Fokusberoep: Inbedryfstellingstegnikus

  • 0
Stel jy belang in die ingenieurswese? Charl Coetzee vertel wat dit behels om 'n inbedryfstellingstegnikus te wees.

Hoekom het jy besluit om ’n inbedryfstellingstegnikus te word?

Dit het eintlik toevallig gebeur. Na my studies het ek nog steeds nie geweet wat ek wil doen nie ... toe kry ek dié geleentheid.

Wat is die taak van ’n inbedryfstellingstegnikus?

Op ons projek vervang ons al die ou instrumentasie en die beheerstelsel van ’n kragstasie (Matla-kragstasie in Mpumalanga). My primêre taak is om seker te maak dat die nuwe instrumentasie reg werk en reg skakel met die beheerstelsel. Ek sorg dus basies dat al die apparatuur wat nodig is vir die kragstasie se werking op datum en in werkende toestand is.

Hoe gaan mens te werk om 'n inbedryfstellingstegnikus te word? Waar kan mens daarvoor studeer?

Wel, daar is ’n paar opsies hier – jy kan ’n BScEng elektries, elektronies of meganies doen, afhangende van in watter veld jy wil in beweeg of geïnteresseerd is. ’n Korter pad is om ’n ingenieursdiploma te doen in een van die bogenoemde rigtings. As jy kans sien, sou ek die BSc aanbeveel, net omdat dié vir ’n mens meer opsies kan bied. Universiteite bied Eng-grade aan, en daar is ook tegnikons en kolleges.

Wat is die beste aspek van jou werk?

Ek’s mal daaroor om foutopsporing te doen en om nuwe programme vir die beheerstelsel te skryf. Om aanleg-optimalisering te doen is ook lekker, maar tog stresvol, omdat die toerusting bitter duur is en mense seer kan kry of selfs kan doodgaan. In dié opsig is daar wel darem miljoene veiligheidsmaatreëls wat jou en die aanleg beskerm.

En die slegste?

Wanneer my werk inmeng met my gholf. Maar dit gebeur darem nie baie nie.

Oor watter karaktertrekke moet 'n mens beskik om 'n inbedryfstellingstegnikus te word?

Bereid wees om hard te werk, met sakke vol geduld. Jy moet ook jou cool kan hou, veral nader aan die einde van ’n projek se sperdatum, want dan gebeur daar baie dinge gelyk. Mense verwag soms wonderwerke wat nie eers ámper realisties is nie. Dit is die gil-en-spring-fase van ’n projek.

As jy nie 'n inbedryfstellingstegnikus was nie, wat sou jy graag wou doen?

Haha, as daar nie so baie misdadigers was nie, sou ek graag ’n professionele beach bum wou wees. Dis ’n goeie vraag. Ek’s self nie seker nie. Óf iets wat met gholf te doen het óf iets wat met voertuie te doen het. Ek dink eintlik nie dis baie belangrik nie, solank daar net ’n balans is tussen die werk wat jy doen, die geld wat jy verdien en hoe gelukkig dit jou maak.

 

Wie het jou geïnspireer om 'n inbedryfstellingstegnikus te word? Het jy 'n mentor gehad?

Soos ek vroeër gesê het, dit was eintlik per toeval dat ek die werk doen.

Ja, vir seker, en dis dalk een van die redes hoekom ek dit so geniet. Die ouer ouens wat mens altyd reghelp net voor jy groot bollie aanjaag en dan aandring op ’n Coke of Fanta in ruil vir hul kennis!

Wat is die een ding wat niemand vir jou op universiteit vertel het van hierdie werk nie?

Hulle het my níks daarvan vertel nie ...

Wat is die toekoms van inbedryfstellingstegnici in Suid-Afrika?

Daar is heelwat geleenthede vir mense wat in hierdie of ’n soortgelyke rigting wil studeer, veral in die mynbou- en die energiesektor.

Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat 'n inbedryfstellingstegnikus wil word?

Ja, ek het: wie nie leer nie, kom nie deur nie.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top