Foto's: ATKV-Mediaveertjies 2013

  • 0

Verskeie presteerders in die Afrikaanse mediawêreld is op 19 April by Vodaworld in Midrand met ’n Mediaveertjie deur die ATKV bekroon. Die ATKV bekroon jaarliks diegene wat in die loop van ’n gegewe jaar ’n uitnemende bydrae in Afrikaans gelewer het. Elke kategoriewenner ontvang R3 500 en ’n trofee. Naomi Bruwer en Alwyn van Zyl het die glansryke geleentheid bygewoon.

Foto © Naomi Bruwer


Jana Strydom

Foto © Naomi Bruwer


Hannes van Wyk en Japie Gouws

Foto © Alwyn van Zyl


Mercia van Wyk, Tim Theron, Christine Breedt en Jaco van der Walt

Foto © Alwyn van Zyl


Murray la Vita en Marike Bekker

Foto © Alwyn van Zyl


Sakkie en Beatrix Kotzé

Foto © Alwyn van Zyl


Franci Swanepoel en Martelize Brink

Foto © Alwyn van Zyl


Lethoko en Matsepe Tsiu

Foto © Alwyn van Zyl


Christa Clifton, Jeanné Naudé en Elizabeth Kroon

Foto © Alwyn van Zyl


Betsie en Jacques van der Elst

Foto © Naomi Bruwer


Annelise Els en Morné van Staden

Foto © Alwyn van Zyl


Feizel Sydow, Henriëtta Gryffenberg, Feroza Katz en Shawn Holworthy

Foto © Alwyn van Zyl


Ciska Kruger, Riaan Badenhorst en Suzaan Steyn

Foto © Alwyn van Zyl


Tim du Plessis

Foto © Naomi Bruwer


ATKV-Mediaveertjies

Foto © Naomi Bruwer


Martelize Brink
Radio: Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n vermaaklikheids- of joernaalprogram
Radio: Beste insetsel in ’n vermaaklikheids- of joernaalprogram
Radio: Beste vermaaklikheids- of joernaalprogram

Foto © Alwyn van Zyl


Lynette Francis
Radio: Beste nuus- of dieptenuusprogram
Radio: Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of dieptenuusprogram

Foto © Naomi Bruwer


Margot Luyt
Radio: Beste radiodrama of -teater

Foto © Naomi Bruwer


Mia Malan
Radio: Beste insetsel in ’n nuus- of dieptenuusprogram (deel prys met Darren Taylor)

Foto © Naomi Bruwer


Ettienne Ludick
Gunstelingradiopersoonlikheid van die jaar

Foto © Naomi Bruwer


Neels Jackson
Koerante: In-diepte artikels/Ondersoekende joernalistiek

Foto © Alwyn van Zyl


Murray la Vita
Koerante: Beste persoonlikheidsprofiel

Foto © Alwyn van Zyl


Hanlie Retief
Koerante: Kunstejoernalistiek

Foto © Alwyn van Zyl


Dana Snyman
Koerante: Essayis, rubriekskrywer of blogger van die jaar
Tydskrifte: Essayis, rubriekskrywer of blogger van die jaar

Foto © Alwyn van Zyl


Erns Grundling
Koerante: Beste leefstylstorie

Foto © Naomi Bruwer


Rocco de Villiers

Foto © Alwyn van Zyl


Ilza Roggeband
Tydskrifte: Beste leefstylstorie

Foto © Naomi Bruwer


Marida Fitzpatrick
Tydskrifte: Beste persoonlikheidsprofiel

Foto © Alwyn van Zyl


Chris du Plessis
Tydskrifte: Kunstejoernalistiek

Foto © Naomi Bruwer


Karen Zoid en Henry Steel

Foto © Naomi Bruwer


Henriëtta Gryffenberg
Beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama

Foto © Naomi Bruwer


Odelle de Wet
Beste aktrise in ’n sepie

Foto © Naomi Bruwer


Jacques Bessenger
Beste akteur in ’n dramareeks of enkeldrama

Foto © Alwyn van Zyl


Imani Media
Televisie: Beste dramareeks of enkeldrama

Foto © Alwyn van Zyl


Seremoniemeesters Riaan Cruywagen en Rian van Heerden

Foto © Naomi Bruwer


Zanne Stapelberg

Foto © Alwyn van Zyl


Freek Robinson
Televisie: Beste aanbieder of onderhoudsvoerder in 'n nuus- of aktualiteitsprogram

Foto © Alwyn van Zyl


Paul Venter
Televisie: Beste vermaaklikheidsprogram

Foto © Naomi Bruwer


Genée Heyl
Televisie: Beste nuusleser

Foto © Naomi Bruwer


Hanné Koster
Televisie: Beste insetsel in ’n nuus- of aktualiteitsprogram

Foto © Naomi Bruwer


Alizia Linden
Televisie: Beste insetsel in ’n gesels- of joernaalprogram

Foto © Naomi Bruwer


Pieter de Vos
Televisie: Beste nuus- of aktualiteitsprogram
Televisie: Beste dokumentêre program of programreeks

Foto © Naomi Bruwer


Franci Swanepoel en Marius van de Wall
Beste gesels- of joernaalprogram

Foto © Naomi Bruwer


Dine van Zyl
Televisie: Beste aanbieder in ’n vermaaklikheids- of leefstylprogram

Foto © Naomi Bruwer


Karen Zoid

Foto © Alwyn van Zyl


Lynette Francis

Foto © Naomi Bruwer

Die volgende ATKV-Mediaveertjies is toegeken:

Radiopryse

Die beoordelaars in hierdie kategorie was Anne Marie Bezdrob, Limari Louw en Marida Swanepoel, met die wenners soos volg:

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n vermaaklikheids- of joernaalprogram
• Martelize Brink – Oggend op RSG: "Riaan Manser" – RSG
Die beoordelaars beskryf Martelize as ’n natuurlike onderhoudvoerder, wat ’n gemaklike, ontspanne atmosfeer vir haar gas skep om die beste uit hom te bring. Sy is voorbereid, vra ingeligte vrae, gebruik haar stem goed en laat die onderhoud natuurlik vloei.

Beste insetsel in ’n vermaaklikheids- of joernaalprogram
• Martelize Brink – Oggend op RSG: "Rieldans" – RSG
’n Insetsel oor die riel sou vanselfsprekend sorg vir heelparty kwinkslae deur dié wat dit dans. Die deelnemers se eiesoortige taalgebruik en lekker energie laat ’n mens deel voel van die gebeure. Martelize gebruik haar stem goed en sorg vir ’n lewendige tempo.

Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of dieptenuusprogram
• Lynette Francis – Praat Saam: "Dawid Kruiper" – RSG
Lynette Francis het oor die afgelope jaar of twee uitdagende en sensitiewe onderwerpe aangepak en die wêreld van die RSG-luisteraar grootliks verbreed met haar baanbrekersonderhoude. Sy benader haar onderwerpe objektief en eerlik en maak nuwe wêrelde vir haar luisteraars oop.

Beste insetsel in ’n nuus- of dieptenuusprogram
• Mia Malan en Darren Taylor – Monitor: "Transkei" – RSG
’n Deeglike verslag oor die personeel van die afgeleë Zithulele Hospitaal in die Oliver Tambo-distrik in die Oos-Kaap raak ’n mens aan die hart. Mia slaag uitstekend daarin om die omstandighede by die hospitaal deur middel van onderhoude met dr Gaunt en sy medewerkers vir die luisteraar te skilder. Dis ’n storie van hoop vir die hele land.

Beste vermaaklikheids- of joernaalprogram
• Martelize Brink – Oggend op RSG – RSG
Die beoordelaars is dit eens dat Martelize daarin slaag om keer op keer ’n vars en interessante program saam te stel wat boei, vermaak en inlig.

Beste nuus- of dieptenuusprogram
• Lynette Francis – Praat Saam: "Wie se Afrikaans?" – RSG
Lynette Francis is ’n professionele omroeper en onderhoudvoerder en die emosionele onderwerp is met balans en empatie aangebied.

Beste dokumentêre program of programreeks
• Wouter de Wet – Dis Opera – RSG
’n Uitsonderlike ontmoeting met Mimi Coertse tydens die viering van haar 80ste verjaarsdag deur die oë van haar jare lange vriend, die  operakenner Wouter de Wet. Hy besit self opnames van baie historiese onderhoude met haar, asook merkwaardige opnames van haar optredes dwarsdeur die wêreld, en hy deel dit mildelik met die luisteraars.

Beste radiodrama of -teater
• Margot Luyt – Behoort – RSG
Behoort is ’n afgeronde, kwaliteitdrama met oorspronklike, minimalistiese regie en uitstekende gebruik van natuurlike klank. Die goeie, gestroopte spel en spannende intrige maak dit ’n geloofwaardige drama oor die wrede werklikheid van talle huishulpe in wit huishoudings. Al die elemente werk saam om ’n uitstekende produksie te verseker: die regie, teks en toneelspel.

Beste akteur of aktrise in ’n radiodrama of -teater
• June van Merch – Behoort – RSG
June lewer ’n roerende vertolking en haar gestroopte spel maak dit aangrypend. Daar is ’n natuurlikheid in haar toneelspel wat dié kuns maklik laat lyk. Sy bring rou emosie moeiteloos na vore.

Beste aanbieder by ’n gemeenskapsradiostasie
• Frans Swart – Verskeie programme – Oos-Rand Stereo
Die aanbieding van die verskillende programme is professioneel, en dis duidelik dat Frans al lank uitsaai en gemaklik is met die medium.

Pryse vir gedrukte/elektroniese media

Die kategorie Koerante se beoordelaars was Charles Naudé, Heindrich Wyngaard en Wilma de Bruin met die volgende wenners:

In-diepte artikels/Ondersoekende joernalistiek
• Neels Jackson – "Oorde buit oues uit" – Beeld
Die wenner, Neels Jackson, het met groot persoonlike ongerief ’n deeglike, klassieke stuk ondersoekende joernalistiek onderneem om ’n blik te kon gee op die lot van arm mense wat in sogenaamde wit plakkerskampe uitgebuit word. Die resultaat is ’n pakket van vier goed-geskrewe en insiggewende stories wat klaarblyklik tot heelwat reaksie gelei het.

Beste persoonlikheidsprofiel
• Murray la Vita – "Die skaduwees van Athol" – Die Burger
Murray la Vita skryf oor die dramaturg Athol Fugard, wat op 80 jaar ’n ou belofte aan sy ma nagekom het deur ’n toneelstuk in Afrikaans te skryf. Die leser kan aan die einde die indruk kry dat hy deur 'n spieël in ’n raaisel gekyk het, maar die verskillende aspekte van die storie is uiteindelik netjies bymekaargevat.

Kunstejoernalistiek
• Hanlie Retief – "Skryf soos pyp wat bars" – Rapport
’n Insiggewende artikel waarin Retief die jong skrywer Fanie Naudé met ráák hale skets. Deur talle interessante fasette van sy ondervindings en sienings as “uitgewekene” in Londen en New York, en later ook sy terugkeer na sy tuisland, onder die soeklig te plaas, slaag Retief uitnemend daarin om Naudé genuanseerd en geskakeerd bloot te lê.

Beste leefstylstorie
• Erns Grundling – "Bloedballet: Tyd vir die kryt" – By-bylae: Media24
Volpunte vir Grundling vir sy slag met woorde en raak beskrywing van sy foltering – en haakhoue – in die bokskryt. ’n Uiters genotvolle leefstylstorie wat die leser se aandag ronde vir ronde, hou vir hou – met ’n glimlag – boei.

Essayis, rubriekskrywer of blogger van die jaar
• Dana Snyman – "Nuwe waarhede uit ou-ou woorde" – By-bylae: Media24
Met ’n fyn waarnemingsin en in sy kenmerkende onopgesmukte, raaksê-skryfstyl sny Snyman in dié meelewende en openhartige Kersdag-kerkervaring diep in die aard en wese van die NG Kerk en sy mense “wat nuwe waarhede uit die ou-ou woorde van 'Stille Nag' probeer lossing”. Soos vir die skrywer self, raak dit die hartsnare en stem dit jou lank daarna nog tot nadenke.

Beste gemeenskaps- of plaaslike koerant
Die Pos/The Post – Redakteur: Keina Swart
Die koerant spreek van ’n goeie nuussin en ’n goeie gemeenskapsbewustheid.

Tydskrifte

Met Elna Rossouw, Joan Kruger en Martie Retief Meiring as beoordelaars is die volgende persone as wenners aangewys:

In-diepte artikels/Ondersoekende joernalistiek
• Rochelle Barrish – "Hang-hang ..." – Kuier
In ’n afdeling waar feitelike korrektheid meestal die oorhand kry bó onderhoudende verslaggewing, is Rochelle Barrish se artikel ’n welkome wenner. Dit handel oor ’n saak van lewensbelang, en sy is nie bang om oor sensitiewe dinge te skryf nie. Sy doen dit met meelewing en begrip sonder om sensasie na te jaag.

Beste persoonlikheidsprofiel
• Marida Fitzpatrick – "Glorie, maar my siel is dood" – Huisgenoot
Natalie du Toit se “geheime” persoonlikheid is hier ontbloot. Dis onverwagse inligting en goed geskryf.

Reisjoernalistiek
• Sophia van Taak – "Op soek na ’n Eden (verkieslik sonder krappe)" – Weg!
Reisjoernalistiek is ’n genre wat in Afrikaans besondere hoogtes bereik het. Die sukses van ’n tydskrif soos Weg! het gehelp om talent te lok en die leiding van begaafde redakteurs het daardie talent verder ontwikkel. Groot vreugdes vir die leunstoelreisiger.

Kunstejoernalistiek
• Chris du Plessis – "Fluit-fluit, die storie is uit" – DeKat
Hoe lekker om in Afrikaans die storie van kwêla te lees, geskryf op ’n manier wat net so dwingend is soos die musiek van die penniefluitjie. ’n Storie wat vertel word met ritme en kleur en met die gemak van diepgaande kennis.

Beste leefstylstorie
• Ilza Roggeband – "My lang pad met Ritalin" – Vrouekeur
Roggeband skryf op persoonlike wyse hoe sy uiteindelik haar toevlug moes neem  tot ’n baie omstrede middel, Ritalin.

Essayis, rubriekskrywer of blogger van die jaar
• Dana Snyman – "Dana, en Lettie se komberse" – My Tyd: Rapport
Dana gee ’n onverwagse blik op sy eie huislewe met Lettie, haar man en haar kind wat van  Noordwes na – van alle plekke – Jacobsbaai trek om daar ’n klein nywerheid te begin wat skielik sterk begin groei.

Televisiepryse

Die Verhalende genres se beoordelaars het Diane de Beer, Roberta Durrant en Schalk Schoombie ingesluit. Vanjaar word die volgende persone met ’n ATKV-Mediaveertjie bekroon:

Verhalende genres

Beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama
• Henriëtta Gryffenberg – Erfsondes
’n Mens bly verstom oor die ryk maal wat die skrywer opdis in Erfsondes. Sy gaan haal bestanddele in inheemse kulture en soos ’n meestersjef berei sy telkens iets smaakliks anders daaruit voor. Talle landstale word benut in die vertelling, karakters vervlak nie tot kartonfigure nie, en al raak die stories hoe donker, is daar ’n bevredigende ontknoping wat al die drade versoenend saamsnoer.

Beste regisseur vir ’n dramareeks of enkeldrama
• Peter Heaney – Erfsondes
Binne ’n gevestigde styl en struktuur is die regie steeds kreatief, speels en stilisties vernuwend, afgerond met vloeiende kamerawerk en stemmingryke beligting wat die storie sinryk inklee.

Beste dramareeks of enkeldrama
• Imani Media – Erfsondes
Erfsondes het nou al ’n paar seisoene deel van ons lewe geword met 'n spanningslyn wat goed gehandhaaf word en karakters wat lekker lewe kry. Dis ’n vars plaaslike reeks en hoewel in Afrikaans strek dit veel wyer.

Beste akteur in ’n dramareeks of enkeldrama
• Jacques Bessenger – Erfsondes
Dis nie maklik om die buffel in die verhaal te speel nie, maar Bessenger kry dit reg om nie in ’n karikatuur te verval nie en bietjie dieper in sy boef rond te krap.

Beste aktrise in ’n dramareeks of enkeldrama
• Jana Strydom – Erfsondes
Strydom is ’n televisie-aktrise van formaat. Sy verloor nie haar slag nie en skep ’n karakter van vlees en bloed.

Beste akteur in ’n sepie
• Lieb Bester – Villa Rosa
Lieb Bester se betroubare vertolking bly die hoeksteen van hierdie sepie – ’n man met ruggraat en tog nie foutloos nie; slim, sensitief en 'n ware mensch.

Beste aktrise in ’n sepie
• Odelle de Wet – Binneland
Odelle het dit reggekry om iemand uniek te skep met ’n wye emosieveld wat tog geloofwaardig bly.

Beste sepie (deur beoordelaars genomineer)
Binneland
Binneland is die beste sepie in terme van die draaiboek asook die uitvoering daarvan. Dit het die sterkste kenmerke van die sepie, met baie dramatiese storielyne en sterk uitvoering, en hou die aandag van die kyker op emosionele vlak.

Aktuele genres is beoordeel deur Harald Pakendorf, Johann Abrahams en Ruda Landman, met die volgende wenners:

Beste aanbieder of onderhoudvoerder in ’n gesels- of joernaalprogram
• Coenie de Villiers – Kwêla
Professioneel in elke opsig. Gemaklik en altyd in beheer van sy materiaal.

Beste insetsel in ’n gesels- of joernaalprogram
• Alizia Linden – "Pippie Kruger" – Kwêla
Die Pippie-storie is die kategoriewenner vanweë die besondere emosionele inhoud en die simpatieke manier waarop die verslaggewer die storie vertel. Alle fasette van die krisis word gedek en die storie ontvou natuurlik met goeie hoogtepunte. Dis ’n storie wat by jou bly en dis duidelik dat die verslaggewer omgee.

Beste gesels- of joernaalprogram
• Franci Swanepoel en Marius van de Wall – Fiesta: "Krismis in die Klein-Karoo"
Hierdie program was ’n klein juweel wat ’n mens van begin tot einde meegesleur het. Veelkantig, veelkleurig en aangrypend.

Beste aanbieder of onderhoudvoerder in ’n nuus- of aktualiteitsprogram
• Freek Robinson – Robinson Regstreeks
Freek Robinson het ’n kalm, gemaklike houding voor die kamera. Hy kry dit reg om nie aandag op homself te vestig nie, maar eerder op die inhoud van die onderhoud en die gas. Hy vra ook altyd die regte vrae, wat tot goeie antwoorde lei.

Beste insetsel in ’n nuus- of aktualiteitsprogram
• Hanné Koster – "Gay teoloë" – Kwêla
’n Polemiese vraagstuk is met empatie en deeglikheid aangepak, die foto-materiaal verveel nie en die gesprekke allermins. Goeie navorsing.

Beste nuus- of aktualiteitsprogram
• Pieter de Vos – Robinson Regstreeks
Die raaiselagtige moord op die Matie-student Inge Lotz bly nog altyd ’n gesprekspunt. Haar pa, prof Jan Lotz, word hier aan die woord gestel en praat reguit oor die verlies van ’n dogter en sy lewe sonder haar.

Beste nuusleser
• Genée Heyl – eNuus
Genée Heyl het ’n vars, gemaklike aanbieding met ’n goeie styl en goeie oogkontak.

Beste dokumentêre program of programreeks
• Pieter de Vos – Formidabele Vroue: Tibbie Steyn
Uitstekende gebruik van ’n rykdom foto’s en agtergrond om ’n era te herroep en ’n beeld te skep van iemand wat nie as individu vandag so sterk onthou word nie, maar in haar tyd ’n baie groot invloed uitgeoefen het.

Beste vermaaklikheidsprogram
• Paul Venter – Saktyd
’n Innoverende saamspan van borge om inhoud te skep wat in elke opsig kykbaar is. Dié keer werk realiteitstelevisie regtig, omdat die mense in elke episode iets buitengewoon en interessant moet doen met werklike gevolge in die lewe daarbuite – daar is immers ’n betaalde werk op die spel!

Beste leefstylprogram
• Braam Willemse en Thys Striecher – Bring & Braai
Baie Afrikaans, baie vermaaklik. Almal geniet die program en die kyker word teen wil en dank deel van die geestigheid.

Beste aanbieder in ’n vermaaklikheids- of leefstylprogram
• Dine van Zyl – Boerekos
Kosprogramme is die wenners op alle gebiede en Dine van Zyl is ’n kenner van boerekos en ’n kok by uitnemendheid. Gepaard met goeie fotografie en deeglike resepte is die program ’n besliste wenner.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top