Na my inleidende opmerkings (SêNet, 20 deser) oor George Claassen en Frits Gaum se boek, God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 384p), word in hierdie skrywe aandag aan die standpunt van sommige van die ongelowige medewerkers gegee.
Jurie van den Heever noem dat volgens die teoloog Ferdinand Deist "die siel in Bybelse terme bloot ’n beskrywing van iemand se persoonlikheid" is (p 47). Wentzel van Huyssteen verwys na Antonio Damasio se werk oor die bewussyn, waar die self die middelpunt van die indiwidu se ervaring is (p 115). Naas die liggaam is hierdie aspek van die ek, dus sy gees, nie ’n onlokaliseerbare siel nie, maar iets wat nie onafhanklik van die brein, senustelsel en sintuie kan bestaan nie. Van den Heever beweer (soos andere, maar ek sal liewer nie) "dat die mees morele en etiese samelewings vandag in lande voorkom waar die bevolkings uitgesproke ateïsties en pro-wetenskaplik is" (p 52). Johan Buitendag meen "die mens is ... van nature ’n etiese wese" (p 339). My waarneming is dat die son oor regverdiges en onregverdiges skyn en dat dit skyn laat dat bars oor die onregverdiges, ook in die nuwe Suid-Afrika.
Ek beaam Piet Croucamp se waarneming: "Die wêreldwye, statisties beduidende groei van ateïsme in ontwikkelde lande en die eksponensiële groei in godedienaars in arm en ontwikkelende lande" (p 147). Die samelewing (en nie die waarheid nie) bepaal die geloof wat mense van kindsbeen af aanhang: "Die (verwronge) kognitiewe argitektuur van geloof erf ons ... van ons ouers en die wêreld waarin ons die eerste lewenslig aanskou" (p 147). "Daar ... [is] nie genoeg rasionele kapasiteit in die meeste mense ... om tot ’n vrydenkende insig te kom nie" (p 148). "Godediens is ’n emosionele plasebo wat jou gewroegde siel paai deur die kanker van intellektuele verstikking te laat muteer in ’n skyn-euforie ... Soos kommunisme, apartheid en nasionalisme is godediens ’n kollektiewe leuen" (p 150). "Die misterie wat godediens fabriseer, is onintelligent, oninteressant, primitief en vernietigend" (p 152). Die volgende stelling kan (erg) oordrewe wees: "Daar is geen enkele misdaad teen die mens aangeteken wat ’n intellektuele oorsprong in ateïsme het nie. Godsdiens, daarenteen, verteenwoordig die vloek van menswees oor eeue heen" (p 153).
Lizette Rabe is oortuig dat "god nie bestaan nie maar ’n mensgemaakte konstruk is" (p 176). Sy glo ook nie aan ’n hiernamaals nie (p 179). "Die Bybel was die antwoord vir sy tyd; dit is dit nie meer vandag nie. Dit is, met respek, ’n versameling geskrifte uit verskillende antieke kulture, waarvan die skrywers en herskrywers op hul manier probeer sin maak het van hul wêreld, binne die konstrukte van hul tyd" (p 178). "As ek gevra word waarin ek glo? Soos Hupatia van Alexandrië moet ek antwoord: ek glo in die filosofie, die liefde vir kennis, om wysheid te soek, om nooit tevrede te wees met dit wat voor die oë is en wat voor die hand lê nie" (p 186).
Kenmerkend weeg simboliek en beeldspraak by Breyten Breytenbach swaarder as letterlike of feitelike oorwegings. "Vir my kan daar maar plek genoeg onder ons wees vir spoke en engele en geeste en gode – en wie sou sê hulle is nie werklik nie wanneer soveel mense se gedrag hierdeur beïnvloed word? – solank hulle net vir my ook ’n bietjie kos los. Eintlik het ek groter behoefte daaraan dat mense meer oopkop en vrygewig en regverdig sou word. As die gode of ’n geloof in gode hiermee kan help – waarom nie? Begeerte lei egter nie sommerso na die bestaan van die Begeerde nie" (p 236). "My vrou se geduld met my is ’n wonderwerk – want daar is geen rasionele regverdiging voor nie" (p 240).
Abel Pienaar onderskei tussen spiritualiteit en godsdiens. "Georganiseerde godsdiens is ’n groepsaktiwiteit wat gereguleer word deur uiterlike reëls en regulasies. Hierteenoor is spiritualiteit ’n innerlike, spontane belewenis en het bitter min te doen met uiterlike reëls, regulasies en dogma. Godsdiens vra van jou om iets buite jouself te gaan soek ... Spiritualiteit ... is ’n soeke na sin ... binne jouself" (p 256). "Mense word deur hul godsdienstradisies geleer om hul verstand af te skakel" (p 266). Pienaar beweer: "Sodra ons ’n prentjie kan skep rondom wat gebeur ná ons sterwe ... kom daar, snaaks genoeg, gemoedsrus" (p 270). Ek sou eerder sê dat dit onmoontlik is om ’n sinvolle beeld van die hemel, hel of ’n derde moontlikheid, niks in die absolute sin, te vorm.
Hans Pietersen munt uit in interessante woordsamestellings: Afribendes, geloofskitsch, godsvoortrekkery, Jesusvrate, sielepleisters, popsielkundiges, drekhandelaars, kits-misterie, vreesgeeste, ens. "Uiteindelik maak geloof staat op onkunde en sosiale druk" (p 293). "Ons neuk ... agter pastore en generaals aan" (p 289). Ek bevraagteken hierdie stelling: "Die wetenskap bestudeer met graagte enige natuurlike verskynsel, insluitende abstrakte verskynsels soos etiek, waardes, liefde en vrees" (p 291). Aspekte van die laasgenoemde vier verskynsels kan (nog) nie afdoende wetenskaplik bestudeer word nie. Juis daarom is daar naas wetenskaplike bevindings ruimte vir wysgerige besinning.
Van Pietersen se volgende stelling kan gerus kennis geneem word: "Die begrip ’ateïs’ is oorbodig, want dit is niks meer as om iemand in terme van ’n ander se voorkeur-hersenskim te probeer definieer nie" (p 294). Ek sou om dieselfde rede eerder sê dat daar iets ongewens aan die term "ateïs" is. Letterlik beteken dit "nie-teïs". Die beswaar is dus soortgelyk aan dié van mense wat nie "nie-blank" nie maar eerder "swart" genoem wil wees. Lizette Rabe het ’n soortgelyke beswaar teen die term "ongelowige", omdat sy gemeet word aan wat sy nie is nie (p 176). ’n Verwante interessante ontwikkeling is die groeiende getal Europeërs in wie se verwysingshorison die begrip God glad nie voorkom nie. Hierdie geestesgesteldheid word "agnosme" genoem (p 221).
In Pienkes du Plessis se bydrae is daar hierdie belangrike opmerking: "Hoekom iemand wat uitspansels kan skep dit nodig vind dat ’n minuskule sandkorreltjie-mens hom moet loof en prys, weet nugter" (p 315). Hy wys ook op die onomstootlike feit dat geloofsgenesers daarop aanspraak maak dat hulle allerhande obskure, interne kwale kan genees, maar geeneen van hulle kan ’n maklik sigbare resultaat lewer soos om ’n geamputeerde ledemaat te laat aangroei nie. "Die Afrikaner ... verstaan die wêreld om hom al beter en beter, terwyl sy God al kleiner en kleiner word" (p 319-320). "Alle gode hou van goud, waarvan hulle baie het, en wat hulle ook gebruik om strate mee te bou, trone te bou waarop hulle sit, harpe vir engele te maak, vrugtebakke vir vrugte wat nooit opraak of verlep nie, en so aan" (p 324). "’n Mens kan tog nie heeldag net op ’n harp speel of in ’n koor sing nie, en ek sou beslis aandag gegee het aan ’n paar ander tydverdrywe. Dalk bietjie rugby op Saterdae – en jou span wen altyd. Of gholf op Woensdae, en almal is op ’n nul-voorgee" (p 325). Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat daar nie tyd in die hemel is nie.
Volgende keer skryf ek oor die geloof van teologie-dosente.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dankie vir hierdie bydrae en vir die besondere interessante kwotasies uit die "Godboek" deur George Claasen en Frits Gaum. Graag wil ek met hierdie geleentheid my sterk protes aanteken dat die outeurs van hierdie bundel nie vir Kobus de Klerk gekonsulteer het aangaande die inhoud van hulle boek nie, en nie eers die ordentlikheid geopenbaar het om hom saam te neem by die diskussies nie of eers sy advies gevra het tydens die finale editing nie. Hierdie onvergeeflike oorsig sal hopelik met n daropvolgende druk reggestel word.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Dankie Johannes.
Jou bydraes vind ek altyd interessant en lekker om te lees.
Hallo Pieter,
As — ek sê as — hulle al van Kobus de Klerk gehoor het, neem hulle hom waarskynlik op vir wat hy werklik is en daarom word hy oor die hoof gesien. Dié mense probeer geld maak uit die boek en hoekom sal hulle nou so dom wees om hulle self in die voet te skiet?
Panda
Johannes, nog 'n dankie vir jou gebruiklike sinvolle hantering van 'n onderwerp. Ek't my bril opgesit en rustig van bo tot onder elke woord gelees. Natuurlik is daar 'n paar aanhalings waarop ek sou kon reageer, maar dis nie die punt nie. Ek dink jy't op jou besonderse manier betekenis en sin gegee aan dit wat jy in die Godsboek gelees het. Ek sien uit na jou volgende bydrae.
Pieter
Ek koop nogal Hans Pietersen se argument dat die begrip ateïs problematies is. Benewens 'n ateïs is ek ook 'n:
Uitstekend Pieter.