
Foto: Willem de Swyger
Fynbos-Overberg-trilogie
Willem de Swyger skryf: Daar is oomblikke – soms heel onverwags – wanneer mens gekonfronteer word met iets werklik spesiaal wat as Suid-Afrikaner jou hart werklik laat swel van trots. Ek het verlede week, tydens ’n vakansie by De Kelders, so ’n oomblik beleef. Ek het die voorreg gehad om die Suid-Afrikaanse uitstalling by die Chelsea-blommeskou wat intussen in Stanford herskep is, eerstehands te aanskou.
En wat ’n voorreg was dit nie! Dit is moeilik om die belewenis na behore onder woorde te bring. Dié uitstalling, wat ’n goue medalje tydens die blommeskou verower het en bowendien aangewys is as die beste uitstalling tydens die skou, is nou op ons eie voorstoep te sien. Die skepper daarvan, die bekende en uiters talentvolle Leon Kluge, was self daar en ons kon hom ontmoet. Daarmee saam was een van ons land se heel beste blomskilders, Daleen Roodt, ook teenwoordig en word van haar werk, waarvoor sy eweneens met ’n goue medalje by die blommeskou weggestap het, uitgestal.
Die uitstalling duur tot eerskomende Sondag. Dit vind plaas in die saal te Koningin Victoria straat 32, Stanford. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets (https://www.webticket.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1551124585) en beloop R175 per kaartjie. Kinders onder 12 jaar oud kry gratis toegang. Die hoofborg is Grootbos Privaat Natuurreservaat. Baie dank is aan hulle verskuldig vir die visie om hierdie grootse belewenis binne die bereik te plaas van talryke mense wat dit andersins nie sou kon besigtig en beleef nie. As jy in die omgewing is, gaan loer gerus in. Jy sal nie spyt wees nie. Of ry deur vir die geleentheid, maak ’n uitstappie daarvan. Ek terwyl jy daar is, eet sommer iets in Stanford. Die mooie dorpie kan doen met ʼn bietjie ondersteuning, veral na verlede jaar se vloede.

Foto: Willem de Swyger
I – iewers tussen Elim en Baardskeerdersbos
waar die strandveld
se groen gelaat
plat uitgestrek lê
versuim die somer
beskimmeld vanjaar
die winter klou hardnekkig
verseg lankmoedig
wolke se donker fronse
wyk eensklaps
voor die skugter son
se sagte glimlag
wat klokhelder weerklink
wat blink deur die wolke breek
tot fragmente prismalig
wat dolgelukkig
doodluiters en tevrede
geduldig ou berge
groen oortrek in fynbosfluweel
die droom vir ’n oomblik
vertroulik met my deel –
ook ek is onsterflik!

Foto: Willem de Swyger
II – Grootbos
fynbosgebed
in arm grond
in sand
groei die fynbos
– protea, erika, riet –
welig uniek
en tog
kort die fynbos
die vuur
wat verteer
vlamme se hitte
wat uitdroog
wat laat ontkiem
en saadskiet
as van wat was
word voedingswaarde
vir wat nog kom
uit dood
kom lewe
uit niks
kom iets
word geskep
word herskep
leer my tog
help my tog onthou
wanneer ook ek
deur die vlamme
na vernuwing
moet gaan
wanneer ek die vuur
lankmoedig
geduldig
moet leer verduur

Foto: Willem de Swyger
III – Chelsea in Stanford (vir Ma en Leon Kluge)
Ma, wat sou jy sê?
wat sou jy sê oor al hierdie proteas?
al hierdie fynbos
erikas en heide
plate en plate
wat saamsing
– elk met ’n eie kleur
’n eie tekstuur –
met eie stem
in volmaakte harmonie
tot eer en verheerliking
van die wonderwerk
van die Skeppergod
jy wat so van blomme gehou het
wat hulle taal kon verstaan en praat
wat hulle kon hoor sing
jy sou die heiligheid begryp
hoe ’n skousaal ’n kerk word
ek dink jy sou uit jou maag uit lag
ek dink jou gesig sou skyn
ek dink jy sou in die hemel wees
en dan onthou ek:
jy is reeds in die hemel –
ek wonder hoe mooi die blomme
dáár saam kan sing?
Kommentaar
Trots Suid Afrikaans met kleurryke blomme en verskydenheid tekstuur is die landskap vir ons geskep deur blomkunstenaars.
Wat 'n belewenis!
Knap gedaan
Willem Soos altyd ongelooflik. Jy is so talentvol.
Willem jou woordkeuse laat mens in prentjies sien. Dis werklik goed. Geluk my vriend.
Dankie Willem, dat jy jou talent met ons deel!
Die blomme, woorde en my gedagtes praat sa, en hou baie daarvan. Welgedaan almal
Dankie, ou maat, dat jy as woordkunstenaar jou woordspens met ons deel.
Willem, dit was ‘n reuse plesier om jou te kon ontmoet by die blommeskou. Dankie dat jy jou kreatiewe woorde deur die fynbos laat pols het, en ‘n nuwe dimensie tot die skouspel toegevoeg het.
Baie dankie, Willem. Jy speel so mooi met woorde en beelde en herinneringe.