Evolusie en die kerk

  • 9

Die gemiddelde kerkganger is onkundig oor evolusie en kerke is onwillig om die saak openlik te bespreek. Hulle verweer is dat evolusie moeilik verstaanbaar is vir lidmate en dat die kerk nie oor die kundigheid beskik om daaroor te praat nie. (Dat die kerk in ander gevalle deskundige hulp inroep, word nie genoem nie.)

Aangesien evolusie in skole geleer word, kan dit nie meer ontwyk word nie. Hierdie artikel poog om evolusie meer verstaanbaar te maak vir niewetenskaplikes.

Sekere agtergrondinligting moet verskaf word. Aangesien die benaming evolusieteorie verkeerd verstaan word, geniet die term teorie eerstens aandag.

Die HAT gee twee betekenisse aan die woord teorie: (1) grondreëls van ’n wetenskap om waargenome feite of verskynsels te verklaar; en (2) voorstelling in ’n mens se gedagte sonder om rekening te hou met die werklikheid.

Wanneer ons informeel die woord teorie in ’n gesprek gebruik, is die tweede betekenis van toepassing. In die wetenskap gaan dit oor die eerste definisie (grondreëls van ’n vakgebied). As ’n wetenskaplike wonder oor ’n nuwe idee, of ’n nuwe teorie probeer formuleer, word dit ’n hipotese genoem. Wetenskaplike “teorie” het dus nie met onsekerheid te doen nie. Die evolusieteorie het na sowat 150 jaar ontwikkel van ’n hipotese tot ’n teorie wat deur byna alle vooraanstaande wetenskaplikes aanvaar word.

Met die bespreking van evolusie is dit nodig om drie hoofverdelings te onderskei, nl die Oerknal of Big Bang (die begin); tweedens abiogenese; en laastens evolusie. Daar sal met ’n kort opsomming volstaan word.

Die Oerknal

Gedurende die 1920’s en 1930’s was wetenskaplikes van mening dat die heelal altyd bestaan het en onbepaald sal bly bestaan. Edwin Hubble (1889–1953) se navorsing het beskouings drasties verander, nadat hy nabygeleë hemelliggame vergelyk het met dié wat twee keer verder van die aarde is. Hubble het tot die gevolgtrekking gekom dat die afgeleë liggame teen dubbel die spoed beweeg van dié wat naby die aarde is. Aansienlike besprekings en navorsing het gevolg, wat mettertyd in die sogenaamde Oerknal-teorie saamgevat is.

Volgens hierdie teorie is die heelal sowat 14 miljard jaar oud. ’n Oneindig klein, oneindig warm, oneindig digte iets het uitgeswel en daarna na alle kante versprei, wat as ’n groot ontploffing beskryf is wat steeds voortduur. Die heelal word steeds groter. Daar is wetenskaplike beswaar teen die gedagte van ’n “ontploffing”. Die vergelyking met ’n ballon wat opgeblaas word en ontplof en sy inhoud verstrooi, skep ’n wanindruk. Dis meer korrek om die "ballon" te sien as iets wat nie bars nie en steeds groter en groter word.

Bogenoemde “iets” het nie in die ruimte ontstaan nie – nee, daar was voorheen niks en die ruimte ontstaan ook uit die iets. Ons weet alleen ons is binne in hierdie iets en dat daar ’n tyd was toe daar nie iets was nie en ook geen ruimte of tyd nie. (Die Skepper en sy skepping is meer wonderbaarlik as wat ’n gelowige sonder evolusionêre kennis vermoed.)

Die ontsaglike hoeveelheid materie en energie wat deur die Oerknal ontstaan en uitgestrooi is, het mettertyd gelei tot sterre en al die ander hemelliggame, wat ook die son en aarde insluit. Die aarde se ouderdom word op 5 miljard jaar gestel.

Wetenskaplik gesien staan die Oerknal-teorie sterk, want dis nou (redelik) seker dat die heelal ’n begin gehad het, dat Hubble se idees van ’n uitbreidende heelal korrek is en dat meting van kosmiese mikrogolfstrale die oorsprong van die heelal aantoon (die radio-astronome Arno Penzias en Robert Wilson se navorsing).

Volgens die teorie is die spoed waarteen die “ontploffing” plaasgevind het, absoluut kritiek. As dit ’n weinig vinniger of stadiger gebeur het, sou geen hemelliggame gevorm het nie. Die verhouding tussen materie en antimaterie was ook kritiek. Volgens berekening was materie effens in die meerderheid – slegs een deeltjie in 30 miljoen. Vir ’n gelowige is hierdie soort inligting ’n bron van verwondering, want die implikasie is dat die skepping nie toevallig gebeur het nie. Vir ’n ateïstiese wetenskaplike mag dit ’n probleem wees.

Die teorie het sy oorsprong by ’n Rooms Katolieke priester, Georges Lemaître, gehad. Die feit dat die teorie van die begin af assosiasies met geloof en filosofie gehad het, het sommige wetenskaplikes aanvanklik gepla, maar mettertyd is dit algemeen aanvaar.

Die mens het altyd gewonder oor die ontstaansgeskiedenis van die aarde en hierdie teorie gee ’n elegante en bevredigende antwoord. Afgesien van wetenskaplikes is daar talle gelowiges wat die teorie onderskryf, spesifiek Joodse en Rooms-Katolieke gelowiges. Pous Pius XII was ’n geesdriftige ondersteuner van die teorie. (As ’n mens jou wil verwonder oor die grootsheid van die skepping, lees oor kosmologie.)

Abiogenese

Abiogenese is die studie van die ontstaan van lewe op aarde. Die uitgangspunt is dat daar, nadat die aarde afgekoel het, toestande bestaan het wat die spontane vorming van eensellige lewe veroorsaak het. Daar is talle hipoteses, maar rigtinggewende vordering ontbreek. Heelwat navorsing is gedoen, maar daar is nog nie ’n algemeen aanvaarde teorie nie.

Evolusie

Evolusie is ’n onderwerp wat emosie opwek, ook in wetenskaplike kringe. Wetenskaplik beskou is dit totaal verkeerd van navorsers om emosioneel te raak oor evolusie. Wetenskaplikes se uitgangspunt is objektiwiteit en die onemosionele evaluasie van gebeure, want vooroordele mag nie ’n rol speel nie.

Evolusie is die geleidelike ontwikkeling van die eerste eensellige lewe op aarde tot ingewikkelder organismes, wat mettertyd kulmineer in die plante en diere van die aarde en uiteindelik die mens. Evolusie het nie liniêr geskied nie, maar vertak in alle rigtings – die wortelstelsel van ’n plant of takke van ’n boom is gevolglik ’n beter voorstelling.

Hoe het evolusie plaasgevind? Geleidelike omgewingsveranderinge het sekere gene bevoordeel en ander weer ontmoedig. Korttermyn-gebeure het soms die meeste lede van ’n spesie vernietig en net dié met minderheidseienskappe laat oorleef. Dit bring drastiese genetiese veranderings mee. Seksuele aantreklikheid of onaantreklikheid het ook ’n rol gespeel, want op hierdie wyse is seksueel aantreklike gene aangemoedig en onaantreklike gene ontmoedig. Waar ’n spesie weens omgewingsfaktore in twee groepe geskei is, ontwikkel hulle daarna apart. Aangesien die twee groepe se genepoel nie identies is nie, word die verskille geleidelik groter en uiteindelik kan twee spesies ontstaan, want die verskillende omgewings lewer ook ’n bydrae.

Tereg kan gesê word dat dit geringe oorsake is wat hier genoem word, maar daar moet onthou word dat verandering oor miljoene jare geskied en dit lei mettertyd tot nuwe spesies. ’n Redelik algemene beskouing by sekere gelowiges is om kleiner veranderings in plante en diere te erken (mikro-evolusie), maar aan te voer dat die verandering van een spesie na ’n ander (makro-evolusie) nie moontlik is nie. Dis klein veranderings oor lang tydperke wat uiteindelik tot ’n nuwe spesie lei. Waarom sal veranderings net binne die spesie plaasvind en skielik stop as dit by ’n “spesie-grens” kom? Dis onsinnig.

Jan of Marie Burger dink miskien aan evolusie as iets wat hulle nie aangaan nie, of dat dit iets negatiefs is op grond van stories wat hulle gehoor het.

Wetenskaplik gesien lyk sake anders. Die evolusieteorie is reeds in die 19de eeu aanvaar as ’n redelike verklaring vir die ontwikkeling van lewe op aarde. Gedurende die 20ste eeu is geweldig baie navorsing gedoen en data versamel wat die teorie bevestig. Dis belangrik om in gedagte te hou dat as foute in die teorie teengekom word, regstellings gemaak word. Al die biologiese wetenskappe is daarop gebaseer en die moontlikheid dat die teorie in die toekoms met ’n nuwe vervang sal word, is gering. Letterlik duisende wetenskaplikes, die meeste met doktorsgrade, doen evolusiegebaseerde navorsing en vir leke om te beweer dat groot groepe geleerdes oral oor die wêreld ’n klomp misleide sotte is, getuig van onkunde.

Die oorgrote meerderheid gelowige wetenskaplikes aanvaar die teorie en sien dit as die gesofistikeerde wyse waarop hulle God lewe op aarde laat ontwikkel het. (Evolusie is die Skepper wat besig is om te skep.)

Miskien is ’n antwoord op die vraag oor die aantal wetenskaplike gelowiges hier van pas. In 1916 is aan bioloë, fisici en wiskundiges gevra of hulle in ’n God glo wat aktief met die mensdom kommunikeer en tot wie ’n mens kan bid, in die verwagting dat jy ’n antwoord sal kry. Sowat veertig persent van hierdie geleerdes het bevestigend geantwoord. In 1997 is dieselfde vraelys weer aan wetenskaplikes voorgelê en die resultaat was naastenby dieselfde (Francis Collins: The Language of God, bl 4).

Gevolgtrekking 1

Uit voorgaande is dit duidelik dat die letterlike verstaan van Genesis bots met die wetenskaplike siening van die skepping, want daarvolgens het lewe op aarde oor ’n lang tyd ontstaan. Iemand wat daarop aandring om Genesis letterlik op te neem, sal noodwendig evolusie verwerp. Moet dit egter nie doen sonder om van die hele artikel kennis te neem nie.

Die letterlike interpretasie van Genesis 1 lewer egter ook probleme. As Genesis 1 letterlik gesien word, moet die 29ste vers seker ook letterlik geneem word? Met ander woorde, die Bybel vereis dat mense ’n vegetariese lewenswyse volg. Dis verder onmoontlik om Gen 1 en 2 albei letterlik op te neem, want die twee skeppingsverhale weerspreek mekaar. Volgens Gen 2 vers 19 is die wilde diere en die voëls eers gemaak nadat die mens geskape is. (Die Jode van die Ou Testament het hulle bybel letterlik en figuurlik geïnterpreteer. Philo van Alexandrië, ’n Joodse filosoof en tydgenoot van Christus, was 2 000 jaar gelede sterk gekant teen letterlike interpretasies.)

Augustinus

Die vermoede word soms uitgespreek dat die nieletterlike vertolking van Genesis ’n reaksie op Darwin se evolusieteorie is en dat gelowiges altyd Genesis letterlik vertolk het. Dis nie korrek nie.

Die groot kerkvader Augustinus, wat sowat 1 600 jaar gelede in Noord-Afrika geleef het, was destyds van mening dat die boek Genesis uiters versigtig geïnterpreteer moet word en nie letterlik opgeneem moet word nie. In hierdie verband meld hy spesifiek woorde soos “dag”, “môre” en “lig” in Gen 1.

Kreasionisme

Kreasioniste glo in kreasionisme, met ander woorde om die skeppingsverhale letterlik op te neem. Volgens hulle het dit sowat 6 000 jaar gelede gebeur – ’n presiese jaartal word selfs deur sommiges verskaf. Daar is ook kreasioniste wat ’n langer tydsverloop aanvaar. Sekere godsdienstige groepe voel absoluut sterk oor die letterlike interpretasie van die Bybel en voer veldtogte om gelowiges van ander kerke ook te oortuig.

Kreasioniste neem direk teen die evolusieteorie standpunt in en bots dikwels met wetenskaplikes. Een probleem is dat hulle vooroordele, onverdraagsaamheid en onwerklike beskouings ander gelowiges ook in ’n swak lig stel. Redelike mense kan van die onhoudbaarheid van sodanige standpunte oortuig word as hulle byvoorbeeld kennis neem van konstruksiewerk wat diep in ’n berg plaasvind en fossiele van visse oplewer. Grootskaalse geologiese veranderings moes plaasgevind het sedert die tyd toe die visse nog daar geswem het. Geologiese veranderings neem gewoonlik geweldig lank.

Die vakgebied geomorfologie ondersoek die wyse waarop gesteentes ontstaan. Deur byvoorbeeld net die vorming en verwering van sandsteen te bestudeer (’n maklike taak) is dit duidelik dat die aarde miljoene jare oud moet wees.

Ongelukkig veg kreasioniste nie eerlik en skoon nie. Hulle is voortdurend besig om verwarring te skep en die wetenskap as belaglik voor te stel.

Gevolgtrekking 2

Kreasionisme is ’n verklaring vir die skepping waarvan ander gelowiges hulle moet distansieer. Om kreasionisme af te wys, beteken nie noodwendig die ondersteuning van evolusie nie.

Waarom is baie gelowiges sterk teen evolusie gekant?

Malcolm Brown van die Anglikaanse Kerk in Engeland is van mening dat enige groot nuwe idee wat mense se siening van die wêreld drasties beïnvloed, geneig is om hulle te laat voel dat al hul sekerhede aangeval word. Hulle verset hulle gevolglik teen die nuwe insigte. Soos die kerk ’n fout gemaak het met sy siening dat die aarde die middelpunt van die heelal is en eers mettertyd Galileo se teorie aanvaar het, is die proses in 1860 met Darwin se teorie herhaal.

Die volgende gevolgtrekking word gestel sonder om agtergrond te verskaf, want vir gelowiges is dit ’n basiese uitgangspunt.

Gevolgtrekking 3

God, die Skepper van die heelal, het hom in die Bybel nie volledig aan die mens geopenbaar nie. Soos die Skepper is die skepping grootliks ’n misterie en aanvaar gelowiges dat hulle nie in hierdie lewe ’n volledige antwoord sal kry nie.

Algemene standpunt oor geloof versus wetenskap

Die speelvelde van wetenskap en geloof is verskillend. Die wetenskap is besig met die oplossing van probleme in die fisiese werklikheid, terwyl godsdiens vrae stel soos: Waarom is ek hier en wat is die sin van die lewe?

Terwyl geloof en wetenskap se terreine heeltemal verskillend is, sou verwag word dat daar min probleme tussen hulle sou wees. Nogtans is daar, veral in die VSA, ’n stryd tussen die twee groepe. Oor die evolusieteorie word hewige gevegte gevoer. As kreasioniste uit die prent sou verdwyn, sou daar min probleme tussen kerk en wetenskap wees.

George Ellis, ’n wêreldbekende afgetrede wiskundige van die Universiteit Kaapstad, sien wetenskap en religie as twee langtermyn-hooftemas van menslike denke. Dit behels twee dominerende aspekte van die menslike kultuur. Hul interaksie is van groot belang vir sowel die wyse waarop ons oor onsself dink as die wyse waarop ons optree.

Sou daar ’n paar honderd jaar teruggaan word, was die kerk die probleem. Hooghartige priesters en biskoppe het daarop aanspraak gemaak dat hulle oor alle antwoorde beskik, insluitend oorsaaklike verklarings van natuurverskynsels. Hierdie aansprake moes later teruggetrek word in die lig van die vooruitgang van die wetenskap en die skouspelagtige sukses wat met naturalistiese verklarings behaal is. Hierdie vooruitgang om oorsaaklike meganismes te verstaan is inderdaad verstommend en omvat feitlik alle lewensterreine.

Tans is dit sekere wetenskaplikes wat buitensporige aansprake vir die wetenskap maak. Enkeles beweer selfs dat daar niks is wat die wetenskap nie kan verklaar nie, en op hul beurt is hulle net so arrogant as wat die priesters destyds was. Sommiges beweer selfs dat hulle terrein ook die etiek en metafisika insluit. Dus ’n "derde kultuur ... wat die dieper betekenis van ons lewe openbaar en wat herdefinieer wie en wat ons is" (John Brockman).

Dit is ’n onhoudbare situasie, aangesien die wetenskap nie in staat is om die begrip betekenis te akkommodeer nie – want daar is geen wetenskaplike eksperiment om dit proefondervindelik mee te doen nie. Van hierdie aanspraak sal afstand gedoen moet word – dit is gebaseer op ’n oormatige aanspraak van dit waartoe die wetenskaplike metode in staat is, wat óf gebaseer is op metafisiese aannames, wat verder gaan as dit waarop die wetenskappe aanspraak kan maak, óf ’n beperkte begrip van die aard van die etiek en metafisika impliseer en wat in essensie ontken dat hulle enige kernbetekenis het (Ellis).

Die Christelike, gelowige uitgangspunt teenoor die wetenskaplike benadering

’n Groot deel van die verskille tussen gelowiges en wetenskaplikes ontstaan as gevolg van die feit dat die meeste gelowiges nie die basiese uitgangspunte van wetenskap verstaan nie. Gevolglik is daar misverstande tussen die twee groepe. Hulle onderskeie uitgangspunte word kortliks gestel.

Die gelowige standpunt

Alle gelowiges aanvaar dat die skepping nie toevallig gebeur het nie, maar deur die wil van God tot stand gebring is. Terwyl sommige daarop aandring dat die Bybel letterlik vertolk moet word, is daar ander wat nie noodwendig probleme met nieletterlike vertolkings het nie.

As gevra word presies hoe die skepping, volgens die Bybel, gebeur het, moet erken word dat min besonderhede verskaf word. Ons is grootliks op die beskrywings in Gen 1 en 2 aangewese. Eerstens word God se woorde beklemtoon en Johannes 1 vers 1 verwys spesifiek hierna. Volgens die ou vertaling: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” Op grond van Genesis en Johannes kan gesê word dat die skepping plaasgevind het deur God wat spreek en dan gebeur dit. Hierdie “Woord” word ook geïnterpreteer as Sy wil wat Hy “gewil” (gedink) het, om sodoende die gebeurtenis te laat gebeur. Hierdie benadering geld vir die hele skeppingsproses, met ander woorde vir hemelliggame, plante, diere en die mens. In Gen 2 is die aanslag heel verskillend en verander die atmosfeer (’n ander skrywer aan die woord?). Alhoewel die skepping van die mens reeds in die eerste hoofstuk beskryf is, word die mens se skepping in Gen 2 herhaal, maar nou met ’n Skepper wat nie net ’n gees is nie, maar hande het en die mens met Sy hande vorm. Dis ’n aangrypende verhaal, maar die res van die Bybel leer dat God ’n gees is en nie ’n liggaam het nie. Die beskrywing wat pas gegee is, is waarskynlik onomstrede en dui sterk daarop dat Genesis simbolies vertolk kan (moet?) word.

Die wetenskaplike standpunt

Die geskiedenis van moderne wetenskap word gewoonlik na ten minste die Middeleeue teruggevoer. Die Middeleeue was ’n tydperk toe Europeërs nog agterlik, grootliks ongeletterd en diep gelowig was. Groter geletterdheid en talle ontwikkelings, soos die boekdrukkuns, die reformasie en ontdekkingsreise het gelei tot die Renaissance en ’n wyer siening van sake. Sedert die Renaissance het wetenskap gebloei en van krag tot krag gegaan, tot so ’n mate dat ons vandag in ’n hoogs tegnologiese wêreld leef en dit soms lyk of die wetenskap geen grense het nie.

Daar moet onthou word dat die kerk in die Middeleeue ontwikkeling gestrem het deur mense in te perk en wetenskaplikes te vervolg. ’n Lang en bitter stryd is oor eeue deur talle mense gevoer voor die onafhanklikheid van die wetenskap erken is. Die wetenskap waak sedertdien jaloers oor sy onafhanklikheid.

Die oorweldigende sukses van die wetenskap oor die afgelope paar honderd jaar is aan sy onverbiddelike streng uitgangspunte te danke. Slegs kontroleerbare feite word oorweeg en dinge soos geloof en tradisie, en selfs God, speel geen rol nie. Eksperimente word onder streng gekontroleerde toestande uitgevoer en moet by herhaling dieselfde resultate lewer  (die fisiese is van kardinale belang).

Daar is gelowiges wat ernstige beswaar het teen die feit dat die wetenskap "nie voorsiening vir God maak nie". Dit is verstaanbaar, maar binne die wetenskap (enige wetenskaplike vakgebied) word dinge nie op ’n religieuse manier gedoen nie – die wetenskaplike sal nie aanvoer dat God byvoorbeeld die Oerknal veroorsaak het nie – God is nie ter sprake nie. Dat gelowiges hieroor ongemaklik voel, is verstaanbaar, maar die basiese vertrekpunte en geskiedenis van die wetenskap verklaar hulle benadering. 

Die wetenskap het sy skouspelagtige sukses te danke aan sy basiese uitgangspunte. Hiervan sal nie afgesien word nie, want sy ongelooflike suksesverhaal dwing hom om op sy bestaande pad voort te gaan. Die gelowige wetenskaplike pas hom aan deur aan die konvensies van sy vakgebied te voldoen. Andersins is sy/haar geloof nie ’n probleem nie.

Die ergste?

Wat is die ergste-ergste, uit die gelowige hoek beskou, wat in terme van evolusie kan gebeur? Ek sou sê om te hoor dat iemand lewe in die laboratorium geskep het. Sal dit nie gelowiges tot die uiterste ontstel as onbetwisbare bewyse verskaf word nie? Myns insiens is dit onwaarskynlik.

As ’n mens egter mooi dink, sou dit werklik só erg wees? Dit beteken dat die Skepper van die begin af nie alleen vir die moontlikheid van al die natuur- en tegniese wonders wat ons vandag geniet, voorsiening gemaak het nie, maar dat Hy ook sekere chemikalieë of ander stowwe só saamgestel het dat dit in sekere omstandighede tot lewe kan lei. God is steeds die Skepper en nog wonderbaarliker as wat vermoed is!

Laaste gevolgtrekkings

Dit is my mening dat die Oerknal-teorie moontlik korrek is en dat dit die Skepper (God) se Woord was wat die skeppingsproses begin het. Evolusie was waarskynlik Sy metode om die aarde met plante, diere en mense te bevolk.

Gelowiges glo in ’n mistieke, ongelooflik wonderlike Skepper-God wat alles gemaak het. Presies hoe, weet hulle nie, maar dit is nie nodig om hieroor te stry nie, want hulle aanvaar gelowiglik dat daar dinge is wat hulle nie nou weet nie, maar eendag sal verstaan. Die wetenskap het weer die reg op ’n eie standpunt.

Volgens hierdie uiteensetting is daar nie ’n probleem tussen die kerk en wetenskap nie. Dis verder elkeen se reg om evolusie te aanvaar of te verwerp. Kreasionisme beland wel in die snippermandjie, waar dit hoort.

 

  • 9

Kommentaar

  •  Beste George B

    Dankie vir jou artikel.

    Onder http://godandscience.org/youngearth/six_days_of_creation.html sal jy dalk leesstof kry wat jou sal interesseer.

    Jy kan ook artikels per epos ontvang van Fact and Faith Publications (Dr. Michael Jarvis)http://www.factandfaith.co.za/

    Jy kan ook aansluit by bas@biblicalarchaeology.org en gratis artikels van hulle ontvang.Jy hoef nie by hul biblioteek aan te sluit nie want die relevante inligting is vervat in hul gratis artikels.

    Ek hou sover dit die Bybel aangaan maar by die KISS beginsel. (Keep it straight and Simple). Mense vergeet dat die gewone mense van die Bybel aan wie die evangelie in die ou en nuwe testament maar eenvoudige mense was.Min kon lees wat sê nog skryf.

    Dit is opmerklik dat Jesus en die dissipels en Apostels daarna nooit deur lang ingewikkelde redenasies mense probeer oortuig het dat God se koninkryk naby gekom het nie.

    Die evangelie is in kinderlik eenvoudige taal en gelykenis verkondig.Dit is die skrifgeleerdes wat allerhande ekstra bywette uitgedink het om mense se lewens te vermoeilik.Dink net aan die konsternasie onder die Fariseërs toe Jesus se dissipels ryp koringare op die sabbat uitvryf en die koring eet.

    Duidelik 'n oortreding want op die sabbat mag jy nie voedsel bymekaar maak nie. Die haat en wrewel teen Jesus groei toe hy sê in vers 5: Wel, nou is Ek, die Seun van die mens by julle.En ek is baie belangriker as die Sabbat.Ek sê nou wat op die sabbat gedoen mag word en wat nie."

    As Jesus ons enigste Verlosser en Saligmaker Homself nie wend tot lang ingewikkelde teorieë nie, selfs wat die uitverkiesing aanbetref, moet ons as volgelinge van Christus en dit is hoekom ons Christene genoem word, om in dieselfde slaggat te trap as wat so baie geleerdes in Jesus se tyd en vandag nog doen en allerhande ingewikkelde teorieë omtrent die evangelie en veral die uitverkiesing verkondig nie.

    Dit maak nie die wetenskap minder belangrik nie want in Genesis kry die mens ook 'n beskermingsrol en word hy as beskermheer aangestel  oor alle ander lewende wesens op aarde, want heersers is beskermers en nie vernietigers nie.

    Die beskermingsrol kan nie sonder kennis  uitgevoer word nie en daarom is verkryging van kennis dmv die wetenskap uiters belangrik.

  • George Bekker

    FC, dankie vir jou reaksie en dat jy rustig kommentaar lewer. Ek wil op 'n persoonlike noot begin. Het 'n Frans Boot as kollega by UWK gehad. Eers gedink jy is sy seun (hy het een seun en vyf dogters gehad) maar toe agter gekom jy is nie meer jonk nie. Is jy wyle Frans se neef? Dit wil voorkom of jy sterk voel oor 'n kreasionistiese benadering tov die skepping en dit lyk of ons standpunte nie by mekaar sal uitkom nie. Volgens jou eerste bron: “ … any interpretation that goes beyond a clear plain meaning of the text is considered to compromise Biblical authority and capitulate to evolutionary theories.” Die rede waarom ek nie hiermee saamstem nie, soos aangetoon in my artikel, is dat die Jode van die Ou Testament eerstens in diepte na die teks gekyk het en 'n letterlike interpretasie as sekondêr beskou het. Die groot uitstaande figuur na die Bybel geskryf is was Augustinus (rondom die jaar 400) en as 'n mens na kreasioniste luister sal jy dink die man is ook deur Darwin besoedel. Hy het nadat hy Genesis bestudeer het ook ernstig na die destydse wetenskaplike standpunt gekyk. Vir hom was Genesis nie 'n boek wat sommer sy “clear plain meaning” verskaf nie. Hy het vir jare met die dieper betekenis van die boek geworstel.

    Hoe verklaar kreasioniste die drastiese verskille tussen Genesis 1 en 2? FC, as jy dalk op so iets afkom (my oortuiging is dat die saak altyd omseil word) skryf asb daaroor. Watter kans het kreasioniste om ingeligte jongmense te oortuig? Gevolglik word die populêre benadering eerder gevolg. Die belangrikste vir 'n gelowige is om te glo, maar om mense wat glo weg te jaag omdat enigiets behalwe jou interpretasie onaanvaarbaar is, is verskriklik. As ek met my artikel net daarin slaag om aan te toon wat die wetenskaplike uitgangspunte is en die kloof tussen wetenskap en godsdiens vernou, is iets al bereik.

  • Beste George Bekker

    Ja wyle Frans Boot was inderdaad my neef.

    Nee ek glo nie in 'n ses dag 24 uur skepping en 6000 jaar oue aarde nie.Waar ek wel in glo dat 'n mens so wyd as  wat moontlik is moet lees en van alle standpunte moet kennis neem, of jy nou daarmee saamstem of nie.

    .Daarom ook die verwysing na http://www.factandfaith.co.za.

    Die inleiding op die webblad lees soos volg:

    AT LAST! Publications that fully reconcile evolution and the Big Bang Universe, with belief in the Creator God. We live on an earth that is billions of years old, not just thousands.

     Radically new insights into the controversy around the teaching of Intelligent Design in schools and Universities.
    Our founding principles include:
     A complete acceptance of the scientific method.
     An acceptance of a Universe and Earth billions of years old, not thousands.
     An acceptance of the evolutionary processes in nature.
    An acceptance of the Bible as our ultimate authority in matters of faith, doctrine and practice.
    An acceptance that "The heavens declare" is another  'voice' of God , revealed to us by on-going scientific research.

    Wat my gedurende my jare as 'Sondagskoolonderwyser' opgeval het is dat veral jong mense nie meer die verhaal van die ontstaan van die heelal en mens so geredelik aanvaar as soos toe ek 'n kind was.

    Op die kleinhoewe aan die Oos-Rand waar ons vir baie jare gewoon het voordat ons stad toe getrek het, het ek dikwels op die grasperk gelê en na die wolke gestaar.Ek het gereken dat as ek lank genoeg staar ek dalk nog vir Jesus kon sien, want volgens Handelinge 1 het die dissipels nog staan en kyk hoe Hy in die wolke verdwyn.

    Soos 'n mens ouer word en dan in jou werksomgewing en dan ook tydens my weermagdae met mense van ander gelowe en sienings in aanraking kom, verander jou sienswyse en begin die gedagte tog stadig maar seker posvat dat dinge nie so eenvoudig is veral tov die ontstaan van die heelal en die mens as wat dit dikwels vanaf die kansel af verkondig is nie.

    Deur 'n reeks omstandighede word ek op baie jong ouderdom 'n diaken in die Gereformeerde kerk en neem die ouderling my deur die wyk om my aan die lidmate voor te stel.Dit was nogal tot konsternasie van my maats, wat my dadelik daarna toedam en terstond wil weet of ek nou op hulle gaan 'spy' en aangee.

    Dit het heelwat gerustelling en oortuiging van my kant af geneem om hul gerus te stel, met die onderneming dat solank die jolyt binne die perke van fatsoenlikheid bly, hul niks van my hoef te vrees nie.

    In die betrokke wyk was daar ook 'n tehuis waar mense met allerhande liggaamsgebreke en misvormde liggame versorg is.Ek was so geskok by die aanskoue daarvan ,dat ek oortuig is dat ek. 'n totale persoonlikheidverandering ondergaan het.

    Ek het sterk begin twyfel aan die bestaan van 'n liefdevolle God en my toevlug geneem tot talle onsuksesvolle verhoudings en soms drank. Na draaie deur die Hervormde kerk waar ek ook diaken was, beland ek in die NG
    kerk waar ek beide ouderling en diaken was.

    Hier het ek ook kennis gemaak met mense soos Jan van der Watt. Dit was opmerklik dat die ouer geslag , gewoond aan sekere skrifuitleg, nie altyd van sy manier van prediking gehou het nie.

    Vir my was dit egter 'n verfrissende benadering en gebruik ek Die Boodskap en die Bybel A-Z nog gereeld as verwysings.

    Ek het myself voorgeneem dat wanneer ek eendag die tyd het en die tyd is nou, gaan ek rustig en op my eie na alle alternatiewe sienswyses veral oor die ontstaan van die heelal en die mens kyk en so dan my eie sienswyse daaroor vorm en hervorm.

    Nogtans dankie vir jou artikel en belangstelling.

  • Beste George 

     
    Ek hou van jou oopkop benadering tot die gesprek en ek moet sê dat ek met heelwat van wat jy te sê het saamstem. Daar is ’n paar kernpunte waar ek van jou verskil. Dalk misinterpreteer ek jou mening hier en daar maar kom ons gesels daaroor. 

    Die eerste wesentlike punt waar ek van jou verskil is jou ongefundeerde geloof dat daar ’n god of opperwese bestaan wat die eintlike dryfveer agter die oerknal en die evolusionêre proses is. Dit is bloot ’n reuse geloofsprong van jou kant af met geen rasionele basis nie. Die bybel, wat ’n versameling van antieke geskrifte is, is saamgestel uit vertellings deur mense met ’n drie-verdieping wêreldbeeld (onder die aarde waar die bose woon, die aarde waarop die mens heers en die hemel waarin die gode woon) wat hoegenaamd nie met ons moderne kennis van die wetenskap versoenbaar is nie. Benewens die verwysing na sekere teksverse in die bybel is daar geen oortuigende argument wat jy kan aanvoer om jou hipotese van ’n skeppergod te ondersteun nie. By gebrek aan enige bewyse waarop jou hipotese gegrond is, kan ek dit nie ondersteun nie en verkies ek om te aanvaar dat daar geen skeppergod bestaan nie. Alle wetenskaplike feite dui op die afwesigheid van ’n skeppergod. As jy wil beweer dat daar wel ’n skeppergod bestaan rus die onus op jou om sy bestaan te bewys.

    Dit lyk vir my of jy huidjie en muidjie inkoop in die hele idee van erfsonde en dat ons deur een of ander verlosser van daardie sonde verlos moet word. Dis ’n begrip wat ek met my hele wese verwerp omdat daar weereens geen bewyse vir so ’n hipotese bestaan nie. Nie alleen verbeel jy jou dat jy sleg en vol sonde gebore is nie, maar jy stel selfs voor dat jou onbewese en hoogs imaginêre god jou van daardie denkbeeldige erfsonde moet verlos. Dis vir my totaal ondenkbaar hoe jy van enige rasionele mens sulke wilde verbeeldingsvlugte vra. 

    Jy is heeltemal reg dat die evolusionêre model die mees betroubare en bewese teorie is om die verskeidenheid van lewe op aarde te verklaar. Ek verskil egter van jou daarin dat ek nie die spesie homo sapiens as die uiteindelike voleinding van die evolusionêre proses sien nie. Overgesegd in jou paradigma is die mens nie die kroon van die skepping nie. Homo sapiens is maar een van die spesies wat ontwikkel het en wat met sy superieure brein sekere funksies ontwikkel het wat hom help om vir die oomblik suksesvol te oorleef. Met die gemors wat ons besig is om aan te vang in die wêreld is ons met ons groot breine dalk net besig om ons eie graf te grawe – dus glad nie ’n danige kroon nie. 

    George ek gun jou en jou medegelowiges die reg om enigiets te glo. Aanvaar tog net my reg om enigiets wat jy sonder enige bewyse glo, sonder enige bewyse te verwerp. 

    Groetnis 
    Thomas
  • Beste Thomas
    Na aanleiding van jou kommentaar, hoe voel jy oor die volgende,wat gevind kan word onder : Forget what you’ve read, science can’t prove a thing" http://theconversation.com/forget-what-youve-read-science-cant-prove-a-thing-578

    Ek plaas maar die volledige artikel en hoop die webredakteur laat dit deurgaan.Ek vind dit persoonlik uiters lastig as iemand 'n skakel plaas en ek dan eers 'n artikel soos hierdie moet verlaat om te lees wat daar staan

    Do scientists have a language problem?
    Do policy makers have hearing issues? It would certainly seem so. Of late there have been frequent lamentations about scientists' failure to make their case to the… Author Michael J. Biercuk Senior Lecturer in the School of Physics at University of Sydney

      Disclosure Statement Dr. Biercuk conducts experimental research in quantum physics and quantum control. He is funded by the ARC Centre for Engineered Quantum Systems and the US Army Research Office. His work is not connected to climate science. Provides funding as a Member of The Conversation. sydney.edu.au

    Scientists need to do a better job of communicating with non-scientists. Brewbooks/Flickr Do scientists have a language problem? Do policy makers have hearing issues? It would certainly seem so.

     Of late there have been frequent lamentations about scientists' failure to make their case to the public on hot-button issues, or of policy makers to listen to their input. Often scientists and the public are, in fact, communicating, but they’re talking right past one another.

    So what’s going on? Words, words, words It’s imperative scientists do a better job communicating the meaning of the words they choose. I don’t mean jargon: I mean basic words that mean one thing in scientific circles and another to the wider public.

    Let’s take the climate change debate, and focus on a few specific words in context.

    1) Theory: “Climate change is just a theory” In science effectively all ideas are “just” theories. Scientists often use concepts from the philosophy of science to make some semantic distinctions between laws, theories, hypotheses, and the like. So when a scientist talks about a “law” of nature, he or she is referring only to a standard observation (given some strict parameters), not an absolute requirement.

     A basic principle in science is that any law, theory, or otherwise can be disproven if new facts or evidence are presented. If it cannot be somehow disproven by an experiment, then it is not scientific. Take, for example, the Universal Law of Gravitation. This “law” describes the motion of heavenly bodies, and how we stay firmly planted on the ground. But this “law” is in fact not always right – it just captures what we usually observe. In this case, we are ultimately referring to the “theory” of gravity – a theory supported by a huge body of evidence, but still just a theory.

    The same is the case for human-induced climate change.

     2) Proof: “We can’t prove humans are causing climate change.” When people ask for proof, they generally just mean “evidence". Scientists may have lots of “evidence”, but will never claim to have “proof,” because proof does not exist in science. Proof has a technical meaning that only applies in mathematics. All we can do in science is collect evidence – lots of it – much the way we do in testing gravitational theory. So long as the evidence is consistent with the theory, we consider the theory validated. But it will never be proven.

     A critic or sceptic may view a scientist’s hedging on the issue of “proof” as a sign of weakness – really it’s just a sign the scientist’s meaning of the word is different to the general public’s.

     3) Uncertainty: “Even proponents of human-induced climate change admit uncertainty.” This use of “uncertainty” is perhaps the stickiest issue. In the public mind, uncertainty suggests someone is confused or otherwise not fully in command of the material. But in science, uncertainty is always present…because nothing can be proven. Is this a bad thing?

     No. A scientist cannot and will not say there is absolute certainty that you won’t fly off into space due to a quirk of gravitational theory, quantum mechanics, or the like. He or she would simply say that such an occurrence is extraordinarily unlikely – so unlikely that it wouldn’t, on average, happen even once during the age of the known universe. Even though that’s really unlikely there remains uncertainty.

    In the climate change debate the uncertainty is much larger than in this example, but it is fundamentally no different to the scientist’s mind. A winning formula The burden for fixing this communication problem falls most heavily on the scientist. We need to better educate the public about the meaning of our words, and of the basic principles of science. We fail when we assume that everyone thinks or argues the way that we do.

    This is a huge challenge in an age of 24-7 news channels that are looking for three-word soundbites. No-one wants to diminish the accuracy of our statements. But even accommodating the modern media cycle is possible. So how about this?

     In science … Everything’s a theory

    .Proof doesn’t exist.

    .Nothing is certain.

  • Charl le Roux

    Beste FC,

     
    Miskien sal jy die terme beter verstaan as jy onderskei tussen `n deduktiewe argument en `n induktiewe argument.
     
    `n Deduktiewe argument het tipies die volgende formaat:
    Premis 1:  Alle honde is soogdiere.
    Premis 2: Wagter is `n hond.
    Konklusie: Wagter is beslis `n soogdier.
     
    `n Induktiewe argument het tipies die volgende formaat:
    Premis 1: Die meeste honde het vlooie.
    Premis 2: Wagter is `n hond.
    Konklusie: Wagter het waarskynlik vlooie.
     
    Die eerste argument kom tot `n definitiewe beslissing.  Die rede hiervoor is dat die eerste premis berus op die definisie van `n hond.  Definisies lei tot noodwendige waarhede.
     
    Die tweede argument lei tot `n waarskynlikheid.  Die rede hiervoor is dat die eerste premis in die tweede argument berus op waarneming.  Universele geldigheid kan nooit met waarnemings bewys word nie; daar mag altyd `n uitsondering bestaan.
     
    Wetenskap is induktief van aard - dit berus grootliks op waarneming.  In baie wetenskaplike teorieë het ons te make met geweldige hoë vlakke van sekerheid, maar dit kan nooit 100% wees nie.
  • Beste FC

     
    Ek is volkome in ooreenstemming met die hele strekking van jou artikel. Die basiese uitgangspunt en vertrekpunt in ons soeke na antwoorde in die wetenskap is onsekerheid. Ons berus ons by die beste verklarings wat ons kan vind om tergende vrae te beantwoord. Tot tyd en wyl die oplossings wat ons gevind het verkeerd bewys is, of daar kom beter of aanvullende verklarings na vore, beskou ons die huidige een as genoegsaam. Newton se bewegingwette is 'n goeie voorbeeld. Vir jare is dit beskou as volledig genoeg om beweging te beskryf totdat Einstein vroeg in die vorige eeu kom en Newton se wette uitbrei om ook voorsiening te maak vir die beweging van lig en swaartekrag. Ek het sopas my PhD voltooi en ek het presies hierdie beginsels toegepas. My navorsing het gebou op vorige werk wat gedoen is maar ek het 'n klein bousteentjie bygevoeg in my vakgebied en dit deur empiriese navorsing bewys. Daar is nou 'n nuwe insig wat getoets is wat vars en nuut is en waarop verdere navorsing nou weer gaan bou. So word ons kennis verbreed en dra al die duisende navorsers oor die wêreld by tot die wetenskap deur te bevraagteken en nuwe insigte te toets. Slegs op hierdie manier word kennis uitgebrei - deur te bevraagteken en nuwe insigte te toets tot bevestiging ontvang word wat geldigheid aan die nuwe insigte gee.
     
    Godsdiens werk nie so nie. Godsdiens bestaan uit ewige waarhede wat nie getoets mag word nie en berus grootliks op die opinie van mense oor hierdie waarhede. Daar is nie sprake van empiriese navorsing nie. Oorvertelde stories word waarhede met goddelike sanksie wat so totaal ongeloofbaar is dat dit werklik slegs deur middel van blindelingse geloof aanvaar kan word. 
     
    Dis die rede hoekom godsdiens en geloof nie met die wetenskap versoenbaar is nie - die een aanvaar die werklikheid van onsekerhede terwyl die ander een berus op verbeelde sekerhede. Godsdiens is werklik 'n skreiende aanval op enige mens se intelligensie en ek verwerp dit met die minagting wat dit toekom.
     
    Groetnis
    Thomas
  • Beste Thomas
    Dankie vir jou antwoord.Jy sê godsdiens is 'n skreiende aanval op 'n mens se intelligensie.Maar in die sin bly beide godsdiens en intelligensie ongedefinieerde begrippe
    Daar is talle godsdienste in Suid-Afrika. In die tradisionele Afrikagodsdienste vorm die sigbare en onsigbare saam 'n deel van die wêreld waarin die mense woon en beweeg .Die sigbare en onsigbare dinge beïnvloed mekaar.In die geestelike wêreld is daar geeste en voorvaders,die 'lewende dooies' wat 'n rol in die hedendaagse lewe speel.Dinge in die natuur het ook  simboliese betekenisse. Die onsigbare dinge sien jy nie,jy voel dit en sien die uitwerking daarvan as een of ander ramp jou tref.

    So verskil dit dan ook van die Islamgeloof  en ander gelowe.In die Christelike lewe is dinge egter anders.Christene is volgelinge van Christus, wat nou ook deur sommige rabbi's as een van hul groot profete aanvaar word.

    Ons geloof is dan ook niks meer as 'n vaste vetroue, dat die beloftes vervat in die Bybel eendag werklikheid sal word en dat ons deur die lewe, lyde, sterwe en opstanding van Jesus met die OORSAAK (GOD) van alles ,(dus ook die  aarde wat ons bewoon)  versoen sal word.

    As Christene onderskryf ons dan ook nie lukrake ontstaan van die heelal en alles wat daarin is nie.

    Nou wat dan nou van intelligensie?Daar is baie definisies en metodes om dit te meet en in die algemene sin hou dit verband met die kapasiteit om te leer en probleme op te los. Dit is egter 'n moeilik begrip om te omskryf,sover ek kan onthou en ander lesers kan my reghelp, het Guilford in 1961 reeds die 'Cubical model of intelligence' ontwerp ,bestaande uit (operations -Evaluation,convergent production, divergent production, memory, cognition) verbind met  'products -units ,classes,relation, systems, transformations, implications) met 'contents' figural, symbolic, sematic en behavioral' verbind, amper soos in die bekende 'rubi's cube'.

    Saam kan jy  oor talle kombinasies in kleure en in die geval van intelligensie  oor vermoeëns of kapasiteite beskik. Nou is dit so dat die omgewing waarin ons groot word  en huislike omstandighede seer seker 'n groot rol speel in die ontwikkeling van die vermoeëns.

    Die vraag is nou is hierdie vermoeëns groot genoeg om te verstaan wat daar werklik voor die skepping was en die "OORSAAK" te ontleed en te deurgrond? Nee, dit val buite die mens se vermoë.

    In 1 Kor.13 vers 12 en verder praat Paulus oor die 'Liefde wat grense'het en sê dan: "Ons kan nie alles van God verstaan nie.Dit is of ons in 'n blinkerige stuk staal na ons self kyk.Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien nie.Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan.Nou maak ons maar stuk -stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken.Daar kom egter 'n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet.

    13.Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en die liefde.En van hulle staan die liefde boaan die lys".

    Hierdie 'liefde' is egter nie 'soen-soen' liefde nie maar een van diens en opoffering.

    So moet die Bybel dan vir Christene steeds die norm wees waarvolgens hulle hul lewe inrig, gedagtehoudend,dat ons in 'n nuwe verbond lewe en baie van die ou verbond se rituele ens verval het omdat die ou verbond
    slegs tussen een volk en God was, terwyl die nuwe verbond oop staan vir alle volkere, wat Christus as hul enigste Verlosser en Saligmaker aangeneem het.

    Nogtans dankie vir jou skrywe en die wyse waarop jy jou kant  gestel het.

  • Beste Charl le Roux

    Baie dankie vir jou antwoord.

    Miskien sou dit makliker gewees het om nie voorbeelde te gebruik nie en eerder om te sê dat: Deduktiewe  van bo na onder werk en Induktiewe van onder na bo.

    Dus in Engels:Deductive -Theory-hypothesis-observation- conformation.

    Inductuctive eers -observation-pattern-tenative hypothesis-theory.

    Ek dink dit werk beter veral as jy dit dalk eendag moet verduidelik aan sê maar 'n 'alien' wat nie weet wat 'n hond of soogdier is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top