Die verskyning van God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 384p) by 'n hoofstroomuitgewery dui daarop dat die teks ideologies en as finansiële waagstuk (verkoopprys R210) goedgekeur is. Die redakteurs, George Claassen en Fritz Gaum, is bekend daarvoor dat hulle nie fundamentele probleme met die huidige politieke bedeling het nie. Daar word klaarblyklik gehoop dat hierdie Afrikaanse teks populêre steun by boekkopers sal geniet.
Naas 'n inleiding deur elk van die redakteurs bestaan die teks uit twaalf bydraes deur religieuse gelowiges (of mense wat min genoeg twyfel) en 'n dosyn bydraes deur ongelowiges (of mense wat baie twyfel). In elke groep is daar vier vroue. Onder die medewerkers is daar twee bruin gelowiges en een bruin ongelowige. Laasgenoemde se bydrae is die swakste in die boek. In By, die bylae tot Die Burger, is ses bydraes uit elk van die groepe in die vorm van uittreksels gepubliseer (3 deser, p 6-7) met 'n illustrasie wat toon wie op die smal en wie op die breë weg is. Aan die kant van die gelowiges is daar een uittreksel deur 'n vrou en een deur 'n bruin mens. By die ongelowiges is daar twee uittreksels deur vroue en een deur 'n bruin mens. 'n Nie-seksistiese en inklusiewe benadering word dus in die bundel en in By gevolg. Daar is 'n duidelike poging om met 'n gebalanseerde produk voor 'n dag te kom. Die uitgewer sou dus nie maklik van partydigheid beskuldig kon word nie.Die inisiatief vir die boek het van Claassen uitgegaan. Hy stel die vrae aan die ongelowiges, die kamp waarin hy hom bevind. Gaum stel die vrae aan sy geesgenote, die gelowiges. Die gesprekke word om die beurt met lede van die twee groepe gevoer, wat afwisseling aan die leser kan bied. Gaum se inleiding is eerste geplaas (p 7-16), wat die redding van die boek kan wees, want dit is kort en duidelik geformuleer, met vyf subhoofde. Claassen se inleiding (p 17-43) is baie langer met eintlik net vier subhoofde. Gaum skryf maklik-toeganklike Afrikaans, soos dit 'n ervare joernalis betaam. Claassen, daarenteen, het 'n ingewikkelde skryfstyl. Sy teks voldoen ook nie aan die vereiste wat aan 'n inleiding gestel kan word nie, naamlik dat dit 'n duidelike oorsig van die onderwerp moet verskaf. Hy verval in onnodige besonderhede wat verwarrend vir baie lesers kan wees. Anders as wat dit behoort te wees, is sy inleiding die onleesbaarste deel van die boek. As sy inleiding voor dié van Gaum geplaas is, kon dit baie potensiële kopers ontmoedig het. 'n Mens verwag dat Gaum as teoloog die neiging sou openbaar om gesagsteun in teksverse en ander bronne te soek, maar daar is min sodanige verwysings en hulle is goed in sy teks geïntegreer. Dit is Claassen wat vyftig voetnote nodig vind en dan is daar ook die slordigheid dat party aanhalings in die oorspronklike Engels en ander vertaal is.
My tweeledige beswaar teen Claassen se inleiding is dus hoe hy die inligting aanbied en watter inligting hy kies. Ek het nie beswaar teen ongelowigheid as sodanig nie. Die redaksionele bedrewenheid van Gaum word in die res van die bundel voortgesit met die kort, duidelike vrae wat hy stel. Daarenteen kom Claassen dikwels met lang, ingewikkelde vrae wat eksegeties (of verduidelikend) genoem kan word. Op bladsy 79 neem sy vrae meer ruimte as die antwoorde in beslag. Twee resensies oor die boek is in Die Burger gepubliseer (19 deser, p 9). Die een resensent, Cas Vos, skryf: "Dit raak effens vervelig om byna elke keer dieselfde vraag te lees." Hy beweer: "Christus se bestaan word deur Claassen se gespreksgenote ontken." Dit is misleidend. Hulle ontken dat Jesus god, naamlik Christus, was. Hulle ontken nie noodwendig dat daar histories een of meer mense was wat in Die Bybel Jesus genoem word nie. Jan du Rand noem dat die historisiteit van Jesus "deur buite-Bybelse skrywers soos Tacitus, Suetonius, Plinius en Flavius Josefus" bevestig word (p 161).
Baie van die bydraes lees vlot en is interessant (ten spyte van onvermydelike herhaling), sodat gehoop word dat die redaksionele gebreke nie die heilsame invloed wat die boek kan hê noemenswaardig sal beïnvloed nie. In die vorige eeu sou daar kwalik 'n Afrikaanse publikasie verskyn het wat soveel prominensie aan religieuse twyfel en ongeloof gee. Die teks sou duideliker tot lesers gespreek het as die beste Afrikaanse woorde deurgaans gebruik is, bv begrip (ipv konsep), fondament (ipv fondasie), ingewikkeld (ipv kompleks), kenmerk (ipv karakteristiek), oomblik (ipv moment), vaktydskrif (ipv joernaal), vertolking (ipv interpretasie), ens. Ook doktorsgraad (ipv doktersgraad, p 138) en mondelinge geskiedenis (ipv geselsgeskiedenis, p 305). Leopold Scholtz kan gerus van barbaarsheid (ipv barbarisme) praat. Johan Buitendag stel 'n goeie voorbeeld deur telkens die mooi woord "oorstyg" vir transendeer te gebruik.
In albei inleidings word ruimte afgestaan aan inligting oor die getal gelowiges en ongelowiges. Wat eerder beklemtoon moet word, is dat die omvang van 'n oortuiging nie korreleer met die waarheid daarvan nie. Voorheen is bv algemeen aanvaar dat die Aarde plat is. Diegene wat gemeen het dat die Aarde 'n sfeer is, was lank in die minderheid.
Gaum maak asof ongelowiges, anders as gelowiges, nie die ontstaan van iets uit niks kan verklaar nie (p 12, 14). Die waarheid is dat albei groepe nie die begin van alles kan verduidelik nie. Om God as die skepper van die heelal/kosmos te veronderstel ("Hy [is] die oorsprong ... van alles, p 16) is nie om die begin van alles te verklaar nie. Die gelowige se uitweg is om te beweer dat God altyd daar was. Die teoloog Johan Buitendag sê: "Dit is 'n ongeldige vraag om te vra waar God vandaan kom" (p 336). Die ongelowige kan dan argumenteer dat die heelal nie 'n begin gehad het nie, wat die voordeel het dat niks buite-empiries veronderstel word nie. Buitendag erken: "Die heelal hoef nie eers [eens] 'n begin te gehad het nie" (p 335). Selfs al word die spekulatiewe oerknal-hipotese aanvaar, hoef dit nie die begin van alles te wees nie, want dit kan 'n sikliese verskynsel wees. Die teoloog Louis Jonker erken bv dat daar "dalk weer 'n big bang" kan wees (p 91).
Volgens Gaum glo die ateïs dat God nie bestaan nie, want hy kan daardie nie-bestaan nie bewys nie (p 14). Leopold Scholtz beweer: "Die niebestaan van God ... nooit bewys word nie" (p 368). Dit is nie korrek nie, of ten minste 'n halwe waarheid. As God enigiets in enige dimensie (ook buite ruimte-tyd) kan wees, kan die nie-bestaan daarvan nie bewys word nie. Maar die veronderstelling dat so iets bestaan, is nie funksioneel nie (dus van geen belang nie) en daar is nie afdoende rede vir so 'n veronderstelling nie. As die bestaan van die Christelike God (en dit is waaroor dit in die bundel gaan) in die sin van 'n enige, almagtige, algoeie, alomteenwoordige wese en skepper veronderstel word, kan sy nie-bestaan rasioneel bewys word.
Hierdie kenmerke wat aan God toegeskryf word, is noodwendig menslike begrippe, want ons beskik nie oor goddelike begrippe nie. As teenstrydighede aan 'n voorwerp toegeskryf word (bv 'n vierkantige sirkel), kan dit nie bestaan nie. 'n God kan 'n skepper wees. Hy kon die kosmos geskep het, maar dit moet noodwendig onvolmaak wees (wat impliseer dat hy nie almagtig is nie) of hy moet homself reproduseer (wat impliseer dat hy nie enig, dus die enigste God, is nie). 'n Onvolmaakte kosmos het noodwendig negatiewe kenmerke (bv verval, rampe, siektes, armoede, hongersnood), wat impliseer dat God nie algoed is nie. Op grond van hierdie teenstrydighede kan tot die rasionele gevolgtrekking gekom word dat so 'n God nie bestaan nie.
Pienkes du Plessis haal ter ondersteuning van hierdie soort redenasie vir Epikuros (341-270 vC) aan: "Wil God die bose verhoed, maar Hy kan nie? Dan is Hy nie almagtig nie. Kan Hy dit doen, maar Hy wil nie? Dan is Hy boosaardig. Kan Hy wel en wil Hy wel albei doen? Nou waarvandaan kom die bose dan? As Hy nie kan nie en nie wil nie, hoekom Hom dan 'n God noem?" (p 314).
Christi van der Westhuizen skryf na aanleiding van John Hick se The Philosophy of Religion: "Indien God beide algoed en almagtig is, hy onvermydelik sou moes ingryp in die ongeregtigheid in die wêreld. Indien hy God is, is hy absoluut goed en sou hy nie kon skuil agter die gebruiklike Christelike argument dat hy aan die mens vrye wil gegee het en daarom nie 'n einde kan maak aan die verskriklike ellende wat op die planeet bestaan nie. Dit sou vir hom, as die absolute vergestalting van goedheid, onhoudbaar wees om die pyn net gade te slaan. Die feit dat hy nie ingryp nie, beteken dus dat hy óf nie algoed is nie, óf nie almagtig nie" (p 350).
As gevolg van die probleme wat die toeskrywing van teenstrydige kenmerke veroorsaak, is daar deesdae in die teologie die neiging om te beweer dat min (omtrent niks) van God geweet kan word nie, behalwe (volgens sommiges) dat hy bestaan. Louis Jonker sê: "Ons menslike voorstellingsvermoë en denkwêreld [is] nie toereikend ... om oor die Transendente te praat nie" (p 88). Anton van Niekerk skryf dat God "buite enige menslike begripsvermoë val ... God dit tog goedgedink het om iets van Homself aan ons te kom openbaar" (p 229). Maar elders erken hy: "Wat ons van God weet [is] minimaal" (p 219). Dit impliseer dat teologie (letterlik: kennis van God) feitlik geen werklike inhoud het nie, al het Johannes Calvyn gemeen dat 'n mens kennis van God selfs sonder God se openbaring kon hê (p 342). Daar is talle mense wat daarop roem dat hulle grade in "die Godsgeleerdheid" verwerf het. Myns insiens moet eerder die godsdiensverskynsel (wat empiries by mense voorkom) as God (wat grootliks onkenbaar en in die absolute sin dalk niks is) die voorwerp van studie wees.
Ek verskil min met wat Claassen beweer. Om te sê dat "twyfel oor die godsgedagte eers werklik met Darwin se evolusieteorie ... sterk momentum begin kry" het (p 25), is dalk ietwat riskant. Ook om dit "waarskynlik die belangrikste wetenskaplike ontdekking" te noem (p 26). Ek het 'n soortgelyke geringe bedenking oor sy stelling dat dit vir wetenskaplikes "altyd vasstaan dat 'n rasionele verduideliking uiteindelik gevind sal word" (p 37). Wetenskaplikes moet aanhou probeer, al kan daar altyd onopgeloste en selfs (skynbaar) onoplosbare probleme wees.
Verdere kommentaar op die bundel moet weens die ruimtebeperking oorstaan tot 'n volgende keer.
Johannes Comestor
Lees ook wat sê Francois Verster onlangs oor die "Godboek", groete, Naomi Meyer, LitNet inhoudsbestuurder


Kommentaar
Dankie Johannes, soos altyd baie insiggewend om jou standpunt te lees.
Wat ek persoonlik omtrent die opstel van die boek vind is dat dit net relatief tot die Afrikaner se Protestante opvoeding staan. Dis soos menige bydraer op die werf wat niks weet of ken buite hul Calvinistiese leer en dan iets soos ateïsme daarvolgens (ver)oordeel.
'n Menigte van die vrae wat ongelowige Afrikaners vra is byvoorbeeld reeds bedink in die katolieke Summa (Johan Calvyn se Heidelbergse Kategismus is as plaasvervanger vir Protestante op die Summa bedoel).
Nietemin, ek sal graag die boek wil lees en het reeds waarde daaraan net omdat prof Christina Landman op die omslag verskyn.
Groete,
Ekke
Goed dat hierdie die lig gesien het hier, in die vorm van Comestor se brief.
Hallo Johannes,
Dankie sover en ek sien uit na jou verdere kommentaar.
Groete
Panda
n Interessante diskursie oor die "Godboek" wat gelees moet word saam met Francois Verster se kommente oor dieselfde onderwerp. Feuerbach en Hegel het dit reg om te konstanteer dat die mens god gemaak het en Voltair het gesê dat as jy n donkie sou vra hoe god lyk, sal die donkie antwoord: hy lyk soos ek, soos n donkie. Freud het korrek gekonstanteer dat die god van die Joodse " heilige" skrifte" ( die bron van die ou testament) n stamgod is.
Mense soek verniet in die ou testament die beeld van god en/of sy eienskappe. Wie kan nou glo dat n temperamentele jaloerse god wat optree soos n Oosterse despoot nou die einskappe en deugde besit wat n rasionele mens nou aan n "goeie" god en hemelse vader sou kon toeeïen?
In die nuwe testament kry n mens n glimpse van goddelikheid, oa. in die bergprediging, en Paulus se brief aan die Korintiërs oor die liefde, en dit is maar al.
Godsdiens en geloof het sy waarde: n wonderlike Illusie ( dwelmmiddel) van vertroosting in n trooslose wêreld, n versorging deur n hemelse vader, en die belofte van lewe na die dood. Persoonlik gun ek dit aan almal met die voorwaarde dat gelowiges ook die standpunt van ongelowiges respekteer.
Groete,
Pieter Redelinghuys
Hello Johannes
Die belangrikste punt om te neem uit jou brief, vir my, is die argument wat gemaak word deur Christene vir 'n baie spesifieke God. As die "Christelike God... in die sin van 'n enige, almagtige, algoeie, alomteenwoordige wese en skepper veronderstel word, kan sy nie-bestaan rasioneel bewys word." Die wêreld bied geen bewyse dat so 'n wese bestaan nie.
Voeg by dit die teenstrydige en historiese samevlansing van die mensgeskrewe boeke van die Bybel as kastige openbarings aan sy skepsels van sy wese, en ek kan nie anders as saamstem met jou: "Myns insiens moet eerder die godsdiensverskynsel (wat empiries by mense voorkom) as God (wat grootliks onkenbaar en in die absolute sin dalk niks is) die voorwerp van studie wees." Behalwe vir so 'n studie, wat insig kan bied oor wat dit is om menslik te wees, is die obsessie met geloof 'n vermorsing van kosbare tyd.
Is dit nie snaaks dat wanneer die wetenskap beskuldig word daarvan dat dit nie die antwoorde het op alles nie ('n aanspraak wat nooit gemaak word deur wetenskaplikes) hierdie beskuldiging en noodwendige gevolgtrekking altyd opgevolg word as regverdiging vir geloof? Asof daar 'n logiese verband is tussen, aan die een kant die onvermoë van kennis en aan die ander kant, geloof.