Die ATKV, in samewerking met Fopspeen Films, is besig met ’n projek waarin ’n reeks kort animasiefilms geskep word wat geïnspireer is deur ’n aantal Afrikaanse gedigte. Klassieke gedigte, asook die werk van kontemporêre digters, sal gebruik word om ’n "visuele bloemlesing" saam te stel waarin ’n dialoog tussen woord en beeld geskep word. Die doelwitte van die projek is onder andere:
- Die skep van ’n reeks Afrikaanse animasiefilms van internasionale standaard, asook hoë tegniese en artistieke gehalte;
- Die gebruik van bestaande literêre tekste vir die skep van unieke Afrikaanse beeldmateriaal;
- Die skep van ’n groter bewustheid van Afrikaanse poësie;
- Om poësie deur middel van visualisering meer toeganklik vir die breër publiek te maak;
- Die skep van werksgeleenthede vir Afrikaanse en Suid-Afrikaanse animasiekunstenaars;
- Die skep van ’n Afrikaanse animasiegemeenskap en ontwikkeling van ’n Afrikaanse animasiekultuur;
- ’n Persentasie van die gedigte wat gebruik word sal voorgeskrewe werke van sekondêre en tersiêre instansies wees. Die animasiefilms kan dus ook gebruik word as waardevolle onderwyshulpmiddels in die onderrig van Afrikaanse poësie.
Die bekende kunstenaar Diek Grobler loop reeds tien jaar met dié gedagte in sy agterkop rond. Soortgelyke projekte is onder andere reeds in Nederland en Estonia gedoen, beide lande met ’n sterk animasietradisie. Afrikaans het ’n sterk poësietradisie, maar die oes van Afrikaanse animasie is maar skraal. Hy reken dat daar hope animasietalent in die land is, maar ’n gebrek aan projekte waarin dit aangewend kan word. Animasie is ’n tydrowende proses, en daarom duur. Befondsing vir onafhanklike, individuele animasieprojekte is skraps en moeilik bekombaar. Gevolglik verloor animasiekunstenaars dikwels moed en begewe hulle tot die advertensiebedryf, of in ander, meer betalende vorme van uitdrukking.
Deur van bestaande tekste gebruik te maak, word die kunstenaar ’n geleentheid gebied om op die visuele aspek te konsentreer, en in gesprek te tree met ’n ander kunsvorm. Poësie is nie vreemd aan interdissiplinêre wisselwerking nie. ’n Mens hoef maar net te kyk na hoeveel van ons 20ste eeuse en kontemporêre digters ook musikante is, en hoeveel gedigte as lirieke die lig gesien het. In Afrikaans is die toonsetting van gedigte ook baie algemeen en gewild. In ’n animasiefilm kan al hierdie aspekte bymekaar kom: die teks, klank en musiek, asook ’n visuele interpretasie van die teks.
Die films sal deur verskillende kunstenaars, onder leiding van Diek Grobler as artistieke regisseur, gemaak word. Tegniese bystand aan die kunstenaars, sowel as die finale versorging en verpakking van die reeks films, sal deur Fopspeen Films gedoen word.
Kunstenaars wat belang stel om by die projek betrokke te raak, kan met Diek Grobler skakel by diek@fopspeen.co.za of Nita Cronjé by die ATKV: nitac@atkv.org.za / 011 919 9087
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

