’n behoefte aan iets onbekend
brand soos grasdakhuise
waar almal fluister …
behalwe die lelike eendjie wat buite staan en afluister.
’n brandende behoefte
spoel soos ’n brander
wat almal laat verander …
en in die proses is daar ’n paar wat verdrink.
’n brandende, spoelende behoefte
boikot alles
waar mense saam veg – soos malles …
maar tog teen mekaar.
’n brandende, spoelende, stakende behoefte
is in oorlog met homself
waar die besluitlose vir antwoorde delf …
oor dinge wat ander lankal gevind het.
brandende, spoelende, stakende, oorloggedrewe behoeftes
laat sink my moed,
want ek vermoed:
almal voel soos die delwende, verdrinkende, mal eendjie …

