Eve deur Cat Bohannon: ’n resensie

  • 0

DNA-prent: Vika Glitter op Pixabay; boekomslag: verskaf

.........
Maak nie saak hoe oopkop jy dink jy is nie, wees voorbereid om jou denke te laat omdolwe.
............

Eve: the real origin of our species
Cat Bohannon
Penguin Random House
ISBN: 9780345813299

Akademiese tekste kan baie droog, en durf ek dit sê, vervelig wees. Dis so maklik vir wetenskaplikes om in vakterminologie te verval en die gemiddelde leser baie ver agter te laat, veral as dit boonop ’n lywige teks is.

Lywig is Eve: the real origin of our species deur Cat Bohannon beslis. Dit beslaan 436 bladsye teks, en dan ’n verdere 56 bladsye notas tot die voetnotas, 86 bladsye vir die bibliografie en ’n verdere 26 bladsye vir die indeks. Wie het gesê: “This book, by its very length, defends itself against the danger of being read?” Tog slaag Bohannon daarin om hierdie onwetenskaplike leuk vasgevang te hou van bladsy 1 tot bladsy 495. Ek het nie die bibliografie en indeks gelees nie.

Bohannon skryf so onderhoudend en toeganklik, ’n woord wat ek weet baie resensente verpes, dat dit heeltemal moontlik is om te vergeet dat hierdie ’n akademiese teks is. Ek wóú die voetnotas lees, want dit lig die teks toe. Ek moes na die notas aan die agterkant gaan, omdat dit in gesprek is met die voetnotas. Dit het nie gevoel asof ek besig is om Everest uit te klim met te min suurstof en te veel bagasie, soos wat so baie akademiese geskrifte mens laat voel nie. Een bron van frustrasie? Bohannon het, om redes wat ek nie begryp nie, nie die notas gemerk sodat die leser weet na watter voetnota sy verwys nie. Ek moes elke keer heen en weer blaai tussen die voetnotas en die aanvullende notas om sin te maak van haar argument.

Dis heeltemal moontlik om jouself daai frustrasie te spaar deur nie die voetnotas en die aanvullende notas te lees nie. Dit sal steeds ’n verrykende ervaring wees en jou met heelwat stof tot nadenke laat. Bohannon se sukses lê egter tot ’n groot mate daarin dat sy die teks laat voel soos ’n gesprek met ’n maat oor ’n koppie tee, en die voetnotas is brokkies skindernuus wat die gesprek net daai ekstra zieng gee.

Die basies vraag wat sy probeer beantwoord, is aan wie en wat evolusie toegeskryf behoort te word. Tot nou toe het wetenskaplike teorieë die manlike lid van die spesies as die drywer van evolusie beskou. Ons het uit die bome gekom omdat die mans, wat jagters was, hul prooi beter kon jag, ens.

...........
Bohannon neem egter die geskiedenis van die eerste mense, en argumenteer oortuigend dat dit eintlik die vrou, die Eva is, wat evolusie bestuur het. En sy gaan 200 miljoen jaar terug om van baie vroeg te wys hoedat die spesies wat in Homo sapiens sou ontwikkel, aangepas het en hoedat die vrou elke keer eerste moes aanpas.
..............

Bohannon neem egter die geskiedenis van die eerste mense, en argumenteer oortuigend dat dit eintlik die vrou, die Eva is, wat evolusie bestuur het. En sy gaan 200 miljoen jaar terug om van baie vroeg te wys hoedat die spesies wat in Homo sapiens sou ontwikkel, aangepas het en hoedat die vrou elke keer eerste moes aanpas. Hoekom menstrueer ons? Hoekom het ons so ’n evolusionêr oneffektiewe manier van ons spesies voortplant? Homo sapiens se kinders neem twee dekades om selfstandig te word, terwyl ander diere binne maande op hulle eie kan funksioneer, sommiges selfs binne dae na geboorte. Olifante en kameelperde kan binne ure na geboorte op hul eie loop, maar Homo sapiens neem tot amper twee jaar om te kan loop.

Beskawing, so argumenteer sy byvoorbeeld, het ontstaan omdat moeders mekaar begin help het om te borsvoed. As jy iemand so na aan jou kind laat, moet daar ’n groot mate van wedersydse vertroue wees

Sommige van haar teorieë is dalk kontroversieel. Sy meen byvoorbeeld dat die samelewing beter funksioneer as daar lede is wat nie voortplant nie, omdat daardie persone dan beter kan help om die lede van die gemeenskap wat wel voortplant, se kinders te help beskerm en grootmaak. Dan, so wonder sy, sou dit byvoorbeeld evolusionêr sin maak om sekere lede homoseksueel te maak, sodat hulle nie sonder tegnologie in staat is om voort te plant nie.

Die boek is verdeel in onderafdelings: melk, baarmoeders, persepsie, bene, gereedskap, brein, stem, menopouse en liefde.

In die hoofstuk oor stem byvoorbeeld argumenteer sy dat die vrou se gehoor anders ontwikkel het om haar in staat te stel om haar kind te hoor huil. Háár kind, tussen al die ander kinders en geluide deur. Mans, weer, moes in staat wees om gevaar te hoor wat baie keer op laer frekwensies klank maak. Daarom, so reken sy, hoor mans baie keer nie vroue nie, want hulle praat op te ’n hoë frekwensie. Op daardie oomblik wou ek baie graag in dieselfde vertrek met haar wees dat ons kon gesels. Dis nie iets wat gereeld gebeur terwyl ek wetenskaplike tekste lees nie.

Selfs wanneer ek nie in die minste met haar argumente en bewyse saamgestem het nie, kon ek die redenasie daaragter volg en selfs bewonder.

Dit het my omtrent ’n maand geneem om deur die teks te werk. As evolusie in stryd met jou wêreldbeskouing is, hou eerder verby. Jy gaan jouself net ontstel. Maar as jy belangstel in wetenskap en meer wil weet van jou evolusionêre voorgeslagte van Morganucodon, Purgatorius, tot de meer bekende Erectus en Sapiens, met ’n paar evolusionêre syvertakkings, dan is hierdie die boek vir jou.

Maak nie saak hoe oopkop jy dink jy is nie, wees voorbereid om jou denke te laat omdolwe.

Ek gaan nog baie lank oor hierdie boek nadink. Gaan koop dit. Lees dit. Sit dit weg vir ’n paar maande terwyl jy nadink, en gaan lees dit dan weer. En weer. Dis hoe briljant dit is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top