Evelina se bord

  • 1

“Evelina se bord” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Evelina se bord

Myrna roep ons om te kom opskep. Ek stap in die lapa in waar die potjiekos staan en stoom. Die deurmekaarspul was nog nooit my gunsteling nie, maar wanneer jy in Rome is, dan maak jy maar soos die Romeine. Ek loop na die tafel en daar lê die mooiste blikborde. Dis blomme en patrone, ’n vrolike poging om die deurmekaarkos beter te laat vertoon. My hart ruk en skielik is ek weer vyf jaar oud, terug in my ouma se spens.

“Wat maak jy hier binne?” vra my ouma en loer oor haar bril vir my. Ek ken daardie kyk. Ek is haar naamgenoot en die ongekroonde gunsteling onder die kleinkinders, maar my agterstewe en haar paplepel ken mekaar goed. “Ek soek Evelina se bord, Ouma. Ons het gister pap en marog geëet en sy het die mooiste bord met pienk en blou blommetjies op. Ek wil vanoggend my Weet-Bix daaruit eet.” My ouma se mond trek ondertoe. Ek weet ek het die verkeerde ding gesê, maar weet nie wat dit is nie. “Los vir Evelina uit wanneer sy eet en los haar bord uit.” Dis die finaliteit waarmee die woorde geuiter word wat my skok. Ek is lief vir Evelina en Evelina is lief vir my. Sy het my doeke geruil wanneer my ma by die werk was en ek ken haar al vandat ek myself onthou. Evelina is deel van my familie. Ek gaan sit op die agterstoep en bedink die storie. Dis oor sy spesiaal is, dis hoekom sy die mooiste bord in die huis het, is my gevolgtrekking. Met sorgeloosheid wat net beskore is vir kinders, vergeet ek van die aangeleentheid en gaan na die bure toe om huis-huis te speel.

Kersfees is om die draai. Ek skryf my briefie en versier dit met blomme. “Ek wil graag ’n blikbord met blomme hê,” het my kinderhand met groot sorg geskryf. Om seker te maak dat daar geen onsekerheid is nie, teken ek Evelina se blikbord. Kersfees breek aan. Ek hardloop vol verwagting na die boom toe. Die pakkie wat daar lê, lyk nie asof dit ’n bord in het nie, maar my hart bly hoop. Ek skeur dit met gretige klein vingertjies oop. Dis die mooiste pienk juwelekissie. Daar is ’n fyn ballerina wat draai terwyl daar ’n liedjie speel. My hart sak in my skoene. “Wat is fout?” vra my ma. “Niks nie, Mamma.” Ek gaan sit op die mat en wen die kissie op. Die ballerina draai en die liedjie speel maar dit verlig nie die swaar gevoel in my hart nie. Dis omdat ek nie spesiaal genoeg is nie, sing my hart saam met die ballerina se wysie. Deur die dae hou ek vir Evelina dop. Ek wil sien wat sy doen wat haar so spesiaal maak. Sy is fluks en lag altyd. Ek word ’n modelkind. My ouers en die onderwysers is almal tevrede. My punte lyk goed en ek help almal waar ek kan. Net soos Evelina, glimlag ek altyd, soms ook net met my mond, maar dit moet tel, dink ek.

Ek het vir vier jaar lank vir Kersvader dieselfde brief geskryf. Die daaropvolgende Kersfees het ek ’n Barbie-pop gekry, die jaar daarna was dit Barbie se pienk kar en later haar huis. Die Kersfees toe ek tien jaar oud was, het ek nie meer in Kersvader geglo nie. Ek het vir my ma gesê dat ek weet dat Kersvader nie regtig bestaan nie, en dat ek graag geld wil hê vir Kersfees. “Wat wil jy met geld maak?” het my ma gevra. Ek het verduidelik dat ek graag self na die winkel wou gaan en iets uitkies. Kersfees het gearriveer en ek het my pakkie onder die boom gretig oopgeskeur. Daar was ’n nuwe Saartjie-boek en ’n koevert. Ek het die boek eenkant gesit en die koevert versigtig oopgemaak. Die tienrandnoot het uitgeloer. Die opgewondenheid het binne-in my geborrel. “Wanneer gaan ma weer winkel toe?” Ek kon my opgewondenheid skaars bedwing. My ma het laggend gesê dat sy my lanklaas so gretig gesien het om te gaan inkopies doen. “Ons kan gaan sodra die winkels weer oopmaak.” Dit was die ou dae, toe die wêreld tot stilstand gekom het tydens Kersfees. Alles en almal het Kersfees gevier en jy kon nie eers brandstof gaan ingooi nie.

Die oggend van die 27ste Desember is ek vroeg uit die vere. Ek borsel my tande, kam my hare en trek ’n rok aan. Ek gaan sit in die sitkamer en wag vir die res van die huis om wakker te word. Teen die tyd dat my ma opstaan, het ek klaar vir haar koffie gemaak. “Is ma reg om te ry?” “Carla, die winkels maak eers agtuur oop.” Uiteindelik is my ma klaar en ons vertrek. Ek wip uit die kar en begin na die oop winkeldeur stap. “Haai,” roep my ma uit. “Wag net ’n bietjie.” Sy haal my in en vat my hand. Ek begin op ’n punt en stap rak vir rak deur. My ma is verbaas toe ek die speelgoed en skryfbehoeftes se rakke miskyk. “Wat soek jy!?” vra sy later. “Waar is die borde?” My ma se oë rek. “Moenie vir my sê jy soek nog steeds ’n blikbord nie.” “Kersvader wou nie vir my een gee nie, nou kom koop ek my eie een, self. Met my eie geld.” My ma laat sak haar skouers en lei my tot by die rak met die borde. Daar is bloues, groenes en daar, op die punt, ’n wit bord met blou en rooi blomme. Ek stap nader en tel dit versigtig van die rak af. My hart juig en ek druk die bord teen my bors vas. Ek is te bang om na die etiket te kyk. Wat gaan gebeur as ek nie genoeg geld het nie? R1,99 – daar staan dit, swart op wit. Ek kyk op na my ma. “Kos hierdie bord net R1,99?” My ma skud haar kop. Ek verstaan nie dat so ’n mooi, so ’n spesiale bord minder as R2 kan kos nie. Met die bord teen my bors vasgedruk stap ons na die betaalpunt. Ek gee my R10 vir die vrou en sy gee vir my ’n hoop kleingeld terug. In stilte ry ons terug huis toe.

Ek was te jonk om te verstaan dat die etiket nie die waarde van ’n item bepaal nie. In my hart was die blikbord spesiaal en net beskore vir iemand spesiaal. Evelina was vir my ’n fenomenale vrou. Sy kon alles doen en het die antwoorde geken op al my vrae. Ek het skelm saam met haar pap en marog geëet, want sy het lekkerder kos gemaak as my ouma. Op pad terug huis toe was ek stil in die kar. Later het ek na my ma toe gestap en by haar gaan sit. Sy het aangegaan met haar blokkiesraaisel. Ek het gekou aan die vraag. Ek het geweet wat ek wou vra, maar het nie die regte woorde gehad nie. Na ’n rukkie het ek gesê: “Ma, hoekom het Evelina ’n spesiale bord?” My ma het haar potlood neergesit. Ek kon nie besluit of sy vies of verleë was nie. “Dis vir die huishulpe; hulle het sulke borde.” “Hoekom?” het ek gevra. “Carla, ek het nie die reëls gemaak nie; ek volg hulle net.” My ma het haar potlood opgetel en aangegaan met haar raaisel. Ek het kamer toe gestap en my skat onder in my hangkas gaan bêre. Dit het nie meer gevoel of ek ’n prys gewen het nie. Dit het gevoel of ek iets verloor het, maar ek het nie geweet wat nie.

Ek was vyftien toe die land op sy kop gekeer is. Daar was mense wat bly was en ander was kwaad. Sommige mense se woede het hulle vrees amper toegesmeer, maar onder die tirades het die bang uitgeloer. Ek het gesit en luister na die kinders by die skool. Net gekyk en geluister. Jy kon sien wie se ouers was bang en wie se ouers was bly. Die bang en die bly kinders het in hewige woordewisselings betrokke geraak en soms was daar ’n vuis of twee. Terwyl ek eendag tydens pouse die gekkespul so sit en bekyk, kom sit daar ’n maer, bang kind langs my. “Wat dink jy?” vra sy. “Van wat?” antwoord ek. “Van die dat almal nou mag stem?” “Ek het gedink dat almal nog altyd kon stem.” Sy het haar kop geskud, opgestaan en weggestap. “Dis mense soos jy, mense wat nie weet waaroor die lewe gaan nie, wat ons in hierdie moeilikheid gaan hou,” het sy gemompel. Ek het geweet dat ek op vyftien nie al die antwoorde gehad het nie, maar ek was meer bewus daarvan dat ons nie die regte vrae gevra het nie.

Die wet het verander toe ek sestien jaar oud was en op papier was ons almal nou dieselfde. ’n Mens kan egter nie ’n wet in iemand se hart skryf nie. Daarvoor het jy ’n ommekeer nodig.

Ek kyk na die mooiste, bontste blikborde wat langs die potjiekos staan. Dit kos nou ’n plaas se prys en jy kry ontwerper-blikborde. Daar is kunswerke wat uit die bekers gemaak word. Hulle word verkoop met vetplante in en kry kentekens op. Mense maak dit vol met die duurste koffies en gee dit as geskenke. Dié wat vandag op die tafel lê, het ’n groot taak wat op hulle wag, dink ek. In my opinie is daar niks wat die deurmekaarspul in die pot na iets gaan laat lyk nie. Die blikbord het gereis van ’n donker spenshoek tot op die bes gedekte tafels. As die nederige bord so ’n ommekeer kon maak, kan ons ook.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top