Franschhoek Literêre Fees belowe gróót en nuwe stemme

  • 0

 

Daar is heelwat gróót Afrikaanse name wat hierdie jaar die Franschhoek Literêre Fees gaan bywoon.

Die Franschhoek Literêre Fees vind oor 'n maand in die bekende kos- en wynmekka van die Boland, Franschhoek, plaas. Die fees vier vanjaar sy sewende bestaansjaar en alhoewel die program oorwegend Engelse boeke- en skrywersgeleenthede bied, is die lys Afrikaanse skrywers op vanjaar se program iets om na uit te sien. Antjie Krog, Ingrid de Kok, Eben Venter, Ingrid Winterbach, Anchien Troskie, Carel van der Merwe, Joan Hambidge, Willem Steenkamp en Danie Marais sal by verskeie geleenthede te sien wees.

Jenny Hobbs

“Ons nooi elke jaar Afrikaanse skrywers wie se werk in Engels vertaal is, om die oorwegend Engelse gehoor te kom toespreek,” sê die feesorganiseerder, Jenny Hobbs. “Dit is belangriker as ooit tevore dat ons mekaar se stemme as Suid-Afrikaners hoor.”

Nuwe skrywers op die program sluit in Claire Robertson (The Spiral House), Ashraf Kagee (Khalil's Journey), Mark Winkler (An Exceptionally Simple Theory [of Absolutely Everything]), Mtutuzeli Nyoka (A Hill of Fools), Amanda Coetzee (Flaming June), Gareth Crocker (Journey From Darkness), Liesl Jobson (Ride the Tortoise) en Jill Nudelman (Inheriting the Earth), asook Osiame Molefe ('n vryskutskrywer en skryfmentor), en die digters Kerry Hammerton (These are the lies I told you) en Megan Hall (Fourth Child).

“Ons doel is om interessante skrywers bymekaar te bring en ook 'n leeskultuur in die Franschhoekvallei te vestig,” sê Hobbs.

'n Gedeelte van elke kaartjie se inkomste sal gebruik word om plaaslike skoolbiblioteke te ondersteun. “Ons wil elke biblioteek met 'n voltydse, gekwalifiseerde bibliotekaresse bedien.” Die opbrengste sal ook gebruik word om boeke te koop.

Daar word ook op die jong lesers gefokus, met die Children’s Open Day op 17 Mei. Bekende kinderboekskrywers soos Anthony Horowitz, Alexander McCall Smith en Paul Geraghty sal die geleenthede bywoon. Byna 50 kinderboekskrywers sal die week voor die fees plaaslike skole besoek en die vallei se 4 400 kinders aanhits om meer te lees. Tydens die ope dag self sal daar geleenthede vir kinders van alle ouderdomme – voorskool tot matriek – wees. Minderbevoorregte skole word uitgenooi om vooraf te bespreek teen geen toegangsfooi nie.

Die fees vind 17-19 Mei plaas en kaartjies is reeds beskikbaar by Webtickets. Kaartjies kos R60 tensy anders aangedui. Koop tien kaartjies en ontvang een gratis. Studente betaal slegs R20 by per geleentheid (studentekaartjies is beperk).

Klik hier vir die volledige feesprogram.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top