Die wenners van die 2012 Media24 Boeke Literêre Pryse en die Jan Rabie Rapport-prys is op Vrydag 8 Junie by die Radisson Blu Hotel in Kaapstad aangekondig. Prysgeld ter waarde van R210 000 is aan die wen-outeurs oorhandig. Alwyn van Zyl en Naomi Bruwer het die spoggerige geleentheid bygewoon.

Die MER-prys vir die beste geïllustreerde kinderboek (ouderdomme 0 tot 8, maar nie uitsluitend vir dié ouderdomme nie) is toegeken aan Goblin Diaries deur Alex D’Angelo, geïllustreer deur Marjorie van Heerden, uitgegee deur Tafelberg. Michelle Cooper het die prys namens D’Angelo in ontvangs geneem.
’n Woord van die beoordelaars: “In hierdie hoogs leesbare, heerlike en vermaaklike storie word die leser aan kabouters, feetjies en ’n skrikwekkende Rooi Heks bekendgestel … Marjorie van Heerden se swart-en-wit illustrasies dra grootliks by tot die inpak van die storie.”
![]() |
Goblin Diaries deur Alex D’Angelo, geïllustreer deur Marjorie van Heerden, uitgegee deur Tafelberg |


Die MER-prys vir die beste jeugroman (ouderdomme 8 tot 16, maar nie uitsluitend vir dié ouderdomme nie) is toegeken aan Dark Poppy’s Demise deur SA Partridge, uitgegee deur Human & Rousseau.
’n Woord van die beoordelaars: “Die boek is wonderlik geskryf en aangrypend van begin tot einde.”
![]() |
Dark Poppy’s Demise deur SA Partridge, uitgegee deur Human & Rousseau Lees Jonathan Amid se resensie: Where sensitivity and skill converge: Reading Sally Partridge’s Dark Poppy’s Demise |


Die Jan Rabie Rapport-prys vir die beste debuut- of vroeë (tweede) werk deur 'n Afrikaanse skrywer is toegeken aan Alfabet van die voëls deur SJ Naudé, uitgegee deur Umuzi. Die prys is oorhandig deur Anastasia de Vries van Rapport.
’n Woord van die beoordelaars: “Naudé beantwoord (dubbel en dwars) aan al die besondere vereistes van die Rabie-prys. Dit is 'n versameling kortverhale ryk aan verbeelding, intellektuele diepte en opvallende skryftalent wat van 'n verbasende begaafdheid getuig en wat mens graag met die naam en die prestasie van Rabie kan vereenselwig.”
![]() |
Alfabet van die voëls deur SJ Naudé, uitgegee deur Umuzi Lees Jeanette Ferreira se resensie: Alfabet van die Voëls stel hoë eise |


Recht Malan-prys vir die beste niefiksie is toegeken aan Diepsloot deur Anton Harber, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers.
’n Woord van die beoordelaars: “Diepsloot is ’n boek wat onder die oppervlak grawe, wat konvensionele sienings omkeer op ’n rare, insiggewende, opwindende manier ... ’n boek wat insiggewend, warm en diepgaande is.”
![]() |
Diepsloot deur Anton Harber, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers Lees Maggie Marx se onderhoud met Anton Harber: Anton Harber talks to Maggie Marx about his recently published book Diepsloot |


Die Herman Charles Bosman-prys vir die beste Engelse fiksie is toegeken aan Lost Ground deur Michiel Heyns, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers.
’n Woord van die beoordelaars: “Michiel Heyns raak net beter en beter. Lost Ground is ’n ondubbelsinnige eerste keuse vir die 2012 Herman Charles Bosman-prys.”
![]() |
Lost Ground deur Michiel Heyns, uitgegee deur Jonathan Ball Publishers Lees Janet van Eeden se onderhoud met Michiel Heyns: Michiel Heyns, author of Lost Ground, in conversation with Janet van Eeden |


Die WA Hofmeyr-prys vir die beste Afrikaanse fiksie is toegeken aan Wals met Matilda deur Dan Sleigh, uitgegee deur Tafelberg.
’n Woord van die beoordelaars: “Wals met Matilda is ’n verkenning van menslike bestaan as ’n lewe in te klein bootjies op ’n oorweldigende oseaan. Fyn besonderhede maak van die bootreis ’n ervaring wat die leser ruik, proe, hoor en voel.”
![]() |
Wals met Matilda deur Dan Sleigh, uitgegee deur Tafelberg |

Nog foto's van die geleentheid:


































Kommentaar
En waar's die onderskrifte, a nee a!