Ewebeeld

  • 1

’n Mens aanvaar baie maklik dinge as vanselfsprekend. Wie jy is en waar jy vandaan kom, het jy nooit enige twyfel in nie. Dit is maar soos dit is, en basta. Maar ek en my ma moes op ’n skokkende wyse uitvind dat dinge nie altyd so ooglopend is soos ons gedink het nie.

Dit het alles begin die dag toe ons na die nuwe dorp verhuis. Die plekkie was oud, een van daardie plekke waar almal almal se besigheid loop en beskinder; die hele dorp ken mekaar. Die dorp is maar so groot dat as jy jou oë twee keer knip, mis jy dit. Dit was ver ook. Ver weg van die stad waar ek gebore is. Nou nie juis ’n baie opwindende plek om na te verhuis nie, veral nie as jy nie gewoond is aan klein dorpies en hulle opset nie.

 Ons het skaars by die hek van ons nuwe huis gestop of die bure het nuuskierig by die gordyne uitgeloer. My ma het haar oë gerol. Ek het maar net my kop geskud. “Kleindorpiementaliteit,” het my pa gefluister toe hy uitklim om die hek oop te maak. Ek en my ma het na mekaar gekyk en bloot geglimlag. “Nou ja, hier is ons nou,” het sy gesê, en ek kon nie help om verraai te voel toe sy nogal in haar skik klink nie. Ek het gehoop my ouers haat die plek, sodat ons met ons aankoms al kon besluit om terug te draai en te maak asof dit nie gebeur het nie. Ek het maar niks gesê nie, net voor my uitgestaar na die sogenaamde nuwe huis. Dat dit oud was, was verseker. Die mure het ’n dringende verflaag of tien nodig gehad, en ’n magdom teëls op die dak was stukkend. Al haat ek dit om dit te erken, en al het dit ’n paar kwale gehad, was die ou huisie eintlik mooi, maar dit sou ek liewer vir myself hou. “Hier kom die treklorrie,” het my pa opgemerk toe hy weer terugklim in die kar en na binne ry. Hy het op die vaal grasperk stilgehou en dadelik weer uitgeklim. Ek het stilletjies gewonder waarom my ouers nou juis hierdie huis gekies het. Miskien het dit baie meer belowend gelyk op die internet? 

Die binnekant van die huis het nie so sleg gelyk nie, het ek agtergekom toe ons eers binnegaan. Die mure was mooi geverf en die vertrekke nie te klein nie. Ek het die kamer heel agter in die gang gekies, die een wat half afgesonder was van die res van die huis. Al was ek en my ouers baie na aan mekaar, het ek nog steeds van my eie ruimte gehou.

Daar was ’n groot geraas toe die trekmense die meubels en goed begin indra – onder die waaksame oog van my pa, natuurlik. Ek het maar solank ’n paar minuskule bokse in my kamer gaan sit, in ’n hoek waar ek gedink het dit veilig sou wees todat my meubels ook staanplek gekry het. ’n Kort ruk daarna het my ma my nuwe kamer met ’n koppie koffie binnegekom (nugter weet hoe sy die ketel en bekers so vinnig opgespoor het) en dit vir my gegee. “Toe, sê my asseblief jy hou van die plek?” Haar oë was so hoopvol dat ek haar nie kon teleurstel nie. 

“Dis great.” Ek het my heel beste gedoen om so geloofwaardig as moontlik te klink. Dalk was dit nie my heel beste nie, want my ma het nie baie oortuig gelyk nie. Ek het my beste vals glimlag aangeplak sodat ek ’n bietjie meer oortuigend kon lyk.

“Jy gaan sien, Jolandie, jy gaan sommer vinnig maats maak en als.” 

Hoekom moet sy tog so entoesiasties klink? het ek gewonder. Sy was seker reg – ek het nog nooit gesukkel om maats te maak nie, maar ek het ook nog nooit getrek nie.

“Hoekom gaan verken jy nie ’n bietjie die dorp nie? Die inkopiesentrum is nie so ver nie, en die skool ook nie. Dalk kan jy solank ’n gevoel van die plek kry.” 

“Ma, dis ’n klein dorpie. Níks is ver van mekaar nie,” het ek haar ingelig en hemelwaarts gekyk. “Ja, ek weet. As jy wil, sal ek later saam met jou ’n ent gaan stap.” 

“Nee, dis oukei, Mams. Dalk sal ek nou gaan. Daar’s anyway nie regtig iets wat ek hier kan doen nie.” Ek het nog altyd van stap gehou. Dis vir my lekker om die omgewing te bekyk en sommer net ingedagte te wandel, al is dit nie na iewers besonders nie. Ek het my baadjie uitgetrek en dit maar oor een van die bokse gedrapeer. Dit was nogal warm hier, nie die soort hitte waaraan ek in die stad gewoond was nie. Hier was dit baie bedompiger. Amper soos by die see. Ek het my skouers opgehaal en by die deur uitgeloop. Ek sou seker nog daaraan gewoond raak. Ek het vir my pa gewaai toe ek by die voorhek uitloop en soos ek weggestap het, kon ek hoor hoe hy en my ma stry kry oor die stappery. Hy meen natuurlik weer dis onverantwoordelik om my alleen die nuwe dorp in te stuur. Ek en my ma het nog altyd gemeen dat ek groot genoeg was om na myself te kyk. Daardie jaar was ek immers al sestien en ’n half. Buitendien, in so ’n klein dorpie gaan jy nou nie juis teëspoed raakloop nie ... 

Of so het ek gedink. Wel, ek kon dit seker nie regtig verklaar as teëspoed nie – meer ongemaklikheid. Terwyl ek in die hoofstraat afstap, het die moeilikheid al begin. Ek wou die pad oorsteek net nadat die verkeerslig oorgeslaan het. ’n Ou tannie in ’n bakkie het stilgehou terwyl ek besig was om oor die pad te loop. Sy het heeltemal verstar en het my so aangegaap dat ek gewonder het of daar iets met my verkeerd was. Sy het na die ou omie op die passasiersitplek, seker haar man, gedraai en baie benoud iets gefluister. Hy het my ook aangegaap. Gelukig het die lig op daardie oomblik weer groen geword en het hulle met ’n stink spoed daar weggery. Ek was half geskok en kon steeds nie uitpluis wat die probleem kon wees nie. Na dié episode het ek my lus vir stap skoon verloor. Ek besluit toe om dit kort te knip en het haastig teruggestap huis toe. Maar daar gekom, wag daar ’n tweede ontstellende situasie op my. Die bure was by ons voorhek. Dit was twee ou mense, seker diep in hulle sestigs. Hulle was besig om met my ma te gesels. Ek het nader gegaan om te groet, soos my ma dit van my sou verwag, en het weer eens dadelik ongemaklik gevoel toe die oom en tannie al twee met groot oë na my kyk. “Ekskuus, ons moet nou gaan,” het die tannie geprewel en haar man aan die hand gepluk. So vinnig as wat dit twee ou mense betaam, het sy en die omie in hulle huis oorkant die straat verdwyn. Oomblikke later kon ek sien hoe die gordyne dig toegetrek word. My ma het haar skouers opgehaal en nie verder daaroor gepraat nie. Ek het haar ook nie van die gebeure in die dorp vertel nie. Ek het ’n hol kol op my maag begin kry. Kon mense dan so vinnig ’n afkeur in my kry? Sonder dat ek eens ’n woord met hulle gepraat het?

Ek het ’n draai in die badkamer gemaak en in die spieël na myself gestaar. My krullerige donker hare was netjies vasgemaak in ’n poniestert en my klere was ook netjies, ’n ou jean en ’n bandjiestoppie. Daar was geen vuil merke op my gesig of hande nie. Met ander woorde, daar was niks verkeerd met my voorkoms nie. Hoekom het almal my dan so aangestaar? Daardie aand was dit met groot onrus dat ek in die bed geklim het. Dit het my verskriklik gepla dat ek die mense nou so kon ontstel. 

Die volgende dag het ek letterlik nie my voet by die huis uit gesit nie – ek het bloot daarop gekonsentreer om my bokse uit te pak en my kamer reg te skuif.  Ek sou die volgende dag by my nuwe skool begin. Ek was nog nie seker hoe ek daaroor gevoel het nie. My ma-hulle het my vroeg verlede maand vertel my pa het ’n oorplasing gekry na dié dorp (nugter weet hoekom) en dat ek alles sou moes agterlaat en nuut begin hier in die vreemde. Ek het nooit regtig besluit of ek ontsteld of opgewonde was nie. Na die vorige dag se gebeure was ek egter nie meer so seker nie.

Voor ek my oë kon uitvee, het die volgende oggend aangebreek, en dit was tyd om reg te maak vir skool. Ek het gesorg dat ek baie netjies lyk, sodat niemand my kon aangaap oor my voorkoms nie. Altans, ek het so gedink. By die skool was dit ’n ander storie. ’n Hele paar onderwysers (meestal die oueres) het my baie vreemd aangestaar en my ’n paar paniekerige kyke gegee. Die kinders het egter nie enige aanduiding gegee dat hulle gedink het daar was iets verkeerd met my nie. Hulle was heel vriendelik. Die jonger onderwysers ook. Aan die einde van die dag was ek oortuig van een ding: die ouer mense van die dorp het my aangegaap asof ek mal was. Of miskien was hulle die malles. Maar dit was beslis vreemd, en baie onaangenaam. Wat sou veroorsaak dat die oumense my so verafsku?

Ek het dan niks verkeerd gedoen nie. Ek kon dit net nie  verstaan nie. Ek het nie geweet of ek met my ouers daaroor wou praat nie. Hulle sou dink ek verbeel my. Dat ek net probeer verskonings maak om terug te gaan stad toe. Of dalk was ek maar net besig om spoke op te jaag? Almal kon tog nie so op my reageer nie. Daardie aand het ek ’n halwe plan bewimpel om my hipotese te staaf. Ek sou ’n verskoning uitdink om na die ou paartjie oorkant ons se huis toe te gaan en sou dan kyk hoe hulle reageer as ek aan hulle deur klop en geselsies probeer maak. Dalk sou hulle heel vriendelik wees en sou ek gemoedsrus rondom die saak kon kry. 

Dis toe presies wat ek doen. Daardie middag ná skool het ek my ma vinnig ingelig dat ek my graag aan ons bure wou voorstel en hoor of ek nie dalk hulle inkopies vir hulle kan doen nie, aangesien hulle redelik oud is en seker nie daarvan hou om baie winkels toe te ry nie. My ma het my nogal snaaks aangekyk, so asof sy nie kon glo dat dit iets is wat ek uit my eie sou aanbied nie, maar het ingewillig. Sy was seker reg. Dit was vreemd van my om so iets voor te stel, maar dit was die enigste verskoning wat ek kon uitdink. ’n Bra simpel een vir die moderne eeu. Wie gaan doen nog inkopies namens die oues? Wel, dit is seker bedagsaam. Daar is beslis niks verkeerd daarmee om jou medemens te wil help nie, al is dit nou nie juis iets wat die meeste sestienjariges sou doen nie.

Ek het my moed bymekaargeskraap en oor die straat gestap. Dis al manier om uit te vind of ek my nie verbeel nie, het ek myself gerusgestel en huiwerig aan die deur geklop. ’n Hewige geblaf het van binne opgeklink. Hulle het seker een van daardie keffertjie-tipe hondjies gehad. Seker ’n worshond. “Shurrup, Vienna,” het ek van binne gehoor. Dit was die ou tannie se stem. As ek nie so senuweeagtig was nie, het ek dalk gelag vir die komiese manier waarop sy die hond in haar heserige stem toegesnou het. 

Ek’s nou daar!” het haar stem weer geroep. Ek moes nogal ’n rukkie staan en wag voordat die deur oopgemaak is. Snaaks dat sy daardie dag so stadig was om by die deur uit te kom – toe hulle my eergister gesien het, was dit nie vir hulle ’n probleem om soos twee Harley Davidsons by hulle huis uit te kom nie. Soos ek gevrees het, het die tannie se gesig verval in ’n geskokte masker. Sy het half paniekerig gelyk. “Eh ... ka ... kan ek help, ki ... kind?” het sy bewerig gevra en senuweeagtig om haar rondgekyk. Dit het gelyk of sy enige oomblik kon flou val. “Is Tannie oukei?” wou ek weet. Dalk moes ek haar net reguit vra hoekom almal so raak as hulle my sien?

“Piekfyn,” het sy geprewel terwyl ’n dun lagie sweet by haar voorkop begin afloop het. Sy het dit met die agterkant van haar hand afgevee. “Is Tannie seker?” het ek nog ’n keer gevra. Tot my verbasing het sy een keer woes geknik en wraggies die deur in my gesig toegemaak. Net so. Verdwaas het ek teruggestap huis toe. Wat was aan die gang? Die oumense kry omtrent ’n paniekaanval as hulle my sien en ek kan nie eens my ma en pa vertel nie, want hulle sal dink ek is die een wat nie lekker is in my boonste verdieping nie. Ai tog, wat ’n penarie! 

Die volgende dag by die skool het ek darem uiteindelik ’n verklaring gekry oor hoekom hulle my so aanstaar. Dit was die eerste keer wat ons saalperiode gehad het sedert ek daar begin het. Oral teen die mure was groot, geraamde foto’s van vorige leerders wat deur die jare in verskeie vakke presteer het. Ek het na die foto’s gekyk, maar dit ook nie regtig raakgesien nie, want ek het nou nie juis belang gestel nie. Dit was tot een besondere foto my oog gevang het. Ek het my amper koud geskrik. Dit was dan ek ...! Soos blits het ek nader geloop en verdwaas na die foto gestaar. Die meisie in die foto wat na my teruggekyk het, het presies soos ek gelyk. Dieselfde hare, neus en lippe. Net haar wange het ’n rooier gloed as myne gehad, en haar oë was ’n bietjie ligter. Onder die foto was die volgende geskryf: Susan Brits, dux-leerling gr. 11, 1965. Ek het so ’n knop op my maag gekry. Vir die res van die dag moes ek dit maar ignoreer. Wel, dit moes die rede wees hoekom al die oumense my so aanstaar. Omdat ek presies soos daardie meisie op die foto lyk. Maar hoe is dit moontlik?

Na skool was die nuuskierigheid so erg dat ek summier bibloteek toe is om in die dorp se argiewe te gaan rondkrap vir ou koerante. Hierdie ding moes opgelos word. Hoekom lyk ek dan presies soos sy? Hoekom het almal my so aangestaar? Selfs die bibliotekaresse, wat ook diep in haar sestigs blyk te wees, het my vreemd aangekyk. Ek het maar vir die jonger een gevra om my te help. Ek was half verlig toe sy my vertel dat die koerante wat hulle het, van 1964 dateer. Sy het saam met my gekom en ek het by dié van Januarie 1965 begin in die hoop dat ek tog iets sou kry. Maar daar was niks. Dit was eers toe ek by September 1966 kom dat iets my oog gevang het. Dieselfde foto. Vlugtig het ek deur die artikel gelees en koud geword van binne. Ek het toe eers besef dat dit ’n baie slegte idee was om die foto te kom opvis. Maar dit was reeds te laat. Die artikel was soos volg:

Plaaslike skooldogter vermis. Susan Brits, ouderdom van sewentien jaar, is gister as vermis aangemeld deur haar ouers, mev Jakoba Brits en mnr Piet Brits.  Die egpaar noem dat toe hulle Vrydagaand by die huis kom, hul dogter reeds weg was. Hulle het hulle na haar kamer gehaas, waar hulle gemerk het dat van haar klere uit haar kas weg is, asook haar kussing en ’n paar leesboeke. Daar was geen brief nie, dus kan hulle nie seker wees of sy miskien weggeloop het en of iemand haar geneem het nie. Haar ouers noem wel dat sy die vorige dag in ’n slegte bui was en dat dit gelyk het of dinge nie pluis was nie, maar hulle het nooit vermoed dat daar ernstige fout kon wees nie. Enigeen met kennis rondom dié saak moet die volgende nommer skakel om met ons in verbinding te tree.

Ek het nie verder gelees nie. Ek het net na die koerant in my hande gestaar. Wat sou dit alles beteken? Is sy ontvoer? Of het sy net verdwyn? Hoekom het ek die gevoel gekry dat dit iets met my te doen het? Ek kon dit nie verklaar nie. Dit was ’n onheilspellende gevoel dat hierdie Susan, wie sy ook al was, nie bloot toevallig presies soos ek gelyk het nie. Daar moes ’n rede wees. Sonder om regtig te weet hoekom, het ek verder deur die lêers geblaai. Die voorblad van 25 September 1966 het meteens my oog gevang. Huiwerig het ek dit nader getrek.

Ouers bieg dat plaaslike dogter nie vermis is nie

Hoe dieper die polisie gedelf het, hoe meer ontwykend het die ouers van Susan Brits, wat op 10 September as vermis aangemeld is, geword. Totdat mev Brits nie meer die konstante ondervraging kon hanteer nie en met die hele sak patats vorendag gekom het. “My dogter is nie ontvoer nie. Ons weet nie waar sy is nie, maar ons weet hoekom sy weg is. Die aand voor sy weggeloop het, het ons ’n vreeslike rusie gehad. Die volgende môre toe ons opstaan, was sy weg, en daar was ’n briefie wat gesê het dat sy ’n beter lewe elders gaan soek, een waar sy haar nie hoef te bekommer oor ouers en die dorpsmense wat haar gaan oordeel nie. Ons kon nie verstaan hoe sy op sewentien so ’n besluit kon neem nie. Sy is my man se oogappel. Hy het gesê ons moet tot die aand wag om te kyk of sy nie dalk afkoel en terugkeer nie, maar teen die volgende dag was sy nog steeds nie tuis nie. Daarom het ons haar as vermis aangemeld met die hoop dat sy gevind sou word en gehelp kan word.” Mev Brits wou geen verdere kommentaar lewer nie. Die polisie doen ’n beroep op enigeen wat inligting het oor Susan om hulle so dringend as moontlik te kontak. Intussen hoop haar ouers dat sy gevind sal word en dat die situasie opgeklaar kan word. Anders weet hulle nie wat van Susan sal word nie.

Ek het weer opgehou lees. Ek het yskoud gevoel en daardie naar kol was weer eens terug op my maag. Het dit dan beteken dat hierdie Susan nooit weer opgespoor is nie? Dat sy steeds vermis was? Ek het verder geblaai in die hoop dat daar ’n opvolgartikel sou wees. Dat hulle haar gekry het. Maar daar was niks verder oor die saak nie. Selfs Desember van die volgende jaar het niks opgelewer nie. So dan het hulle die meisie seker nooit opgespoor nie. My gedagtes het skielik ’n wiskundige vergelyking van hul eie gemaak. Dit het iewers ’n klokkie gelui, maar ek kon dit nie uitpluis nie. Ek het nog so ’n rukkie na die koerante bly staar en dit toe vererg weggebêre. Dit was mos waansin dié. Wat het ek in elk geval hier kom soek? Dit het eintlik niks met my uit te waai gehad nie. Net omdat ek soos sy gelyk het dit my geen reg gegee om te vermoed dat daar onraad was nie. Ten minste het ek nou geweet hoekom almal my so aangekyk het. Dit is nie onmoontlik om soos iemand anders te lyk nie. “Maar gewoonlik gebeur dit in families,” het ek gedink terwyl ek in die hoofstraat op stap huis toe. Families. Skielik flits nog ’n gedagte deur my kop. My pa is in Mei gebore. Mei 1967. Ek weet nie hoekom dit by my opgekom het nie, en wat dit in elk geval met die hele saak te doen gehad het nie, maar dit het die res van die dag by my bly spook. Hoe meer ek probeer het om van die hele saak te vergeet, hoe meer het dit deur my gedagtes gemaal. Heen en weer, sonder end. Tot ek dit later nie meer kon vat nie.

Die volgende dag het ek weer ’n draai by die biblioteek gaan maak. Ek moes net eenvoudig ’n artikel kry wat my gemoedsrus sou gee. Ek kon net nie verklaar hoekom dit my so ontstel het nie. Hulle moes tog die meise gevind het. Ek sou die jong assistent vra om my te help soek. Maar sy was nie daar nie. Daardie dag was daar net een vrou. Sy was beslis nie die vorige dag daar nie. Sy was nie te oud nie, seker in haar vyftigs of vroeë sestigs. Ek het nie haar reaksie verwag toe ek na haar toe stap om hulp te vra nie. Anders as die ander oumense het sy my nie aangegaap nie. Sy het  haar oë rusteloos geknip en ’n baie snaakse uitdrukking het op haar gesig gevorm. “Kan ek help?” het sy met ’n bewerige stem gevra.

“Asseblief, Tannie. Ek doen ... eh ... navorsing oor ’n plaaslike meise wat in 1966 vermis is. Ek soek ’n artikel wat bevestig dat hulle haar gekry het, maar ek kry dit nie ... eh ... Daar moet seker so een wees.”  Die  tannie het niks gesê nie, my net aangegluur en toe gemompel: “Ek kan jou nie help nie; ek is te besig.” Sy het haar rug op my gedraai, maar nie voordat ek die geskokte kyk in my rigting gesien het nie. Ek was totaal verstom en het haar agterna gekyk toe ek die biblioteek uitstap. Daar was iets omtrent haar wat my nog meer onrus laat aanvoel het. Sy het so half ... bekend gelyk. So asof ek haar van iewers af herken het. Maar dit het vir my nog minder sin gemaak. Ek het op die grasperk voor die biblioteek gaan sit, bloot omdat ek nie geweet het wat om verder te doen nie. Die hele ding het my regtig begin pla. Eers was dit daardie vreemde kyke. Daarna het ek die foto en die artikels ontdek. En nou lyk hierdie tannie bekend ... Skielik was dit asof ’n flikkerende liggie in my verstand begin dans het. Dit was asof iets skielik in plek geval het. Die tannie het bekend gelyk omdat ... omdat sy amper soos ek lyk. Haar oë was net ligter. Maar haar hare, al was dit grys, was donker en krullerig, en haar gesig ... Ek het weer die foto van Susan Brits herroep en die tannie se gesig langsaan geplaas. Hulle het beslis eenders gelyk. Die een was net ’n ouer weergawe van die ander. Ek het soos die jonger weergawe gelyk! Ek het opgespring en die biblioteek amper ingestorm. Ek het voor die toonbank tot stilstand gekom en toe eers besef dat ek nie die vaagste benul gehad het wat ek dan nou eintlik wou sê nie. Wat sê ’n mens?

“Tannie?” het ek ongemaklik gevra. Sy het na my toe gedraai en my vermoedens was bevestig. Sy het net soos die meisie op die foto gelyk. Net baie ouer. “Die meisie wat vermis was ... Haar naam was Susan Brits. Is Tannie seker dat daar geen ander artikels was nie ...?” 

Sy het na my gestaar en haar hande in die lug gegooi. “Ek het mos gesê daar was niks. Hoekom sal jy my dan nou verder daaroor wil pes?”

Ek het op my onderlip gebyt. Was ek reg? Was dit sy? Ek het bloot haar reaksie getoets. Hierdie een was beslis wat ek verwag het. Wat as sy na baie jare weer teruggekom het hierheen? Wat as ... Nee. Ek het my sinnelose gedagtes net daar gestop. Wat was ek besig om te doen? Wat wou ek nou eintlik uitsnuffel? Ek het weer na die tannie gekyk. Miskien het ek my verbeel. Sy bly seker nog haar lewe lank hier en was seker maar net ’n mislike ou dierasie wat daarvan hou om op kinders te pik. Dit was nie omdat sy geweet het waarvan ek praat dat sy my nie wou help nie – dit was seker maar net oor sy regtig nie lus was nie. Sy was maar net iemand wat nie in ’n goeie bui was nie en ek het haar verder omgekrap. “Ekskuus, Tannie, ek sal nie weer steur nie,” het ek maar gesê en besluit om die pad huis toe aan te durf. Ook het ek besluit om die hele storie prys te gee. Dit was malligheid. Waansin. Totaal en al ongeloofwaardig. Ek het hier ’n storie probeer opdiep wat nie eens bestaan nie, het ek vir myself gesê en op die rusbank by die huis neergeval. Nee wat, dit was sommer simpel. Baie mense lyk na mekaar. Dis nie onmoontlik nie. 

Ek het besluit om niemand ooit van hierdie simpel oomblikke van waansin in my lewe te vertel nie en net aan te gaan asof niks ooit gebeur het nie. Dit was blote toeval dat ek soos die meisie gelyk het. “Sy is seker gevind,” het ek vir myself gesê totdat ek myself daarvan oortuig het.

Min het ek geweet dat nog ’n groter skok my die volgende dag na skool ingewag het. By die huis aangekom, raai net wie was saam met my ma in die sitkamer aan die koffie drink? Die tannie van die biblioteek. Die een wat so ongeskik was met my. My ma het dadelik opgestaan en haar arms om my skouers gesit. “Jolandie, daar is iets wat jy moet weet ...” Sy het na die tannie gekyk en die tannie het na my gekyk. Ek het gesluk. Die tannie het bewerig orent gekom. Daar was trane in haar oë en in my ma s’n. “Daar was ’n ander rede hoekom ons hierheen getrek het. Ons het jou nooit vertel nie, want ons wou eers hê die tyd moet reg wees, en ek wou eers doodseker wees.” 

“My wat vertel?” het ek gevra en my stem het droog geklink. “Jolandie, jou pa is aangeneem. Hy het van sy regte ma geweet, maar kon haar nooit opspoor nie. Sy ... ma het my gehelp, en ons het haar so ses maande gelede hier opgespoor. Sy regte ma was eintlik ’n familievriend van sy aanneemouers. Nadat sy swanger geword het, het sy hom na hulle toe geneem. So sy ma het vermoed dat hy haar dalk eendag hier sou kon opspoor. Die dorpie waar sy grootgeword het.” My ma het met hartseer oë na my gekyk en my hand in die tannie se geplooide een geplaas. “Jolandie, dit is sy regte ma. Susan. Jou ouma.” Skielik het alles in plek geval. Die tannie, oftewel Susan, oftewel my regte ouma, het trane in haar oë gehad. Sy het vooroor geleun en vir my gefluister: “Ekskuus oor gister, my kind. Maar hoe op aarde het jy geweet?”

“Daar was ’n foto in die skoolsaal ...” Dit was nie nodig om nog iets te sê nie. Sy het net geknik en na my ma gekyk met verwondering in haar oë. Ek kon sien dat my ma nie die vaagste benul gehad het waarvan ons gepraat het nie. Ek sou haar nog eendag vertel. Ek was net bly dat alles nou sin gemaak het. Ek kon wel nie glo dat my pa my nooit vertel het nie. Maar dit was miskien beter so. Want noudat hy sy ma gevind het, was dit meer geloofwaardig. Skielik het ek nogal opgewonde gevoel. Al die tyd het ek ’n regte ouma, een wat baie lief vir my sou wees en naby my sou bly. Soos die tyd verloop het, het ons drie baie geheg geraak aan haar.

Ek, Pa, Ma en my ouma, die verlore skape wat weer bymekaargebring is ... 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top