Far gone: ’n teaterresensie

  • 0

Die internasionaal bekroonde eenmanstuk, Far gone, deur die Ugandese akteur en teatermaker, John Rwothomack, is vir ’n paar vertonings in Kaapstad as deel van die 2025/2026-wêreldtoer wat oor vier kontinente strek.

Terwyl die teatersitplekke volloop, nooi hy ’n paar teatergangers uit en vra hulle om saam met hom tol te spin op die verhoog. Hy is kinderlik; sy bewegings onskuldig en opgewonde soos die agtjarige wat hy gaan speel.

Hy vra later aan die gehoor dat as hy hulle nooi om saam met hom op reis – ’n storiereis – te gaan, of hulle sal. Dis een groot “ja”. Hy vra dan of ons ons ore, ons oë en ons stemme vir hom sal leen tydens die vertoning. Weer die groot “ja”.

Wanneer Rwothomack se eerste woorde oor die teater val, word die gehoor onmiddellik ingetrek in ’n wêreld waar onskuld, geweld en menslikheid mekaar op die rand van oorlog ontmoet.

Dié stuk, geskryf én vertolk deur Rwothomack, is geïnspireer deur ware gebeure in Noord-Uganda, waar duisende kinders in die 1990’s en vroeë 2000’s deur die Lord’s Resistance Army (LRA) ontvoer en gedwing is om te veg as kindersoldate.

Far gone het sy debuut in 2019 gehad en is in 2022 met groot lof ontvang in Brittanje. Dit het nominasies ontvang vir die Alfred Fagon-toekenning vir nuwe swart Britse skrywers en Rwothomack het die Peggy Ramsay Foundation-toekenning ontvang vir sy dramaturgie. Kritici van The Stage, The Guardian en British Theatre Guide het dit beskryf as “’n rou, eerlike en meesleurende werk van teater wat noodsaaklike getuienis lewer”.

Rwothomack is in Uganda gebore en het grootgeword in die Verenigde Koninkryk. Hy gebruik oorlewendes se verhale en ook sy eie ervaring, waar hy as agtjarige amper deur die LRA ontvoer is, as bronmateriaal. Hy skryf dat dit nie oor hom gaan nie, maar oor die honderde duisende wat nie ontsnap het nie.

Far gone is dus nie net ’n oorlogdrama nie – dit is ’n persoonlike getuienis, ’n ritueel van herinnering. Al is dit nie sy storie nie, is dit een van duisende ander s’n en hy maak dit sy eie op die verhoog.

Die stuk het ontstaan uit Rwothomack se werk as teatermaker met Sheffield Theatres en Roots Mbili Theatre Company.

Die verhaal volg Okumu, ’n jong Ugandese seun wie se dorpie verwoes word toe rebelle toeslaan. Hy en sy ouer broer Okello word gevang en gedwing om aan te sluit by die LRA – ’n rebellegroep onder leiding van Joseph Kony wat oor dekades ’n spoor van terreur in Oos- en Sentraal-Afrika gelaat het. Deur Okumu se oë ervaar ons die verlore kinderjare van duisende jong seuns wat gedwing is in ’n lewe as kindersoldate, moordenaars en later, verlore siele.

Die LRA is in 1987 deur Joseph Kony gestig en het ontstaan uit ’n mengsel van godsdiensfanatisme en politieke frustrasie in Noord-Uganda. Oor meer as twee dekades het die groep meer as 60 000 kinders ontvoer – meisies vir seksuele slawerny en seuns vir oorlog. Die Internasionale Strafhof het uiteindelik in 2005 ’n lasbrief vir Kony uitgereik, maar sy spookleër het reeds groot dele van Uganda, Suid-Soedan en die Demokratiese Republiek van die Kongo verwoes.

In ’n klein vaalgeel poeletjie lig sien jy hoe ’n jong kind se onskuld verdwyn; hoe hy speel in die stowwerige bekendheid van sy nedersetting, tot oorlewing in ’n soldatekamp. Hoe hy ’n vegter word. Selfs later gebreinspoel deur die “higher calling” van ’n soldaat vir God ...

Rwothomack vertolk al die rolle self – van Okumu en Okello, tot die harde bevelvoerder, en selfs een van die barbaarse soldate.

Met minimale verhoogelemente – ’n sirkel van lig, stukke lap wat uit die dak hang en enkele klankfragmente – skep hy ’n hele wêreld. Hy gebruik liggaamstaal, ritmiese beweging en klankeffekte om tonele van aanval, ontvoering en verwoesting op te roep. Die resultate is byna hipnoties: Ons sien niks, maar voel alles.

Die beligting is só subtiel dat die lapstroke soms skaduwees teen die muur gooi. Soms lyk dit soos druppende bloed, ander kere soos manskappe wat Okumu omring, al is hy alleen op die verhoog.

Dit kombineer elemente van fisiese teater, poëtiese monoloog en tradisionele Afrika- verhalende styl. Die gehoor word nie net aangespreek nie; ons word mede-getuies.

Rwothomack se stuk plaas hierdie geskiedenis in die menslike sfeer: Hy vra nie net hoe sulke gruwels gebeur nie, maar wat daarna van die oorlewendes word. Wat gebeur as ’n soldaat weer kind moet word? As skuld en herinnering saamleef in een liggaam? Hierdie vrae weerklink lank nadat die ligte doof.

Rwothomack se vertolking is fenomenaal. Hy skuif sonder moeite tussen karakters, aksente en emosies – soms binne sekondes. Een oomblik is hy ’n bang seuntjie, die volgende ’n brutale rebel. Sy stem en liggaam word instrumente van trauma, maar ook van hoop. Jy is nooit agtergelaat of verward oor na wie jy kyk nie.

Die gehoor word gereeld betrek om sy woorde te eggo.

Dit breek die konvensionele afstand tussen akteur en gehoor af – dis ’n herinnering dat hierdie verhaal nie ver weg lê nie. Dit is ’n universele waarskuwing oor menslikheid, mag en vergifnis.

Jy word aandadig, sonder dat jy dit aanvanklik besef. Dit skep ongemak, maar ongemak waarop jy nie behoorlik jou vinger kan lê nie.

Dit is ’n stuk wat jou stil laat sit, jou asem steel en jou herinner aan die genesingsmag van vertelling.

Maar moenie vir ’n oomblik glo dis maklik om te kyk nie. Dis brutaal. Soos die lewe self.

Far gone

Met: John Rwothomack

Deur: John Rwothomack

Regie: Mojisola Kareem

Vervaardig deur: Roots Mbili Theatre

Musikale regie en klavier: Jan Hugo

Baxter Studio, Rondebosch, Kaapstad

70 minute

Far gone van 11 tot 15 November, saans om 20:00. Saterdag ook om 15:00.

Kaartjies teen R150 tot R200 deur Webtickets of die Baxter-kaartjieskantoor of enige Pick n Pay-tak. Die vertoning gaan dan na die Joburg Theatre in Johannesburg.

Dis by die Joburg Theatre van 19 tot 22 November voor die seisoen eindig in Londen en Kansas City, VSA. Bespreek by Webtickets. Meer inligting by: https://www.joburgtheatre.com/.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top