FMR-resensie: Donker bloeisel deur Jacques le Roux

  • 2

Donker Bloeisel
Jacques le Roux

Naledi
ISBN 978-1-928426-45-5

Hierdie resensie is op 17 Julie 2019 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

Jacques le Roux debuteer by Naledi met die roman Donker bloeisel. Hy was eers sielkundige-offisier by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. In 1996 begin hy met sy eie praktyk in Kaapstad. Hy spesialiseer in traumaberading en in rou- en verliesterapie.

Die roman beslaan 217 bladsye en is ingedeel in 63 kórt hoofstukke. Dit is vir my opmerklik hoe die kortheid keer dat die leeswerk vermoeiend raak. Jou konsentrasie bly sterk.

In die allereerste paragraaf word die hooftema aangekondig: die karakters se smagting na aanvaarding deur ander. "’n Mens onthou die oomblikke van verwerping die beste, veral as dit van die persoon kom na wie se aanvaarding ons die meeste smag. Dit gaan sit aan ons weefsel vas, en die gevoel dat ons nie goed genoeg is nie, verlaat ons nooit heeltemal nie" (bl 5).

Die roman begin in die tyd net voor die Anglo-Boereoorlog. Op die plaas De Wetskraal is pa Lang-Hans in beheer. Hy wil godsdienstige waardes handhaaf, maar nou doen hy dit juis met ’n kilheid veral teenoor sy seun Ben. Ben is kort-kort bang dat hy sy pa se afkeur op die hals sal haal. Lang-Hans ervaar ambivalente gevoelens teenoor Ben. Hy weet dat Ben en sy ma, Gertruida, ’n besonderse verhouding het en hy glo dat hy nie dieselfde liefde van Gertruida ontvang nie (bl 21). Ma Gertruida is wel ’n bron van "alomteenwoordige" versoening. Maar dan sterwe sy.

Ben word beskryf as nie ’n tipiese jongman nie. Hy is ’n diep denker wat ’n mens soms verstom met vrae en insigte waarop jy geen antwoorde het nie. Jy verstaan hom nooit regtig nie. Hy soek na iets, maar hy weet self nie mooi wat nie. Hy kom wel later by die iets uit: dat hy allerlei skuldgevoelens koester. Dit lei daartoe dat hy begin glo dat hy slegs deur uitsonderlike dade homself aanvaarbaar vir ander kan maak. Sy "meedoënlose pogings om ander se aanvaarding te kry het die patroon van sy lewe geword wat hy oor en oor uitspeel" (bl 118).

Daar is talle indrukke van sy gespannenheid. So anders is sy broer Andries met selfvoldaanheid en normale menseverhoudinge. Ben is ongemaklik met emosionele oomblikke. Oom Lang-Hans beskryf hom: "Jy skram altyd weg van mense af. So asof jy bang is vir hulle. Jy neem nie deel aan die danse of vleisbraaie deur julle jongklomp nie. By boeresportbyeenkomste skitter jy altyd in jou afwesigheid. Ek en Andries moet altyd verskonings uitdink vir jou. Jy is amper soos ’n skilpad wat sy kop in sy dop sal intrek" (bl 25).

Dan volg die hoofstukke oor die De Wets se deelname aan die Anglo-Boereoorlog, Ben as krygsgevangene op Sint Helena en sy ontsnapping per skip. Hy bly op soek na die liefde van ’n vrou. Telkens blyk hulle "donker bloeisels" te wees. Geesgenote van Ben, fisiek aantreklik, maar dan kom die donkerte in hulle na vore. ’n Voorbeeld is Kate die Engelse verpleegster wat Ben in ’n militêre hospitaal versorg. Soos hy het sy ’n ongelukkige jeug gehad. Hulle liefde word egter ingeperk. Kate is aan morfien verslaaf. Ná sy ontsnapping van die eiland ontmoet hy Helen naby Montagu. Die seer oor haar man se dood op Sint Helena lê nog vlak. Maar hy weet sy is die een met wie hy ’n verhouding kan bou wat oor tyd en plek kan voortbestaan.

Van die visueel en emosioneel opwindendste gedeeltes kom voor in die oorlogstonele, soos op bl 33: "Teen presies vyfuur neem die manskappe hul stellings geluidloos in. Die eerste daglig breek en ’n groepie waaksame tarentale skarrel oor die vlakte. Die Engelse verander geleidelik van grys skimme op die horison na duidelik herkenbare figure." En op bl 35: "Ben kyk in die dooie oë van 'sy' Kakie ... ’n mens wat ’n paar uur gelede nog oor sy toekoms gedroom het. Hy probeer die arm van die borskas aftel. Die Kakie se arm is reeds so styf. Sy liggaam voel verskriklik koud." Daar's oortuigende beskrywings van wapentuig en gevegte.

In die gedeelte oor Ben se krygsgevangenskap op Sint Helena kom ’n verrassende gegewe na vore. Ben leer om tekenwerk met ’n houtskoolstafie te doen by ... Erich Mayer (bl 129). Naas al die bekende figure uit die oorloggeskiedenis elders in die roman, nou ’n kunstenaar. Hy was ’n Duitser, landmeter op Vrede en voortreflike landskapskilder wat vrywilliglik by die Boeremagte aangesluit en toe ook op Sint Helena beland het. Hy tree egter hier nie juis op nie. Die aandag verskuif gou na ’n ander karakter. Ben se tekenwerk bring hom uit by die jong seun Gertjie en dan volg ’n paar meevoerende tonele wanneer Ben hom laat poseer en Gertjie ’n vertroueling in Ben vind.

Ek moet ongelukkig berig dat die teks baie taal- en stilistiese foute bevat.

Van die mees dramatiese tonele kry te veel verklarings.

Clichés hinder: "pragtige tere oomblik"; "prentjiemooi hawe".

Ben gebruik dikwels die tussenwerpsel "kwit". Ek kon nie "kwit" kry in woordeboeke uit daardie jare nie en ook nie in woordeboeke wat tot nou toe in gebruik is nie. Dit is wel ’n woord uit deesdae se spreektaal. Dit klink dus nie oortuigend vir 1899 en daarna nie. En sou ’n Boer die Engelse woord "hey" (bl 36) gebruik het in daardie jare? Sou "scenario" (bl 51) binne die karakters se woordeskat wees? En "draaiboek van sy lewe" (bl 125)? Volgens André le Roux en Lilla Fourie se Filmverlede (UNISA, 1982) is nuusfilms teen 1896 al geskiet "en die nuuswaardigheid van die Anglo-Boereoorlog het die filmbedrywighede aansienlik laat toeneem, sodat om en by 1905 die eerste permanente bioskoopteaters in Suid-Afrika opgerig is” (bl 2). Die woorde is nie te oortuigend vir daardie tyd se manne nie.

Le Roux skep soms beeldspraak wat nie oortuig nie. Eerste voorbeeld: "die skagte na sy ou onsekerhede in die onderbewuste is oopgemaak" (bl 172). Skagte is mos iets enorm groot om dit met ’n brein te vergelyk. Tweede: "Hy het dit nog nooit maklik gevind om uiting aan sy emosies te gee nie. Dit was vir hom nog altyd ’n teken van swakheid, wat nie by ’n ware man pas nie." Dit is tog so ’n oorbekende veralgemening. Nou die beeld (bl 53): "Die damwal wat sy emosies keer, verkrummel egter nou." Weer word iets te groot met iets soos emosies in verband gebring. ’n Damwal sal ook nie soos koek verkrummel nie. Ek kan nie glo dat die fiere generaal De La Rey se blik oor die manskappe sal "dartel" (bl 47) soos vlinders in die lente en somer nie.

Kommas ontbreek voor aangesprokenes of word in ’n sin verkeerd geplaas. Enkelaanhalingstekens word gebruik waar dit dubbel moet wees. Op 25 bladsye kom spasieprobleme tussen woorde voor.

Afkappingstekens is verkeerdom.

Donker bloeisel deur Jacques le Roux is ’n toeganklike roman oor ’n bekende gedeelte van ons land se geskiedenis. Maar dit is ongelukkig nie tipografies en redigeringsgewys goed genoeg versorg nie.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Jacques le Roux

    Ek vind die opmerkings oor die tegniese skryfaspekte waardevol. Die tipografiese versorging en redigering is die verantwoordelikheid van die uitgewer. Die gebrek aan deeglike tegniese versorging deur die uitgewer is teleurstellend, en doen afbreuk aan ’n uitstekende teks.

  • Dankie vir jou positiewe resensie, Danie - ek kan nie wag om die boek te lees nie! Dankie ook dat jy ons bedag gemaak het op die tipografiese foute - ek stem saam met Jacques dat dit teleurstellend is, maar hoop dat dit nie lesers daarvan sal weerhou om 'n uitstekende teks te waardeer nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top