Friksie – Henning Janse van Vuuren praat met sy e-lesers

  • 0

Titel: Friksie
Skrywer: Henning Janse van Vuuren
ISBN: 1230000140968

Henning Janse van Vuuren se misdaadroman Friksie het pas aanlyn verskyn. Hy gesels met Naomi Meyer oor die storie en ook oor hoe hy self iemand uitgewis het: die middelman.

’n Offisier in die polisie, Henning? Maar is polisiemanne nie almal dom en eet vetkoeke nie?

Hoe lekker lag ek nou! Nee wat, die hele doughnut-ding is sommer ’n tong-in-die-kies-cliché oor die Amerikaanse polisiemanne. Intelligensie is relatief.

Hier is die toelatingsvereistes om ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens te word: “The applicant must be a South African citizen, have a Grade 12 (Standard 10) Senior Certificate, be at least 18 years old and under 30 years old, have a valid driver's licence, no criminal record, be physically, mentally and medically fit, have good communication skills, act decisively and without hesitation, be a calm and even-tempered person.” (Iewers ge-Google.)

Dit is dus veel makliker om ’n parlementslid te word as ’n polisieman.

Ek kon nie die eerste vraag weerstaan nie, want ek sien jy het uit jou ervaring in die polisie geput met die skryf van Friksie. Is ek reg? Of toevallig, die polisieman as hoofkarakter?

Ja, ek het al selfs by ’n BP Quick Shop gewerk – alle lewensondervinding kom nuttig te pas. Die feit dat ek ’n polisieman was en as prokureur praktiseer het, het die skryf van Kruitvat, Tamatiestraat sowel as Friksie vergemaklik.

Fritz Moolman, die speurder, is nie die hoofkarakter nie, maar speel wel ’n kernrol in die verhaal. (Die man kla in my agterkop; ek sal hom dus amptelik moet erken as een van die hoofkarakters. ;-))

Friksie is ’n boek vir grootmense – jou vorige boek was vir tieners. Vir wie skryf jy die graagste?

Volwassenes. Vir seker.

Tamatiestraat was groot pret om te skryf, maar ek beweeg op die oomblik buite daardie energieveld.

Hoe het die storie oor jou pad gekom? Was daar een impuls wat vir jou uitstaan wat veroorsaak het dat jy dit begin skryf het?

Ek het by Die Laevelder gewerk (as joernalis) toe die stof sak oor ’n insident wat hom in die Long Tom-pas afgespeel het: ’n mikrobus het oor ’n afgrond gestort, ’n lyk het uit ’n lykshuis verdwyn, ’n vals versekeringseis is ingedien en ’n clairvoyant het ’n paar grieselrige uitlatings gemaak. Terselfdertyd het ’n paar ander vreemde goed in die land gebeur, tot sover as Griekwastad en Nkandla.

Dít het gelei tot die geboorte, en is die wegspringplek in die verhaal.

Om jou tweede vraag te beantwoord: ek het op skool meestal gesit en ginnegaap, maar die skryf van opstelle in Afrikaans vreeslik geniet. ’n Onderwyseres (wat, vreemd genoeg, nie baie van my gehou het nie) het eendag in my opstelboek geskryf: “Henning, jy het ’n mooi talent.” Dit het vasgesteek.

Skryf almal nie deesdae spanningsromans nie? Het jy dit doelbewus aangedurf?

Ek dink spanning is onontbeerlik vir enige roman, omdat dit soveel verskillende vorms aanneem.

Máár ...

Daar is dalk ’n toename in die skryf (of afskryf) van misdaadromans – dit is ’n kwessie van aanbod en aanvraag. Die misdaadroman is gewild en sal gewild bly, mits die stories nie plat, verbeeldingloos en eendimensioneel is nie. Dit is ’n flater om kort-kort te verklaar: “Pasop, Deon Meyer!” – net om te vind nog ’n muis is gebaar.  

Ja, ek het Friksie doelbewus aangedurf. Die openingshoofstuk is altyd die moeilikste, daarna kry ’n storie vanself koers en is ek soms verras (of geskok) deur wat volgende gebeur. Alhoewel daar misdaad in my boeke is, beskou ek nie een van hulle as ’n misdaadroman nie – dit gaan om soveel meer.

En jy het die boek self “uitgegee”. Aanlyn. Is ek reg? Hoekom dit nie aan ’n uitgewer voorlê nie?

Daar is ’n filter tussen skrywers en die publiek. Hierdie filter rus tans op sy literêre louere en verf alles wat hy uitdruk met heuning.

Die skrywer is die hart van die bedryf, nie die uitgewer nie. (Ons musikante, waar dinge floreer, stig baie gou ’n eie platemaatskappy.)

’n Uitgewer is ’n middelman en kyk na sy eie belange binne ’n bepaalde verwysingsraamwerk – skrywers moet dieselfde doen.

Wat is die uitdagings daaraan verbonde om ’n boek self – en aanlyn – uit te gee?

Daar is verskeie platforms waar jy aanlyn kan uitgee en elkeen het sy eie uitdagings. Volg die stappe op die webwerf en druk deur. Ek verkies Amazon en Kobo, omdat hulle onder die grotes tel. Feitlik enige e-leser, rekenaar, iPad of foon kan ’n boek wêreldwyd van een van die twee aflaai. Kruitvat het so 400 boeke vanaf die e-rak verkoop – glad nie sleg as mens in ag neem dat e-lees in sy kinderskoene staan nie.

Mense glo outomaties dat uitgewers jou boek afgewys het as jy self uitgee. Dit is ’n uitdaging om lesers te oortuig om jou skryfwerk ’n kans te gee.

Wat is die lekkerte daaromtrent?

Die boek bly myne. Ek kan presies sien hoeveel verkoop het en hoeveel tantième aan my verskuldig is.

Waarom moet mense jou boeke lees?

Niemand móét nie, maar ek sal bly wees as mense wil. Ek probeer die leser vermaak, van begin tot einde. Iemand het my ge-SMS: Friksie is fokken awesome. Kruitvat het ’n gloeiende resensie in Rapport gehad.

My stories is ’n lees werd en bekostigbaar.

Hoe kan mense jou boeke lees (wat moet hulle doen, wat moet hulle betaal)?

Die maklikste is om hier te kyk of om die boek op Amazon te soek.

’n Lusmakertjie (“sample”) kan gratis afgelaai word.

Twee Kindle-lesers kan elk een boek wen. Stuur die woord "Friksie" teen 16 Julie 2013 aan wen@litnet.co.za om in aanmerking te kom.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top