FMR-resensie: Koshuis deur Erns Grundling

  • 0

Koshuis: stories oor die koshuislewe
Saamgestel deur Erns Grundling

Queillerie
ISBN 978-0-7958-0165-5

Hierdie resensie is op 18 September 2019 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai

Erns Grundling het ’n bundel prosatekste saamgestel: Koshuis: stories oor die koshuislewe. Dit is wonderlik boeiend, insiggewend, humoristies en nostalgies. Dit beslaan 295 bladsye en is die werk van veertig skrywers. Saam met die voorwoord tel ek 48 tekste. Hoofsaaklik kortes.

Erns Grundling dui in sy voorwoord aan dis staaltjies, herinneringe en oorvertelde stories oor die ervarings by verskillende soorte koshuise: koshuise by gewone skole en ook by byvoorbeeld landbouskoleen dan universiteitskoshuise. In enkele tekste kom oorsese koshuise ook voor. Erns som die heerlike uiteenlopendheid en die afwisseling in die temas op:

Kattekwaad, byname, romanse, studentepret, koshuissport (én sports), ontgroening (verkieslik die ligter kant), studietyd, koshuisvaders en -moeders, koshuiskos, ensovoorts. (Bl 8.)

Ek vertel nou van enkele tekste.

In Marco Botha se "Lafie, die Rooitaal & groen trekkers" (bl 210) is ons by ’n landbouskool. Miss M'am doen haar bes om die manne Engels te leer. Sy moet veral vir Lafras (verkort tot Lafie) aanmoedig om harder te werk. "Waarop Lafie in sy mooiste Brits geantwoord het: "Yes."

"Toe die Kaapse inspekteur ons Engels in matriek vir die groot eksamen kom toets het ... is ons na die VCSV-kamertjie ontbied." Daar het Lafie vertel hoe hulle met beeste en graan boer: "'I'm Lafras Dunn. My dêd farms. We farm wif cow and green, your honour. I wants to farm one day also. Fank you.' En dit was genoeg om hom aan die ander kant van die matriekeksamen uit te bring. Dalk was dit omdat die inspekteur gesien het dié pratery was vir hom ’n ware stryd, maar een waaroor hy erns gehad het."

Mercy Kannemeyer vertel in "Ek vlieg" (bl 56) oor die soort dinge waarvoor sy nie weggeskram het nie, maar wat byna te veel geword het om te hanteer. "Die dinge waarvan ek dikwels gaan skuil het, was die geraas van die #FeesMustFall-beweging. Dit, gekoppel met toetse en opstelle wat gevoel het asof dit nie einde kry nie, het by tye swaar op my millenniërhart gerus.’’ Ook rassisme. Jy moet "akademie, vriendskappe en oorlewing balanseer" in die koshuis. Maar nou onthou sy ’n aand met ’n groep van hulle op die dak van hul koshuis . Toe dit gevoel het sy wil vlieg. ’n Aand met rooiwyn, "gevul met liefde en kameraderie’’ (bl 58).

In Florence de Vries se "Rookwolkies" (bl 202) kom die politieke bedeling ook ter sprake. Dis 2004.

Ek het daardie jaar ook die eerste keer in my lewe gestem. Daarna was ek saam met die Onafhanklike Verkiesingskommissie deurnag in ’n groot saal langs Kaapstad se hawe, sodat ek eerste daar kon wees wanneer die land se derde demokratiese verkiesingsuitslae bekendgemaak word.

... ’n Jaar later stap ek in by ’n haarsalon in Crozierstraat om ’n afspraak te maak om my hare te laat droogblaas vir ’n spesiale ete wat ek moet bywoon. Die salonbestuurder gee een kyk en sê hulle doen nie "ons" hare nie.

Sy rig ’n brief aan Die Burger oor "dié post-democracy-potloodtoets". 

Oor etes word beslis kommentaar gelewer. Soos in Thomas Joubert se "Koshuiskos"(bl 207): "Dag een, toe ons as standerdsessies by Potchefstroom Gimnasium se koshuis vars en beteuterd daar rondstaan, gaan Bertus se kleiner broertjie skielik hard aan die huil. Sy ouers kalmeer hom en die rede vir sy gesnik is dit: Hy het alles deurgekyk en hy sien die huisdeel waar sy broer gaan bly, maar hy sien niks kos nie. Waar gaan sy broer kos kry?"

André Brink se "Koning Oedipus" (bl. 48) dramatiseer hoe kamermaats soms probleme het tydens studietyd. André as "plein BA met aardrykskunde en volkekunde" is hard aan die swot vir ’n toetsreeks. Albert is ’n dramastudent by Tukkies en dié repeteer terselfdertyd hardop aan die toneel wat hy die volgende dag voor die departementshoof, die legendariese prof Anna Neethling-Pohl, moet aanbied. "Dis waar Oedipus pas besef het hy het by sy eie ma geslaap en toe sy oë uitsteek sodat hulle nooit weer al die booshede mag aanskou wat hy al ervaar het nie." André het maar by ’n ander inwoner gaan swot. In die vroeë oggendure word hy wakker in sy bed van "’n onaardse gemompel".

Kerneels Breytenbach se "Moord in die koshuis" (bl 187) is een van die vertellings oor hoe studente in die tyd voor selfone tiekiebokstelefone gebruik het, met eerstejaars wat ander inwoners gaan roep het vir ’n oproep. By Eendrag op Stellenbosch, in die tyd van Bun Booyens as koshuisvader, is telefone geïnstalleer in elke kamer. Bedien deur ’n sentrale skakelbord. Dit was ook die tyd toe ’n paar bekende politici se "telge" in Eendrag tuis was. Die vaders was nie almal gewild nie, bv nie die een met baie mag en min humorsin nie. Sy seun was egter ’n bok vir sports. Hy speel saam toe ’n poets gebak word op ’n junior wat ewe skielik tog maar inwoners moes gaan roep toe die skakelbord buite werking is. Die junior is ’n ’n admissant. Hy draf op om die politikus se seun te gaan roep; die oproep is moontlik van die politikus se kantoor af. Wat tref die tokkelok daar aan? Nee, dit gaan ek nie vertel nie. Soos Dirk Opperman sou gesê het: Lees self!

Leon-Ben Lamprecht som in "Pluk die Dag(breek)" die invloed van die koshuislewe op ’n student goed op (bl 257):

My hart is daar gebreek, ek het harte gebreek, ek het wyn leer waardeer, ek het wyn te veel waardeer, ek het vriendskappe gesmee wat al ’n leeftyd hou, en vriendskappe gesmee wat ek gedink het ’n leeftyd sou hou."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top