Frankfurtse Boekeskou 2016: vanuit 'n uitgewer se perspektief

  • 0
  • Verslag deur Hester Carstens, Queillerie 

Tekenprentboeke uit die Baleariese eilande. Nijntje (Miffy se oorspronklike Nederlandse naam) en die Klein Prinsie in al wat taal is. ’n Samurai-agtige gevaarte in volle grimering wat lesers verwelkom by ’n groot stalletjie oor L Ron Hubbard se WF-romans. Cosplayers aan’t poseer in formidabele, weersomstandigheidtartende uitrustings – ook een uitgedos as Die Antwoord se Yo-Landi Vi$$er! Boekbykomstighede van elke moontlike kleur en geur – vanjaar lyk klein staander-kussinkies wat op jou skoot sit en jou leesboek knus vashou na die Kersgeskenk om op jou lysie te skryf.

En boeke, boeke, bóéke – in elke denkbare taal, elke ondenkbare formaat, klein, groot, vervelig, verstommend – soos kunstenaar David Hockney se 35 kg sware A Bigger Book wat pas deur Taschen uitgegee is en waardeur ’n mens slegs behandskoen mag blaai (sien foto’s heel onder).

Dit en ag, nog soveel meer is jou te wagte as jy gelukkig genoeg is om soos vier van NB-Uitgewers se personeellede ’n toegangskaartjie te hê vir die Frankfurtse Buchmesse – die wêreld se grootste en oudste handelstentoonstelling vir die boekebedryf, vanjaar gehou van 19 tot 23 Oktober.

Vir NB-Uitgewers se Catrina Wessels, Marga Stoffer, Ilse Volschenk en vir my is dit natuurlik nie bedoel as geleentheid om ons te vergaap aan bisarre cosplayers en pragtige boeke in oorvloed nie – nee, ons is in Frankfurt om ons skrywers se boeke ten beste geplaas te kry by oorsese uitgewers. Ons hooftaak: om die vertaalregte vir NB se boeke te verkoop.

Soos vorige jare is NB se stalletjie, wat op die eerste dag deur die dames van NB self aanmekaargesit is, allerweë beskou as besonder treffend, met die swart agtergrond en lieflike boekomslae daarop uitgestal, in boek- maar ook plakkaatformaat. Liewe Heksie is ’n groot oogtrekpleister vir mense van regoor die wêreld, en Rudie van Rensburg se omslae (vir Slagyster, Kopskoot, Pirana en Judaskus, Queillerie), ontwerp deur Michiel Botha, het baie aandag gekry by NB se “stand party” ná die Woensdag se bedrywighede, waar ons troue wynborg, Leopard’s Leap, ons glase soos altyd vol en trots Suid-Afrikaans gehou het.

NB-Uitgewers se treffende swart stalletjie by die 2016 Frankfurter Buchmesse

Plakkate van ons lieflike boekomslae op die mure van die NB-stalletjie

Elke jaar is daar ’n spesiale eregasland of -taalgroep by Frankfurt, en vanjaar was vir Afrikaanses veral interessant, omdat Nederland/Vlaandere die eregas was, met die feesleuse “Dít is wat ons deel.” Daar is vanjaar honderde Nederlandstalige boeke meer as gewoonlik in Duitse vertaling uitgegee, en byna 100 Nederlandstalige skrywers het die Buchmesse bygewoon.

’n Aantal kontrakte is by Frankfurt 2016 onderteken tussen NB-Uitgewers en buitelandse uitgewerye. Met Francke Buchverlag is ’n kontrak aangegaan vir die Duitse uitgawe van Pérsomi deur Irma Joubert (Tafelberg), en ’n Engelse vertaling van Kronkelpad (ook deur Irma en by Tafelberg) sal by Thomas Nelson, ’n afdeling van Harper Collins Christian Publishing, verskyn. Aan Brevier Uitgeverij is die Nederlandse vertaalregte ten opsigte van Wilma Stockenström se klassieke Die kremetartekspedisie (Human & Rousseau) toegestaan, in die lig daarvan dat die Nederlandse weergawe van die1980’s lank reeds uit druk is.

Corinne Vuijk (Nederlandse uitgewer en subagent), Kathrin Schultheis (redaksionele direkteur: Francke), Marga Stoffer en Catrina Wessels van NB-Uitgewers, en Anne-Ruth Meiss (besturende direkteur: Francke) vier Pérsomi in Duits.

Marga Stoffer en Catrina Wessels van NB by Pieter Rouwendal van Brevier, wat Die kremetartekspedisie in Nederlands sal uitgee.

In veeltalige afsprake al om die halfuur met uitgewers en redakteurs van regoor die wêreld – veral van Duitsland, Nederland, Brittanje en Frankryk – is ons oorsese kollegas se belangstelling geprikkel deur ons vars nuwe katalogusontwerp. Dan Sleigh se 1795 het veral by groot Nederlandse uitgewerye byval gevind, en Elsabé Brits se onlangse Emily Hobhouse-biografie, Geliefde verraaier / Beloved Traitor, is wyd bewonder vir die buitengewoon treffende boekontwerp.

NB-Uitgewers se vier katalogusse vir buitelandseregte-verkope by Frankfurt 2016 – een elk vir fiksie, niefiksie, kinder- en jeugboeke, en Lux Verbi-boeke.

Deon Meyer se Nederlandse uitgewer is vuur en vlam vir 2017 se Koorts – die omslag sal baie soos die Afrikaanse een lyk.

Afrikaanse spanningsfiksie is weens Deon Meyer se welslae op baie Europese uitgewers se agenda, en belangstelling in Irma Venter se 2017-titel, Sirkus, loop hoog. Ook Rudie van Rensburg en Chris Karsten se werk is gedurig bespreek, en aan niefiksie-kant was die joernalis Marianne Thamm se hartroerende en komiese memoire, Hitler, Verwoerd, Mandela and Me, veelbesproke.

Volgende jaar maak NB-Uitgewers beslis weer so by Frankfurt, en bring só ons skrywers onder die waarderende oë van die wêreld.

Die Franse uitgawe van Rosamund Haden se Love Tastes Like Strawberries (Kwela) het onlangs by Sabine Wespieser Éditeur in Frankryk verskyn en is baie positief geresenseer in die Franse pers – hier is dié sjiek uitgawe raakgesien in die lieflike Brusselse boekwinkel Filigranes, tydens Hester Carstens van Queillerie se besoek aan vriende in die Belgiese hoofstad.

Pragtig lyk boeke van Antjie Krog, Breyten Breytenbach en Ingrid Jonker/André P Brink in Nederlandse vertaling by Podium-uitgewery!

Vlam in die sneeu in Nederlands is besonder aantreklik en was glo ’n groot sukses in hul mark. In 2017 sal die Nederlandse weergawe van Willem Anker se Hertzogpryswennerroman Buys ook by hierdie uitgewery verskyn. Goeie smaak, nè?

frankfurt16-7

So lyk Taschen se 35 kg David Hockney-boek, A Bigger Book – handskoene vir die deurblaai.

frankfurt16-8

Die Frankfurtse weergawe van ons eie Yo-Landi!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top