Frankfurtse Boekebeurs ’n barometer vir tendense in die boekbedryf

  • 0

Distopiese feministiese fiksie, na aanleiding van The Handmaid's Tale, en Afrofuturisme geïnspireer deur die rolprent Black Panther — dít is van die tendense in die wêreldwye boekbedryf wat tydens die onlangse Frankfurtse Boekebeurs deur uitgewers uitgelig is.

Ek het die geleentheid gehad om met uitgewers van regoor die aardbol te gesels oor die boeke wat tans in aanvraag is toe ek vanjaar as deel van NB-Uitgewers se afvaardiging die boekebeurs van 10 tot 14 Oktober bygewoon het.

Nog iets wat ek uit verskeie oorde gehoor het, is dat boeke deur gemarginaliseerdes oor gemarginaliseerdes nou aandag geniet. Soos die skrywer Chimamanda Ngozi Adichie ook in haar openingstoespraak by vanjaar se boekebeurs gesê het: “This is a time for boldness in storytelling, a time for new storytellers. It is important to have a wide diversity of voices —not because we want to be politically correct, but because we want to be accurate. We cannot understand the world if we continue to pretend that a small fraction of the world is representative of the whole world.”

Die Frankfurtse Boekebeurs, wat vanjaar sy 70ste bestaansjaar vier, is die grootste en oudste van sy soort, met ongeveer 7 500 tentoonstellers van oor ’n honderd lande wat daaraan deelneem. NB-Uitgewers stuur elke jaar ’n span Frankfurt toe om die internasionale regte van ons boeke aan buitelandse uitgewerye te probeer verkoop. Hierdie jaar het ons delegasie bestaan uit: Olga Wyngaard (Regtebestuurder), Ilse Volschenk (Produksiebestuurder), Ruchelle Lombard (Redakteur: Kinder en Jeug), Hester Carstens (Uitgewer: Queillerie) en ek (Carolyn Meads,Uitgewer: Kwela).

Ons het NB-Uitgewers se kleim by die boekebeurs afgepen met ’n stalletjie vol van ons wye verskeidenheid boeke. Vyf van ons drukname, Human & Rousseau, Tafelberg, Queillerie, Kwela en Lux Verbi, is verteenwoordig. Plakkate van treffende omslae het ons stalletjie versier, insluitende dié van die romans Red Dog (Queillerie) deur Willem Anker, Stof (Queillerie) deur Alettie van den Heever en The Hum of the Sun (Kwela) deur Kirsten Miller, die nie-fiksie-boeke You Have to Be Gay to Know God (Kwela) deur Siya Khumalo, Poacher (Kwela) deur Kimon de Greef en Shahood Abader, en 1 Recce (Tafelberg) deur Alexander Strachan, en die jeugboeke Kraak en Snak (Tafelberg) deur Rouxnette Meiring. Ons het baie komplimente oor ons mooi omslae gekry, in besonder oor dié van Ingrid Winterbach se Die troebel tyd (Human & Rousseau).  

Dit is hier, by ons stalletjie, waar die meeste van ons afsprake met buitelandse uitgewers plaasgevind het, al om die halfuur. Ons het met mense gesels van Duitsland, Nederland, België, Frankryk, Brittanje, Amerika, Kanada, Skotland, Ierland, Australië, Switserland, Finland, China, Roemenië, Italië, Iran en nog ’n hele paar ander lande.  Gewoonlik het ek ’n gesprek begin deur te vra waarna die betrokke uitgewer soek. Dit is op dié manier dat ek sekere patrone begin raaksien het, soos dat boeke oor sterk vroue, met ’n prominente feministiese inslag, in aanvraag is, en dat uitgewers deesdae na groter kulturele diversiteit in hul publikasielyste streef.

Een van NB se boeke wat aan dié vereistes voldoen en wat heelwat aandag by die boekebeurs gekry het, is Nozizwe Cynthia Jele se roman The Ones with Purpose (Kwela). Dit speel af tydens die rouperiode ná die afsterwe van ’n lid van die Mabuza-familie aan borskanker in die fiktiewe Suid-Afrikaanse township New Hope en ondersoek ’n klomp sosiale kwessies aan die hand van die hoofkarakter, Anele, se terugflitse na haar kinderjare.

The Hum of the Sun deur Kirsten Miller is nog ’n boek waarin uitgewers belangstelling getoon het. Groot dele van dié verhaal is op ’n besonderse wyse uit die perspektief van ’n nie-verbale, outistiese seun vertel, wat saam met sy ouer broer ’n reis te voet vanaf ’n landelike gebied in Suid-Afrika na die stad aanpak om hulle pa te gaan vind. Uitgewers met wie ek afsprake gehad het, was dit eens dat neurologiese verskille iets is wat mense graag beter wil verstaan — en wat is nou ’n beter medium as fiksie om begrip aan te wakker!  

’n Buitestanderfiguur wat die verbeelding geprikkel het, is die hoofkarakter van Die dao van Daan van der Walt (Tafelberg) deur Lodewyk G du Plessis. Die storie van dié ouer Afrikanerman wat met sy seksualiteit en spiritualiteit worstel, terwyl sy kerkgroep hom verwerp het, is een waarby mense in veral Nederland ook blykbaar kan aanklank vind.

Toekomsfiksie het aandag getrek in die vorm van Alettie van den Heever se roman Stof en Rouxnette Meiring se jeugboeke Kraak en Snak. Bywoners van die boekebeurs kon Stof beslis nie ignoreer nie, siende dat dié toekomsroman afspeel in ’n tyd waarin klimaatsveranderinge en die mens se roekelose bestuur van landbou byna niks behalwe stof agtergelaat het nie. Ek is vooraf gewaarsku hoe koud dit in Oktober in Duitsland kan raak, maar ons het temperature van 25°C beleef. Die mense by die boekebeurs kon dus die moontlikheid van só ’n toekoms aan eie lyf voel. Boonop is Stof ’n boeiende storie oor ’n meisie wat van die enigste oorblywende sade in Suid-Afrika wegsteek en word dit in ’n beeldskone anderster Afrikaans vertel.

Dit was verblydend om te sien dat Suid-Afrika nie hoef terug te staan vir die res van die wêreld sover dit boeke betref nie. Ons literêre werke, soos dié van Ingrid Winterbach, Elsa Joubert en Dan Sleigh, en ons ontspanningsfiksie, soos die misdaadromans van Irma Venter, is wêreldklas. Tydens die boekebeurs het Pieter Rouwendal van die uitgewery Aldo Manuzio juis ’n kontrak onderteken om Dan Sleigh se roman 1795 in Nederlands uit te gee.  

Tussendeur ons afsprake was daar darem soms tyd om die Frankfurtse Boekebeurs te verken. Daar is beslis baie om in te neem: ses enorme pakhuisagtige geboue (elk met veelvuldige vloere), asook die plein, genaamd die Agora, in die middel van dié strukture. In een gebou was daar byvoorbeeld stalletjies volgens lande gegroepeer — van Argentinië en Rusland tot Oezbekistan. In ’n ander gebou was daar net talle Duitse uitgewerye. In die Forum is ’n uitstalling oor die gasland, Georgië, se letterkunde aangebied. Dié land se unieke alfabet is op Unesco se kultuurerfenislys en installasies in die vorm van die 33 eiesoortige letters, saam met boeke in die taal, is ten toon gestel.

Teen die naweek is die boekebeurs vir die publiek oopgestel en ongeveer 285 000 besoekers het soontoe gestroom. Soos die gewoonte is, het talle “cosplayers” in elke denkbare kostuum opgedaag. Feetjies, wollerige monsters, superhelde, bekende booswigte en al wat ’n anime-karakter is, het hulle op die Agora tuisgemaak—dit was iets om te aanskou!     

Hoewel die Frankfurtse boekebeurs vir my reusagtig was, wys my kollegas daarop dat dit eintlik met die jare gekrimp het. Tog inspireer dit ’n mens wanneer jy sien dat die boekbedryf, ten spyte van die doemprofete, steeds wêreldwyd baie groot is. Dit herinner ’n mens aan die belang van dít waarmee ons as uitgewers besig is. In die woorde van Adichie: “Literature does matter. I read to be consoled, I read to be moved, I read to be reminded of grace and beauty and love but also of pain and sorrow. And all of these matter. All of these are useful lessons.”

NB-Uitgewers se span wat vanjaar die Frankfurtse Boekebeurs bygewoon het: Ruchelle Lombard, Olga Wyngaard, Carolyn Meads, Hester Carstens en Ilse Volschenk.

NB-Uitgewers se stalletjie. Ons omslae het baie komplimente gekry.

Een van die vele sale propvol stalletjies by die boekebeurs. Die Frankfurtse Boekebeurs is die grootste van sy soort.

Op die plein, wat die Agora genoem word, in die middel van die ses geboue wat die boekebeurs huisves.

Installasies wat Georgië, vanjaar se gasland, se unieke alfabet en letterkunde uitbeeld.

Sogenaamde “cosplayers” stroom oor die naweek na die boekebeurs.

Twee titels uit Thames & Hudson se The Big Idea-reeks. Boeke oor genderkwessies is in aanvraag.

Boeke is op alle denkbare maniere uitgestal.

Die Agora van bo af beskou. Ongeveer 285 000 mense besoek die Frankfurtse Boekebeurs.

 

  • Teks en foto's: Carolyn Meads
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top