Foto's: Pienkes du Plessis se driedubbele boekbekendstelling

  • 1

Pienkes du Plessis het op Saterdag 8 September vir 'n uitsonderlike geleentheid in Stellenbosch Protea Boekwinkel gesorg deur drie nuwe titels uit sy pen bekend te stel: Anderkant duskant, uitgegee deur Griffel, en Die man en Ek ken jou, uitgegee deur Benedic Boeke. Martie Meiring en Ampie Coetzee was in gesprek met Du Plessis.

Nico Elema van Benedic Boeke heet almal welkom.

Evert Buurman stel Griffel Uitgewery aan die gehoor bekend.

Pienkes verduidelik waar sy ongewone naam vandaan kom ... toe die doopname opgeraak het in sy standerd 6-koshuisinlywing.

Anderkant duskant
ISBN: 9781920424473
Uitgewer: Griffel Uitgewery

Dis as die maan groot staan dat die oorlog ook opstaan, tussen hulle en hulle, en ons en ons, en hulle en ons. Hulle anderkant, en ons duskant, en ons anderkant en hulle duskant. Want die verdriet van die oorlog is endloos, vir altyd en altyd, hier in Jurieskloof, tussen die waters en die kanale. Groet die vrede en stook die vuur, die oorlog moet aanhou brand …

Só begin die meesleurende verhaal van Coenie en Lisa en hulle jong liefde, van Ou Meester Kgama en die opstandige Dikgo. Saam met hulle Ma Trien en Boetwillem, Oompie Janneman en Oom Pieta en al die ander. ’n Bestaanstryd van ’n eenvoudige Afrikaanse gemeenskap van 60–70 jaar gelede in die vyandige omgewing van die Noord-Kaap, woes en onsimpatiek. Deel van hierdie omgewing is swart mense, onkundig en onsuksesvol om hierdie omgewing baas te raak in hulle eie wanhopige stryd teen bekrompe kleinboere wat met Bybel en sambok oor hulle heers. ’n Onheelbare konflik met onbereikbare versoening as eindproduk.

’n Aangrypende, hoogs omstrede en polities-inkorrekte roman wat ’n storie vertel van Suid-Afrika se hartseer samelewing.

Martie Meiring het die gesprek gelei en Pienkes uitgevra oor die hantering van polities-inkorrekte woorde in veral Duskant anderkant.

Pienkes verduidelik dat dit die taal is wat gepraat is in die tyd waarin die verhaal afspeel. Hy het wel regskennis ingewin voor die publikasie.

Ek ken jou
ISBN: 9780987015440
Uitgewer: Benedic Boeke
Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Hierdie boek is 'n treffer wat jy nie sal kan neersit nie! Dis spannend van begin tot einde – Ampie Coetzee

Die spanningsverhaal volg 'n hoogs ongewone patroon en ons kry te doen met twee "ekke" wat vertel: die slagoffer en die moordenaar.  Wilhelm, verbete om te bly leef, en sy moordenaar net so verbete om te moor. Die intrige word daarop gebou en met Wilhelm se kleurryke romanses verweef as die groot liefde uit sy verlede onverwags opduik.

Pienkes du Plessis ken die binnewerkinge van die sakewêreld, die wêreld van groot geld, van markte, aandele, presies hoe die leefwêreld van rykes lyk ... Hy beskik ook oor 'n gespesialiseerde kennis van gewere, gooimesse, motors, jagtogte, die woestyn ...  Dit alles gebruik hy om 'n spannende boek te skryf wat jou van bladsy tot bladsy vasgenael sal hou.

Volgens Ampie Coetzee is Du Plessis se hantering van twee "ek"-karakters in die speurverhaal merkwaardig. In die video hier onder vertel Du Plessis hoekom hy op hierdie vertelstyl besluit het:

Die MAN
ISBN: 9780987015433
Uitgewer: Benedic Boeke
Klik hier om die boek aanlyn te koop.

Die MAN teken in vyf sketse ’n vreemde, afsydige wêreld van mense en plekke en omstandighede wat vaagweg aan laasnag se drome herinner. Maar drome vervaag reeds vroeg-oggend en die vyf verhale bly nog lank in ’n mens se kop rondmaal.

Een van die sketse, "Die man wat so eerlik was", was in 1964 ’n gewilde kortverhaal in die tydskrif Sarie Marais, terwyl twee ander aanvanklik as radio-hoorspele uitgesaai is.

Die skrywer skets doelbewus die karakters en gebeure op ’n afstand, sonder besonderhede van gevoel en meelewing. Vandaar die strak, gestroopte skryfstyl, uniek aan Pienkes, dwarsdeur hierdie uitsonderlike reeks man-sketse.

Die MAN bewys dat Pienkes du Plessis die kuns ken om boeklesers tot in die hart van sy stories te trek en te bly boei.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top