Fiëstas onderhoud: Peet Pienaar oor hierdie jaar se stelontwerp

  • 0

Wat was jou oorspronklike opdrag vanaf die vervaardigers rakende hierdie jaar se Fiëstas-stelontwerp?

Die oorspronklike gesprekke met kykNET het gefokus op stede as tema. Om die gevoel te illustreer wat geskep moes word, is die boek Invisible Cities en sy droomstede vlugtig bespreek, maar die kreatiewe span is daarna vrye teuels gegee om met ’n unieke en eg Suid-Afrikaanse konsep vorendag te kom. 

Hoekom was The President die perfekte keuse om te help met konsep, stelontwerp en uitvoering?

Ons het al voorheen materiale soos karton en bruinpapier op kreatiewe wyse gebruik en was dus die aangewese span om die gekompliseerde proses te lei. Die ontwerpateljee het ook die kennis, ervaring en aanvoeling om die stelontwerp as eg Suid-Afrikaans en in lyn met kykNET se visie uit te beeld.

Wat presies is Invisible Cities en hoe pas dit by die stelontwerp in?

Die boek Invisible Cities deur die Italiaanse skrywer Italo Calvino vertel van magiese stede en met deurlopende temas soos verganklikheid, die dood, begeerte, geheue, en so meer (wat deur die stede uitgebeeld word). Die gevoel wat die boek skep, is bloot gebruik as beginpunt vir die stelontwerp. Die Suid-Afrikaanse skilder Pierneef se landskappe het ook as inspirasie gedien en sterk bygedra tot die eindproduk. Sy uitbeelding van ons landskappe is ikonies en bied die eg Suid-Afrikaanse gevoel van ons stede wat ons wou oordra.

Die stel bestaan uit 800 kartondose, 1 054 meter riffelkarton, 112 meter bruinpapier, 50 liter gom, 150 meter waslint en 31 borde veselbord. Klink na ’n helse logistieke nagmerrie?

Om ’n hele stel uit karton en papier te vervaardig is nog nooit op hierdie skaal aangepak nie. Die uitdaging was dus ook dat ons baie moes eksperimenteer en wanneer iets nie werk nie, moes die volgende ding probeer word. Ons moes byvoorbeeld die hele stel behandel om dit vuurbestand te maak, terwyl papier natuurlik frommel sodra jy dit natmaak! Maar die ervare stelontwerp- en tegniese span dra grootliks daartoe by dat ons hierdie tipe logistieke uitdagings kan oorkom. 

Ek verneem daar gaan ook tien toneelwisselinge gedurende die aand wees. Kan jy ons meer hieroor vertel?

Soos die aand ontvou, ontwikkel die stel ook as ‘t ware met elke toneelwisseling. Ons gebruik byvoorbeeld groot kartondose wat oopgemaak word om kleiner kartondose te onthul. Die gevoel van ontbloting en dan ook toemaak word geskep. Wanneer die kunstenaars of die aktiwiteite op die verhoog verander, verander die stel ook om die volgende element van die tema uit te beeld.

‘n Spesiale uitsending van die KykNET Fiëstas sal op Donderdag 1 Maart om 19:30 uitgesaai word op kykNET kanaal 111 op DSTV.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top