Farid Esack se Johan Combrink-gedenklesing

  • 3

 

“As gelowige Moslem glo ek dat ek eendag sal moet antwoord: Wat het jy gedoen vir Afrikaans?” – Farid Esack 

Op Donderdag 18 Februarie het Farid Esack die jaarlikse Johan Combrink-gedenklesing gehou. Hierdie lesing val onder die sorg en toesig van die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV.

Die VVA bevorder lees deur boektrommels uit te deel aan behoeftige instansies en deur die opleiding van onderwysers en leerhulpe om kinders wat met Afrikaans sukkel te ondersteun – veral as daardie kinders deur hulle ouers by ’n Afrikaanse skool ingeskryf is.

Hoewel die klem op Afrikaans is, doen beide die ATKV en die VVA baie om moedertaalonderrig te steun. “Ons moenie Afrikaans in ’n taalkraal injaag nie,” sê Amanda de Stadler van die VVA.

Elke storieboek wat in die boektrommels geplaas is, het weer die vermoë om leer te bevorder. So is Parmant en Babalela (LAPA) in die trommel om vir kinders te leer dat dit reg is om nee te sê as iemand met hulle wil lol. (Lees ’n volledige artikel hier.) Die groot skreeudag (Protea) help leerders om oor hulle emosies te gesels, en Wie jy ook al is (Garamond) maak dat jong lesers verstaan ons almal se bloed is rooi en dat ons eintlik almal dieselfde is, wie jy ook al is.

De Stadler vertel dat sy Wie jy ook al is eenmaal by ’n kleuterskool voorgelees het, waarop ’n seuntjie ná die tyd sy vinger so op sy wang sit en sê: “Ek het nou nog nooit só daaraan gedink nie.”

Danny Titus, wat daarna vir Esack moes bekendstel, sê toe: Is dit nie wonderlik nie? Ons moet almal soms ons vingers op ons wange sit en erken dat ons nog nooit só oor ’n saak gedink het nie.

Titus sê die ATKV is trots daarop om projekte aan te pak wat mense kan laat sê: “Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.”

“Vir ons staan diversiteit voorop,” sê hy. Dit is belangrik dat ons daaraan moet dink dat die meeste moedertaalsprekers van Afrikaans swart is. Die sensus wys 50% van die mense vir wie Afrikaans ’n moedertaal is, is sogenaamd bruin, net 40% is wit, 9% is swart en 1% is Indiër. Ons moenie vergeet dat meer 600 000 “African”-mense hulle moedertaal as Afrikaans gegee het nie.

Ons moet ook nog baie meer doen om die Bo-Kaap se rol in Afrikaans te erken, en beslis veel meer om aan die Moslemgemeenskap in die breë erkenning te gee, aldus Titus.

Hy is baie trots op die VVA en die rol wat De Stadler en haar regterhand, Chareldine van der Merwe, speel in die opbou van Afrikaans. Hulle maak ’n verskil.

Daarna het hy Esack voorgestel.

Farid Esack is in 1959 in Wynberg gebore. Sy gesin is deur die apartheidregering gedwing om Bonteheuwel toe te trek.

As negejarige sluit hy aan by ’n herlewingsbeweging, Tablighi Jamaat, en as tienjarige gee hy reeds lesse by die plaaslike madrassa. Op 15 wen hy ’n beurs om in Pakistan te studeer.

Esack is toe reeds baie bewus van die apartheidonreg en voor hy na Pakistan vertrek, word hy verkies as die voorsitter van National Youth Action.

Hy studeer agt jaar in Pakistan, maar hy sukkel met die outoritêre houding van sy leermeester en met die diskriminasie teen Christene, want in Bonteheuwel leef Moslems en Christene naas mekaar.

Esack word ’n medestigter van Call of Islam en ’n leiersfiguur in die World Conference of Religions for Peace. Hy het verskeie boeke en akademiese titels oor die Islam geskryf en dien ook as ’n kommissaris vir geslagsgelykheid in Suid-Afrika. Hy het al by verskeie plaaslike en internasionale universiteite gedoseer, onder andere by Harvard. Tans is hy professor in Islamstudies en hoof van die Departement Godsdiens aan die Universiteit van Johannesburg, en president van die International Society of Qu’ranic Studies.

Esack het daarna die podium betree en gesê so ’n inleiding laat hom altyd ongemaklik, want hy is eintlik net ’n laaitie van die Bonteheuwel.

Hy sê om dit te bevestig gaan hy begin met ’n storie wat gewoonlik nie tuishoort by ’n akademiese lesing nie, maar dit is nodig. Toe hy by Harvard ’n dosent was, het hy ’n slag sy skoonsus gebel en gedurende die gesprek ’n wind gelaat. Onmiddellik stop sy skoonsus en sê: “Farid, het jy gepoep?” Waarop hy toe maar bevestigend antwoord. “Prys Allah!” sê sy skoonsus toe. “Jy het nog nie vergeet waar jy vandaan kom nie.”

(Hier gaan Izak die joernalis tussenbeide tree. Johan Combrink sou geglimlag het, want hy het by geleentheid gesê: “Trots op jou grade? Onthou net ’n termometer het meer.”)

Wat hier onder volg, is ’n poging om Esack se ryk en uitdagende toespraak ten beste op te som. Ons het ná die tyd vir ’n kopie van die toespraak gevra, maar hy het van aantekeninge af gepraat en die toespraak was nie uitgeskryf nie.

LitNet het ’n funksie om onder hierdie berig kommentaar te lewer en die verskeie akademici wat daar was, sou dalk tot hierdie gesprek wou bydra.

Wat volg, is dus gebaseer op die aantekeninge wat ek tydens die lesing gemaak het.

Gemak met wie hy is

Esack het by verskeie geleenthede daarna verwys dat sy identiteit en dié van alle ander taalgebruikers vervleg is met ander s’n en beslis nie enkelvlakkig is nie. Hy bevind hom soms in die rol van 'n akademikus wat hom voorgee as aktivis; ander kere voel hy meer soos 'n aktivis wat hom voorgee as akademikus. Hy is gemaklik daarmee.

Mense wonder dikwels hoekom 'n leftie, 'n lid van die ANC, so sterk staan vir Afrikaans. Dit is maklik: Afrikaans is sy eie erfenis en deel van sy geskiedenis. Hy bly 'n laaitie uit die Bonteheuwel.

“Dit is 'n groot deel van wie ek is,” se Esack. “Dit is 'n gemeenskap wat mekaar ondersteun. Daar was altyd te min om te eet, maar as daar 'n kuiergas kom, dan gesels jou ma in die voorkamer terwyl jy by die agterdeur uithardloop om gou by die bure te bedel sodat jy vir die gas iets kan voorsit.”

Engels as klasaanduider

Afrikaans was ook die taal wat die imam gepraat het, maar die raad van die moskee was Engels, want hulle was belangriker as die imam.

Die sokkervergaderings was in Engels, want hulle wou belangrik wees.

Op skool was daar altyd een klas vir die Engelse kinders wat gedink het hulle is beter.

Van jongs af was Esack dus bewus daarvan dat daar binne die Bonteheuwel-gemeenskap reeds teen Afrikaans gediskrimineer is en toe vervies hy hom: al was hy al die jare in die Afrikaanse klas, het hy gevra om sy laaste skooljare in Engels te doen, want hy wou aan daardie beterweteriges wys dat hy hulle kon klop in hulle eie taal. Hy hét. Ook in die Engelse klas het hy eerste gestaan.

’n Veelvlakkige heelal

Almal praat deesdae van dekolonisering, maar wat beteken dit? Vir baie mense beteken dit klakkelose aanhang van Engels ten koste van alle ander tale. Dit is verkeerd, want daar is nie net een manier van menswees nie. Nie alles hoef McDonald’s-vriendelik te wees nie – dit is ontmagtigend, nie bemagtigend nie.

Die tragedie van die nuwe Suid-Afrika is dat daar geen plek vir jou is as jy nie Engels is nie. Almal praat van pluraliteit, maar wat ons doen is ontmagtigend. Dit is minagtend.

Daar is ’n ontkenning van die sogenaamde minderheid. Selfs Zoeloesprekendes word behandel asof hulle 'n sogenaamde minderheid is. Maar die Engelse is éintlik die minderheid

Tog: ons woon in ’n veelvlakke heelal. Dit is ’n pluriverse, nie universe nie.

Bemagtiging moet in in die uitbou van diversiteit wees; ons moet almal daarvoor verantwoordelik wees.

Godsdiens baie belangrik

Esack is ’n diep gelowige mens en hy moedig mense aan om hulle geloof uit te leef. Op pad na die lesing, op die lughawe, was daar ’n lid van die grondbemanning wat duidelik ook ’n ander werk het, want sy dog collar was sigbaar onder sy SAA-baadjie. Dié man is ’n priester én ’n tegniese lid van die grondpersoneel. Die man is dus gelowige én tegnikus. Op ’n soortgelyke noot was Esack vreeslik trots op ’n vroulike loods wat hy by geleentheid gesien het met ’n sluier oor haar kop. Sy is vrou, sy is Moslem en sy is ’n loods.

Moslems en die manier waarop die Moslems voortbestaan in Suid-Afrika, moet dien as ’n inspirasie vir Afrikaans.

Die Moslems is reeds 370 jaar in Suid-Afrika. “Ons is ’n minderheid. Ons gaan nêrens nie. Ons is Slams; ons ken nie ’n ander plek nie.”

Die Moslems in Suid-Afrika is trots op die groot, groot voetspore wat hulle oor die wêreld heen trap.

“Hier is ek van die Bonteheuwel, die hoof van die grootste projek in Koranstudies in die wêreld.”

Die Moslems in Suid-Afrika doen al hierdie dinge sonder ’n staat en sonder staatsondersteuning.

Afrikaans ook moet ook so kan voortbestaan: sonder die staat.

Versoening

Hy woon in ’n Joodse buurt. Die gebou waarin hy woon, het twee hysers. Bo die een staan Service en bo die ander Residents. Elke woonstel het selfs twee deure. Dieselfde woorde het destyds bo die die deure gestaan.

Dit is kodes. In Afrikaans was die kodes net duideliker: Blank en Nie-Blank. Die probleem is dat baie Engelse nie besef dat hulle ook deel gehad het in die stelsel nie.

Esack noem dit as ’n bron van frustrasie, maar hy blameer nie net nie. Ook hy wat homself 'n aktivis noem, is soms blind vir die sisteem. Hy noem toe ’n voorbeeld aan ons: die uitgekontrakteerde sekuriteitswagte wat hulle blok oppas, verdien 'n bitter klein salaris en werk onmenslike ure. Hy self het dit nooit besef nie, al gesels hy soms met hulle.

Dit het alles verander toe 'n student hom bel en vertel dat die een sekuriteitswag se pa oorlede is. Die liggaam moet terug na Zimbabwe. Esack gaan kuier toe by die gesin en vind in die eerste plek uit hoe haglik hulle lewe. In die tweede plek hoor hy toe wat die man betaal word. Hulle as gesin sou op geen manier vir die vervoer van die liggaam kon betaal nie; dit sou byna ’n jaar se salaris verg.

Esack bied toe aan om die volle bedrag te betaal, maar hy gaan klop toe ook by ander in die gebou aan, vertel hulle hoeveel die wagte verdien en vra hulp. Hy het heelwat hulp gekry.

Daar is ’n opvolg op hierdie storie, maar dit is belangrik dat hy, en die ander in die gebou, bewus moes word van die onreg voor hulle kon optree. Met hand in eie boesem gee hy toe hy was nie voorheen bewus daarvan nie.

Die onderdrukte word onderdrukker

Dit is en bly interessant dat almal decolonisation koppel aan die voorstoot van Engels. Maar dink 'n bietjie: die vroue en kinders wat in die Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe gesterf het, is deur die Engelse onderdruk. Dieselfde geld vir die onderdrukking in Indië en Birma. Ter plaatse het die Engelse dikwels ander kodes gebruik, soos Service en Residents, maar hulle was deel van die stelsel.

Afrikaans kry nou alleen die skuld vir ons land se euwels en mense dink bemagtiging is gelyk Engels, die taal van die koloniseerder.

Die probleem is: nou gaan die gemors voort. Dieselfde patrone van onderdrukking van "die ander" gaan nou klakkeloos voort in ons land en niemand sien dit raak nie.

Die feit dat jy eenmaal onderdruk is, beteken nie dat jy nie gaan onderdruk nie. Palestina is 'n goeie voorbeeld van 'n groep mense wat erg onderdruk was en nou nie kan raaksien dat hulle besig is met gruwels teen die Palestyne nie.

Die toenmalige slagoffers in Suid-Afrika gebruik nou Engels as stormram: hulle onderdruk nou sonder om dit te wil besef.

Slagofferskap as wapen

Slagofferskap kan ook gebruik word as wapen van onderdrukking. Esack sê: “So lank ek my gevange hou weens ander, sal ek nooit vry wees nie.”

Slagofferskap kan 'n identiteit word, maar dit is ’n keuse hoe lank jy daardie identiteit jou eie wil maak.

Kom ons neem 'n swart man wat swak betaal word, onder haglike omstandighede werk en daagliks rassisme ervaar by die werk, sê Esack. As hy dan in die aand sy vrou slaan omdat hy in die dag 'n slagoffer is, het hy daardie identiteit aangeneem en geïnternaliseer.

Maar dit is waar dit vir die buitestander nodig is om te sê: “Ek kan nie met jou identifiseer as jy jou vrou slaan nie. Ek kan identifiseer as jy in die dag 'n slagoffer is, want daar is of was ek ook, maar nie as jy in die aand jou slagofferwees op jou vrou uithaal nie.”

Met sy stout glimlaggie sê Esack: "Ek as 'n bruin man het altyd 'n edge. Dit gaan oor hare. Daar is ’n rede waarom ek ek my kop so kaal skeer, want dit versteek my kroes. Kroes of straight, ons is almal slagoffers, maar ons is ook mense wat bemagtig is, of nie."

Dit is dus vir almal nodig om te besef: ons moenie ons slagofferskap teen ander gebruik nie.

Identiteit is nie eenvoudig nie

Ons moet liefde vir taal kweek, ons moet ons taal bemark, maar ons moet ook historiese onregverdigheid regstel. Identiteit is nie eenvoudig nie.

Hy wys daarop dat die apartheidregering bekend was vir 'n baie goeie administrasie. Dit is prysenswaardig, al is slegte goed so goed gedoen.

Selfs uit Bonteheuwel kom daar goeie mense. Kyk na Ashley Kriel.

Dus? Ons moet besef ons het baie gemeen, maar ons is ook uniek.

Ons moet die pyn erken. Russel Botman het by 'n vorige lesing vertel hoe hy as skakelbeampte vir die studentebeweging uitgereik het na die wit mense. Toe gebeur 1976 en die pyn maak dat die pogings om uit te reik en te versoen bitter moeilik geword het. Die ergste was dat dit die moedertaal van baie mense seergemaak het. Gaan kyk na die apartheidsmuseum in Johannesburg. Die skreeuende plakkate verkondig dat dit Afrikaans is wat die pyn veroorsaak het.

Hoe kan ons dit as ’n positiewe inspan?

Esack sê: Kom ons sien ook die goeie in hierdie prentjie. Die dood van Hector Pieterson was ook 'n keerpunt. Dit was die begin van die einde. Ja, dit het lank geneem om die einde te bereik, maar in die gebeure van 1976 lê daar dus iets wat ook positief was.

Die oomblik van die grootste pyn was ook die keerpunt.

Daardie veiligheidswag het toe sy pa in Zimbabwe gaan begrawe, danksy almal se geldelike bydraes, maar toe hy die dag terug is by die werk, word hy summier afgedank omdat hy dit durf waag het om aan ’n buitepersoon te vertel wat sy salaris is.

Wat is goed daaraan? Die positiewe is dat daar nie net in hulle woonstelblok nie, maar ook regdeur die streek vrae gevra word aan en oor daardie maatskappy. Die bepaalde veiligheidswag se dilemma én jare van lojale diens het bekend geword en hy het verskeie werksaanbiedinge gekry.

Dus, ons moet almal verantwoordelike burgers wees wat vra:

  • Wat kan ek doen?
  • Hoe gebruik ek die taal?
  • Hoe kan ons kolleges ondersteun?
  • Hoe kan ons werkers ondersteun?
  • Hoe kan ons moeilike geleenthede ten beste benut?

Die ek teen die elite

Die hedendaagse elite is gewoon nie geïnteresseerd in Zoeloe, Sotho of Xhosa nie. Esack sê dit is teken van 'n gebroke gemeenskap.

Dit is dus ons verantwoordelikheid. Elke individu moet kan vra: Hoe moet ek die regte ding doen?

Ons moet onsself in in die gesig kan kyk en vra: Het ék opgestaan?

“As gelowige Moslem glo ek dat ek eendag sal moet antwoord: Wat het jy gedoen vir Afrikaans?”

Kyk na die VVA, sê Esack. Kyk wat die VVA doen om mense op te hef. Hier is taal verwyder van ras; dit is gekoppel aan bemagtiging. Afrikaans is nog steeds aan die ontwikkel. En elke geslag gaan verantwoordelik gehou word vir dit wat ons vir die taal doen.

Chareldine van der Merwe, die ander 50% van die VVA-personeel, het die aand afgesluit.

Foto's en teks: Izak de Vries

  • 3

Kommentaar

  • Puik! Hy volg in die nalatenskap van een van sy mentors, Prof Achmat Davids, beter bekend by hom as Apatjie.

    'n Uitstekende lesing.

  • Avatar
    Ina Wolfaardt-Gräbe

    Insiggewende uitgangspunte en boeiende invalshoek. Jammer die hele lesing is nie verbatim beskikbaar nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top