FW se eie spirituele intelligensie

  • 0

Dagsê Francois

Jou brief, in antwoord op my beskuldiging dat jy as gevolg van jou oormatige oordrywing alle kredietwaardigheid verloor het, slaag weereens daarin om my stelling 100% te ondersteun. Jy gaan net ’n bietjie te erg tekere om enigsins ernstig opgeneem te word.

Kom ons kyk net na twee van jou los-kanon-stellings in jou laaste brief:

Wie anders bedreig SA as die Afrikaner?

en

... maar gaan vraag jou naaste Afrikaner – enigeen is okei, want hulle is almal aan een of ander vorm van dwelm verslaaf.

Hierdie stellings is so eensydig en subjektief dat dit in my boek saam met Kobus de Klerk se godsdienstige drogredenasies onder dieselfde kam geskeer behoort te word. Sonder om eers regtig myself in te span kan ek aan tientalle erger bedreigings vir SA dink as ’n klompie ontevrede Afrikaners. Ek weet van geen gesaghebbende politieke of sosiologiese ontleder wat “Die Afrikaner” as Suid-Afrika se grootste bedreiging sien nie – dis blykbaar net jy wat hierdie besondere insig het. Sovêr ek kan sien en beleef lewer Afrikaners ’n uiters sinvolle bydrae om Suid-Afrika te laat werk.

Ek ken heelwat Afrikaners wat op hulle beurt weer heelwat Afrikaners ken en tussen die lot van ons is verslawende gedrag net so raar soos wat dit onder enige ander onderskeibare groep is. Om die waarheid te sê het die voorkoms van mense wat rook in ons vriendekring afgeneem en word dit al amper as onaanvaarbare sosiale gedrag gereken. Weereens weet ek van geen gesaghebbende studie wat Afrikaners uitgewys het as bogemiddeld geneig tot verslawing nie.

Jou los-kanon-stellings (“sweeping statements”) het dus geen ondersteunende onderbou nie en is net soos Kobus de Klerk se godsdienstige insigte waarskynlik daarop geskoei om julle eie duistere belange te bevorder. Kobus beroem hom op sy superieure spirituele intelligensie wat natuurlik net so ’n hersenskim is as sy imaginêre vriend wat iewers bo in die wolke skuil.

Waarop berus jou besonderse insig? Wat dryf jou intense Afrikanerhaat?

Groetnis

Thomas

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top