Titel: Vervleg
Skrywer: Petro Hansen
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN 9781485310822 (gedrukte boek)
ISBN 97814853485310839 (e-boek)
Hierdie resensie is op 20 November 2019 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.
Oor ’n aantal jare heen het Petro Hansen rubrieke vir Die Burger en Beeld gelewer. Daarvan is 96 nou vir Protea Boekhuis gebundel in Vervleg.
In hierdie tekste (almal met dieselfde lengte, nl ’n bladsy en ’n half), gaan dit om ’n groot verskeidenheid onderwerpe: die natuur (veral voëls, diere, plante); kleindorpse lewe, plaaslewe; gestremdes, misdadigers, kindermolestering, ’n liefdesverhouding wat nie volgehou word nie en dan beteken dit "verspilde toewyding". Daar is die heuglikheid van familievakansies.
Dikwels skryf sy bewonderend oor skrywers, sangers en verhoogkunstenaars, bv Randall en Koba Wicomb. Een aand hoor sy hulle oor Graaff-Reinet sing.
"Dis toe Koba by die koor inval dat ek geweet het dat ek nie in mý lewe ’n mooier duet sou aanhoor nie ... ‘En daar is ghwarriebos en wildepruim, noem-noem en granaat. Tussen soetdoring en karee kry ’n koedoebul sy maat ...’"
Die boektitel verwys na die skakeling tussen mense, tussen familielede en met ander in die samelewing. Daar's nog ’n soort vervlegting in die boek: Die afsonderlike rubrieke word in so ’n volgorde geplaas dat skakels onderling ontstaan. In die rubriek oor die Wicombs beskryf sy byvoorbeeld hoe sulke Afrikaanse lirieke "boustene van 'n taalmonument (is) wat nie deur die wysigings aan ’n taalbeleid op ’n universiteit se senaatsvergadering afgebreek of toegeverf kan word nie". Die rubriek word opgevolg met een op bl 45 oor "Annerlike Afrikaans wat my met vreugde pla!" – byvoorbeeld as ’n snerpend koue windjie op Calvinia ’n “droëbekwindjie” genoem word. Sy hou van woorde soos “depressiekarretjie”, “fyntamaryn”.
’n Leser kan dikwels emosioneel betrokke raak. Soos met haar laaste Kersaand met haar pa (191). Haar geskenk aan hom is ’n CD van Pavarotti. Sy hou hom dop terwyl Pavarotti sing. Toe sy die traan by sy wang sien rol, wonder sy oor wat dit in die tenoorstem was wat hom so ontroer het. Was dit dat Pavarotti “kompleet die hemel in Kersaand kon insing"?
Daar's die besoek aan Mina in ’n versorgingsoord. Sy ly aan Alzheimer se siekte. Mina kan nie meer veel onthou van haar en haar jare lange vriendin se verledes nie. Dit pla haar. Was sy op die begrafnis van haar vriendin se man? Die vriendin stel haar gerus. Mina wás daar. Dan die subtiele slottoneel: “Mina kantel haar kop, ’n vae vraag in haar oë. ‘Ag , maar dan is ek bly,’ sê sy. ‘Dan is dit goed so.’"
Petro Hansen se tekste het dikwels 'n openingsin wat dadelik jou aandag trek. Soos: “Ek het al ’n hans vlakvark in ons dorp se strate aangekeer” (65). “Erken dit nou maar, ons almal is maar so ’n bietjie kommin” (115). “’n Vrou se handsak is soos Pandora se boks” (67). “Met ’n spietkop kan jy mos nie boetie-boetie speel nie” (55).
Ek kom nou by teleurstellings. Veral met die teksversorging.
Gedigte en lirieke word aangehaal, maar dan soos prosa weergegee. In die koerant was daar moontlik nie genoeg ruimte om die oorspronklike teks se versindelings volledig en presies oor te dra nie. Maar nou loop alles ineen sodat sekere gedagtes nie beklemtoon word deur dit byvoorbeeld in ’n rymposisie te plaas nie. Daar is tog ’n bekende tegniese greep daarvoor: skuinsstrepe om versreëls se eindes aan te dui. (Op ble 41, 42 en 185 word wel die konvensies toegepas; waarom nie elders ook nie?) Sommige van die aanhalings is foutief. Die aanhaling uit TT Cloete se "Anna" (162) verskil byvoorbeeld van die bundelweergawe van 1992 – haal Hansen dit uit 'n ander bron aan? Waarom is daar nie meer bronerkennings nie (bv die datum wanneer die rubriek in watter koerant verskyn het)?
Nagenoeg 40 keer kom die woord "hart" oor die bundel heen voor. Op bl 205 raak dit selfs oordrewe en onoortuigend: "Die hande wat soms tee stil langs my kom neersit het wanneer sy sien dat die walle van my hart oorloop." Op bl 188 is 'n lomp sin. Sy roep haar vervlegting met haar ma op: "Jou omgee is nog altyd soos salf tussen die krake van my hart se lyf ingevryf en ek weet; [kommapunt ipv dubbelpunt] oral om verberg is ek en jy in jou moederliefde in een hartklop vervleg."
Ek het ook elders oor ander oordrewenhede gefrons, byvoorbeeld hier: "En ek weet ons taalwêreld sou sonder die woordkunstenaar TT Cloete wees soos Engels sonder Shakespeare: veel, veel armer (162)." Daar's tog al bloot ’n verskil in die omvang en aard van hulle skryfwerk.
Ek sluit af met ’n voorbeeld van ’n heerlike gedramatiseerde toneel (91). Sy is staatsaanklaer op Rooiberg. Sy staan om tienuur gereed om die tweede staatsgetuie te lei:
Iets vang toe my oog by die deur van die hof. Kan dit wees? Kyk ek reg? "Edelagbare ..." sê ek benoud.
"Mevrou die Staatsaanklaer, die staatsgetuie is besig om te praat," betig die landdros my van die bank af.
"Maar Edelagbare," stotter ek weer.
"Dit is nie nou jou plek om te praat nie," jak die landdros my weer af.
"Maar Edelagbare ... hier is ’n pofadder besig om in die hof in te seil."
Die landdros leun vooroor en skree net: "Verdaag!" Vir die gebruiklike "die hof sal nou verdaag," was daar nie tyd nie.
Dit was seker die eerste en enigste dag in 'n hof dat ’n landdros, staatsaanklaer, hofordonnans, beskuldigde en tolk soos een man opgestaan en besems, takke en stokke gegryp het om ’n slang uit 'n hof te verjaag.
So. Honourable Speaker! Honorable Speaker! Honourable Speaker ...! As ’n man wil praat, laat hy praat. Jy weet nooit wat hy vir jou wil sê nie.

