fans

  • 0

ek woon nou in 'n stad
n verligte stad hoog bo-op 'n berg
en orals in die strate stap die mense hand aan hand
so aangedaan wals hulle al agter hulle glimlagte aan
want in elke sak
af in elke steeg en laan
dra die fans uitbundig
my bundel met hulle saam
want almal hier
is gek oor poësie
en elkeen lees Afrikaans
wil jy glo
besoekers gebruik dit as 'n gids
op pawiljoene keer toeskouers daarmee
die son uit hul oë
op die bloedige plein waai 'n vrou haar koud
met 'n sweterige eksemplaar
dis selfs beskikbaar neffens die kleinkoekie-tafel
jaarliks by die kerkbasaar
kleuters resiteer dit in 'n koor
(oor en oor en oor)
ook vir hoërskoolleerlinge skryf hulle dit gereeld nou voor
en sjoe
op die rak van elke supermark
pryk dit tussen die Huisgenoot, die Garden and Home en die You
leeskringe bespreek die inhoud week vir week
op Radiokansel weef die pastoor
my teks treffend in in sy preek
en êrens onner 'n muwwe brug hoor ek 'n bergie sug:
"Nou hoe maak 'n man dan vuur met sulke kak papier?"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top