In hierdie derde skrywe oor George Claassen en Fritz Gaum se boek, God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 384p), bepaal ek die aandag by die bydraes van teologie-dosente.
Louis Jonker beweer: "Die Bybel laat ruimte vir ’n diversiteit van Godsvoorstellings" (p 84). Die woord "diversiteit" wek die korrekte vermoede dat hy aan die Universiteit Stellenbosch verbonde is. Daardie diversiteit van Godsvoorstellings is die teenoorgestelde van die "omheinde godsbegrip" waarna Willemien Brümmer verwys (p 209) en die "gemeet-en-gepaste God" waarteen Christina Landman dit het (p 297). Jonker: "Ons weet ... dat die Transendente in wese nié ... ’n man of ’n vader is nie. Hierdie is metafore waarmee gelowige mense hul verstaan van God ... tot uitdrukking wou bring. Dit was pogings om die onsêbare te probeer sê!" (p 89). Hier word dus ’n lansie vir nie-seksisme gebreek. Ek het ’n hekel aan sommige teoloë, soos Jonker, se voorliefde vir uitroeptekens. Ander teoloë is verslaaf aan hoofletters of teksverse. Die uitroeptekens herinner aan Herbert Armstrong se tydskrif, Plain Truth. Ek het hierdie gewoonte voorheen by Willie Esterhuyse gekritiseer. Johan Buitendag ly aan dieselfde kwaal. Dit is asof met uitroeptekens desperaat probeer word om ’n saai teks op te kikker.
Daar is volgens Jonker se geloof ’n enkele God wat hom manifesteer as drie: Vader, Seun en Gees (p 89). Daar word dikwels beweer dat die Jode eerste was om ’n monoteïstiese God aan te hang, in ’n tyd toe die Jode in die Midde-Ooste deur politeïstiese gelowe omring was. Monoteïsme vind egter suiwerder uitdrukking in Judaïsme en Islam as in die Nuwe Testamentiese Drie-eenheid. Die drie eenhede in die Drie-eenheid het oënskynlik verskillende funksies. Die Vader het die heelal geskep en in die Ou Testamentiese tyd het oënskynlik net hy as God bestaan. In die Nuwe Testamentiese tyd kom die Seun om onder andere ’n (meer) menslike aanskyn aan die Vader te gee. Toe die Seun as Christus hemel toe vaar, kom die Heilige Gees om God se teenwoordigheid op Aarde voort te sit. Daar is dus in die Drie-eenheid van die Christendom oënskynlik ’n funksieverdeling soortgelyk aan wat in die meergodedomme aangetref word. Daarom is al dikwels gesê dat hier ’n mengsel van monoteïsme en politeïsme aangebied word, al word dit meesal heftig deur teoloë ontken. Daar word ook beweer dat God as Drie-eenheid altyd bestaan het. Dit bly bitter moeilik om van die begrip drie-eenheid sin te maak. Histories het dit aanleiding tot talle probleme gegee.
Die voordeel wat politeïsme het, is dat iedere god (veralgemenend gesproke) net een funksie het. Die gevaar van teenstrydighede kan vermy word. Sodra meerdere funksies aan ’n enkele god toegeken word, soos in monoteïsme, kan dit tot teenstrydighede lei. Op grond van hierdie teenstrydighede het ek aangetoon dat die tradisionele christelike God nie kan bestaan nie (SêNet, 20 deser).
J Wentzel van Huyssteen verwys "na die buitengewone belangrikheid van ons as mense as verteenwoordigers van God op Aarde, in geen [?] sin belangriker as die diere nie, maar met ’n addisionele roeping om verantwoordelik te sorg vir ander mense, vir ons wêreld, en ook vir al ons susterspesies in die wêreld" (p 119). In die politiek word dit paternalisme genoem. Die invloed van die hedendaagse ekologiese "groen" organisasies word duidelik in hierdie vertolking weerspieël. Van Huyssteen omarm die evolusieproses as die skeppingsproses. Dit is "God se voortgaande skeppingsaktiwiteit ... Goeie teologie versmoor nie in ’n fundamentalistiese letterlikheid nie, maar bied inteendeel ’n radikale herbeskrywing van die wêreld vanuit ’n goed ingeligte, interdissiplinêre perspektief" (p 121). Vir die christelike godsdiens is so ’n benadering noodsaaklik as dit ’n mate van relevansie wil behou. Maar dit behels nie net ’n "radikale herbeskrywing van die wêreld" nie, maar ook ’n radikale herskrywing (of ten minste hervertolking) van die Bybel.
Ons as mense is, volgens Van Huyssteen, "evolusionêr geskape ... na die beeld van God" (p 124). As beeld van God kan ons seker op onsterflikheid aanspraak maak. Maar as produk van ewolusie kan ons kwalik ’n siel met die potensiaal van onsterflikheid hê. Die onwaarskynlikheid van ’n ewige lewe is een van die hoofbesware wat gelowiges teen biologiese ewolusie het. As teenvoeter bied Van Huyssteen die volgende aan: "Die opstanding van Christus [is] vir ons ’n metafoor ... van ’n herskeppingsproses waarin ons ná die dood op ’n nuwe, onuitspreeklike wyse met God verenig sal wees" (p 128). Vir teoloë bly dit egter bitter moeilik om ewolusie met tradisionele Bybelvertolkings te versoen. Johan Buitendag is ook in hierdie opsig bedrywig: "Ek is van oordeel dat die kerk deur die eeue die mens se andersheid as die natuur ongelukkig ten koste van die mens se eendersheid met die natuur oorbeklemtoon het" (p 338). Maar sterflikheid (en nie onsterflikheid nie) is ongetwyfeld kenmerkend van die natuurlewe.
Jan du Rand skryf: "Die Bybel is God se woorde in mensetaal deur mense wat op ’n besondere manier in die greep van die Gees geleef het, maar ook volledig kinders van hul tyd was" (p 159). Dit is die hedendaagse geykte poging om die beste van twee wêrelde te hê. As daar iets in die Bybel geskryf staan wat mense onmoontlik kan weet (bv metafisies of oor die toekoms), word gesê dat dit aan die inspraak van die Gees te danke is. As feitefoute voorkom (bv soos blyk uit wetenskaplike bevindings), word dit toegeskryf aan die onvolmaaktheid van die Bybelskrywers. Leopold Scholtz dink bv "dat die Bybel nie soseer die Woord van God is nie [al word dit telkens as sodanig aan ons voorgehou], maar die woord van mense óór God" (p 363). Hy glo "dat dié woord van mense óór God wel deeglik iets van die essensie van God weergee" (p 366).
Daar word gesê die goddelike openbaring van die Ou Testament is met die Nuwe Testament aangevul (of opgedateer). ’n Mens kan seker die vraag stel: Is dit nie lank reeds tyd vir ’n verdere goddelike opdatering nie? Waarom moet ons vir lief neem met teoloë se uiteenlopende en teenstrydige vertolkings? Maar dit is reeds die afgelope bykans twee millennia die geval. Wat opval, is die onvolmaaktheid of onduidelikheid van die Openbaring, dermate dat dit kwalik letterlik ’n openbaring genoem kan word; dalk eerder ’n verduistering. Die Jesus Seminaar het bv bevind "dat minder as 20 persent van Jesus se woorde in die vier Evangelies ’histories eg’ is" (p 161).
Du Rand vra hierdie eienaardige vrae: "Waar die (tydgebonde) ’fisikawette’ ... hul oeroorsprong sou hê[?] In absoluut ’niks’ nie?" (p 167). ’n Saaklike antwoord is dat die fisikawette deur mense geformuleer is op grond van empiriese waarneming en toetsing. Hierdie wette is nie entiteite (of dinge, soos plante en hemelliggame) wat aan die begin (as daar ’n begin was) deur God geskape is nie. Die geformuleerde wette het baie later gekom. Hulle is tydgebonde in die sin dat verdere navorsing tot die skrapping of herformulering (of verfyning) van bestaande wette kan lei en dat nuwe wette kan bykom. Hierdie sogenaamde wette gee uitdrukking aan noukeurig waargeneemde konstanthede/reëlmatighede in die natuur maar is deurgaans onderhewig aan hersiening.
’n Beter geformuleerde vraag is: "Waar kom die reëlmatigheid (soms orde genoem) in die natuur/heelal vandaan?" Met so ’n vraag word ’n begin en ’n skepper (en orderaar) egter veronderstel. Suiwer empiries moet ons eerder sê dat dinge is soos hulle is, dat hulle daarom noodwendig van ’n sekere aard (of op ’n bepaalde manier) moet wees, dat sommige van hulle ’n reëlmaat (bv dag en nag) het, maar ander (bv siektes) nie, ens.
Johan Buitendag verwys na "Siprianus se bekende uitspraak dat God ons Vader is en die kerk ons moeder" (p 332). Naas die tradisioneel manlike voorstelling van die Vader en die Seun is daar natuurlik in die Rooms-Katolieke Kerk die prominente rol wat aan die Moeder Maria toegeken word. As ek reg onthou, is nie net sy nie maar later ook haar ma tot heilige verklaar, maar dáár is die streep getrek. Die punt is dat hierdie vervrouliking hedendaagse feministe sus, wat nie beteken dat dit almal van hulle tevrede stel nie. Buitendag skryf: "Die mens moet ... wérk om te kan eet ... Arbeid is die opdrag van die mens; nie om te vernietig nie" (p 335). Dit is ’n tydige boodskap aan die nuwe Suid-Afrika, waar daar baie meer ontvangers van staatstoelaes as betalers van inkomstebelasting is. Daar is ook ’n oorwaardering (of sagte hantering) van diegene wat afbreek en ’n verguising van diegene wat eeue lank leiding in die opbou van Suid-Afrika gegee het. Hulle was in hierdie opsig nie "vervangbare setlaars" (p 237) nie en is dit nog steeds nie. Tydens slawerny, kolonialisme en apartheid het Suid-Afrika die ontwikkeldste land in Afrika geword. Oor hierdie konstruktiewe periode word daar deesdae meesal negatiewe opmerkings gemaak.
Hoewel Anton van Niekerk dikwels ’n appeltjie met teoloë te skil het, word hy hier ingevolge sy formele opleiding en uitsprake by hulle ingedeel. Hy skryf: "Dat die lewe vir my sin maak in soverre dit geleenthede bied om ’n lewe van liefde te probeer lei ... met wie ook al jou pad kruis" (p 226). ’n Mens kan maar net hoop dat dit alle Afrikaners, ook die verkramptes, insluit. "In soverre ’n mens se lewe iets vir ander mense kan beteken, het dit wat my betref sin" (p 227). "Ons in Hom kan leer lewe vir die ander. Om daarom te lewe in beskikbaarheid vir die ander" (p 229). Dit klink vir my oordrewe altruïsties, iets wat mode in openbare uitsprake in die nuwe Suid-Afrika geword het. Vincent Brümmer dink dat ons sin buite onsself in God moet vind (p 337-338), terwyl ek oortuig is dat elke mens self sin van sy lewe moet (probeer) maak. Van Niekerk: "Die toekoms [is] swanger ... aan die belofte van hoop en uitsig vir hulle wat glo" (p 230). "Ek glo ... dat die geloof die sleutel verskaf tot ’n sinvolle lewe hier en nou" (p 233). Uit hierdie empiriese gerigtheid volg: "Ek glo nie in ’n metafisiese god nie" (p 226).
Met verwysing na hierdie boek skryf ek volgende keer oor politiek-gepreokkupeerde gelowiges en ongelowiges.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dankie vir hierdie bydrae oor gelowiges aan die woord. Uit die kwotasies blyk dit dat hierdie groep teoloë oor die algemeen heel "modern" in denke voorkom, en dat hulle die bybel metafories benader: hulle val nie in die gat van fundamentalisme nie. Die beste opmerking in hierdie skrywe ( deur Comestor self?) is: indien die bybel enigsins in die toekoms relevant wil bly, dit 'n radikale hervertolking sal moet ondergaan, indien nie 'n totale herskrywe nie. Die feit van die saak bly dat hoe hoër die kennis van die mens en sy intellektuele ontwikkeling is, hoe minder relevant gaan die bybel in die toekoms word. Sy voorland lê nog in derdewêreld lande waar daar swak onderwys, armoede en sosiale elende heers.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Johannes, baie dankie vir jou betekenisvolle bespreking van die "Godboek". Jy't my oortuig om die boek op my rak te plaas. Groete, Ekke.
Ok fine.
Die probleem met al die gebabbel is dat daar niks te sê is oor die ware God wat nou op hierdie oomblik al hierdie moet aanskou nie.
Ongeag van wat jy glo Hy is of verduidelik hoe Hy is, Is HY wat Hy is en is Hy soos Hy is sonder jou hulp.
Diversiteit in Godvoorstelling is onnosel. Die wereld se opinies is waarlik betekenisloos. Jy moet gaan en uitvind wie (indien enige) van hierdie is reg.
Die alternatief is om 'n God van jou eie verbeelding skepping te dien. M.A.W. Dien jouself. Hoekom jy jouself dan nog bemoei met teoriee en gesprekke oor God, sal net jy weet.
Jy sal nie weet hoe om God te dien nie al staan Hy reg voor jou. Vra jouself hierdie onnosel vraag: Kan iemand wat nie kniee het nie God dien?
Hier is die adresse vir 'n hamster wiel (Theosophy Society) in Suid Afrika, en bly maar uit ons kerke uit.
Baie moeite vir niks.