
Frederik Rudolph van Dyk (Foto: LitNet-argief)
“Die koplose ruiter van Skimmelperdpan: Is sintuiglikheid ’n wegholperd, en die ruiter red(d)eloos?”
Spreker: Frederik Rudolph van Dyk
Datum en tyd: Vrydag 10 Junie 2022, 18:30
Plek: Forti Bistro, Brooklyn, Pretoria
Koste: R220 pp, aandete en ’n glasie wyn ingesluit
Bespreek asb: 0828951139/oopgesprek@filosofiekafee.co.za en betaal by hierdie portaal (Verw: P10/06): http://pay.yoco.com/filosofiekafee; of direk per eft: Absa-spaarrekening, naam en nommer: Lamar 9242373000.
Die jong Nigeries-Amerikaanse filosoof en teoretikus, Olufemi Taiwo, het reeds in 2020 die koppe laat draai met sy wenner-essay op die joernaalblad The Philosopher. Taiwo verdedig in sy essay die argument dat standpunt-epistemologie / kennisleer, identiteitspolitieke diskoerspraktyke en epistemic deference (epistemiese heenwysing) – wat saam die teoretiese onderbou vorm waaruit die sogenaamde wokeisme en kanselleerkultuur inspirasie put – ’n elite-opvoering geword het. Taiwo wys daarop dat hoewel hierdie teoretiese raamwerke vanuit basiese empiriese oftewel sintuiglike kennisleerbeginsels afgelei kan word, die talle belewenisse van ongelykheid en ander sosiale magswanbalanse net opgelos kan word indien gemeenskappe hande vat rondom daadwerklike planne. Dit is dan die sogenaamde “konstruksiebenadering” tot ’n identiteitspolitieke diskoers.
In ’n poging om voort te bou op Taiwo se argumente, kan gevra word of sy kwalifikasie van die sintuiglike / empiriese grondslae van identiteitspolitieke raamwerke moontlik is sonder die aanvaarding van beginsels van die redeleer, oftewel die rasionalisme.
Is sy handevat of konstruksiebenadering tot identiteitspolitieke praksis enigsins sinvol, indien die wegholperd van die sintuiglikheid nie juis deur eeue-oue rasionale instellings gekwalifiseer word nie? Laastens: is daar meriete in die argument dat rasioneel-gebaseerde instellings self die slagoffers van empiriese identiteitswanbalanse is, en dus haas onbruikbaar word?
Frederik probeer denkende, aktiewe en nuuskierige Afrikaanse intellektualiteit uitlewe. Hy geniet lees, openbare debat, uithousport en deesdae ook ’n potjie gholf. Verder skryf hy, soos die muse kom, bepaald oor Afrikaanse musiekverwikkelinge (veral rock en alternatiewe bands) en geniet ook sy vinielplaat-versameling saam met sy naastes om ’n waaghalsig opgetoorde maaltyd in die Johannesburgse winter.

