Felicity Hayes-McCoy: The House on an Irish Hillside

  • 1

Jare gelede het ek Derek Tangye (1912-1996) se boek, Cottage on a Cliff (1972), gelees. Hy was 'n joernalis in Londen en sy vrou, Jean Nicol (1919-1986), was die skakelbeampte van die Savoy Hotel. Hulle het besluit om hulle lonende maar bedrywige stadslewe prys te gee en hulle eerder in Cornwall, by St Buryan, op 'n affodilplasie te vestig. Dit is naby Land's End in die suid-weste van Engeland en dus omtrent so ver as wat 'n mens van Londen kon wegkom. Daar het hulle groter rustigheid ervaar, maar dit het gou geblyk dat hulle verblyf nie altyd baie romanties of idillies sou wees nie. Hulle het hulle donkies en katte en die natuur geniet, maar die boerdery het harde werk geverg en in ruil daarvoor het hulle 'n karige inkomste ontvang.

Derek het voortgegaan om boeke te skryf en Jeannie het ook vier boeke gepubliseer en van haar man se skryfwerk geïllustreer. Van die frustrasies wat hulle ondervind het, is dat die boerdery en skryfwerk noodgedwonge verwaarloos moes word wanneer te veel van hulle Londense vriende te dikwels en te lank kom kuier het omdat hulle ook die rustigheid van die platteland wou ervaar. Maar dit is juis hierdie nuwe leefwyse en Derek se innemende skryfstyl wat gesorg het dat daar 'n goeie afset vir sy boeke was, bv onder stedelinge wat 'n soortgelyke uitvlugplekkie begeer het.

Derek se outobiografie, The Cherry Tree (1986), en sy huldeblyk aan Jeannie (1988) bied interessante leesstof. Hulle buurman, die skrywer John le Carré (gebore in 1931), het die huldigingswoord by Derek se begrafnis gespreek. Albei was voorheen aan die Britse spioenasiediens verbonde.

Die genoemde boeke het my aangespoor om 'n soortgelyke werk te lees, naamlik Felicity Hayes-McCoy (gebore in 1954) se The House on an Irish Hillside (London: Hodder & Stoughton, 2012, 321p, $11.67). Die huisie het 'n tuin en is inderdaad teen 'n heuwel. Dit is sowat drie kilometers van die see. Die uitsig is egter op die berg Brandon, vernoem na Brendan, 'n heilige uit die 5de eeu, en nie op die see nie. Soos in die geval van die Tangyes, is dit 'n besige, kinderlose Londense egpaar wat 'n wegkomplekkie gevind het. Albei gaan egter voort met hulle beroepe, danksy die internet, e-pos en slimfone.

Hulle besoek die huisie periodiek, maar met al hoe korter tussenposes. Hulle vind dit ook moontlik om hulle werkverpligtinge in die vermaaklikheidsbedryf aan te pas sodat hulle al hoe langer periodes daar kan vertoef: "It's an organic thing, determined by life and work" (Kindle 2236). By hulle huis in Londen was die tuin ook "organic" (K 2373). Dit is nogal moeilik om te bepaal wat "organic" beteken, maar die woord bly in die mode.

Die outeur se man, Wilf, is 'n operabestuurder/-regisseur. Sy kundigheid en belangrikheid word nie deur haar ontken nie, maar sy slaan haarself as beroepsmens ongetwyfeld hoog aan: "My own trade is crafting the world into words" (K 1630). Op 'n dag was Wilf besig om in hierdie huisie op die klawerbord musiek te komponeer toe sy haar vervies het omdat sy besig met skryfwerk was. Na dié herrie het die arme man "Bonaparte's Defeat" vir haar gespeel (K 2244) en vir hom 'n buitekamer aangebou waarin hy met meer rus en vrede kon werk.

Haar pa was 'n professor in geskiedenis in Galway en hy het 'n groot boekversameling gehad, waarvan sy 'n deel geërf het. Sodanige agtergrond het 'n bydrae tot haar geestelike substansie gelewer. Sy vertel hoe besig sy was: "I'd started writing as well as acting, beginning with radio scripts and children’s TV, and moving on to soap opera ... I was fitting in voice work; one day it'd be a commercial, next day a training programme, or a film. Rushing from tube stations to sound studios, and then back to my desk to grab something to eat before concentrating on the next deadline" (K 642). "I'd started teaching microphone technique at drama schools and script analysis to film students as well" (K 1279).

Hulle Ierse huisie is "back west", wat beteken dat dit naby die verste westerlike punt van Ierland, naamlik in die Dingle-skiereiland, Kerry, is, met Tralee as die naaste stad en Dingle as die naaste dorp. Digby Dingle is Dunquin, die Ierse dorp verste wes. Die rolprent Ryan's Daughter (1970) is op die Dingle-skiereiland verfilm en het hierdie omgewing op die spreekwoordelike kaart vir toeriste geplaas. Die draaiboek is ruweg op Gustave Flaubert se roman, Madame Bovary (1856) gebasseer, waaroor ek voorheen geskryf het.

Wes van Dunquin is die eiland Great Blasket en ses kleiner eilande. Al hierdie eilande word nie meer bewoon nie omdat hulle te erg aan die stormwinde van die Atlantiese Oseaan blootgestel is. Van die eilande word egter nog as weiding vir skape gebruik. Die outeur verwys na 'n eilandbewoner, Peig Sayers, se 1936-boek, maar ek vind dit vreemd dat sy nie Robin Flower, die outeur van 'n 1944-boek oor Great Blasket, identifiseer nie.

Die gehuggie waarin die outeur se alternatiewe tuiste staan, word Corca Dhuibhne genoem. Die huis se naam is Tí Neillí Mhuiris (Neillí Muiris se huis) vernoem na 'n vorige eienaar. Die outeur en haar man woon reeds meer as 'n dekade deeltyds daar. Baie van die plekke (bv gehuggies, heuwels, bergpasse) wat in die teks genoem word, word nie op my landkaarte aangedui nie. Dit kan enersyds aan 'n gemis aan fyner besonderhede toegeskryf word en andersyds aan die feit dat 'n Ierse naam en sy Engelse ekwivalent onherkenbaar kan verskil. Byvoorbeeld, die Ierse naam vir Dublin is Áth Cliath.

Ierland het baie verengels, maar in die weste is Iers steeds die spreektaal. Daar is drie verskillende Ierse dialekte, wat onderling nogal heelwat verskil: by Corca Dhuibhne in die suid-weste, Connemara in die midde-weste en Donegal in die noord-weste. Ongelukkig het sommige Iere die gewoonte om wanneer hulle in 'n dorp of stad kom eerder Engels te praat.

Die outeur het in Dublin, waar haar pa in die museum gewerk het, grootgeword met Engels as huistaal, maar Iers was een van haar skoolvakke. Om haar Iers te verbeter het sy as sewentienjarige 'n tyd lank in Corsa Dhuibhne gaan bly. Sy het ook haar wittebrood daar deurgebring. Dertig jaar later het hulle daar 'n eeu-oue huisie gekoop en dit self gerestoureer. Dit was nadat hulle eers hulle woonstel en daarna hulle huis in Londen gerestoureer het. Na agtien jaar het hulle die Londense huis verkoop en vir werkdoeleindes 'n woonstel in Bermondsey in die middestad aangeskaf.

Na die inspanning van al die woonplekverbeterings wat hulle reeds onderneem het, het hulle wyslik besluit dat die nuwe woonstel geen restourasie moet vereis nie. Die beskrywing van die drie restourasieprosesse het my hart vir die man laat gebloei, want dit lyk asof sy praat en tee aandra en 'n bietjie verfwerk doen, terwyl hy, wat ouer as sy is, al die moeilike werk moet doen. Haar liggaam sê glo vir haar wanneer sy genoeg gewerk het: "Our bodies are designed to tell us when we've had enough of something" (K 2422).

Die outeur het groot lof vir hierdie teks gekry. Sy vertel van haar groot liefde vir die Ierse taal: "I've learnt how much the language matters" (K 3100). Maar sy gebruik myns insiens te graag Ierse woorde. Daar kan kwalik van lesers verwag word om al hierdie woorde se betekenisse te onthou. Sy beskryf die mense in die Dingle-skiereiland en hulle geskiedenis en gewoontes. Sy beklemtoon dat erfenis en tradisie met respek behandel moet word. Sy het bv die geskiedenis van hulle huisie sover moontlik probeer vasstel. In die omgewing is daar bv nog baie oorblyfsels van klipmure wat uit die ystertydperk dateer. Vier feeste, wat saamval met die seisoene, word jaarliks steeds gevier. In die Dingle-skiereiland leef die mense na aan die natuur.

Sy het agtergekom "that studying folktales had made me better at lateral links and non-linear information provision than most of the techno-geeks we worked with" (K 1399). Sulke volksverhale bied "explorations of shared human nature" (K 2083). Omdat dit haar spesiale belangstelling is, waaroor sy 'n ander boek geskryf het, is daar moontlik te veel inligting oor die Kelte en die mites, legendes en volksverhale van lank gelede. Ten minste in hierdie opsig het die teks sy funksionele lengte oorskry.

Die kernidee is: "All things are contained within all other things and ... everything in the universe shares a living soul" (K 67). Dit vind aansluiting by biofilie, wat veronderstel "human beings have an instinctive bond with other living systems" (K 1360). "All around you is the living strength of earth, sea and sky" (K 266). Daar is "the contrast between the timelessness of the mountain itself and the brief human lives lived here in its presence" (K 316).

Hulle moes self sorg dat daar elektrisiteits-, gas- en watertoevoer na die huisie aangelê word. Dit sou nie help om daaroor te betoog nie. 'n Voordeel van hierdie plattelandse omgewing is dat die buitedeure te alle tye oop gelaat kan word. "It's a place where community and individuality are equally important" (K 232). "For thousands of years, in a custom called bothántaíocht, people here have come together to talk, sing en play music" (K 250). Haar ma speel bv die konsertina. "People live in each other's shadows" (K 1579). Die inwoners is nog "neighbourly" (K 1583).

'n Buurman het aan hulle gesê: "You have four walls and a good roof, you have food and a fire, and good neighbours. You have all you need" (K 1635). Die pub, kerk en huisfunksies funksioneer as sentrums van die sosiale lewe. "Pubs here are called 'houses' ... they're almost used as extensions to people's homes" (K 371). "Everyone's story is important and everybody is equally worthy of attention and respect" (K 382). "Identity matters in Ireland" (K 1948). "Most people living in the Irish countryside can trace their families back for generations" (K 1954).

"Being here was even better than we'd thought it would be" (K 2282). "I'm learning to live in the present, and to know that I can't control what may come next" (K 3065). Die boek het aan my 'n aangename leeservaring gebied. Dit voer 'n mens weg na 'n heeltemal ander omgewing en leefwyse. Maar ek dink Tangye se boeke is in hierdie opsig moontlik beter.

Johannes Comestor

 

  • 1

Kommentaar

  • Comestor

    jy skryf die volgende omtrent haar :  "My own trade is crafting the world into words" (K 1630). Ek kan dieselfde stelling omtrent jou artikel maak wat die nostalgie skilder van die boek se hart. Dankie. Het dit geniet.   

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top