Fokusberoep: Radiojoernalis

  • 0

Wil jy elke dag met die hele nasie praat? Dane Beisheim gee raad oor hoe om ’n radiojoernalis te word.

Hoekom het jy besluit om 'n radiojoernalis te word?

Ek het te doen gekry met radio in my tweede jaar op universiteit as ’n kommunikasiestudent. Vir twee jaar het ek opgetree as ’n omroeper vir die universiteit se kampusradiostasie, PUKfm. Die onmiddellikheid en gebruiksvriendelikheid van radio as kommunikasiemedium was vir my baie aanloklik – die feit dat jy binne minute ‘n storie kan breek oor die lug was vir my ’n wonderlike gewaarwording.

Radio is ook die perfekte medium vir massakommunikasie in Suid-Afrika, omdat ons met duisende ongeletterde mense sit wat nie koerante en ander geskrewe nuus- en inligtingsbronne kan raadpleeg nie. Die meeste van hierdie persone kom vanuit agtergeblewe areas en is ook dus nie rekenaargeletterd nie, en beskik nie oor die fondse om toestelle soos byvoorbeeld ’n televisie te koop nie.

’n Radio is goedkoop om aan te skaf en te onderhou, effektief om inligting oor te dra, en kan as ’n positiewe katalisator vir betekenisvolle sosiale verandering ingespan word. Veral by gemeenskapsmedia soos plaaslike radiostasies. Dít is ook die rede hoekom ek in my honneursjaar op universiteit besluit het om te spesialiseer in joernalistiek met ’n sterk fokus op radio as my gekose medium.

Hoe gaan mens te werk om 'n radiojoernalis te word? Waar kan mens radiojoernalistiek studeer?

Ongelukkig dra ek nie kennis van elke universiteit in die land se kursusse nie, maar ek sou vermoed dat die meeste tersiêre leerinstansies in die land beskik oor ’n kommunikasiedepartement van een of ander aard. Dit sou voordelig wees om universiteite of kolleges se webtuistes te besoek of self te kontak en navraag te doen oor watter kursusse hulle aanbied. Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n baie goeie kommunikasiedepartement wat val onder die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Ek weet ook na aanleiding van my omswerwinge in die medialandskap dat Rhodes Universiteit beskik oor ’n fantastiese skool vir joernalistiek en ook al talle puik joernaliste opgelewer het.

Ek het my BA-graad in kommunikasiesstudies verwerf aan NWU se Potchefstroomkampus. Dit is ’n drie jaar lange kursus wat talle aspekte van kommunikasie aanraak (byvoorbeeld massamediakommunikasie, ontwikkelingskommunikasie, interpersoonlike kommunikasie, openbare redevoering, bemarking, skakelwerk ens), waarna jy kan kies om jou honneursgraad te doen waar jy spesialiseer in jou gekose veld (mits jy ook ’n sekere akademiese gemiddeld kon handhaaf). Sou jy die akademiese roete wou volg, kan jy daarna jou meestersgraad aanpak, jou PhD en uiteindelik, as jy die stamina, wilskrag en deursettingsvermoë het, jou professorskap. Ek het gekies om na my honneurs eers in die praktyk te werk, maar sal bes moontlik in my latere jare terugkeer na die akademie.

Wat is die beste aspek van jou werk?

My werk het my al die geleentheid gegun om verskeie interessante persone te ontmoet en onderhoude met hulle te voer. Ek word vir alle praktiese doeleindes betaal om lekker gesprekke te hê met mense! Ek is ook ’n kranige misdaadverslaggewer, en om in die hof te sit en sake by te woon is vir my dalk die lekkerste aspek van my werk.

Iets wat ook uiters lonend is, is wanneer jy voel dat jy deur jou verslaggewing ’n positiewe bydrae gelewer het op een of ander wyse. ’n Nuusberig wat ek geskryf het in my beginjare as verslaggewer by ’n gemeenskapsradiostasie het gelei tot die opsporing van twee vermiste seuns nadat ’n polisiebeampte wat van diens af was, hulle gewaar en herken het na aanleiding van die bulletin wat hy in sy kar geluister het.

Iets wat my vir altyd sal bybly, is ’n storie wat ek oor Jessica’s Wall of Life in Vanderbijpark gedoen het. JWL is ’n plek waar ongehude moeders wat nie hul babas wil hê of in staat is om na hulle om te sien nie, die kind kan los binne ’n kluis wat in ’n plaaslike hospitaal se muur gemonteer is. Binne minute word die baba deur verpleegsters gehaal, versorg, en uiteindelik aangeneem deur ouers wat kinders wil hê. Dit bied ’n alternatief tot babas wie se oorskot in vullisdromme of rommelhope gevind word – ’n betreurenswaardige situasie waaroor ek gans en al te veel skryf deesdae. Na daardie storie uitgesaai is en blootstelling aan hierdie wonderlike inisiatief gebied het, is die eerste baba ooit na JWL gevat.

En die slegste?

Vroeër jare het joernaliste gespesialiseer in een medium en gewoonlik dan ook in een onderwerp, of “beat” soos ons daarna in die praktyk verwys. So het jy byvoorbeeld joernaliste gekry wat slegs sportberiggewing gedoen het, of net skolenuus gedek het, of net misdaad ens. Deesdae is dit egter nie meer die geval nie. Daar word al hoe meer van joernaliste verwag om talle hoede te dra, en nie net met betrekking tot stories nie. Ek is byvoorbeeld hoofsaaklik ’n radiojoernalis, maar skryf ook vir ons webtuiste, tydskrifte en koerante, neem foto’s en doen ook klankredigering. Ek dek plaaslike nuus vanuit Noordwes, politieke nuus, misdaad, sport, van tyd tot tyd ekonomiese beriggewing, ens.

Sommige persone is van mening dat hierdie “mediakonvergensie” ’n goeie ding is, en in sekere aspekte dwing dit wel byvoorbeeld verslaggewers om gebalanseerde individue te wees wat ’n verskeidenheid take kan vervul en dus ’n aanwins vir enige mediahuis sal wees. Aan die ander kant word daar van joernaliste verwag om nou vyf mense se werk te verrig, maar steeds vir ’n enkele individu se vergoeding. Ek is steeds ’n voorstander daarvan dat joernaliste moet spesialiseer in ’n beat. Ek dink dit maak jou ’n beter joernalis wat met selfvertroue as kenner oor daardie betrokke onderwerp kan skryf en dus nuus van hoogstaande kwaliteit aan die publiek kan lewer, eerder as om ’n “Jack of all trades” te wees wat nie uitmuntend oor enige van die verskillende onderwerpe en vir die verskillende media waarvoor hy skryf, kan berig nie.

Nuus het ook nou ’n kommoditeit geword waaraan geldwaarde geheg kan word, en hierdie waarde hang hoofsaaklik af van die tydigheid van die nuus (almal wil eerste ? storie breek) en die sensasionele aard daarvan – want sensasie verkoop. Ongelukkig is dit so (sover ek kan sien) dat nuus oor alle verskillende media meer sensasioneel geword het die laaste ruk. Die slagspreuk in die bedryf is nie verniet “If it bleeds it leads” nie. Ek voel hierdie geneigdheid om amper uitsluitlik net oor moord en doodslag te berig skep ’n verwronge en oormatig negatiewe Beeld (hoofletter opsetlik gebruik) by die mediaverbruiker oor die toestand van ons samelewing.

Die tydigheid van nuus is in die afgelope paar jaar deur sosiale media geaffekteer. Twitter het dit moontlik gemaak om nuus te breek nog selfs voor radio. Al wat jy nodig het, is ’n smart phone om van die toneel af foto’s of klankgrepe te neem en op die internet te laai en jou gewaarwordinge te deel. Die negatiewe aspek hieraan verbonde is dat elke Jan Rap en sy maat deesdae dink dat hy ’n joernalis kan wees, maar nie noodwendig beskik oor die nodige opleiding, aanleg, kundigheid en agtergrond om ’n goeie joernalis te wees nie. In die haas om stories te breek, gebeur dit ook dikwels dat hierdie tweeters feitelike foute begaan en later moet regstellings maak omdat hulle te haastig was om die storie te breek. Ek sou as mediaverbruiker ook verkies om ’n volledige koerantberig te lees of radiobulletin te luister, eerder as om tien of selfs meer 140-karakter-tweets te moet lees om ’n geheelbeeld van ’n storie te kry.

Dan is daar natuurlik die pogings van die regering se kant af om die media te muilband weens laasgenoemde se kritiese uitsprake oor korrupsie ens. Ek gaan egter hier ophou, want ek het tot dusver die meeste van my tyd aan hierdie vraag afgestaan, en dit mag dalk die idee skep dat ek negatief is oor die stand van die media in Suid-Afrika. Inteendeel, die feit dat ek hierdie griewe kan opper, wys juis hoe ver ons al gevorder het en danksy ons liberale grondwet is ek geregtig op my opinies. Ons mediabedryf het sy probleme, nes enige ander, maar daar is geen ander plek waar ek eerder sou wou wees of in sou werk nie!

Oor watter karaktertrekke moet 'n mens beskik om 'n radiojoernalis te word

Ek sou sê jy moet van nature nuuskierig wees, krities ingestel en beskik oor ’n diepgesetelde sin van wat reg en verkeerd is – en dan die bereidwilligheid om te wil sien dat reg en geregtigheid geskied. Jy moet poog om ook billik en gebalanseerd in jou verslaggewing te wees. Ek dink dit is ook vanselfsprekend dat jy ’n liefde en aanleg vir taal moet hê, want dit is die hoofinstrument waarmee jy jou werk moet verrig. ’n Mens kan nie te puntenerig wees wanneer dit kom by die kwaliteit van die kopie wat jy lewer nie – as jy trots wil wees op jou werk, moet jy 100 persent skoon kopie die eerste keer lewer en nie net van die subredakteur verwag om jou brousels te korrigeer nie. 

As jy nie 'n radiojoernalis was nie, wat sou jy graag wou doen?

Ek sou bes moontlik ’n verslaggewer vir ’n musiektydskrif wou wees – spesifiek vir Rolling Stone in Amerika tussen 1961 en 1979, of by The New Musical Express (NME) vanaf 1980 tot 1999.

Dane Beisheim

Wie het jou geïnspireer om 'n radiojoernalis te word? Het jy 'n mentor gehad?

Ek het nie geweet wat ek wou doen na skool nie. Om die waarheid te sê het ek kommunikasiestudies gekies omdat dit ’n wye studieveld is en ek later kon kies waarin ek wou spesialiseer. Radio het my gevind toe ek sommer vir die lekkerte by PUKfm aangesluit het, en dit het die koers van my loopbaan beïnvloed. So as ek ’n mentor moes kies, sou dit Elsjené Burger, die destydse PUKfm-programbestuurder, vir haar leiding moes wees. Ek het ook baie respek vir die eertydse 5fm-platejoggie Barney Simon, en die 702-verslaggewer Gia Nicolaides.

Wat is die een ding wat niemand jou op universiteit vertel het van radiojoernalis wees nie?

Baie van my dosente was self voormalige joernaliste gewees, so hulle het eintlik ’n baie praktiese benadering in hul opleiding aan ons verskaf. Daar was baie staaltjies van hul tyd in die praktyk gewees wat baie insiggewend was. Ek het dus geweet dat daar ’n tyd kan kom waar ek weens my werk in gevaar sal wees – byvoorbeeld tydens betogings waar jy op die toneel verslaggewing moet doen. Dit is wel een ding om dit te hoor by ’n dosent, en ’n heeltemal ander ervaring wanneer jy jou te midde van die ontstoke skares van Marikana bevind – iets wat jy nie voorbereid op kan wees tot jy dit self ervaar het nie.

Wat is die toekoms van radiojoernalistiek in Suid-Afrika?

My bogenoemde griewe met Suid-Afrika se media desnieteenstaande, is ek eintlik baie positief oor radiojoernalistiek in die land. Ek het reeds melding gemaak van al die positiewe eienskappe verbonde aan hierdie onderafdeling van massamediakommunikasie. In ’n ontwikkelende land soos ons s’n wat nog nie beskik oor die tegnologiese infrastruktuur van ontwikkelde lande nie, is my gevoel dat die relatiewe low-tech benadering en instandhoudingsvereistes van radio dit vir nog baie jare as die primêre massakommunikasiemedium daar sal stel.

Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat 'n radiojoernalis wil word?

Raak betrokke by kampusmedia, gemeenskapsradio, of enige ander gemeenskapsmedia. Gemeenskapstasies is gewoonlik reeds onderbefonds en onderbeman, dus word jy ingespan om ’n verskeidenheid take te verrig. In ’n media-omgewing wat hoogs gesteld is op konvergensie is dit dus ’n baie groot pluspunt om te kan werk in ’n plek waar dit reeds van jou verwag word om so veelsydig te wees. Dit bied ook ’n blik op die interne werkinge van ’n radiostasie – dit wys dat dit nie altyd so ‘n glansryke beroep is soos wat films of fiksie uitmaak nie. (Ek verwys hier na jou, Paula van 7de Laan!) Jy doen baie ervaring op vir min geld en werk in die proses jou gat af. As jy dit nie dáár kan hanteer nie, is ek jammer om vir jou te sê dat dit nie enigsins beter of makliker raak nie (selfs nie by groot stasies of mediahuise nie). Dit is ’n moeilike werk wat telkemale inbreuk maak op jou private tyd en jou lewe selfs in gevaar kan plaas, maar as dit in jou bloed is, is dit die beste dekselse werk wat jy ooit kan hoop om te doen!

Sterkte met die keuses wat jy eersdaags sal moet maak met betrekking tot jou toekoms. Vat dit van my: as jy nie weet wat jy wil doen met jou lewe nie – dit gaan alles oukei uitdraai. Beproef alles en behou die goeie. Vrede, vreugde en voorspoed!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top