Frankfurt Boekeskou 2017: ’n onmisbare geleentheid om skrywers se werke internasionaal ten toon te stel

  • 0

In Angela Merkel se openingstoespraak van die 2017 Frankfurt Boekeskou het sy opnuut die waarde van boeke in ’n diverse samelewing beklemtoon: “Boeke maak deure oop en help ons om te sien en te verstaan wat ons gemeen het en om só ons verskille beter te begryp.” Hierdie boodskap het die toon aangegee vir ’n week van bewondering vir die wonderlike internasionale boekebedryf.

Die Frankfurt Boekeskou word geag as die belangrikste boekeskou ter wêreld vir internasionale literêre transaksies. Dit is ’n belangrike bemarkingsgeleentheid vir die bekendstelling van boeke en om onderhandelinge van internasionale-regte-verkope te fasiliteer.

Sowat 7 200 uitstallers van 106 lande en bykans 278 000 besoekers het by die boekeskou byeengekom. Die ikoniese geleentheid verwelkom elke jaar meer as 1 000 skrywers, 700 literêre agente en byna 10 000 joernaliste van regoor die wêreld. Uitgewers, boekverkopers, bibliotekarisse, akademici, illustreerders, diensverskaffers, rolprentvervaardigers, vertalers, professionele en handelsverenigings, sagteware- en multimediaverskaffers neem almal deel aan die gebeure van die boekeskou. Besoekers maak van dié geleentheid gebruik om inligting oor verskillende uitgewerye te bekom, om te netwerk en om sake te doen. Dit is juis met hierdie oogmerke dat Marga Stoffer, Hester Carstens, Simone Hough, Ilse Volschenk, Charles Siboto en Olga Wyngaard van NB Uitgewers die boekeskou van 10 tot 15 Oktober bygewoon het.

Die NB-span: Simone Hough, Olga Wyngaard, Marga Stoffer, Charles Siboto, Hester Carstens en Ilse Volschenk

Die NB-stalletjie met hul uiteenlopende, fleurige publikasies het, soos altyd, groot aandag getrek. Die vergrote omslagplakkate van The camp whore (Francois Smith), Alles begin met Anna (Annemari Coetser), Vlerke vir almal (Marion Erskines), Making Africa work (Greg Mills) en Skepelinge (Karel Schoeman) het die veelsoortige werke van Suid-Afrikaanse skrywers lieflik ten toon gestel.

NB se stalletjie

Te danke aan talle afsprake met verskillende uitgewers is NB-skrywers se publikasies voorgelê en bespreek. Die NB-span het die voorreg gehad om die werke van skrywers met ywer, opgewondenheid en partykeer selfs deernis aan internasionale uitgewers voor te hou. Om die beurt is die spanningsverhale van Irma Venter, geskiedkundige romans van Karel Schoeman en Dan Sleigh, die werk van Kgebetli Moele en Niq Mhlongo, die memoires van Thuli Nhlapo en Marianne Thamm bespreek.

Die goeie voorbereiding van die NB-span is ook beloon deurdat ’n aansoek vir die Nederlandse vertaalregte vir Alles begin met Anna op die eerste dag van die boekeskou van Uitgeverij Mozaïek ontvang is. Die lisensiëringsooreenkoms vir die Nederlandse vertaalregte vir ’n Ander land deur Karel Schoeman is ook tydens die skou met Brevier Uitgeverij gesluit.

Olga Wyngaard ontmoet met die Turkse uitgewery A7 Kitap. Dié uitgewery het Skoenlapper deur Irma Venter in Turks uitgegee.

Die Turkse uitgawe van Irma Venter se Skoenlapper. Die uitgewer het die eksemplare by die boekeskou aan NB oorhandig.

Marga Stoffer ontmoet met Rick Huard van Ohio University Press.

Hester Carstens ontmoet met Bart Wessels van Uitgeverij Q.

’n Opvallende tendens uit gesprekke met internasionale uitgewers is dat daar groot belangstelling in die verhale van vrouestemme uit Afrika en ook dié van ander jong gemarginaliseerde persone is. Hierdie tendens is merkwaardig en ons is hoopvol dat hierdie figure se stories ook binnekort meer internasionaal gelees sal word.

Die waardevolle ontmoetings en interessante gesprekke het nuutgevonde, ontsagwekkende waardering vir die uitgewerswese gelaat en die belang van effektiewe literêre-regte-bestuur opnuut tuisgebring.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top