In hul artikel oor die proses van verwerking van roman na rolprent slaan Adean van Dyk en Elbie Adendorff die spyker op die kop – die sleutel tot ’n geslaagde verwerking is die mate waarin die rolprent getrou is aan die “gees”, nie die presiese inhoud nie, van die oorspronklike materiaal. Van Dyk en Adendorff gebruik sleutelfigure in die draaiboekbedryf, soos Syd Field en Robert McKee, om hul bespreking van die verwerkingsproses toe te lig (ek was te dankbaar om nie Blake Snyder van Save the Cat!-faam êrens te sien nie).
Die draaiboekskrywer het aansienlike vryheid in die verwerkingsproses om byvoorbeeld karakters te kombineer en nie al die verhaalgebeure in die rolprent in te sluit nie, maar om kreatief met die komponente van die storie om te gaan om ’n rolprent te lewer wat nie noodwendig teksgetrou is nie, maar wel getrou is aan die gees – die “essensie” – van die roman. Kritici speel gereeld met die idee van die “onverfilmbare roman”. In hierdie verband is Yann Martel se Life of Pi al gereeld genoem, en tog word Ang Lee se rolprentweergawe baie hoog aangeslaan. Selfs Salman Rushdie (moontlik een van die mees “onverfilmbare” skrywers) se Midnight’s Children is in 2012 deur die bekroonde Deepa Mehta verfilm. Ook David Mitchell se epiese multinarratiewe Cloud Atlas is betreklik suksesvol tot ’n ewe epiese rolprent verwerk, as ’n mens Van Dyk en Adendorff se klem op die “essensie” of “gees” van die bronmateriaal in gedagte hou.

Van Dyk en Adendorff noem tereg dat daar weinig Afrikaanse filmverwerkings is wat die silwerdoek bereik. Naas Roepman was Lien se lankstaanskoene (regie deur André Odendaal) en Agent 2000 (regie deur Stefan Niewoudt) ook onlangs op die grootskerm te sien. Beide hierdie rolprente is, soos Regardt van den Bergh se Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom, verwerkings van jeugliteratuur. Die tendens om veral jeugliteratuur tot rolprente te verwerk is duidelik sigbaar in die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf, soos Twilight, The Hunger Games en meer onlangs The Fault in Our Stars toon. Van Dyk en Adendorff hoop dat “[d]ie bestudering van suksesvolle verwerkings van romans soos Roepman … hopelik die moontlikheid daarvan vir ander Afrikaanse draaiboekskrywers en filmmakers [sal] uitwys”. Dit sal wonderlik wees om eindelik die verwerkings van Die swye van Mario Salviati en byvoorbeeld Sirkusboere te kan aanskou, met ’n inhoudswaarde wat groter eise aan die kyker stel (en groter belonings bied) as die meeste jeugliteratuurverwerkings. Dink ook aan die moontlikhede wat Willem Anker se Siegfried bied.
Die rolprent Roepman slaag daarin om, soos die roman, ’n spesifieke tyd en plek weer te gee. Timus lei die verhaal in albei mediavorme, en die gebeure word deur sy oë en verwysingsraamwerk beleef. Beide die roman en die rolprent is grootwordverhale, ingekleur met trauma en politiek. Dit is nutteloos om enige roman en rolprentverwerking daarvan kwalitatief te vergelyk. Daarmee bedoel ek dat ’n mens die waarde van die boek sowel as die rolprentkunsvorm onderskat en misken wanneer ’n mens twee verskillende kunsvorme teen mekaar meet. Dit is meer produktief en lonend om elkeen afsonderlik te verken en dan interessante diskrepansies en ooreenkomste te ondersoek.

Met bostaande in gedagte het ek die volgende kritiek op die rolprentweergawe van Roepman:
Eerstens is dit visueel te duidelik dat die karakter Hein as booswig in die rolprent gaan dien. Sy aggressie en dreigende teenwoordigheid word uitermate visueel aangedui. Hein (vertolk deur die ontslape Andrew Thompson) is byna heeltyd in swart geklee. Hier staan Hein agter ’n bossie; hier loer hy om ’n boom. En amper altyd in swart geklee. Die normatiewe waarde van swart wat onheil suggereer, word te veel aangewend.
Tweedens sukkel die rolprentweergawe met die balans tussen die werklikheid (en die dikwels traumatiese aard daarvan) en die half magiese “al wat jy moet doen, is glo”-boodskap wat die film verkondig. Die kontras tussen die twee “wêreldbeelde” is groot genoeg dat ek met moeite deur die geheel van die film se wêreldbeeld oortuig is. Gegewe die traumatiese aard van sommige verhaalgebeure en die film se politieke bewussyn is ’n “glo net”-boodskappie onoortuigend.
Laastens is daar karakterprobleme. Die vaderfiguur, soos vertolk deur Deon Lotz, vra om geproblematiseer te word. Daar is nie noodwendig fout met Lotz se spel nie, maar in die rolprent neig die konserwatiewe karakter gevaarlik na karikatuur. Die karakter kon met groter sensitiwiteit hanteer gewees het. Verder lê die rolprentweergawe te veel klem op Joon (John Henry Opperman) as messiaanse figuur. Dit is nie nodig vir ’n film om ’n motief uit te spel nie; die tipe kyker wat Roepman sien, sal in alle waarskynlikheid presies weet wat die film van Joon dink sonder oordadige simboliek. ’n Skoot wat ’n visuele vergelyking tussen Joon en Christus tref, is ’n voorbeeld van hierdie oordaad.
|
|
|
Jan van Tonder
|
Hierdie kritiek doen nie afbreuk aan die rolprent se getrouheid aan die roman se gees nie, maar dui wel op hoe groot die uitdaging is wat die verwerkingsproses aan die draaiboekskrywer stel. Die De Jagers sou met gemengde sukses voor ’n soortgelyke uitdaging te staan gekom het met Verraaiers in 2012.
’n Laaste opmerking: Van Dyk en Adendorff wys daarop dat die skrywer van die roman, Jan van Tonder, by die verwerkingsproses betrek is en moes sê of “sy bedoelings vasgevang is” in die draaiboek. Hulle noem tereg dat dit selde gebeur dat ’n romanskrywer by die verwerkingsproses betrek word. Dit is nie noodwendig ’n slegte verloop van sake nie. Die idee van “bedoeling” kan egter die verwerkingsproses kniehalter omdat die draaiboekskrywer moontlik heeltyd gaan poog om by die “bedoeling” van die bronmateriaal te hou. Intussen is die ontvangs van die verwerkte materiaal – die kyker se reaksie en betekenisvolle ervaring van die verwerkte teks – moontlik meer belangrik, en kan ’n verwerking die gees van die bronmateriaal vasvang sonder om aan bedoeling gekoppel te word. Die verwerkingsproses maak voorts voorsiening vir die draaiboekskrywer om ’n eie stem te ontwikkel, wat nodig is vir enige verwerking om te slaag. Die verwerkingsproses moet moontlikhede ontsluit, nie kreatiwiteit en vryheid inperk nie.


