Familietradisies: reg of weg?

  • 1

Nog ’n Paasfees het gekom en gegaan – vir sommige Christene was dit ’n naweek van christelike gejubel en gejuig en vir ander net nog ’n langnaweek. Maar hoe dit ook al sy, ek het weer opnuut die waarde van familie en tradisies besef, en dat taal natuurlik die belangrikste rol speel. Maar dra ons geslag werklik ons gebruike oor aan die jonger geslag? Ek dink dat dit van die uiterste belang is dat hierdie tradisies behoue bly, anders sal dit heeltemal verlore gaan en sal ons die nageslag ’n groot oneer aandoen! Dis ons plig om hierdie gebruike en ryke tradisies na volgende geslagte oor te dra.

In baie, of die meeste, Kaapse bruin huishoudings is gepekelde vis en “hot cross buns” die stapelvoedsel op Goeie Vrydag – geen vleis op daai dag nie! Die huishoudings is weke voor Paasfees in rep en roer om genoeg vis bymekaar te kry. Die vis word gebak en kan dae voor Goeie Vrydag ingelê word sodat die pekel lekker kan intrek. Op Goeie Vrydag, na die kerkdiens, sien almal hartlik uit na die feesmaal. Baie families kom bymekaar vir die fees. Indien jy enige van die ouer dames sal vra hoekom vis op Goeie Vrydag, sal sy waarskynlik die volgende antwoord: “Maar hoe nou, hoekom so ’n dom vraag? Daar’s nie ’n definitiewe antwoord nie, ons doen dit van ouds en dis oorgedra deur geslagte!” So, ons doen dit ook sonder dat ons vrae vra, want dis ’n tradisie wat deur ons oumas en moeders na ons jonger geslag oorgedra is.

Ek moet bieg dat my kerrievis hierdie jaar ’n kitsoplossing uit Woolies was omdat ek nie die tradisionele familie-ete in Worcester by kon woon nie. En was my familie teleurgesteld! Dus, laat dit ’n les wees om dit met die hulp van my ma in die toekoms reg te doen. Selfs al weet ek nie eens waarom ek die tradisie moet voortsit nie, en van my dogter en dalk ook skoondogter in die toekoms sal verwag om dit ook voort te sit nie.

In Worcester, my geboortedorp, is die jare lange tradisie van kerkbasaars op Paasmaandag weer hierdie jaar voortgesit. Alhoewel dit nie net meer die plaaslike kerke en moskee is wat hieraan deelneem nie, stroom mense steeds daarheen om deel te wees van hierdie tradisie. Alle kerke, elk met ’n lang tafel, kompeteer met wat hulle te koop aanbied. Harde musiek en aankondigings, alles in Afrikaans, blêr luidkeels oor die luidsprekers, en so word kopers aangemoedig om hul hande diep in die sakke te steek. Lank gelede, toe ons nog kinders was, het ons daarna uitgesien om soos ’n nuwe “sixpence” uitgedos in nuwe klere van basaar tot basaar te stap om by elke kerk ietsie te koop. Ek het my kinders hieraan blootgestel toe hulle nog jonk was, maar gaan my eie kleinkinders ooit hierdie tradisies ervaar?

Tradisies of gebruike oor geslagte heen dra beslis by tot ’n gemeenskap se ryke geskiedenis en erfenis. Dis hartseer as die jonger geslagte wegbreek en hierdie gebruike nie meer by hulle byval vind nie, want dit verleen ’n gees van samehorigheid in die familie. Dit gee ons ook ’n gevoel van samesyn en help ons om geslagte van gesinne te vier – somtyds drie of vier geslagte binne een familie. Belangriker nog, tradisies skep positiewe herinneringe vir kinders.

Sal ons jonger generasie, die “millennials”, met my saamstem dat die oordra van gebruike belangrik is, of is hulle te besig om te bou aan ’n eie identiteit om nog met tradisies en gebruike gebodder te wees? Is hierdie ryke geskiedenis ’n meulsteun om die jeug se nek?

  • 1

Kommentaar

  • Hang af hoe sterk die liefde vir daardie tradisies is. Die Boere in Argentinië hou na 100 jaar nog sterk by hul tradisies soos boeresport en boerekos, want hul het dit deur die jare gekoester.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top