Eveleen Castelyn (1928–2004)

  • 0

Gebore en getoë

Eveleen Castelyn is op 17 Junie 1928 op Schweizer-Reneke in die Wes-Transvaal gebore. Haar vader, Jan Pretorius, was stadsklerk op Schweizer-Reneke, waar Elisabeth Eybers, of Buddy soos haar vriende uit haar kindertyd haar genoem het, en Irma Stern ook grootgeword het. Op haar tuisdorp het Eveleen vlegsels gedra en botterblomme in die veld gepluk. 

Na die dood van haar vader in 1939 het die gesin na Pretoria verhuis, waar sy aan die Laerskool Pretoria-Oos skoolgegaan het. Sy het in 1946 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na skool kry sy opleiding aan ’n privaatkollege, en vanaf 1947 tot 1952 het sy snelskrif aan ’n privaat handelskollege, Lief’s Kollege gedoseer.

In 1950 is sy getroud met Hermanus Christoffel Castelyn (Cas) wat professor in opvoedkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika was. Twee seuns, Jan en François, is uit die huwelik gebore. Cas is in 2003 oorlede.

Eveleen se skryftalent het al in 1957 sy kop uitgesteek toe sy ’n kinderboekie, Gladde Jan en ander stories vir kleuters, by Afrikaanse Persboekhandel gepubliseer het. In 1961 het Stories vir die kleingoed verskyn.

Eveleen se eerste gedigte het in die 1970’s in Tydskrif vir Letterkunde verskyn. Sy was tot 1978 vir vyf jaar lank lid van die skakelredaksie van hierdie tydskrif en van haar gedigte is ook in Standpunte gepubliseer.

Haar eerste digbundel, Tussen hemel en aarde, het sy op ’n bloedrooi tikmasjientjie, “met die melancholie van die Wes-Transvaalse stofwinde in haar hart”, geskryf – aldus Marie Puth (Volksblad, 2 Junie 1979). Die bundel wat in 1978 gepubliseer is, het in 1979 die Eugène Marais-prys vir die beste debuutpublikasie van 1978 verower.

Haar reaksie op die prys wat sy ontvang het, was: “Of ek dit verdien, weet ek nou nie.” Maar, skryf Marie Puth, die bundel het van sy begin af ’n roemryke paadjie geloop, in goeie geselskap. Die skryfslag is dopgehou deur Elisabeth Eybers, wat die skrywery vanuit Amsterdam aangemoedig het.

Ronèl Johl (Volksblad, 23 Desember 1978) beskou Eveleen se debuutbundel as die bemoedigendste van 1978 se debuutbundels. “Die soberheid waarmee stof gehanteer is wat hom maklik tot melodrama kan leen, die meestal nugtere toon van die gedigte, staan in skerp kontras tot heelwat jeugdig oormoedige debute waarin die eksperimenteerlus en die ekspressiewe emosionele adjektiewe vir en beelde van liefde en pyn onbeheers voortwoeker.

“Nie dat Castelyn grootse en omvattende waarhede op verbluffend behendige wyse hanteer nie, want sy vind haar waarhede in die krisisse van klein alledaagse oomblikke. Die feit dat sy egter nie haar hand oorspeel nie, maar die gegewens en middele waaroor sy beskik, gemaklik en dikwels kundig hanteer, maak die debuut ’n waardige buiging.

“Soos die bundeltitel aandui, werk die digteres met die klassieke kontraste hemel-aarde en sy uitlopers; heilige-profane, ideaal-werklikheid, gister, vandag, hier en weg. Dit is essensieel poësie oor die mens gesuspendeer in afwagting tussen hemel en aarde – ’n doodsafwagting, want byna die helfte van die gedigte hanteer die mens in sy kontak met die dood, hetsy deur die dood van geliefdes, of deur die deur-siekte-geteisterde mens, deur oorlog, begrafnis of grafbesoeke, histerektomie en stilgeboortes. (...) Die subtiliteit waarmee die wendinge en oorgange soms in gedigte bewerkstellig word, kan mettertyd een van dié bates van Castelyn se digterskap word. ’n Mens sien uit na haar volgende bundel.”

In Die Transvaler van 25 November 1978 skryf AP Grové: “Die titel van hierdie bundel kan die verwagting wek dat ons hier met metafisiese poësie te make het, of dan poësie wat ontspring uit ’n tyd-ewigheid-spanning. En tog is dit nie die geval nie. Hierdie poësie is gerig op die aarde en die aardse leed, die dinge wat hier en nou die geluk en welsyn, die ‘hemel’ van die mens bedreig – liggaamlike en geestelike kwellings van verlange, eensaamheid, siekte en dood, met daarby die gejaag na rykdom wat die klein geluk van huis en haard vernietig.

“Vandaar die telkens terugkerende tema van die mens as die gekwelde, die verwonde, die ontnugterde. Kortom, dis ’n poësie vol bekommernis om die mens in nood, en hierdie bekommernis word gegee met ’n gevoeligheid, gepaardgaande met ’n wyse aanvaarding wat selde in ’n debuutbundel aangetref word. Maar ’n digter is nie ’n digter omdat hy gevoelig, of wys of berustend is nie; hy is ’n digter omdat hy kan vorm en dus in staat is om eie sentimente, insigte of ervarings tot objektiewe werklikheid te maak in ’n taalbouwerk wat ons ’n gedig noem. Dit weet die digteres en dié wete demonstreer sy in gedig na gedig.”

Vir Hilda Grobler is Tussen hemel en aarde (Hoofstad, 19 Oktober 1978) ’n besonderse debuutbundel “aangesien die digteres oor ’n digterlike vaardigheid, ’n vormdissipline en versvaardigheid beskik wat ’n mens nie dikwels in ’n debuutbundel (of in opvolgbundels) teëkom nie. Nie alle verse staan egter op dieselfde peil nie en nie alle verse getuig van dieselfde vormbeheer nie, maar die oorgrote meerderheid getuig wel daarvan.”

In Rapport van 8 Oktober 1978 is André P Brink se mening oor Tussen hemel en aarde soos volg: “Die werk is nie grootsopgesette poësie nie, maar tog werk wat, op sy beste, ’n sjarmante verbeelde nostalgie vertoon, of anders ’n gedempte wrangheid. In weerwil van heelwat ydelheid is dit ’n werklik verdienstelike debuut wat van prysenswaardige digterlike selftug getuig en waarin ’n netjiese beeldsintuig en ’n sin vir kontraste (soms alte vlak, maar dikwels heel fyn) blyk. In sy geheel: sjarmant.”

Menslikerwys gesproke is Eveleen se tweede bundel, wat in 1984 deur Human & Rousseau gepubliseer is.

Vir TT Cloete (Vaderland, 3 September 1984) is die duidelikste eienskappe van hierdie bundel soos volg: “Eerstens die mens as reisiger of as ingestel wees op die reis, en tweedens die omtower van die gewone werklikheid met ’n handomkeer in die ongewone. Hierdie twee sake hou in die beste gedigte met mekaar verband. Die reis gaan dikwels van die gewone na die ongewone, van die aardse na die ewige, van die reële na die irreële. [...] Ons sou ook kon praat van die gedigte van die oop ruimte in Menslikerwys gesproke. Hierdie oop ruimtelikheid skep die moontlikheid dat daar so maklik van die reële na die irreële, van die aardse na die hemelse beweeg kan word. In ’n sekere sin is dit tegelyk ’n saak van perspektiwiese maneuvers in hierdie gedigte.

“Dan is daar ’n derde kategorie gedigte wat nou aansluit by die genoemde twee van hierbo, naamlik die siening van die mens in ’n wrede werklikheid. [...] ’n Verdere deurlopende verskynsel in die bundel is die ironie of wrange humor [...] Eveleen Castelyn het ’n besondere debuut gemaak. Nou, geruime tyd later, verskyn haar tweede bundel. Sy het nie oorhaastig te werk gegaan nie en ’n tweede baie suiwer bundel uitgegee wat heelwat nuwe aspekte tot haar poësie toevoeg.”

In Beeld (3 September 1984) skryf M Nienaber-Luitingh: “Dat die digteres ná die welslae van haar eerste bundel so lank gewag het voordat daar ’n nuwe bundel van haar verskyn het, wek die vermoede dat sy nie haastig was om haar poësie aan die openbaarheid prys te gee nie, maar dat ’n besluit om te publiseer vir haar ’n wel oorwoë keuse beteken. Menslikerwys gesproke is dan ook ’n versameling gedigte wat sowel tegnies as tematies ’n verrassende rypheid openbaar. Die titel suggereer ’n relativerende vermoë: die mens wat in dié gedigte aan die woord is, praat met ’n heldere besef van eie menslike beperktheid. [...] Eveleen Castelyn skryf ’n erudiete, gedronge, beeldryke poësie wat gekenmerk word deur ’n sterk suggestiewe woordgebruik en ’n duidelike voorkeur vir die metafoor en die regstreekse naas-mekaar-plasing van beeld en werklikheid bo die gewone vergelyking. [...] ’n Mens sou nog graag wou verwys na die mooi gedigte oor huweliksliefde (‘Landingstuig’, ‘Danseur noble’), maar die ruimte ontbreek om reg te laat geskied aan hierdie merkwaardige bundel – myns insiens een van die beste Afrikaanse digbundels wat in die laaste jare verskyn het.”

“Eveleen Castelyn dig met ’n selfversekerdheid,” skryf Joan Hambidge (Transvaler, 25 Julie 1978). “Wanneer sy onderwerpe ontgin wat binne haar lewenservaring val (die dood van ’n geliefde; verlange; alledaagse ervarings), lewer sy lesenswaardige poësie op wat nie onderskat moet word nie.” Castelyn lewer in hierdie bundel nogmaals bewys van haar vermoë om ’n knap mineuragtige vers te skryf wat nie in sentimentaliteit ontaard nie.

Volgens EP in Pretoria News (25 Oktober 1984) is die titel van Menslikerwys gesproke tekenend van die persoonlike stem in haar verse. Haar blik op die lewe is ironies, maar sy skryf met ’n diep sin van haar eie betrokkenheid in die hoop en angste van haar medemens. Sy skryf oor dié dinge wat die mens daagliks aanraak: die vreugde en verdriet van ’n ma, ’n eggenoot, vriendin en buurvrou; om te sien hoe jou kinders grootword en weggaan – om diensplig op die grens te gaan doen of om ver van die huis af te gaan woon; van siekte en dood; van die huis. “It is her abiding awareness of the ‘still, sad music of inhumanity’ - of man’s incapacity to absorb lessons of history or break the cycle of self-destruction which every succeeding generation seems bent on pursuing – that gives her poetry its intensively individual character as well as its wide range of appeal.

“The poems in the volume are grouped roughly according to theme, mood or the events (such as the war in Angola) which prompted them. As motto to one section she quotes Munch’s comment: ‘Art grows out of grief and joy, but mainly grief. It is born of people’s lives’, and this is at once a measure of her seriousness as an artist and a pointer to the ironic juxtapositioning of joy and sorrow which she sees as inseparable from the human condition. Though her poems are rooted in the particular and the immediacy of the moment, she draws upon an impressive array of reading – and an uncanny talent for the incongruous in human behaviour – to achieve a remarkable resonance and impact. [...] It is heartening to see, in the work of writers such as Eveleen Castelyn, how Afrikaans poetry is responding to the challenge – and the stress – of rapid change in a modern world, without losing touch with its traditions or with the living language out of which it is created, and which it constantly creates anew.”

Eveleen se derde digbundel, Minder as die engele, het in 1990 verskyn – ook by Human & Rousseau, soos haar vorige bundels. ’n Belangrike vesel wat deur hierdie bundel loop, is volgens PH Roodt (Transvaler, 14 Februarie 1991) ’n korpus verse wat te doen het met die intiem huislike, man, kinders, kleinkinders, gesondheid en persoonlike geluk. “Opvallend hier is die bewus wees van die verbygaan van die tyd. Môre is die kosbare ’n herinnering. Dit bring nostalgie en weemoed, maar paradoksaal word dit nou durend vasgevang in die woord. [...] ’n Ander belangrike groep verse het met die dood te doen. Van die beste dodeverse in Afrikaans staan in hierdie bundel. Dit kulmineer in die roerende reeks van vyf ‘Kinder-Totenlieder’ – ’n hoogtepunt in die elegiese in ons taal. En tog, al is die dood oral teenwoordig, sal ek dit nie ’n bundel van die somberheid noem nie. Daar is baie lig en warmte en klinkklare ervaring; en ook dit is uiteindelik die lot van die mens: hy leef, hy droom, hy sterf.

“Eveleen Castelyn skryf ’n helder, direkte vers wat ritmies gemaklik verloop; dit is toeganklik en probeer nie groot doen nie. Die aantreklike lê in die groot emosionele register wat met fyn tug in beheer gehou word. Dit getuig van ’n vol lewe en ’n ryk innerlike.”

Riana Scheepers (Rapport, 23 Desember 1990) meen dat dit veral die engel-motief is wat sy vlerkgeruis dwarsdeur die verse in Minder as die engele laat hoor. “In ’n aanhaling uit Hebreërs 2 (wat ook een van die bundelmotto’s is) word die mens verheerlikend as ‘’n weinig minder as die engele’ genoem. Castelyn kortwiek egter die mens in sy aardse bestaan onomwonde tot ‘minder as die engele’. En dan verál die mens wat die mindere is van die doodsengel wat by name sy verskyning op ’n paar plekke in die bundel maak. Die aangrypendste gedig in dié verband is ‘Vendetta’ met die treffende slotreëls:

          die dood is nooit ver nie
          en sy toneelrekwisiet
          staan altyd oop-deksel
          eenkant in die teater.

“Heelwat van die gedigte word bevolk deur oumense wat die dood afwag (vergelyk ‘Bestemming’ en ‘As Hy weer kom’). Die digter self is een van die wagtendes [...]

“Teenoor die droë bene (p 30) van die volwasse mens, stel Castelyn haar kleinkinders voor as regte engeltjies [...] ’n Ouma wat oor haar kleinkinders skryf het menslikerwys gesproke die reg om sentimenteel te raak. Castelyn besef gelukkig dat dit poëties nie altyd geregverdig is nie, en systap hierdie vangstrik behendig. Die gedigte tref vanweë hul getemperde gevoeligheid, en selfs humor. [...]

“Castelyn se grootste bate, naamlik toeganklikheid, hou ook gevare in. Plek-plek gaan die verse te gemaklik hul veerligte gang. [...] Nog ’n simptoom van die gemaksug wat hierdie verse bedreig, is die herhaalde tegniek van die inventaris. [...] Minder as die engele maak ’n oorwegend gunstige indruk. [...] Eveleen Castelyn is ’n eerlike digter wat weet hoe om ’n goeie, afgeronde gedig te skryf. Sy weet ook hoe om bundeleenheid te bewerkstellig deur middel van herhalende beelde en motiewe wat deurgaans in nuwe en verrassende gedaantes na vore tree.”

Vir Joan Hambidge (Transvaler, 25 Julie 1985) is die bundel ’n besonder deurgekomponeerde teks, terwyl die titel en voorblad haar reeds bewus maak van die spanning tussen menslikheid en suiwerheid wat in hierdie bundel voltrek word. “Hierdie tussen hemel en aarde-posisie van ons menslike kondisie is iets wat Castelyn van meet af aan interesseer. By die lees van Minder as die engele het hierdie leser opnuut onder die indruk gekom van haar digterskap. Nie ’n meesleurende of opdringerige stem is hier aanwesig nie: eerder ’n delikate, amper mineuragtige én ‘self-effacing’ digter kom hier aan die woord. Dit het ongelukkig die gevolg dat ’n mens – soos die kritici al gedoen het – haar styl as ‘prosaïes’ kan afmaak. Dat ons wel hier ’n ryper vrou aantref, is so. Ek is net altyd ’n bietjie versigtig om die woord alledaagse te gebruik wanneer ons dit het oor die digkuns. Dit is tóg die digter se werk om die ánderse in die eenderse raak te sien: die afwysing in die alledaagse? [...] Vir my is die sleutel tot Eveleen Castelyn se poësie geleë in die oënskynlik eenvoudige aanbod.”

TT Cloete se hoë dunk van Castelyn se digterlike vakmanskap spreek duidelik uit sy resensie van Minder as die engele in Beeld van 26 November 1990. “Minder as die engele is Eveleen se derde en tot dusver beste digbundel, met ’n diepsinnige kyk op die menslikheid en ’n waardeskatting van sy situasie, baie konkreet beskou en gestel in eenvoudige taal en beelde. [...] Met ’n skerp sosiaal-kritiese oog word gekyk na die verydelde mens wat baie besit en aanskaf.”

Cloete skryf oor die reeks “Haikoes” dat dit intiem tuishoort by die ander gedigte van die skerp oog: “Die haikoe roep in ’n flitsende moment ’n helder, ook selfs wye gesig, op, dikwels na aanleiding van ’n geringe detail.

“Die knappe is dat Eveleen Castelyn dit reggekry het om die mens as mindere te beskryf sonder dat dit uitgeloop het op somber, swaar poësie, danksy haar sin vir die ironie en humor. Omdat die mens ’n verloorder is op vele terrein, is die behoefte aan oorlewing baie sterk by hom. Dit kom in verskillende gedigte ter sprake. [...] Die taal van die gedigte is baie gemeensaam, as integrale deel van die humor en ironie. Die gemeensame taal gee aan die gedigte ’n baie hoë ‘werklikheidsgehalte’ of ‘lewenswaarheid’. [...] Alles word so gewoon en natuurlik gesê in verse wat so vlot en gemaklik verloop dat ’n mens skaars daarvan bewus is dat jy verse lees. Dit temper ook die erns. Die humor en ironie lê onder meer in hierdie nonchalante taal wat in die hoogste erns praat. ‘Yesterday’ is ’n uitstekende voorbeeld van hierdie gemeensame taal end-uit, of ‘Hit-squadlys’, waar die kombinasie doodluiterse praattaal en dodelike erns op ’n spontane manier saamloop. Minder as die engele is die poësie van ’n meerdere onder die digters en ’n hoogtepunt in hierdie jaar wat ten einde loop.”

Eveleen se laaste digbundel was Kubermens, wat nege jaar na Minder as die engele in 1999 gepubliseer is.

In hierdie bundel laat val sy die fokus op die wyse waarop die mens besig is om te evolueer tot rekenaar en die rekenaar besig is om steeds meer menslik te word, aldus Louise Viljoen (Rapport, 5 September 1999). Viljoen is van mening dat wanneer ’n mens probeer om Castelyn se werk binne die Afrikaanse poësie te plaas, dit opmerklik is dat haar werk tematies en stilisties verwant is aan dié van vrouedigters soos Ina Rousseau, Elisabeth Eybers en Lina Spies. “Hoewel sy ’n losser en meer beskeie vers skryf as dié digters, val die vindingrykheid van haar woordgebruik en die varsheid van haar beelde ’n mens op: ná ’n verwoestende storm lyk die lug soos ‘’n dikgehuilde oog’. Die verse is delikaat eerder as groots, soms onverwags warm in hul sintuiglikheid. Ten slotte lê Castelyn se bydrae tot die Afrikaanse poësie veral in haar vermoë om verse te skryf wat byna deursigtig is in hul eenvoud, maar telkens met ’n tweede lees ’n fyn deurdagte vakmanskap verraai. Op hierdie manier kry sy dit reg om sowel die gewone leser as die kenner aan te spreek.”

In Volksblad (13 September 1999) beskou Bernard Odendaal hierdie nuwe bundel van Eveleen as ’n voortdigting oor die bekende temas in haar oeuvre. “Dit bevat soms werklik pragtige natuurverse; ook verse oor die geborge huweliks- en gesinslewe, op grond waarvan die gemis aan kinders en kleinkinders wat oorsee vertrek het, erg gevoel word. Daar is gedigte oor die beproewinge van veroudering en die gepaardgaande ongesteldhede; oor die afsterwe van familie, vriende, kennisse. [...]

“Die sentrale motief van haar werk is die dilemma van ons menslikheid: Die spanninge wat ons beleef tussen lewensekstase en angs, tussen glorie en skande. [...] Kubermens plaas die oormoedige mens, die mens van die tegnologiese era wat hom weens sy wetenskaplike vernuf in beheer van sy lot en van die wêreld om hom waan, in die kollig. [...]

“Castelyn skryf meestal vrye verse – dikwels lang, aaneengeskakelde sinskonstruksies – wat kragtig oor die versreëleindes enjambeer. Om hierdie redes, maar ook weens die spaarsamige leestekengebruik (punte is in Kubermens heeltemal afwesig), maak haar gedigte ’n indruk van vaart, van ’n sekere ‘onafheid’. Dit is bowendien eerder persoonlike gewaarwordings, gevoelstoestande, sintuiglike indrukke en onmiddellike reaksies wat verwoord word – waarby die haikoes, tankas en losserige kwatryne uiteraard aansluiting vind. ’n Mens sou Castelyn se verse in hierdie sin as die terloopse noteringe van die lewe (lewenservaringe) van ’n gewone mens kon tipeer, iets soos dagboek- of joernaalinskrywings.

“Naas talle verwysings na ander skrywers en tekste, is dit veral die korrespondensies met TT Cloete en Elisabeth Eybers se werk wat in Castelyn se poësie opval. Haar bydrae is weliswaar ’n meer beskeie bydrae tot die (Suid-)Afrikaanse poësieskat as dié groot digters s’n, maar ’n onmisbare.”

Joan Hambidge resenseer Kubermens vir Die Burger van 25 Augustus 1999: “Kubermens was die wag werd. Eveleen Castelyn is ’n suiwer digter sonder wie die Afrikaanse letterkunde veel, veel armer sou gewees het. Haar gedigte het nog altyd beïndruk om hul eenvoud, die praattrant en ironiese selfvermindering wat ’n skerp blik op menslik lyding en bedrog meebring. Haar jongste bundel is ’n klein kragtoer. Kubermens bepaal die invloed van die moderne media soos rekenaars, e-pos, televisie en die internet op ons psiges, en in welke mate dit die binneste domein van die mens aangetas en verander het. [...] Die bundel bevat onpretensieuse, egte verse wat die menslike kondisie besê. Sy dig dan ook na die soeke van liefde (‘Begin van ’n dag’) en seksualiteit.”

Volgens HJ Pieterse (Beeld, 6 September 1999) laat Castelyn in hierdie laaste bundel die teks groter en kleiner ruimtes, van die mens en van die kosmos, aanspreek. Die bundel bevat talle sterk verse en staan op dieselfde hoë vlak as haar vorige bundels.

Volgens Marie Puth, wat in 1979 ’n onderhoud met Eveleen gevoer het, was haar lewe en haar huis vol van mooi goed – skilderye van Bettie Cilliers-Barnard en Sakkie Eloff, Persiese tapyte, geelhout uit die Kaap, en die mooi van antieke Oosterse porselein en Delft. Op daardie stadium het sy meestal oggende geskryf en die res van die tyd was sy vry om vir haar seuns, wat toe nog klein was, ma te wees. Van haar grootste belangstelling was die Afrikaanse en wêreldletterkunde. Sy het ’n goeie leeskennis van Duits en Frans gehad en was lief vir die werke van onder andere Hemingway, Hardy, Maugham, Camus en Kafka en ook die dramas van Beckett, Tsjechof, Brecht en die Nederlandse digters Kloos, Marsman en Achterberg.

Op 5 Desember 2004 is Eveleen op 76-jarige leeftyd in haar huis in Menlopark in Pretoria oorlede nadat sy ’n paar maande siek was. Sy word oorleef deur haar twee seuns, Jan en Francois, hulle eggenotes en vier kleinkinders.

Eveleen Castelyn se skoondogter, Elize, het haar beskryf as ’n ouma wat besonder lief was vir haar kleinkinders: “Sy het vir al haar kleinkinders gedigte geskryf in haar unieke styl. Sy was baie siek die laaste tyd.”

In ’n huldeblyk in Die Burger van 11 Desember 2004 skryf Joan Hambidge dat Eveleen se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde veral lê in die haikoe en die tanka, wat sy meesterlik bedryf het. “Ook haar verse oor kleinkinders, siekte, ouderdomsaftakeling en naderende dood verdien vermelding. Sy is die digter van die mineurstem en teer waarneming. Haar verse is melancholies. In ’n laaste brief aan my (27 Februarie) skryf sy: ‘Ek is nou net ’n halwe mens wat nooit weer heel sal wees nie. Ek mis hom elke dag meer.’

“En dit is hierdie intieme gesprekke tussen geesgenote wat sy onder meer so voortreflik verwoord het: Jy dra ’n silwer kransie gevleg om jou kop oorwinningsteken in die marathon-wedloop tussen ouderdom en dood.

“In ’n ander pragtige tanka, ook uit Kubermens, skryf sy soos volg oor die verlange na haar kleinkinders: Die lekkerruikseep en die bottels groen sjampoe het agtergebly – die geur van my kleinkinders talm nog in die leë huis. [...]

“Die kortstondigheid van geluk en volmaaktheid is ook ’n deurlopende refrein in haar digterskap. In ‘Tristesse’ (Minder as die engele) skryf sy só oor verdriet: triestigheid sit vanmôre soos ’n drel op my dreskas. En sy beskryf die ‘Verlepte monde’ van die rose, wat weer inspeel op haar voortreflike haikoe later in die bundel: Roosblare bêre hartvormig in diep laaie die as van liefde.

Bon voyage, Eveleen Castelyn

Liewe vrou,
met smartsiek oë, 
wat verlange na jou kleinkinders
en seuns in verre, verre lande 
soos Brasilië of Nederland 
só eenvoudig-aangrypend kon vertolk, 
daar waar jy nou is, 
lees hulle jou haikoes
en ruik hulle die geur van jou klein soenoffers? 
Dalk minder as die engele mag jy glo, 
afgesluit van liefde of haat
sal ons steeds saans die séance
vir al jou verlore, vertrekkende geliefdes oproep. 
Dalk sal ons minder bly uitstel, 
leef vir die tevergeefse oomblik, 
op ’n soekende kuberreis
tot stilte kom. 
As jy vanaand vir Cas sien, 
jou Sjinese mandaryn, 
sê vir hom ek bewaar 
sy bottel Franse sjampanje
net tot en met sonsopkoms. Op 
’n vol en gulle samesyn.”

Joan Hambidge (LitNet)  

In die Vlaamse blad, Poëziekrant van September 1996, skryf Luc Renders só oor Eveleen Castelyn se poësie: “Castelyn se poësie draai om die menslike gemis, die ongrypbaarheid van die geluk, die onbereikbaarheid van die paradys ... En menslike beperkthede.” (Boekewêreld, 18 September 1996)

Publikasies:

Publikasie

Gladdejan, die seepmannetjie en ander stories vir kleuters

Publikasiedatum

1957

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Stories vir die kleingoed

Publikasiedatum

1961

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Tussen hemel en aarde

Publikasiedatum

1978

ISBN

0798108177 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Eugène Marais-prys 1979

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Biografie uit te snuffel in bundel. Oggendblad, 1 Februarie 1979
  • Brink, André P: Want die mens sien die hemel nie raak. Rapport, 8 Oktober 1978
  • Grobler, Hilda: Castelyn se debuutbundel Tussen hemel en aarde getuig van vormbeheer. Hoofstad, 19 Oktober 1978
  • Grové, AP: Belangrike debuut. Transvaler, 25 November 1978
  • Johl, Ronèl: Subtiliteit dalk nog haar grootste bate. Volksblad, 23 Desember 1978
  • Kannemeyer, JC: Castelyn se herdigting van sprokie slaag gedeeltelik. Beeld, 4 Junie 1992
  •  Scholtz, Merwe:
    • Debuut bundel mooi, sensitief. Oosterlig, 28 November 1978
    • Scholtz, Merwe: Debuutbundel mooi en sensitief. Beeld, 16 Oktober 1978
    • ’n Sensitiewe bundel. Die Burger, 19 Oktober 1978
  • Taljaard, PC: Writer of promise. The Friend, 6 Januarie 1979

 

Publikasie

Menslikerwys gesproke

Publikasiedatum

1984

ISBN

0798117230 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Brink, André P: Bekende dinge het hier versteen. Rapport, 28 Oktober 1984
  • Cloete, TT: Menslikerwys gesproke: wye perspektief in suiwer bundel. Vaderland, 3 September 1984
  • EP: Eveleen Castelyn ... a humane, ironic vision. Pretoria News, 25 Oktober 1984
  • Hambidge, Joan: “Mooi” kuns uit die afgryslike, onuitstaanbare ... Transvaler, 25 Julie 1985
  • Hugo, Daniel: Poësie getuig van vakskap. Volksblad, 1 September 1984
  • Nienaber-Luitingh, M:
    • Castelyn se bundel toon rypheid. Oosterlig, 31 Desember 1984
    • Castelyn-bundel is een van die bestes. Beeld, 3 September 1984
    • Een mooie dichtbundel van Eveleen Castelyn. Zuid-Afrika, Maart 1987
  • Subtiele en oorwoë verse. Die Burger, 18 Oktober 1984

 

Publikasie

Minder as die engele

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798127317 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Cloete, TT:
    • Poësie van ’n meerdere onder digters van dié jaar. Volksblad, 1 Desember 1990
    • ’n Skerp oog en raak taal. Beeld, 26 November 1990
  • Minder as die engele. Exclusive Communique, Oktober/November 1990
  • Olivier, Fanie: Bitterheid oor die ellendige toestand van mens-wees. Vrye Weekblad, 3–9 Mei 1991
  • Roodt, PH: Castelyn se verse is ryk. Transvaler, 14 Februarie 1991
  • Scheepers, Riana: Castelyn eerlik en toeganklik. Rapport, 23 Desember 1990
  • Van Vuuren, Helize: Flets en effe leweloos. Die Burger, 4 Junie 1991
  • Van Zyl, Ia: Toonbeeld van gevolge van rymlose verse. Die Republikein, 15 Februarie 1991

 

Publikasie

Kubermens

Publikasiedatum

1999

ISBN

0798139226 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hambidge, Joan: Ryp ouer digter se kragtoer verryk. Die Burger, 25 Augustus 1999
  • Le Roux, André: Sarie boeke. Sarie, 20 Oktober 1999
  • Odendaal, Bernard: Castelyn dig oor bekende temas. Volksblad, 13 September 1999
  • Pieterse, HJ: Sterk gedigte oor menswees en kosmos in nuwe Castelyn-bundel. Beeld, 6 September 1999
  • Viljoen, Hein: Van wandelaar tot kuborg: tegnologie en identiteit by Nijhoff, Van Wyk Louw en Eveleen Castelyn. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 2005
  • Viljoen, Louise: Castelyn lewer in dié bundel kommentaar op “Homo Komper”. Rapport, 5 September 1999

 

Artikels oor Eveleen Castelyn

  • Hambidge, Joan:
  • Klaradyn: Evelyn verower debuutprys. Transvaler, 15 Mei 1979
  • Pretorius, Rena: Ons onthou ... Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 2005
  • Puth, Marie: Skryfster versamel kosbaarhede. Volksblad, 2 Junie 1979
  • Swart, Clayton:
    • Digter Eveleen Castelyn oorlede. Volksblad, 6 Desember 2004
    • Digter Eveleen Castelyn sterf tuis in Pretoria. Beeld, 6 Desember 2004
    • Eveleen Castelyn op 76 oorlede. Die Burger, 6 Desember 2004
  • Vir húlle was 2004 die laaste jaar. Beeld, 21 Desember 2004
  • Vlaamse blad skryf oor Castelyn. Boekewêreld, 16 September 1996

Bespreking van gedig “Hansie en Grietjie”

  • Du Plessis, Sonia: Gedigverkennings vir Afrikaans tweede taal. Klasgids, Mei 1998
  • Hugo, Riëtte: “Hansie en Grietjie”: ’n variasie. Klasgids, Februarie 2002
  • Kannemeyer, JC: Castelyn se herdigting van sprokie slaag gedeeltelik [gedig “Hansie en Grietjie”]. Beeld, 4 Junie 1992
  • Levinson, Sollie: Verskuns graad 10-12 – addisionele taal. Klasgids, Oktober 2002
  • Lewis, JH: “Japan” en “Hansie en Grietjie” uit Onder die reënboog. Klasgids, April 1998
  • Pieterse, Henning: Voorgeskrewe poësie. Klasgids, Mei 1992

 Bespreking van gedig “Foto-verhaal”

  • Komrij, Gerrit: Trou moet blijcken. NRC Handelsblad, 6 Januarie 2000

Eveleen Castelyn se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-07-15 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top