Francois, jy is die skrywer van omtrent tien boeke – of hoeveel? Vertel ’n bietjie van ’n paar van hulle – persoonlike hoogtepunte as jy wil.
Dis werklik ’n “mixed bag”, en so sal dit altyd wees – kortverhale (soos in bundels en tydskrifte), niefiksie (soos oor die spotprenttekenaars van Die Burger, 1915–2015), jeug- of volwasseneromans, rympies in die Nuwe kinderverseboek ... Wanneer ’n onderwerp my interesseer, wil ek dit verstaan, en van ontleding gaan dit na sintese – sekerlik ’n nasleep van ’n ellelange studenteloopbaan, want ek het in 1980 as eerstejaar by die US ingestap en in 2010 my laaste nagraadse studie voltooi. En daar het dit nie opgehou nie; ek skryf net nie meer tesisse nie, ek skryf boeke!
In 2004 het my eerste boek, ’n gepopulariseerde uittreksel uit my doktorale proefskrif in kultuurgeskiedenis oor TO Honiball, by Sun Media verskyn. Ek het dit in 2005 vertaal en in dieselfde jaar ’n boek oor Simon van der Stel se ontdekkingsreis in 1685 om koperneerslae te soek gepubliseer. Daarna volg ’n historiese roman (Een teen Adamastor, Maskew Miller Longman, 2013, wat hulle prys vir beste Afrikaanse roman gewen het), gevolg deur twee wetenskapfiksieromans. In 2016 het Omega, oor en uit by Tafelberg en Die groot drie by Penguin Random House verskyn. In 2018 volg ’n boek oor ons familie, Op soek na Jacobus Verster (Groep 7). Daarna is ek en Ilse getroud en was die fokus vir eers op haar boeke (So lyk ’n vrou en toe ’n Vrou staan op, albei by LAPA).

Ilse met haar eerste twee boeke
Ek en Ilse deel ’n studeerkamer op ons huis se boonste vloer, met ’n uitsig op Stellenbosch se berge, en wanneer ons nie gesels nie, skryf ons. Belangstellendes kan na my gewerskaf op my Wiki-blad (“Dr Francois Verster”) kyk, of oor die boeke spesifiek, op Goodreads.
Jou mees onlangse boek is getitel Ill at ease – baie geluk daarmee. Wat is die inspirasie vir die storie? Dalk klink “inspirasie” te positief – dalk eerder die ontstaansrede?
Dankie Naomi, ek waardeer dit. Die inspirasie is seker dieselfde as sy Afrikaanse voorganger, Omega, oor en uit, maar Ill at ease (Kindle Direct Publishing, 2025) is deur ’n meer ervare persoon – hoewel steeds ek! – geskryf, met groter introspeksie en belewenis van die post-’94 Suid-Afrika. Ek dink ek het ook meer van my opleiding as historikus gebruik gemaak om ’n breër doek te beskilder. Ek, ons, kan nou verder terugkyk en met hopelik meer wysheid kommentaar lewer op wat ons geleer het. Daarom die titel, wat natuurlik ook inspeel op “Stand at ease”, die weermagbevel, en daarom het ek ook na ’n groter lesersmark gemik, nou ook nie-Afrikaanses.
Waaroor handel die boek? Sonder om te veel van die storie en die intrige te verklap.
Eers moet ek noem dat waar sy Afrikaanse voorganger (ook op LitNet bespreek en geresenseer) memoires was wat in faction-styl (feite, maar in fiksie oorgedra) geskryf is, alles daarin hier werklik plaasgevind het. Ill at ease bevat heelwat van die weermag-ervarings soos dit gebeur het, maar omdat ek glo dat ’n roman meer lewenswaarhede kan oordra as byvoorbeeld ’n geskiedenisboek, wat bykans klinies objektief moet wees – meer kroniekskrywend – het ek besluit Ill at ease sal ’n roman wees, en denkbeeldige karakters met denkbeeldige dialoë het dus by die ou garde uit Omega die boek én die basis (201 Bataljon, Wes-Caprivi) aangesluit, sodat hulle kan sê wat ek voel gesê moet word.
Die term grensverskuiwend in die boekebedryf beteken dat skeidslyne tussen genres vervaag. Ek verstout my om te beweer dat dit hier ook die geval is.
Soos met Omega verwag ek dat mense kant sal kies vír en téén my/die hoofkarakter / die boek. Min temas in ons verbrokkelde land ontlok soveel teenstrydige menings as die konflik wat rofweg van 1966 tot 1989 gewoed het. In die teks spreek ek my mening hieroor uit, en ek glo ook baie ander mense s’n. Maar daar is ook baie wat óf lynreg verskil, of variasies daarvan, met soms haas onwaarneembare nuanses, aanhang. Elkeen se mening dra egter tot die uiteindelike groter prentjie by. Elkeen, van wie baie nie die geleentheid het om daaroor te praat of te skryf nie – soos Deon Lamprecht (skrywer van oa Bloedbroers) destyds in ’n resensie van Omega beweer het, nl dat “Verster ’n stem aan duisende gegee” het, en dit is ook hoekom ek oor hierdie tema skryf; ek wil daartoe bydra dat ons storie nie vergeet of eensydig onderploeg word nie.

Spesiale likeur met boekomslag vir bekendstelling laat bottel
Vertel my van die karakters in die boek. Die mans en die vroue.
Die karakters is meestal mans, uit hoofde van die tema en genre, maar die hoofkarakter se moeder speel ook ’n belangrike rol (soos op bladsy 326 onder “Epilogue: What a mother said”), omdat moeders dikwels die swaarste deur oorlog getref word. Een tannie wat ek geken het, het vyf seuns gehad, van wie drie op dieselfde tydstip diensplig gedoen het. My ma het vir my ’n pistool gekoop, want sy het gereken dat die R1-geweer waarmee die SAW my bewapen het, nie genoeg was nie!
Omdat Ill at ease fiktiewe karakters en gebeure bevat, is dit ’n roman, maar sterk op die werklikheid gebaseer. Soms is die waarheid maller as enige verbeeldingsvlug en is feite vreemder as fiksie. Ek wou graag baie wat in Omega vervat is, ook met nie-Afrikaanses deel; die klugtigheid en absurditeite, maar ook die frustrasie en opstandigheid, en daarom sal diegene wat Omega gelees het, heelwat van die oorspronklike boek in Ill at ease herken.
Die ongemak van die verlede, die ongemak van die hede. Is dit waar jou karakter hom bevind? Dis nie ’n maklike plek om te wees nie. Toe jy die boek geskryf het, was dit vir jou ’n moeisame proses om die herinneringe aan die weermag uit te pak en dit een vir een te beskou? Kon jy sin maak van die verlede?
Ja, die hoofkarakter voel oor etlike dinge ongemaklik; ons geskiedenis en politiek maak dit vir niemand in hierdie land wat enigsins empaties met sy/haar wêreld omgaan, eenvoudig om gerus of gemaklik te wees nie; die media – sowel sosiale as hoofstroom – bombardeer ons daagliks met inligting wat meestal subjektief en dikwels vals is: Beskuldigings vlieg rond, uit eie geledere én oor kultuurgrense ... dis asof elke mens in die land ’n handvol oortuigings het wat soos modder geslinger word, en dit sluit bespiegelings oor die Grensoorlog en die bande daarvan met apartheid en die struggle in. Frankie, die hoofkarakter, probeer sin maak deur sy eie oortuigings te toets en te bevraagteken, in ’n mate soos die hoofkarakter in Dana Snyman se Seun (Tafelberg, 2024), wat ook op homself gebaseer is.
Uiteindelik kom Frankie tot ’n gevolgtrekking, en dit was dalk vir hom meer moeisaam as vir my as skrywer, en tot watter mate dit wegswenk van wat hy as dienpligtige geglo het, moet die leser self besluit.
Om my boodskap oor te dra het ek verskillende karakters laat praat, nie net die ek-verteller nie, om hierdie komplekse en paradoksale onderwerp te probeer belig – soos om aan die een kant te beweer ek is teen oorlog (in die algemeen), maar om aan die ander kant te glo dat om ’n onvoorwaardelike oorgawe teen ’n kommunistiese aanslag af te weer (onthou, die USSR en Kuba was betrokke), die oorlog ongelukkig nodig was, omdat dit ook met die val van die USSR in 1989 beëindig sou kon word. Mense beweer vandag maklik die oorlog is gevoer om apartheid in stand te hou, maar vir ons wat op die Grens was, was dit glad nie ’n oorweging nie. Ek beveel aan dat hulle wat so dink, Leopold Scholtz se Die SAW en die Grensoorlog (Tafelberg, 2013) lees.
Om bg aan te spreek, maak ek in Ill at ease van ’n spesifieke literêre tegniek gebruik, en daarom moet die leser nie summier ’n standpunt hieroor inneem voordat hy/sy die hele boek gelees het nie. Literary devices (https://literarydevices.net/paradox) verduidelik dit as volg:
A paradox is a statement that appears at first to be contradictory, but upon reflection then makes sense. This literary device is commonly used to engage a reader to discover an underlying logic in a seemingly self-contradictory statement or phrase. As a result, paradox allows readers to understand concepts in a different and even non-traditional way. (https://literarydevices.net/paradox)
Het jy nog kontak met ander mans wat diensplig saam met jou beleef het? Wat is hulle gedagtes nou, baie jare later?

Reünie van Omega-kamerade, 2022
Ja, twee jaar gelede het ons onderwysers van Omega hier naby Kaapstad ’n reünie gereël. Ek dink daar was nege van die 14 (almal leef darem nog!), en verlede jaar is ’n tweede reünie in die noorde gehou. Verder hou ons byna daagliks nog kontak dmv ’n WhatsApp-groep-skakel. Ons het mekaar (met enkele uitsonderings) in 1987 laas gesien – meer as 30 jaar gelede – en dit was asof dit gister was. Dit tref my altyd hoe min mense oor die jare verander (ek bedoel karaktergewys).
Is die boek ook bedoel vir lesers wat glad nie diensplig beleef het nie?
Ja – dis beslis nie net vir ouddienspligtiges nie. Omega, oor en uit was aanvanklik vir die postdiensplig generasie bedoel, maar soos ek daaraan geskryf het – ek het in 2007 daarmee begin – het ek besef dat ek al meer en meer vir dienspligtiges begin skryf. Ill at ease het ek begin skryf met ’n wyer lesersmark in gedagte, byvoorbeeld “Saffas” wat nou oorsee woon, en ook vir hulle nuwe nasiegenote daar, sodat ook hulle ’n beter begrip van ons kan vorm, maar ek hoop regtig dat enigeen wat oorlog, en die impak daarvan op allerlei mense, beter wil begryp, dit sal lees.
Toe Omega verskyn, het jonger Afrikaanssprekendes my gekontak, selfs uit Engeland en Duitsland, wat my aangenaam verras het. Ek glo Ill at ease sal dieselfde impak maak.
Ek dink daar is wel een groep lesers wat níé die boek hoef te lees nie, en dis diegene wat skop-skiet-en-donner verwag. Ill at ease val meer in die kader van Catch-22 as The dirty dozen (om bekende voorbeelde te gebruik). Die joernalis Gert van der Westhuizen het in 2016 in Die Burger geskryf dat Omega, oor en uit hom aan Animal Farm laat dink het, en in Ill at ease verwys ek juis ook na Orwell se klassieke boek.
Watter ligte oomblikke en vreugdes onthou jy uit jou dienspligtydperk wat onherhaalbaar was en wat jy vir niks sou verruil nie? Bestaan daar sulke ligte oomblikke? Herinneringe wat jy koester?
Ja, ligte oomblikke was daar wel, soos in Omega en in Ill at ease beskryf word. Ek onthou dat Jeanette Ferreira in haar keurverslag van Omega geskryf het dat sy so gelag het dat sy van haar stoel af geval en op die grond rondgerol het. ’n Deurlopende kenmerk van albei boeke is juis die humor, en laasgenoemde bevat heelwat van eersgenoemde se satiriese (?) aanslag, maar veel meer, want dit dek ’n wyer spektrum van gebeure – dit gaan nie net oor die Grensoorlog nie.
Ek hoor mense sê hulle army-dae was iets wat hulle vir niks sou verruil nie, maar beslis nie weer wil beleef nie. Ek dink dit wissel van mens tot mens. Talle oudsoldate het swaargekry, en ly byvoorbeeld aan posttraumatiese stresversteuring, so dit hang tog ook af van wat jy beleef het. Ek en my kamerade het ’n paar onaangenaamhede beleef, maar betreklik min in vergelyking met ander. Ek is nie ’n groot drinker nie, maar ek dink die meeste tye wat ek daar regtig geniet het, was met die hulp van SA Brouerye se produkte. Ek koester wel die sukses wat ons met die onderrig van plaaslike skoliere in die Caprivi behaal het – daarop is ek trots, en dankbaar dat ek die voorreg gehad het. Van my slegste ervarings was dalk toe ek malaria gekry het, soos vertel in die kortverhaalbundel Grensoorlogstories (Litera, 2012).
Waarom het jy die boek self gepubliseer? Hoe het die proses vir jou gewerk? Wie was nog betrokke, by taalversorging, ens?
Sjoe ... lang storie. Eerstens hoekom: Nadat ek by Tafelberg toestemming gekry het om Omega te vertaal (hulle het voorheen reeds verklaar dat hulle nie belangstel om die boek te vertaal nie), het ek die manuskrip aan twee ander uitgewers gestuur, wat glad nie belanggestel het nie. Die boodskap wat ek gekry het, was dat dinge tans taai is in die bedryf, so uitgewers fokus op skrywers wat ’n gevestigde gevolg opgebou het. Ek verstaan dit – dis immers ’n besigheid en die mark is uiters kompeterend. Gevolglik het ek toe die raad van ’n medeskrywer aanvaar en die kuberruim ingevaar – met my hart in my mond en hoop in my hart!
Hoe werk dit sover? Die kort antwoord is: stadig. Duisende nuwe boeke stroom daagliks na Amazon en ander aanlyn platforms (Google: “At Amazon the number is expected to range between 270 000 and 350 000 monthly in 2025), veral in die Engelstalige sektor, so Ill at ease moet sy pad teen ’n oormag oopveg, en ek leer nog hoe die beste bemarkingstegnieke werk, maar daar is reeds bemoedigende tekens.

Met Riëtte Hugo en François Bloemhof by die bekendstelling van Ill at ease by Hugo Modern Art in Welgemoed
Sover het lesers uit veral Kanada en Australië boeke gekoop, asook Engeland, Nederland en die VSA, en minder uit Ierland en Nieu-Seeland. Maar dit begin aankom, beide wat e-boeke en sagtebandformaat betref. Ek het goeie terugvoering ontvang en verwag nog resensies, soos Martie Filmalter s’n op Goodreads. François Bloemhof het op 14 Junie by ’n bekendstelling van die boek as gesprekleier opgetree, en sy kennersmening is ook ’n riem onder die hart.
Ek het die teks self in Engels oorgeskryf en Grizell Azar-Luxton, voormalige redaktrise van Kaapse Bibliotekaris (vir wie ek sedert 2006 gereeld artikels skryf), en haar akademikus-eggenoot Peter, het die taalversorging behartig, soos ook vir my niefiksieboek Op soek na Jacobus Verster. Ilse is gewoonlik my eerste leser, en verder het skrywersvriende ook insette gemaak, soos Elsabe Welman, wat die formatering en oplaai van die skrywersprofiel en die teks en voorblad hanteer het.
Dis aanvanklik ’n ingewikkelde en intense proses, maar ek is oortuig dat skrywers in die toekoms baie van aanlyn platforms gebruik sal moet maak, veral wat sekere genres betref. Ek stel nie hierdie opsie bokant die normale een nie, en sal steeds sekere nuwe manuskripte na hoofstroom uitgewers stuur, maar soms kan jy nie anders nie: Skrywers kan nie met manuskripte by die huis sit en verwag ’n goeie fee gaan verskyn en ’n towerstaffie swaai nie. Jy sal maar self moet markte soek en alles probeer doen wat nodig is wanneer die situasie dit dikteer.
Waarmee is jy nou besig – ander skryfwerk of stokperdjies?
Ek het ’n soort emmerlys teen my studeerkamermuur opgeplak van boeke wat ek nog wil skryf, insluitende ’n paar wat net afgerond moet word, maar ek werk meestal aan ’n krimi (in Afrikaans) wat al lank op die sylyn gerangeer is om eers ander projekte af te handel, byvoorbeeld ’n roman met ’n kat as ek-verteller, getiteld Die laaste lewe van Timtom Taljaard, en ’n kort wetenskapfiksiereeks van drie volumes. Ek hou daarvan om ongewone verhale te skryf, boeke wat my as leser sou interesseer – soos lesers op Goodreads kan sien.

Nuutste skildery onlangs voltooi
Stokperdjies: Noudat ek afgetree het (by Naspers, 2022), kry ek meer tyd om te skilder, te lees en – natuurlik – te skryf. Verder span ek en Ilse (nou ook besig met haar derde boek) gereeld by Franskraal uit. Wanneer ons te oud en sleg geword het vir skryf, sal ons seker daar, of by Jacobsbaai, waar ons op die strand getroud is, gaan sit en branders tel!
*
Aanhalings
Resensie van Ill at ease deur Martie Filmalter (Goodreads):
Reading Ill at Ease was not simply an encounter with a text – it was an emotional reckoning. Francois Verster crafts a narrative that is both haunting and unflinchingly honest, and reading it felt like sitting in a dimly lit room with someone who has stripped away every mask, willing to bleed on the page for the sake of truth. It’s rare to find a work that doesn’t just describe discomfort, but embodies it, and I felt that deeply.
The title itself – Ill at ease – is an immediate invitation into a kind of emotional dissonance, a psychological unrest that hovers over every paragraph. Verster doesn’t offer comfort, nor does he seem particularly interested in resolution. Instead, he lays out a psychological and social terrain that is raw and fractured, mirroring not only personal anguish but also the wider societal malaise that clings to the South African landscape. This is a book that sits in the wounds, not above them.
From a stylistic perspective, Verster’s work is simultaneously lyrical and restrained. There’s a cinematic quality to his descriptions, but never a sense of overindulgence. His words move with intention, yet they are drenched in atmosphere. There were moments when I found myself rereading entire pages just to linger in the cadence of the sentences – beautiful, yes, but burdened. Every word feels like it has been fought for, or perhaps against.
What struck me most was the sheer intimacy of the work. Whether Verster is writing about personal trauma, political unrest, or the tensions between history and identity, he does so with a kind of emotional nakedness that’s rare. He doesn’t protect the reader from his vulnerabilities – instead, he makes us sit with them. That’s not an easy thing to experience. I found myself unsettled, even shaken, at various points. But in that discomfort, there was also a strange kind of healing. It reminded me that being ill at ease is often the first step to understanding something more profound about ourselves and the world around us.
There is a strong socio-political undercurrent throughout the work. Verster doesn’t isolate the personal from the political – how could he, in a country still grappling with the ghosts of apartheid, violence, inequality, and the frayed edges of identity? But what’s remarkable is that the political commentary never feels didactic. It’s embedded in the very texture of the personal stories he tells. He shows, rather than tells, how systems corrode individuals from the inside out.
This isn’t a book I would recommend lightly – not because it isn’t brilliant (it absolutely is), but because it demands something from its reader. It demands presence, reflection, and a willingness to sit with discomfort. And yet, when I closed the final page, I felt altered. Not uplifted, necessarily – but more attuned to the emotional undercurrents I too often ignore. In a world that prizes resolution and clarity, Ill at ease is a necessary disruption. It taught me that sometimes, staying in the question is more honest than rushing toward the answer.
Beskikbaar (sagteband en e-boek) by Amazon, Kobo, Apple, Barnes & Noble, Smashwords, ens, of regstreeks van die skrywer by francoisverster2022@gmail.com, of Stellenbosch books.
Jos Louw, ouddienspligtige:
Het so pas Ill at ease klaar gelees. Moeilik om my sentiment te verwoord, maar ek ervaar ’n gevoel van genoegdoening, nostalgie en ook heimwee. Ek dink ons generasie is OK. Het die boek werklik geniet – dit is immers ook deels die lewensverhaal van ons almal van daardie era [...] Knap gedaan Frans. Ek dink dit is ’n meesterstuk. Nuuskierig om resensies te lees.
Kommentaar
Baie mooi onderhoud, ek het dit geniet. Dankie.
Jou verduideliking oor die self uitgee, vertel van die ander opsies wat menige skrywers deesdae kan uitoefen. Daar is dus geen rede om nie jou droom te jaag nie.
Mooi Francois.
Dankie Johan, dis nie die makliker pad om te volg nie, maar soms is paaie min.