Die kom-en-gaan-refrein

  • 0

 

Ter viering van Athol Fugard se 90ste verjaarsdag

 

11 Junie 1932

In die middel, tussen kliprante,
lê splinters van ’n Middelburg bymekaar gevee
as holtes van oorlewing.

In ’n stofstraat haas ’n man hom
met gekrukte vaart na die eng rooibaksteenhuis
waar sy vrou reeds begin het

om geboorte te gee aan –
in die deur bly hy staan, kyk na die pasgeborene
wat die vroedvrou na hom bring,

daar is geen krip, of wat ook al uit watter rigting,
daar is geen bok of skaap, selfs nie engele nie –
om die waarheid te sê:

daar is weinig meer as die naam
Harold Athol Lanigan Fugard met die krukke
wat sy pa eenkant teen die muur geplant het

wanneer hy gaan sit
om sy naasoudste sku in sy arms
te neem.

 

Die kom-en-gaan-refrein

“Why not? It solves problems. Let’s face it,
 a man on his own two legs is a shaky proposition.”
– Johnnie (uit Hello and goodbye, 1965)

 

Man in kombuis

In ’n skeefgetrekte vertrek
en ’n gestroopte vloer
sit ’n man by die tafel met sy kop
verlore in die kromming
van elmboog: tik, tik, tik, tik,
met sy hand skeef na die drinkglas
uitgestrek
in die middel van die tafel
in die middel van die kombuis
in die middel van die huis
in die middel van die buurt
in die middel van die wêreld
tik, tik, tik, tik
met ’n lepel teen nuttelose glas: tik, tik,
maal sestig, ’n minuut, maal sestig, ’n uur,
maal vier-en-twintig, ’n dag, ’n aand,

’n Vrydagaand, nogal, iewers in die getik-tik-tik
wat ongesiens in hom getye verwissel,
plus een, ’n volgende dag, maal
drie-honderd-vyf-en-sestig, ’n jaar, maal
sewe-en-dertig, ’n leeftyd van sekondes afgetik –
’n mens, ’n Johnnie Smit, op ’n leë stoel
in ’n leë vertrek, in ’n leë huis, in ’n leë buurt
leeg, leër, leegste met elke knal
van metaal teen glas –
die wag, en die stilte, want om te wag
is altyd dit: ’n enkelgloeilamp sonder skerm
aan ’n dun, dunner, dunste stukkie draad,

soos die uitgeleefde ruimte
agter ’n toegegroeide kamerdeur
met niemand wat vra
om aandag, niemand wat roep kom na my
in die dooie uur van die slaap
wanneer die nag se oopoorsluimerkant
opgehef word deur die nood van ’n ander
wat nou, helaas, nie meer is nie,

soveel jare lank die sorg aangedra, skinkbord
vir skinkbord na waar
Johnnie weet sy pa kortasem lê
tot dit alles oplaas by hom verby
na buite gedra is –
liefde, sorg, plig, die dooie gewig daarvan,
dit wat eens pa kon wees, ’n man
met krukke en pensioen: liefde, sorg, plig
dit alles uiteindelik maar net gewig
via ambulans na ’n gat iewers
in grond.

Nou bly net die wag oor,
alleen op die stram stoel langs
die tafel as ’n aangegroeide ledemaat
in die middel van ’n kamer
in die middel van ’n huis
in die middel van ’n buurt
in die middel van ’n stilte
wat ’n leeftyd word

in gelyke waardes die getik, sorgsaam
gebalanseer met die skale
van ’n gewag op niks
in ’n skeefgetrekte vertrek
en gestroopte vloer.

 

 

Dooie gewig

Die skok van gewig –
gereed, en een-twee-drie-en-hup
die uitgeteerde, bedlêende
gewig van dit verlore onder ’n laken
by Johnnie verby na buite gedraagbaar
en hy, so nutteloos agterna –
die hande, die sorg,
verskoon my, vergewe my, jammer,
is daar vorms om in te vul, nee
antwoord een, ons het mos u adres,
iemand sal u kontak,
en daarmee een-en-twee-en-drie: hup
in die ambulans in, straataf. En weg.

Die slotsom van ’n lewe: dooie gewig.
Sonder ’n pa se hoop op seën.

 

 

Johnnie beplan sy dag

En as dit môre mooiweer is,
sal hy strand toe gaan, met ’n bier
en lemon creams op die rotse
gaan sit: Ja, ’n dag daarvan maak
as dit môre mooiweer is.

Met die Somerstrandbus nr 6
al met Upper Valley Road langs en hy
sal bo sit vir die uitsig op huise
waar mense woon, strate waar mense
beweeg: Ja, op die rotse sal hy
gaan sit, koekies eet en bier drink.

’n Dag daarvan maak,
miskien ’n paar woorde verkwansel
met iemand, ’n bedelaar op krukke
dalk, in ruil vir ’n paar sente,
’n opmerking oor die weer, mits
dit mooiweer is, natuurlik.

En skemeraand terug,
oudergewoonte die lig aan, terloops
’n ek’s-terug! roep na die stilte
agter die blou deur waaragter,
so onthou hy meteens,
niemand meer op sy tuiskoms
wag nie.

Geen god, geen mens.
Net nog ’n dag.

 

 

Hester kom huis toe

Soos ’n nors kind na vore gestamp
uit ’n ry vermistes, is Johnnie se suster
terug met al die jare tussenin
soos ’n jas om haar skraalte toegeknoop,
en ’n tas verwese op die vloer
langs haar: Het jy nie gehoor ek roep nie, vra sy,
die taxi was haastig, die voordeur oop
en hier’s ek nou, ja, sê hy –
hier is jy nou.

Soveel jare is dit later en sy onthou
soos gister die stofverwaaide ure in leë strate,
die gras wat grys word langs die rioolgat,
die skuim al met die rivier se oewer langs, sy onthou
die geure van ’n jeug. Wat het jy kom
soek, vra Johnnie, hoekom is jy hier en sy onthou
die warm, bedompige geur van wasgoed
pas gestryk, die nagte wat jou ’n vreemdeling maak,
jou laat voel jou tuiste is elders, altyd
die dralerige refrein
van kom-en-gaan, die uitgerekte fluit van ’n trein
en op ’n dag is dit jóú beurt om van trajek
te verwissel in die lewe
se rangeerwerf en na ’n ánder stad te gaan
in streke ver vandaan, die dosyne, dosyne kamers
gehuur per uur, die mans se gekom-en-gaan,
telkens die venster, die uitsig op stram woorde
agter jou rug gefluister, die ritsel van klere,
die lywe wat aan ander name asem gee, ander
hartstog jaag. En nou’s jy hier, Hester, ja,
nou’s ek hier

op soek na die uitgestelde verwyt
soos in ’n ou skoendoos soveel jare reeds
deur hul pa onder sy bed
bewaar –

die onvoorbereide fees van gemis
met die tuiskoms van berou,
haar kompensasie.

 

 

Die halwe waarheid

En Johnnie durf nie
aan Hester verklap dat die kranke
wat sy agter die blougeverfde kamerdeur
vermoed, nie meer daar is nie, dat hul eenbeenpa
reeds elders heen vertrek het –
die skaamte daarvan om alleen agter te bly,
om soos ’n roof te bly glo aan ’n wond, wagtend
op die terugkeer van die nag se seerste
klanke: Iemand wat omdraai in sy bed, dalk hoes,
dalk roep, die geluid van botteltjies met pille
vir die pyn in die stompiebeen, die gesteun snags
wanneer sy pa droom hy lê weer spoorstawe
anderkant Perseverance, weer besig
om eenkant in verbode terrein ’n turksvy
te staan en eet
tot die aarde onder hom skeur
en hy beenloos val deur die ontploffing
van klip en grond, daarom –

Ja, Hester, hy is nog steeds hier
agter daardie toegeverfde kamerdeur, en hy
vervloek jou steeds, hy kan jou
nie betreur nie,

want jy’s soos die been
wat hy verloor het anderkant gister
toe jy nog mooi
en vir hom sy dogtertjie was

 

 

die kom-en-gaan-refrein

die een was bang vir bly
en het gegaan, die ander was bang
vir gaan en het gebly

die een het gesien die moeë ure
van was en stryk, van huishou, die skrop
en vee, die kanker

van begeerte, die ander het gesien
die lewe sonder sorg, sonder die aandag
van oë wat peil trek

op jou, op jou eie, altyd op jou
eentjie, die kilte daarvan en die een
het gegaan, die ander het
gebly

alleen, iedereen

 

 

Die tweede bedryf

Om in die middel van die vloer
te sit, omring deur stapels papiere, albums
en ander onthou-jy-nogs, om name
hand-oor-hand aan te gee
in ’n poging om al die verledes
te maak pas, dit is die tweede bedryf –

Onthou jy nog die bakleiery in die straat,
al die kêrels met wie jy in die donker
gestaan en vry het, ja, antwoord sy, en jy
het altyd vir pa loop staan en vertel,
altyd jy, maar dit was altyd
die waarheid, Hester, altyd die waarheid
en toe jy weg is

was daar nie meer ’n waarheid
om te vertel nie, jy’t my altyd die waarheid
vertel, Johnnie, het pa dikwels verwyt,
en hy probeer verduidelik: Hester is weg, Pa,
dis maar al, Hester is weg

soos ma wat deur die kanker gevat is,
is ook sy weg en dis die waarheid.

 

 

Familieportret

Boetie dra ousus se bloes
wat vir haar te klein geword het
Ma dra pa se skoene, opgestop
met koerant om te pas, haar

eie bly in ’n boks in die kas
vir kerk toe gaan elke Sondag

Sus loop met pa se rafelhemp
en hy lê kaalgat in die bed

sonder been, sonder werk
of kompensasie

met die lendelam krukke
teen ’n muur gemaak staan –

Die familie Smit
Valleisingel 57A
Port Elizabeth

die adres

 

 

Johnnie se droom

Die allermooiste mooi lokomotief
in sy spoor, die swart vaart: nagdeur,

die warm, sissende krag
met die fluit wat stoomlinte na agter

string, die bondels rook
op wintersoggende traag aan’t dryf

oor witgerypte velde agtertoe,
die stasies se rooibaksteenhuisies

wat asof in stadige spoed
uit die oog verdwyn met altyd

’n tuiskoms wat iewers wag
om die skof mee af te sluit

 

 

Hester se erflating

Met haar gesig in haar ma
se rok gedruk, hier, op die vloer
in die middel van die huis
waar sy dogtertjie was, hier, met die geur
van liefde in uitgedunde materiaal
geweef, die kans om lief te hê,
liefgehê te word –

Dit is haar ma se erflating, jare reeds
met moth balls in die skraal kas
bewaar vir later
en die sikspens se blouseep gekoop
by die Chinaman op die hoek, skoon,
alles altyd skoon soos die rok
nagelaat, maar nou, nou is daar net
hierdie besef van verlies
omdat niks ooit genoeg kan wees
wanneer ons mekaar
so terloops

moet groet en gaan nie

 

 

Die ander waarheid

En Hester stamp die leuen oop,
sien die onopgemaakte bed, die leë lakens:
Waar’s pa, vra sy, wat het geword?

Dood, antwoord Johnnie, in my slaap
het hy gesterf, wakker word, slaapkous,
het ek nog gesê, die gordyne

oopgetrek, onthou, die oggendstond
het goud in die ... Jy weet, daardie
ou holruggrappie.

Maar wees eerlik, Hester: Dit help tog
om voor te gee hy’s nog daar,
soos gisteraand

toe jy nog in hom kon glo
as die blaam vir jou swaarkry.
Ek moet gaan, sê sy. Ja, Hester, ja –
jy moet weg en ek moet bly

as die uitskot van jou
onverwagting, dit is

hoe dit is.

 

 

Man op krukke

Op een been staan Johnnie
met sy pa se krukke in die middel
van die vloer, in die middel van die huis,
met sy ander been agtertoe
vasgebind, hinkepink hy met sy bolyf
vooroor soos hy sy pa telkemale
sien doen het.

Hoekom nie, dink hy, immers bied dit
uitkoms – ’n mens op sy eie
twee bene bly maar ’n wankelrige
proposisie en hy sien hom
na buite hink,
al met die straat af,
pink na die middel van die buurt,
in die middel van die stad,
die straathoek

waar hy hoed-in-die-hand bly staan
om aandag te bedel, ’n paar woorde
te wissel oor die weer, mits
dit mooiweer is, bygesê, selfs op te kyk
na die kerktoring
wanneer klokslae ’n bondel duiwe
oor verlepte dakke heen strooi.

En weet: hierdie uur het ’n dag bygekry
waarop hy sy pa se skof
sal voltooi,

want so is genade, ja, so is hoop –
en liefde, ja, so is liefde ook.

 

Hierdie gedigte is deel van ’n reeks verse met “teater” as tema, en dit word aangebied om die dramaturg Athol Fugard se 90ste verjaardag in 2022 te vier. Lees al die gedigte hier:

Athol Fugard 90: Teatergedigte

Die bydraes in hierdie reeks word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top