie. Hy het ’n nuwe geluid in die Afrikaanse digkuns laat hoor met sy gebruik van selfstandige naamwoorde as werkwoorde. Hy het ook ’n besondere ritme gehad. Sy gedigte sal voortleef in ons letterkunde.” (Transvaler, 5 Junie 1972)
- Die Transvaler: “GA Watermeyer is nie meer by ons nie. Maar die werke van skoonheid en besieling wat hy nalaat, is ons blywende besit. Laat dit die bede wees dat hierdie skone waarheid sy naasbestaandes tot troos en sterkte sal strek – met name ‘my swartoogvrou, my blondhaarkind’, vir wie sy eerste strewe was: vier mure teen die suidewind.” (Transvaler, 7 Junie 1972)
- SJ Pretorius: Aan my vriend GA Watermeyer
Blonde Apollo, skouerhoog bokant
die massa in die strate, grou en nat,
O, vriend, hoe lank gelede is dit dat
ek jou vereers sien stap het in die stad ...
*
Hoe het jou hart gehunker na ver hange
in menige gesprek, hoe was jou oë
’n yl onaardse lig en jou bewoë
stem trillend van ’n magtige verlange –
hoe was jy in die stad, ’n reus, gevange!
*
Hoe het dit als in jou geleef in vuur
wat liefde in blink beelde kon borduur!
Maar toe jy ook jou Boerwees vir ’n volk
alte bewus in woorde wou vertolk,
toe het die galery begin te lag ...
*
(Daar’s altyd venyn wat sit en wag
Ewig die groot mond wat rek oor die kuns
om guns te soek vir dié, vir dié onguns:
Hoe het Van Wyk Louw met sy laaste asem
die vals figure almal weggewasem!)
*
Maar dis verby. En aan die ydeles
laat jy, swyend, hul leë seëpraal
om jou te voeg by die onsterflikes.
*
Want dit weet ons: solank die son wit straal
oor hierdie Afrikaanse veld, solank
één Boer met blydskap uitstap oor die land,
kareehoutstompe in ons haarde brand,
voëlkele sonlig kelk en die geheim
ken om die ronde bessie ryp te rym ...
so lank, o Godfried, sal jou woorde ruis
soos voorjaarsreëns op ’n Boerehuis. (Transvaler, 6 Junie 1972)
- AJJ Visser: ’n Kransie vir GA Watermeyer
Jou hand het die woord
vir ons gesekel
tot ’n goue gerf;
die verlang na jou Sneeubergkom
soos uit hout,
tot kwatryne, ballades uitgekerf.
En jy?
Te midde van oestydse simbool
en stedelike bitter brood
(dié twee impalahorings
wat jou kuns se hart ontbloot)
’n sweetbruin hings
se geil galop
na Sy republiek van duisend jaar
uit Atlantis op. (Rapport, 11 Junie 1972)
- Dr J du P Malan (predikant wat die roudiens gelei het): “Watermeyer was ’n mens wat op heel besondere wyse deur God begenadig is. Hy het in Afrikaans gespreek op ’n wyse wat min mense kon doen. Deur sy digkuns het Watermeyer God verheerlik.” (Transvaler, 9 Junie 1972)
- Marie Severin (kollega in die reklamebedryf): “Hy was groot van lyf, sag van aard en altyd bereid om my die kunsies van kopieskryf te leer. Sy grootste bydrae was seker om aan reklame-Afrikaans ’n eie identiteit te gee en om vir hierdie ontluikende nuweling ’n bestaansgrondjie af te pen langsaan ’n reeds volgroeide internasionale reklametaal.” (Transvaler, 6 Junie 1972)
- Jan Bouwer: “Afrikaans het ’n woordkunstenaar verloor wat die vermoë gehad het om met twee of drie woorde ’n frisse beeld op te tower.” (Volksblad, 6 Junie 1972)
- Prof JJ Pienaar: “Dit is algemeen bekend dat digters wat met die diepste roersele van die menslike gees worstel, hoofsaaklik daardie seggingskragtigheid, geïnspireerde woordkeuse, beeldrykheid, idiomatiese fyngevoeligheid en literêre beheersing net in een taal kan manifesteer. Watermeyer het ook oor die uitsonderlike vermoë beskik om dit in twee tale, naamlik Engels en Afrikaans, te doen.” (Afrikaner, 18 Oktober 2007)
Publikasies:
|
Publikasie |
Sekel en simbaal |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
|
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1949 eerste en tweede prys in poësiewedstryd van SAUK |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Atlantis, or, The crying of the waters |
|
Publikasiedatum |
1954 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: GA Watermeyer |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die Republiek van duisend jaar |
|
Publikasiedatum |
1957 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Dagbreekpers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Taalfeeskwatryne |
|
Publikasiedatum |
1961 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Bitter brood |
|
Publikasiedatum |
1965 |
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
In kringe: ’n verhaal in drie stemme. Saam met Estelle Marais en Peet Venter |
|
Publikasiedatum |
1999 |
|
ISBN |
0799326852 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Van der Walt |
|
Literêre vorm |
Prosa |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor GA Watermeyer:
- Afrikaans poet dies. Daily News, 5 Junie 1972
- Bouwer, Jan: Van solder tot spoghuis. Volksblad, 6 Januarie 1972
- Coetzee, Pierre: Ek en Watermeyer het “potgemaak”. Vaderland, 6 Junie 1972
- Digter en kunsskepper dood. Transvaler, 5 Junie 1972
- Ernstige nood van ’n digter. Volksblad, 18 Maart 1950
- GA Watermeyer aan hart dood. Oosterlig, 5 Junie 1972
- GA Watermeyer. Die Burger, 13 Junie 1972
- GA Watermeyer huldig DF Malherbe met gedig. Transvaler, 9 Augustus 1956
- HJ: GA Watermeyer kyk terug oor 50 jaar. Transvaler, 14 Oktober 1967
- Kannemeyer, JC:
-
- GA Watermeyer. In: Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur I. Pretoria: Academica, 1978
- Pragtige beeldende beskrywings en klankeffekte [bespreking van “Ballade van die bloeddorstige jagter”]. Beeld, 17 Junie 1993
-
- Komrij, Gerrit: “Graafmasjien” [gedig: bespreek in Trou moet blycken]. NRC Handelsblad, 7 Junie 2001
- Larkins, H: Poësie beplanning vir standerd 7 [bespreking van “Reën in die voorwinter”]. Klasgids, November 1997
- Muller, Martie: Bespreking van gedigte uit Digters en digkuns [bespreking van “In die Sneeuberge”]. Klasgids, Augustus 1992
- Odendaal, Pieter: Watermeyer se Republiek en die vreugde van teksvervorming
- Ontslape digter. Transvaler, 7 Junie 1972
- Persoonlike beriggie. Volksblad, 19 Julie 1972
- Persoonlike berigte. Volksblad, 17 Oktober 1949
- Pienaar, JJ:
-
- Volksdigter Godfried Andreas Watermeyer 1: biografiese skets. Afrikaner, 18 Oktober 2007
- Volksdigter Godfried Andreas Watermeyer 2: Watermeyer as volksdigter. Afrikaner, 1 November 2007
-
- Pretorius, SJ: In memoriam [gedig]. Transvaler, 7 Junie 1972
- SA poet leaves R76 000. Evening Post, 23 Junie 1972
- Skepper van “nuwe geluid” in digkuns. Transvaler, 5 Junie 1972
- Taal God se gawe aan Watermeyer. Transvaler, 9 Julie 1972
- [Van alle kante]. Transvaler, 11 Mei 1968
- Van Rensburg, FIJ: GA Watermeyer (1917-1972). Ons Erfdeel, 1973
- Vandag in die ou dae. Beeld, 15 Oktober 1958
- Visser, AJJ: ’n Kransie vir GA Watermeyer [gedig]. Rapport, 11 Junie 1972
- Watermeyer se boedel. Hoofstad, 25 Junie 1972
- Watermeyer sterf aan hartaanval. Die Burger, 5 Junie 1972
- Watermeyer wou maar altyd platteland toe. Vaderland, 5 Junie 1972
Artikels deur GA Watermeyer:
- “Die Springbokram die pronk al weer”: gedig oor tweede toets. Die Burger, 1952 [volledige datum word nie vermeld nie]
- Reën in die voorwinter
- Republiek van duisend jaar en Geroepe volk [gedigte]
- Watermeyer, GA: [Biografiese skets]. In: NALN se knipselversameling. 21 Februarie 194
GA Watermeyer se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 27/07/2012 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
-
-
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
-

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


