
Ken Scott, Nadia de Kock en Reinette Visser (foto’s verskaf)
Nadia de Kock praat met Naomi Meyer oor FAB, oftewel Fortis Africa Books.
Nadia, ek hoor ’n voëltjie fluit dat ’n nuwe uitgewery binnekort Afrikaanse boeke gaan uitgee. Kan jy die aap uit die mou laat?
Graag. FAB het pas die lig gesien (soos in eergister!).
FAB is die afkorting vir Fortis Africa Books, wat ook ewe goed in Afrikaans werk, en is ’n afdeling van Reinette Visser en Ken Scott se Fortis Publishing, wat vanuit Spanje bedryf word. Ek ken hulle twee goed, en het sedert verlede jaar vir hulle werk gedoen. Fortis Publishing is ’n klein uitgewery met ’n groot hart. Ken en Reinette se lewensfilosofie is dat jy maai wat jy saai en daarom is die welsyn van hulle skrywers en ander medewerkers vir hulle voorop, met die geloof dat hulle welvaart uiteindelik na die besigheid uitkring. Hierdie filosofie maak sin, en ek onderskryf dit heelhartig.
Waarom ’n nuwe uitgewery in 2020 – juis in hierdie jaar! – en waarom (aanvanklik) Afrikaanse boeke?
Is daar ooit ’n goeie tyd om ’n onafhanklike uitgewery te begin? Maar ja, hierdie jaar was so moeilik dat ek FAB en ons eerste drie boeke as een groot plesier ervaar. Ek sê nou "uitgewery", maar ’n belangrike deel van die infrastruktuur bestaan reeds in Fortis Publishing en is tot FAB se beskikking. Dit maak dinge beslis makliker.
Wat jou vraag rondom Afrikaans betref: FAB se publikasielys vir die eerste klompie maande van 2021 bestaan uit Afrikaanse titels en dit is bloot omdat my netwerk hoofsaaklik Afrikaanssprekend is. Reinette het vyf jaar gelede na Spanje verhuis en is ’n cheerleader vir Afrikaans. Een van haar doelwitte is om haar moedertaal se literatuur so wyd as moontlike buite die grense van Suid-Afrika te versprei sodat ander emigrante en gypsies hulle taal kan saamneem na Australië en Kanada en die res van die wêreld. FAB stel egter ook in Engelse titels belang maar vir nou kyk ons nie na die ander landstale nie, bloot omdat nie een van ons dit magtig is nie. Dit kan egter natuurlik verander.
Boeke is spanpogings. Wie is almal betrokke – uitgewers, keurders, skrywers?
Ken Scott is ’n skrywer van ’n paar topverkopers in die VK; hy mentor skrywers en is ’n spookskrywer. Hy is verantwoordelik vir die keuring van Engelse manuskripte. Ek het kontak met skrywers en redigeerders wat leesverslae skryf en redigering van ons boeke behartig. FAB het toegang tot proeflesers en gebruik ook vryskutkunstenaars en omslagontwerpers. Reinette is verantwoordelik vir die tegniese versorging van Amazon-manuskripte en hou ook ’n oog oor die uitgewery se geldsake (sy het ’n kop vir besigheid). Ek het met die eerste boek gesien hoe sterk die span is saam met wie ek werk en hoe glad dinge verloop het. Dit sluit die skrywers in; hulle is almal professioneel.
In hierdie ekonomiese tye en met virusprotokol om in ag te neem: Gaan julle meestal e-boeke uitgee, of waar sal jul boeke te koop aangebied word?
Ons gaan e-boeke sowel as papierboeke uitgee. Die e-boeke is op amazon.com beskikbaar en papierboeke ongelukkig nie in Suid-Afrika nie, maar wel in Amerika, Brittanje en Europa. Ekspats wat nog nie tot Kindle bekeer is nie, sal bly wees oor hierdie papier-opsie.
Blykbaar verkoop e-boeke nie goed nie en ek hoop, saam met al die ander veranderings wat die virus gebring het, dat lesers meer e-boeke begin lees het. Dit was soveel makliker om e-boeke as papierboeke in die hande te kry met winkels wat gesluit was en verspreiding wat erg aan bande gelê is. Baie mense wil nou ook ligter leef, en skaal af – nog ’n rede om oor te slaan na e-boeke.

Vertel vir ons lesers van julle boeke wat al betyds vir Kersfees beskikbaar sal wees, asseblief.
Ons het skaars begin, so vir Kersfees het ons een boek gereed, juis ’n Kersfeesbundel. Vier skrywers (Zelda Bezuidenhout, Marita van der Vyver, Corlia Fourie en Zerelda Esterhuizen) het lieflike Kersverhale geskryf, en daar is ’n Kersvervolgverhaal van my wat verlede jaar in Vrouekeur verskyn het, wat ek met behulp van ’n redigeerder aangepas, ‘n bietjie langer en minder "tydskrifvervolgverhaalagtig" gemaak het. Dit word as ’n bonus in die bundel opgeneem. Ek is regtig in my skik met Reinette wat die papierboek ook betyds klaargekry het. Ek dink dis die perfekte Kersgeskenk vir lesers in die Noordelike Halfrond.


Kommentaar
Dit was heerlik om saam met Nadia te werk.
Veels geluk Nadia. Hou julle dop. Sterkte en voorspoed.
Uitstekende nuus.
Wat ‘n inspirerende onderneming! Wens julle alle sukses toe met die boek.....Baie geluk!
Baie geluk en wens julle groot sukses toe.
Ek stuur my manuskrip
Aanvaar julle ongesolisiteerde manuskripte in Afrikaans en Engels?
Hallo, Frans. Op hierdie stadium ongelukkig nie. Hoop jy kom iewers reg. Groete, Nadia