![]() Boekomslag: Huis van herinnering deur Evelyn Marais
|
|
Sêgoed van Evelyn Marais “Natuurlik moet mens gedurig in jou lewe iets nuuts aanpak. Wat is ouderdom? Dit is ’n fase waardeur almal gaan. Dit hang van jouself af of jy met hande oormekaar gaan sit en wag tot die dag dat jy doodgaan.” (Sarie, 7 September 1988) “As ’n mens nie droom nie, hoe gaan jy dit verwesenlik?” (Rooi Rose, 6 Mei 1992) Oor haar huis onder die bessieboom: “Dit is ’n wonderlike ou huis met ’n atmosfeer van permanensie. Nou leef ek saam met die geeste van die mense wat hom eens liefgehad het. Dit stem jou melancholies, ’n soort lekker-seer. Tussen die mure lê die dae van ons jeug, van ons ouderdom, die herinneringe aan ons gesinslewe: Sarel, met sagte tred en fynbeskaafde manier; die dae toe ons om die groot tafel gesit het en ’n glasie geklink het op die een of ander lid van die gesin wat afwesig was; die vreugde van ’n tafel vol geseënde kos; my beste porselein, en die liefde wat ek hier geadem het.” (Volksblad, 12 Mei 1990) Oor haar tuin op Diepwater: “Die werf was ewe troosteloos toe ons op Diepwater gekom het. Dit was vaal en vol los klippe. Een enkele outydse roosboom het teen die voordeur opgerank, en daar was een verpotte sipres. Skuins langs die agterste muur het ’n seringboompie gestaan, so hoog soos ’n man; my bessieboompie wat later my reuseboom sou word. Maar ek het besluit ek sou tuinmaak, buig of bars. Toe het ek begin bome aanplant. Ek kon nie end kry daarmee nie. Ek het van altyd af ’n besondere verbintenis met bome gehad en wanneer ek aanplant, was dit nie min nie. En vandag is daar in my tuin baie bome, baie voëls, baie lower en baie lewe.” (Volksblad, 12 Mei 1990) |
Gebore en getoë
Evelyn Marais, gebore Ferreira, is op 18 Oktober 1902 op die plaas Grootkom naby Cradock in die Oos-Kaap gebore. Haar pa, Johannes, en haar ma, Frances, het nog drie kinders gehad – Evelyn se broer, Cronjé, en twee susters, Lettie en Katy. Sy het op Steynsburg haar laerskoolloopbaan voltooi en het haar hoërskooljare aan die Hoërskool Bloemhof op Stellenbosch deurgebring.
Sy het aan Suzaan Steyn (Die Burger, 25 April 1990) vertel dat sy die wonderlikste kinderjare gehad het: “Ons het nooit oor geld gedink nie, want ons kon dit nêrens bestee nie. Ons het alles op die plaas gehad wat ons nodig gehad het. Ek het eers in standerd 5, 6 vir die eerste keer geld hanteer.
“En ons was ’n vrolike familie met ’n goeie sin vir humor. Ons grootste pret was om saans om die familietafel te sit en mekaar te troef met allerhande sêgoed.”
Sy vertel ook aan Ilse Lombaard (Volksblad, 19 Junie 1986): “Dit was dae van kallers ry en lappop speel, dae van klei-os maak en plaasskooltjie toe. Saans voor die ou groot kaggelvuur het Ma en Pa stories oor hulself vertel; andersins het ma by die olielampie se lig voorgelees uit haar baie boeke.”
Oor haar ma vertel sy dat sy ’n boekwurm was en het vandat die kinders klein was, ’n liefde vir lees en boeke by die kinders gekweek: “Sy het altyd gesê ons kan die Engelse alles vergewe vir hulle pragtige letterkunde. In ons omgewing was baie afstammelinge van die Britse Setlaars en ons het almal mekaar geken.
“Ons het baie selfstandig grootgeword en het vroeg reeds geleer dat elkeen sy plek in die lewe moet vul. Die man én die vrou en hulle moet bymekaarstaan.”
Verdere studie en werk
Ná skool het Evelyn haar bekwaam as onderwyser (op sewentienjarige ouderdom) en het onderwyser op ’n plaasskool in die distrik van Bothaville in die Vrystaat geword. En dit is hier waar sy haar toekomstige man Charles Francois Marais ontmoet het, ’n boer in die Bothaville-distrik. Drie kinders is uit die huwelik gebore, terwyl ’n seuntjie, Kleinpiet, op sesjarige ouderdom oorlede is.
Evelyn en Charles het saam op die plaas Diepwater geboer. Die plaas het aanvanklik Melkkraal geheet, voordat ’n Engelse eienaar die naam na Deepwater verander het. Haar man het egter die naam na Diepwater verander toe die naam op die plaashek moes aangebring word.
Sy het aan Suzaan Steyn vertel dat haar man die wonderlikste mens was: “Altyd kalm en rustig met die geloof van ’n kind. ’n Krag wat my ondersteun het toe ons ons jongste kind en enigste seun aan die dood moes afstaan.
“Jy en jou man is soos twee bome. Sy skaduwee beskerm jou teen wind en weer. As hy wegval, staan jy alleen. Maar as jou kind sterf, is dit ’n tak wat van jou boom afgeskeur het. Die letsel bly vir altyd.”
In 1982, op haar tagtigste verjaardag, het daar ’n digbundel, Josefskind, verskyn. Haar kinders het die gediggies, sêgoed en briefies wat sy oor die jare aan hulle gegee en geskryf het, bymekaargemaak en stilletjies 100 eksemplare daarvan gedruk om haar op haar verjaardag te verras: “Van toe af het ek maar begin neerskryf wat ek kan onthou, so elke nou en dan ’n ander dingetjie – ek het nog die handgeskrewe manuskrip hier.”
Haar inskrywing vir ’n essay-kompetisie in 1983 was deel van ’n uitgesoekte versameling wat Suid-Afrika by die Wêreldbond van Plattelandse Vroue in Vancouver verteenwoordig het.
Na Charles, of Sarel soos sy hom genoem het, Evelyn se man, se afsterwe het sy gevoel dat sy iets nuuts moes doen. Haar kinders en kleinkinders wou ook nie hê dat die stories oor haar grootwordjare verlore moes gaan nie. Toe het sy besluit om haar herinneringe neer te pen. En toe sy 83 jaar oud was, het sy Huis tussen die rante en Huis onder die bessieboom geskryf – outobiografiese vertellinge oor haar kinderjare op ’n skaapplaas in die Karoo, haar jare as onderwyser en haar huweliksjare.
Sonder dat sy enige dagboeke of aantekeninge gehad het om te raadpleeg, het sy die eerste boek binne drie maande voltooi, het sy aan Suzaan Steyn vertel: “Ek het die geskiedenis so goed geken dat ek dit taamlik maklik kon skryf.”
Huis tussen die rante vertel die ware verhaal van Evelyn se familie, die Ferreiras van Steynsburg, en haar herinneringe aan haar grootwordjare – “so helder en doodgewoon vertel dat jy net nie daaraan as doodgewoon kan dink nie. Jy proe amper self die vryheid en ruimte van ’n Karooplaas van lank gelede, toe speel nog iets was wat ’n kind gedoen het totdat hy dit nie meer wou doen nie.
“Die boek vertel van dinge waarvan baie van ons nog net gehoor het; en waarvan ons kinders niks weet nie. Soos dat fyn beskaafdheid, belesenheid, wellewendheid en Boere-adel nie in die binneland ontbreek het nie. Dis ’n stukkie volksbesit wat jy vir die pure lekker lees en jou kind om dieselfde rede in die hand sal stop. Dalk klink die loshanddae en plaaskaskenades vir die kind van vandag vreemder as wetenskapfiksie.” (Sarie, 5 Junie 1986)
In Zuid-Afrika (September 1986) skryf Hans Ester dat Evelyn Marais met Huis tussen die rante ’n pragtige en hartverwarmende literêre kunswerk geskep het. Die skryfster besit die gawe om die leser van naderby vertroud te maak met die lewe in en rondom die boerdery. Evelyn Marais besit oor ’n skerp waarnemingsvermoë, maar die belangrikste van alles was dat sy verknog was aan die “karige” en soms onberekenbare gulle landskap van die Karoo.
Ester gaan voort: “De vertelsituatie heeft iets van de knusse beslotenheid van een gezellige kring met de vertelster in het midden. Vermoedelijk is dit boek ook op die manier gegroeid. Evelyn Marais vertelt, omdat de herinnering aan haar jeugd haar in haar ouderdom vreugde geeft en omdat zij ook anderen in die vreugde wil laat delen. Haar aanstekelijke liefde voor land en mensen wordt samen met een kostelijk gevoel voor humor op die lezer overgedragen. Die humor kan het karakter van een anekdote aannemen, maar hij is in ieder geval altijd aanwezig in de toon van de beschrijvingen. [...]
“Bijzonder geslaagd is de beschrijving van het reilen en zeilen op de eigen ‘plaasskool’ met haar elkaar rap opvolgende Engelse onderwijzeressen. Evelyn Marais geeft haar herinneringen weer in een taal, die doorspekt is met beeldende, uiterst trefzekere woorden. Dit is het mooiste Afrikaans dat ik sinds jaren heb gelezen.”
In ’n onderhoud met Evelyn Marais vertel sy aan Ilse Lombaard (Volksblad, 19 Junie 1986) dat sy daaraan gedink het om op aandrang van Sarie se Marietjie van Rooyen ’n vervolg te skryf: “Die skooldae weg van Steynsburg af was net so opwindend. Ek was so ’n regte Karoobossie in die Boland en daaroor het ek nog baie te vertelle as dit my beskore mag wees.”
Lombaard was van mening dat Evelyn Marais verdien om na geluister te word: “As haar manier van gesels ’n aanduiding is, móét haar boek ’n belewenis wees, selfs vir iemand wat vierkant in die ruimte-eeu geanker staan.”
In 1990 publiseer Tafelberg die 88-jarige Evelyn Marais se tweede deel van haar herinneringe onder die titel Huis onder die bessieboom waarin sy verder vertel van hoe sy as jong onderwyseressie van Stellenbosch moes aanmeld by ’n plaasskool in die Vrystaatse Sandveld, “die afskeepland waaroor vir haar ’n troosteloosheid gelê het,” skryf Nols Nieman in Volksblad.
“Haar aanvanklike ontberinge op die nedersetting Grondstapel waar sy vir kinders van plase met sulke ontmoedigende name soos Skopmy, Eensaamheid, Sahara en Donkerkak te midde van duine en stofwolke moes skoolhou, het sy gou in uitdagings omskep. Al was die raad van een van die ouers dat sy ‘die kinders se gatte moet warm slaat’, het sy met liefde regeer en hul vriendskap met ’n slap riem gevang deur hulle te betower met die wêreld van boeke, ’n wêreld waaroor hulle vroeër nie eens gedroom het nie. Vir haarself was nêrens die moontlikheid om ’n boek te leen nie, ‘tog was dié lewensboek rondom my iets wonderliks om te lees. Ek het nie nodig gehad om ver te gaan soek na onvergeetlike karakters nie’.”
Sy vertel ook van haar ontmoeting met die man van haar lewe, Charles Marais, wat gemaak het dat die wêreld van die Sandveld nie meer so troosteloos voorgekom het nie.
Nieman sluit af: “Huis onder die bessieboom is ’n boek met baie humor, moed en liefde wat die liefhebber van die kontreikuns baie sal geniet. ’n Mens kan hoop dat dit sal meer mense aanmoedig om vergange se dae vir ons te bewaar.”
In Die Burger van 6 September 1990 is Riana Scheepers net so beïndruk met Huis onder die bessieboom: “As ’n leser aan die einde van ’n kontreivertelling van 152 bladsye gekom het, en vir homself sê: ek wou nóg gelees het, daar moes méér gewees het, dan het daar iets merkwaardigs gebeur. [...]
“Kontreikuns is dikwels die nostalgiese herinneringe aan ’n landelike verlede... Evelyn Ferreira het vroeg in die 1920’s op Grondstapel in die distrik Bothaville aangekom as die eenmanskooltjie se nuwe ‘tietser’. En sy het in dié kontrei gebly vir die res van haar lewe. Haar outobiografiese vertelling strek oor sestig jaar, en beskryf haar lotgevalle as onderwyseres, as verliefde nooi wat haar hart verloor het op die boer van Ladies Request, haar huwelik, en haar lewe in die huis onder die bessieboom. [...]
“Die verhaal is só vlot, só innemend, en met soveel nuanses geskryf, dat die leser aan die einde daarvan traag afskeid neem van die hoofkarakter. Ten spyte van die intieme aard van ’n outobiografiese relaas, ontaard dit nooit in ’n ek-gerigte verhaal nie. [...] Dit is uiteindelik ’n verhaal van ’n mens met getemperde, maar onblusbare lewensvreugde.
“Dit is duidelik dat die kontreivertelling in Afrikaans tans ’n ongekende bloeitydperk beleef. En as Huis onder die bessieboom ’n aanduiding is van die kwaliteit daarvan, kan dié genre maar gerus gedy.”
Vir Cecile Cilliers in Beeld (26 Mei 1990) het die boek wel vaal kolle, “dele wat met ’n swaarder hand gesnoei kon gewees het, maar terselfdertyd flikker dit van humor, en Evelyn Marais se eie, opgewekte gees kleur elke omstandigheid. En bo alles spreek die boek van lewensrypheid, lewensaanvaarding, liefde en ironie. Ek hoop nog ’n boek word haar beskore.”
En in Die Republikein van 13 Julie 1990 was Ia van Zyl die resensent: “Huis onder die bessieboom toon eweneens dat Evelyn Marais besondere talent as skryfster het. Hierdie talent is nie gegrond op ’n kennis van literêre tegnieke en van die letterkunde as sodanig nie, maar spruit uit eerlike menslikheid. Miskien tipeer sy haarself die beste in die voorwoord tot die roman.
“Daarin skryf sy onder meer: ‘In die loop van hul lewe bewoon mense dikwels ’n string huise. Vir my was daar eintlik net twee: die huis tussen die rant in die Karoo waar ek grootgeword het [...] en dan my huis onder die bessieboom, die groot kliphuis in die Vrystaatse mieliewêreld, waar ek met my lewensliefde gewoon en my gesin grootgemaak het, en waar ek nou in my 87ste jaar weer ’n boek klaarskryf.
“‘Ek woon alleen hier, saam met my hond, my groot tuin, my eie handewerk, strek Otterspruit se kant toe. [...] Oorkant teen die hang aan die ander kant van die spruit woon my seun Charl en sy gesin. Ek ontvang baie besoek – en graag. Maar ek woon ewe graag alleen, met my gedagtes. Ek het baie om te onthou, en veel om na uit te sien.
“‘Ek het groot vreugde en leed en weer groot vreugde in hierdie huis beleef. Ek het hier as jong moeder gekom. En nou is ek reeds oumagrootjie. Maar die wêreld en my lewe is vir my nog altyd groen, en voedsaam en ryk. Ek het ’n mens van hierdie wêreld geword, hier vasgegroei soos dié boom. Ek vertel graag daarvan.’”
Van Zyl skryf verder: “Die bekoring van hierdie heel besondere boek lê dan ook in die eerste plek in die feit dat dit suiwer vertelling is, sonder fieterjasies, en in die tweede plek in die feit dat dit die storie vertel van ’n vrou uit een stuk, ’n vrou sonder fieterjasies. Dit is ’n inspirerende boek, en miskien ook daarom is dit een wat ’n mens nie graag neersit as jy eers begin het nie. [...]
“’n Heerlike en ’n inspirerende boek wat deur oud en jonk geniet kan word. ’n Mens sien uit na Evelyn Marais se volgende!”
En dit was asof Evelyn Marais gehoor het waarvoor haar lesers gevra het – nog ’n boek. In 1992 publiseer Tafelberg Huis van herinnering wat gesien kan word as die “sluitstuk” – soos Riana
Scheepers dit noem – vir die drieluik wat deur haar outobiografiese vertellings gevorm word.
“In hierdie bundel vertellings staan die herinnering op die voorgrond,” het Riana Scheepers haar bespreking van Huis van herinnering begin. “Haar huis van herinneringe is vol gebeure, woorde, name en gesigte waarvan vele nie meer met ons in die lewe is nie. Daarom is die toon meer nostalgies en gedemp as die vorige twee boeke. Maar moenie dink dat sy haar dodelike humorsin of haar herinneringe by die huis se agterdeur uitgevee het nie. Sy het die vermoë om met ’n skerp, visuele taalgebruik ’n verbygegane era in woorde en atmosfeer te herskep.
“Dit is ook nie hier net ’n storie en vertelling nie, dit het ook historiese waarde, want wie van ons weet nog van lammersterte en -peertjies wat gebraai word en wat boererate teen weeluise is? [...]
“Evelyn Marais is ’n verteller by uitstek wat weet hoe om haar leser se aandag te hou, maar ook weet wanneer om haar storie klaar te maak. Ten spyte van die intieme aard van die outobiografiese relaas, voel dit nie soos iemand wat sy boks vol kiekies nadertrek om jou te verveel met allerlei storietjies en dinge nie. Sy is eerder die ouma by wie jy graag kuier omdat daar altyd iets lekkers in haar laai is.”
Lucas Malan het só oor Huis van herinnering in Rapport geskryf: “Hierdie outobiografiese sketse, wat getuig van ’n ryk lewe, ’n sensuele aardsheid en ’n lewendige en soms selfs stout humorsin, is pure leesgenot.
“Die skryfster vertel van ’n era en gemoedstoestand wat vir die jong stedeling byna buite-ruimtelik vreemd is en waarvan die meeste besonderhede net in droë geskiedenisboeke beskikbaar is. Dit kry sy reg met haar fyn waarnemersoog, helder idioom en vermoë om werklik iets te maak uit klein gebeurtenisse.
“’n Mens belewe ’n bepaalde geskiedkundige periode in die Karoo met kleur en geur aan die bas, eerder as om bloot daaroor te lees.”
Tom Gouws het in Beeld geskryf: “Die huis van herinnering het baie wonings, weet ons. En dit is ’n genade as ’n mens, soos Evelyn Marais, op negentig steeds met soveel deernis, humor en toegeneentheid na die verlede kan terugkyk. Die spelende wysheid is die waarmerk van hierdie vertellings. [...]
“In die soeke na ’n nuwe kulturele identiteit is dit veral vroue(skrywers), die aankantmakers en vankantmakers, wat (soos ook dikwels in die geskiedenis) die voortou neem. Hierdie teks van Evelyn Marais is ’n beskeie maar belangrike bydrae om die wortels van ons kulturele identiteit te probeer terugspeur.”
In 1993 het Evelyn Marais, saam met Sunita Keyser en Piet Swanepoel, ’n spesiale oorkonde van die dorp Bothaville ontvang. Die skoolhoof van die Laerskool Loskuil, Hannes Malan, het gesê dit is gedoen om nie net Afrikaans te bevorder nie, maar ook aan plaaslike skrywers erkenning te gee vir hul bydrae tot die moedertaal.
In Oktober 2002, om saam te val met haar 100ste verjaardag, is ’n lesing by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) gehou wat deur twee van haar kleindogters bygewoon is – Lyndall Erasmus en Flolinda Truter. Die lesing het saamgeval met die nasionale dag vir bejaardes.
Op 26 Desember 1995 is Evelyn Marais op 93-jarige ouderdom aan hartversaking in ’n hospitaal in Bloemfontein oorlede nadat sy Kersoggend geval en haar heup gebreek het. Sy is op 29 Desember 1995 in die familiebegraafplaas op die plaas Deepwater (Diepwater) begrawe na ’n diens in die tuin van haar huis onder die bessieboom. Sy word oorleef deur haar seun Charl en haar dogters, Fura en Francis, 10 kleinkinders en drie agterkleinkinders, asook haar broer en twee susters.
Een van haar gedigte uit Die Josefskind, “Wense”, eindig só:
Ek wens om eiesoortig mens te wees
Geen nabootsel van ander se denke;
of ’n broksel van ’n ander se gees.
Ek buig my hoof in nederigheid:
Gee my o! liewe Heer,
Die grootheid om die dinge te besef,
en te waardeer.
En as die laaste skadu’s daal, dan slaap
ek sonder vrees
Tussen doring en sering, en die bloekomreus.
Lê my daar weg, sonder smart of ’n enkel traan van rou;
’n Mens se lewe is tog maar ’n voetspoor in die dou. (Volksblad, 12 Mei 1990)
Huldeblyke:
- Abraham H de Vries, ná die verskyning van haar debuutwerk: “Ek het die afgelope tyd min boeke gelees waarin die wonder van vertellery my so gefassineer het: Marais het die gawe om met egte, onvervalste lewensblyheid die leser gevange te hou in ’n landskap, ’n tyd van lank gelede. By die beoordeling van haar werk is dit hoegenaamd nie nodig om die skryfster se jare in ag te neem en dan om dáárdie rede loftuitend te wil wees nie. Evelyn Marais het dit nie nodig gehad nie.” (Beeld, 9 Januarie 1996)
- Dorothea van Zyl: “Die belangrikste waarmerk wat Evelyn Marais se werk dra, is dié van egtheid. In ’n wêreld waar kitsch en kullery die norm geword het, is dit verfrissend om weer ’n keer met die waarheid in al sy fasette te doen te kry.” (Beeld, 9 Januarie 1996)
- Leana Lategan: “Of sy oor skooldae gesels, en of sy oor haar kliphuis onder die bessieboom skryf, al Evelyn Marais se stories is kultuurgoed vir fynproewers. Net soos die kliphuis op Deepwater, wat trots bestand gebly het teen die Engelse soldate wat dit wou afbrand, het dié besonderse skryfster vir Afrikaanse lesers, jonk en oud, ’n rykdom aan herinneringe in haar boeke nagelaat. Om haar effens aangepas aan te haal: Die tuine van ons kinderjare en herinneringe is áltyd ‘groter, guller, oneindig mooier as enige ander tuin’ wat ons ooit sal ken.” (NALN-Nuusbrief, April 1996)
- Sanet Vermeulen: “Ook Evelyn Marais se vele belangstellings en tydverdrywe kom telkens terloops ter sprake. Miskien het alles begin by haar liefde vir boeke, wat sy van haar moeder Frances geërf het. Maar sy het ook ’n uithalerkok en bakster vir die landbouskou geword, ná haar eerste probeerslae uit Mrs Tulleken se kookboek. Met die borduurnaald het sy erfstukke in die vorm van tapisserieë geskep vir die bekleedsels van haar spesiaal-vervaardigde sitkamerstoele, nageteken van dié wat sy in ’n tydskrifartikel oor Prinses Grace van Monaco gesien het. Met die jare het sy ’n tuin vol herinneringe rondom haar huis geplant – die kliphuis ‘onder die bessiehuis’ wat al in die negentiende eeu gebou is, en waar sy een kind verloor en drie sien grootword het. Want in die laaste plek was sy ’n toegewyde eggenote, moeder, ouma en oumagrootjie, soos haar talle nasate vandag nog graag getuig.” (Volksblad, 21 Oktober 2002)
Publikasies:
|
Publikasie |
Die Josefskind |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
(sb) |
|
Uitgewer |
Sl: KN Drukkers |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Huis tussen die rante |
|
Publikasiedatum |
1986 |
|
ISBN |
062462363X (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Outobiografiese vertellinge |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Huis onder die bessieboom |
|
Publikasiedatum |
1990 |
|
ISBN |
9780624028451 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Outobiografiese vertellinge |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Huis van herinnering |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
0624031578 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Outobiografiese vertellinge |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Evelyn Marais:
- Afrikaans se oudste aktiewe skrywer dood. Beeld, 9 Januarie 1996
- Drie skrywers van Bothaville met oorkondes vereer. Volksblad, 12 Augustus 1993
- Evelyn Marais: skryfster op 87. Sarie, 7 September 1988
- Haar 2de boek op 87. Volksblad, 28 April 1990
- In memoriam: Evelyn Marais. Vrydag, 19 Januarie 1996
- Lategan, Leana: Dit was Evelyn se tuin. NALN-Nuusbrief, April 1996
- Nieman, Nols:
- Blomme van herinnering diep gewortel. Volksblad, 12 Mei 1990
- Onder die bessieboom. Saffier, Maart 1996
- Oranje kondig hoofleiers aan. Volksblad, 15 Oktober 2019
- Ouma vereer [foto]. Volksblad, 3 Oktober 2002
- Pillans, Adrie: Sy kry haar pen nie stil. Rooi Rose, 6 Mei 1992
- Steyn, Suzaan: Evelyn Marais skryf tweede boek op 87. Die Burger, 25 April 1990
- Vermeulen, Sanet: Honderd jaar van Vrystaatse herinneringe. Volksblad, 21 Oktober 2002
- Vier dag vir bejaardes met Evelyn Marais. Volksblad, 30 September 2002
Evelyn Marais se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2025-03-28 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


