"Exoras" deur Chris-Fick van Niekerk

  • 0

Exoras

Sê-nou is 'n lekker sê
Alles wat die hart wil hê
Alles wat die hart begeer
Sê-nou, sê dit nog 'n keer

Gawe vente sukkel-vind om nie so nice te wees nie
Daar is altyd 'n altydplek
om nog 'n opsyskuifsoen dié taxi in te beur
In die stad van goud en vratjies
hang net koperplate aan die deur

Sê nou is 'n lekker sê
Alles wat ek nou wil hê
Kanaän-reklame wat my hart begeer
Sê-nou, sê dit nog 'n keer

Die as wat in die glasbak wip
eindig reise
tussen sê-nou-maar en lip
Merk my, verf my as bystander
met skarlakenhakke tussen hysbakke by die Rooisee
huppel ek met die swye van 'n blootsgewete
terwyl skaapskeerders en promosiefarao’s
na voorruit of voorblad mik
Gety-kosyne word weer
met nog 'n laag gesmeer

Sê-nou is 'n lekker sê
Die water wat die grond wil hê
Die dou wat die oë begeer
Sê ons, sê ons nog 'n keer

Lamgemak maak die kake stram
Langs die lomerigheid van jou Missus-lyf
verdoof die plofstofnote van my sang se vlam
Sê-nou ek was by die Wildekus?
Of die pad van die keel
Karooroete Ses Twee?
Dis mos waar die wortels lê
Dis mos waar die muses fuif

Sê-nou is 'n lekker sê
Alles wat ek nooit sal hê
Alles wat my hart verleer
Sê-nou, sê dit weer 'n keer

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top