Fury (1936) wys waarom Malema se vigilantewaarskuwing veroordeel moet word

  • 0

Die 28-jarige Hillary Gardee is skynbaar brutaal tereggestel. EWN berig dat sy in die agterkop geskiet is. Ander nuusbronne het dit bevestig.

Gardee is die dogter van Godrich Gardee, ’n voormalige sekretaris-generaal van die Economic Freedom Fighters (EFF). Daar is gerugte dat haar moord polities van aard is, maar dit is nog nie bevestig nie.

Enige moord moet veroordeel word, en die EFF het goeie rede om woedend te wees.

Maar Julius Malema het die grens van welvoeglikheid oorgesteek toe hy na bewering gedreig het dat die EFF moontlik die reg in eie hande kan neem as hulle die moordenaars opspoor voor die polisie dit kan regkry.

News24 berig dat Malema die volgende gesê het: "We have committed to the family to find these killers and we have also committed to Bheki Cele's word that he must find them before we do – because, if we find them before him, we will not give him any guarantee."

Dit is gevaarlik, en ’n mens hoop dat die Menseregtekommissie teen hom sal optree.

Ons kan nie verdere vigilante-optrede in Suid-Afrika duld nie.

En dalk kan ’n baie ou film help om die gevaar van sulke uitsprake te verduidelik.

Fury deur Fritz Lang

’n Goeie vriend, wat ’n regsgeleerde is, het aangedring dat ek Fritz Lang se film Fury moet kyk. Dit is in 1936 gemaak.

Die verhaallyn is eenvoudig:

  • Joe Wilson (Spencer Tracy) is verlief op Katherine Grant (Sylvia Sidney). Hulle wil graag trou, maar het gewoon nie geld nie. In daardie dae het mense nie saamgebly nie, dus trek sy na ’n ander dorp waar sy meer geld kan verdien en hy open ’n vulstasie saam met sy broers.
  • Joe is baie lief vir grondboontjies – ’n belangrike deel van die storie.
  • Uiteindelik spaar Joe genoeg geld. Hy bel vir Katherine en sê hy is op pad.
  • Joe vertrek op sy reis van drie dae op dieselfde dag as wat ’n enorme losprys betaal word vir ’n meisie wat ontvoer is, dus is die polisie op hulle hoede.
  • Wanneer Joe aangekeer word in ’n blokkade, tel daar twee dinge teen hom: Op die brief wat die losprys geëis het, was daar restante van grondboontjies en Joe het ’n $5-dollarnoot by hom wat ’n soortgelyke nommer het as die geld waarin die losprys betaal is.
  • Joe word in die selle geplaas terwyl die saak verder ondersoek word.
  • Ongelukkig laat weet die sheriff se hulp sy vrou dat hulle ’n moontlike verdagte aangekeer het, en dat hy laat gaan wees vir ete.
  • Die vrou vertel die buurvrou, die buurvrou vertel haar buurvrou...
  • ’n Halfuur later is die manne in die kroeg vuurwarm oor die krimineel in hulle dorp. Gesterk deur die alkohol ruk hulle op na die tronk en hulle eis dat Joe aan hulle oorhandig sal word.
  • Die sheriff besef hy is in die moeilikheid en vra hulp van die nasionale weermag. Die staat se goewerneur word egter omgepraat om die troepe terug te trek, want dit mag sleg wees vir die verkiesing as daar soldate teen gewone Amerikaners
  • Die uiteinde is dat die tronk afgebrand word met Joe steeds agter die tralies.
Fritz Lang

Fritz Lang is in Wene gebore. Sy ma was ’n Jood, maar hulle het Katoliek grootgeword.

Hitler se oorname het gemaak dat Lang na die VSA gevlug het.

Fury was Lang se eerste Amerikaanse film en is nogal ’n kil kyk op sy nuwe blyplek.

Die storie is baie losweg gebaseer op vigilantes wat koelbloedig opgetree het teen die vermeende moordenaars van ’n ontvoerde Kaliforniër, Brooke Hart. Lang en Bartlett? Cormack het toe ’n storie van Norman Krasna, getiteld Mob rule, verwerk om Fury te maak.

Die feit dat die wit dorpenaars ’n wit man lewend kon verbrand, was belangrik, want dit het vrae oor aanspreeklikheid laat ontstaan, sonder om die raskaart in te gooi.

Daar is ’n paar ander stekies na die Amerikaanse samelewing, veral wanneer die barbier, wat ook ’n immigrant is, vir een van sy Amerikaanse klante aanbeveel om tog ’n slag die Amerikaanse grondwet te lees, aangesien dit nogal ’n oulike dokument is.

Kuns kan help

Dis maklik om mond uit te spoel teen Malema, en wanneer hy gevaarlike goed sê, moet dit aangespreek word.

Suid-Afrika is egter nie bekend daarvoor dat mense aanspreeklik gehou word vir hulle dade nie – ironies genoeg is dit presies hoekom Malema die gevaarlike uitspraak gemaak het.

Soms help kuns om waarhede op ’n sagte manier oor te dra. Sou dit nie wonderlik wees as die SABC Fury ’n paar keer op TV kan laat draai nie?

Show, don’t tell.

Malema het glo uitgevaar teen mense met “peanut brains” tydens sy tirade.

Wel, Suid-Afrikaners is heeltemal slim genoeg om Fury se boodskap uit 1936 oor ’n grondboontjie-eter te verstaan.

As die SABC dit nie uitsaai nie, sou ek enige een aanraai om hierdie klassieke film in die hande te kry. As jy dalk vir Malema ken, nooi hom oor dat hy saam kyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top