Die onlangse onthoofding van Thapelo Makutle op Kuruman en moord op ’n Kaapse dominee se seun Niel Daniels, weens hul seksuele oriëntasie het my aan die Bybelse storie van die reisiger laat dink. Ek het oor hom teologiese kommentaar geskryf.
Wie was die hierdie naamlose ou in die Bybel, waarvan die boek Handelinge in hoofstuk 8 skryf? Die inligting beskikbaar oor die naamlose reisiger laat uiteenlopende menings, vrae en spekulasies. Hy was ’n swartman uit Afrika wat in die gebied van Etiopië suid van Egipte, bekend as Nubië, gebly het. Die land staan vandag as Soedan bekend. Hy was waarskynlik ’n afstammeling van Gam. Dit plaas hom nie in die goeie boekies van “bly wit, my volk Bybellesers” nie. Hy was ’n hooggeplaaste amptenaar en iets soos ’n minister van finansies van die koningin van Etiopië.
Dit lyk of die skrywer Petrus klem lê op die Etiopiër as eunug. Dit word vyf maal in die gedeelte gebruik. Dit is jammer dat die woord in die meeste Afrikaanse Bybeltekste met “ontmande” in plaas van “eunug” (minder bekend, tog erkende Afrikaanse woord) vertaal word. “Ontmande” is nie die enigste betekenis van “eunug” nie. Eunug is ’n generiese woord. Dit kan na selibaat verwys, impotensie of ’n hofbeampte. Kyk ons na Jesus se drie verklarings van eunug in Mat 19:12 is sommige so gebore, ander is deur menslike (mis)handeling so gemaak, nog ander verkies om so te wees ter wille van hul toewyding aan God. Die verklarings kan ruimte vir kontroversie skep. Daar is goeie argumente dat Jesus se eerste verklaring van eunug “as so gebore” die naaste beskrywing in die Bybel is van wat ons vandag as homoseksueel verstaan. Veral Christen gays sou aanklank by die storie vind en sal met die eunug kan identifiseer. Boonop was hy ’n Afrikaan. Dit is veral op die Afrika kontinent waar gays en lesbiërs geteister word.
Eunugs was gewoonlik as hofbeamptes aangestel. Sommige ouers sou hul seuns kastreer om hul in ’n loopbaan as hofbeampte te dwing. Hofbeamptes het onder andere die vroue in die paleis bedien en beskerm. Dit verklaar die vertaling van eunug soms as bedoppasser. Hulle was dus “veilig” omdat hulle nie seksueel aangetrokke tot vroue was nie. Ons lees in Jeremia 38 van Ebed-Melek, slaaf en eunug met toegang tot die vrouekwartiere in die paleis, wat die profeet Esegiël se lewe red.
Na aanleiding van die konteks waarin die Etiopïer hom bevind, lyk dit meer of eunug na sy amptelike posisie verwys as sy fisieke toestand. Tog, met die beperkte aanvaarding van eunugs deur die Joodse godsdiens, mag dit Lukas se teologie goed pas as dit na die fisieke verwys. As mens mooi daaroor nadink, waarom sou Lukas enigsins eunug herhaaaldelik meld as dit nie betekenisvol is en dit ’n belangrike boodskap het nie. Sy status as eunug is heel waarskynlik die fokus van Lukas se vertelling.
Die eunug se geloofstatus is nie duidelik nie. Dit was waarskynlik nie belangrik vir Lukas om sy godsdienstige assosiasie aan te dui nie. Hy was ’n nie-Jood en vroom, wat geen koste ontsien het om na Jerusalem te gaan om te aanbid nie. Hy was nie ’n proseliet nie, weens sy status as eunug. Dit is nie duidelik of hy wel in die tempel toegelaat was nie. Indien wel, sou hy waarskynlik net in die voorhof van die heidene toegelaat word. Volgens Joodse wet (Deut 23:1) word eunugs uit die vergadering van Israel uitgesluit. Hy kon ook nie deur die besnydenis tot die volk van Israel toetree nie. Mens sou die afleiding kan maak dat sy geestelike behoeftes nie in Jerusalem bevredig is nie. Klaarblyklik het hy nie in Jerusalem gevind wat hy gesoek het nie en teleurgesteld die lang pad terug huis toe geneem. Iewers het hy ’n Jesaja-boekrol bekom, waarskynlik in Egipte duur gekoop. Hy was ’n randfiguur ten opsigte van die Joodse godsdiens, al was hy waarskynlik welgesteld as ’n hooggeplaaste en geletterde in sy land.
Die Christendom het nooit ’n territoriale sentrum gehad nie (die kerk wel). Die sentrum is Jesus Christus, waar Hy ook al bekend word is daar ’n potensiële sentrum van geloof en getuienis aanwesig. Die Etiopiër in Lukas se vertelling het nie in Jerusalem tot bekering gekom nie, maar iewers as ’t ware “tussen niks en nêrens”. Die historikus Andrew Walls skryf dat die verskyning van ’n ware wêreld-Christendom met die einde van die Weste as aanmatige heersende hartland, die terugkeer van die normale Christendom aandui. Dit is meer Nuwe Testamenties. Die kruiskulturele oordrag van die Christelike geloof was nog altyd ’n integrale deel van die Christendom se oorlewing.
Die Evangelie het ’n inklusiewe karakter wat van God se genade en liefde getuig; dit breek deur alle mensgemaakte grense en vooroordele. God roep en stuur sy volgelinge na vreemde plekke, anderste mense en buitestaanders; want alle mense is syne. Die Evangelie bereik Afrika (in Handelinge agt hoofstukke) voor Europa. Lidia van Filippi was die eerste Christen op Europese bodem (16:11-15). Baie van ons vergeet gerieflikheidshalwe dat die eerste Christen in Afrika volgens dié vertelling nie wit was nie.
Lukas se teologiese siening van die goeie nuus aan buitestanders wat soos ’n goue draad deur sy boeke loop, kom ook hier na vore. Jesus Christus maak ’n finale breuk met die partikularisme van die Jodedom. God is ’n vrymaker; Sy heil word oor grense heen na alle mense, ongeag hulle etniese, religieuse, fisieke en seksuele agtergrond uitgedra. Die afleiding word tereg gemaak dat die eunug tot bekering gekom het. Die eunug het die goeie nuus van Jesus Christus sy eie gemaak en as ’t ware belydenis van geloof afgelê, deur te vra of daar enige verhindering is dat hy gedoop sou word. Sy behoefte as voorheen benadeelde en buitestander om in die geloofsgemeenskap opgeneem te word, word met sy doop bevestig. Die betekenis van die goeie nuus van aanvaarding en insluiting word met die teken van die doop bevestig. Hy het lid van die een nuwe mensheid (Paulus) geword.

Pieter van Niekerk


Kommentaar
Pieter,
Jy het 'n lang ompad probeer loop om by die mylpaal "Christus aanvaar gays" uit te kom. En soos baie ander het jy gehoop dat daar 'n geloofs-en lewenskaart bestaan waarop so 'n "afdraai" op aangeteken is. Feit is, daar is nie so 'n 'afdraai' nie. Christus het nie vir praktiserende gays sy lewe aan die kruis geoffer nie.
Lees weer 1 Kor 6: 9. Hulle wat homoseksualiteit beoefen is 'gedoem'.
As jy gay is, weerhou jou van die vleeslike, en dien Hom en jy sal die hemel binnestap.
Finish en klaar !
Raed-na-Gael
Bly dat die eunig "n lid van die nuwe mensheid geword het. En so is dit ook met gays. Wanneer jy werklik Jesus as jou verlosser en Saligmaker aanneem, verander jou hele wese en is jy nie meer langer dieselfde nie. Jy is ;n NUWE skepsel en die Here verander ook jou gedagtes! Jou verandering kom dus nie uit jouself uit nie maar deur die Here self wat jou verander. En wanneer ons ons in die bloed van Jesus was, val al hierdie ou sonde af en leef en wandel ons nie meer daarin nie. Maar indien ons bloot Jesus aangeneem het en ons bly nog steeds in hierdie ou gay lewe, is dat maar bloot soos 'n hond wat na sy eie braaksel terugkeer en was daar nie werklik 'n geestelike bekering nie.
Hierdie Kobus1 lewer kragtige getuienis - dit is mos absoluut inspirerend.
En op sy manier, slaan Raed-na-Gael die spyker ook op die kop. Christus het Sy Lewe opgeoffer sodat praktiserende homoseksuele saam met ander wat sonde pleeg (is daar iemand wat in sy mensheid sondeloos is?), hulle sonde kan aflê op die manier hoe Kobus1 hierbo verduidelik.
Kobus,
Sonder om enige sonde op 'n koperaltaar te plaas (let wel: ekke pardon geen sonde nie); hoekom sonder jy en jou meelopers gedurig homoseksuele uit?
(En o ja, wyl jy en jou meelopers my so graag as gay beledig - net ter wille van my getuienis en met alle respek aan homoseksuele; ek's einlik lewenslank getrou aan my vrou).
Soos daar geskrywe staan; Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat 'n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie (Maleagi 2:16)
(Hoop en bid maar dis ook in Raed-na-Gael se Bybel).
Egskeiding en geweld is egter enkele van vele aspekte in ons hedendaagse leefstyl wat ten Hemele skrei.
En hoeveel skade en hartseer word daar in ons samelewing deur egskeiding gebring?
Ja Kobus, van jou meelopers is natuurlik geskeides maar aangesien hulle jou eer, is hulle sonder sonde - of sal jy hulle ook maan om terug te gaan na hul huweliksmaats aan die hand van "hierdie Kobus1 se kragtige getuienis" naamlik dat "Jy is 'n NUWE skepsel en die Here verander ook jou gedagtes! Jou verandering kom dus nie uit jouself uit nie maar deur die Here self wat jou verander. En wanneer ons in die bloed van Jesus was, val al hierdie ou sonde af en leef en wandel ons nie meer daarin nie."?
Blinde leiers (spiritueel intelligentes) , julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk (Matt 23:24)!
Jou amigo in Adam,
Cornelius
Cornelius,
Ek het mos gesê jy kan nie jouself beheer nie - net na jy sê jy kry koers is jy wragtig weer hier. As jy nie eens aan jou eie voornemens en woord getrou kan wees nie, aan wat anders is jy getrou? Maar so ken ons jou.
En jy hanteer ook die Bybel soos jou woordeboek - loop daarmee maar begryp nie hoe dit met die inhoud is, nie. Haal sommer lukraak aan. Soos die vers uit Maleagi - die geweld daar verwys gewoon na die manier hoe mense toe (en vandag steeds) die heilige instelling van die huwelik geweld aandoen. Nie die soort geweld wat jy op hier forum propageer met jou helde synde Vin Diesel met sy haelgeweer en Bruce Lee met sy Oosterse gevegkuns, nie.
As jy enigsins insig had, sou jy weet dat dit nie ons, die gelowiges, is, wat homoseksualiste uitsonder nie, maar hulle wat hulself uitsonder. Hulle is wragtig die enigste tussen al die wat sonde pleeg wat wil ontken dat dit sonde is - en erger nog - dat God hulle so gemaak het!!
Dit verg nou kommentaar en teregwysing en sal dit altyd verg.
Interessant - jy sê ons ‘beledig‘ jou om te dink jy is homoseksueel (gay) - maar dit is jy wat die onmiskenbare tekens laat. Dan sien ek ook deur jou - jy sê dat jy aan jou vrou getrou is - maar jy ontken nie jy is homoseksueel, nie - inteendeel! Of jy werklik aan jou vrou getrou is, weet ons regtig nie en is die kanse nie goed, nie. Jy lieg verskriklik baie, dus, waarom daaroor die waarheid praat? As jy kans sien om openlik en blatant in die openbaar en in jou hart vir en oor die HERE te lieg, waarom op aarde sou jy gebonde voel om oor jou huwelik die waarheid te praat? Hoogs onwaarskynlik. Maar, dit is ‘n saak tussen jou en haar en die HERE. Al wat ek sê, as sy hoegenaamd nog met jou is, is dat ek haar admireer vir die moed wat sy het om met jou die dag deur te sien... maar dit is ook nie belangrik vir wat ons hier bespreek, nie. Jy moet liefs jou persoonlike lewe uit hierdie openbare forum weghou.
Laat staan maar ander van wie jy niks weet nie, wat in elk geval onder jou tong deurloop waarmee jy geweld pleeg. Let sorgvuldig op wat Kobus1 sê - die implikasie van wat hy sê is, as jy die pad met die HERE stap, die werklike HERE (nie jou eie maaksel waaraan jy die HERE se heilige Naam probeer koppel nie) is die Krag daarvan so dat jy nie die sonde wil ontken nie en ook dan meer in die sonde wandel nie - jy lê die sonde af. Dit is beslis nie wat jy verkondig nie!
En, ek dink nie daar is fout met Raed-na-Gael se Bybel nie - dit is mos immers jy wat bekend is daarvoor, by al jou ander gruwels wat jy hier uitstort, dat jy die woorde van die Bybel verdraai om jou eie stories te pas. Gruwelik!
Kobus de Klerk
Om 'n Plekkie in die Hemel te Koop!
By uitset, alle godsdienste se mikpunt is om 'n plekkie in die hemel te koop na die se dood, deur middel van 'n voorgeskrewe gedragspatroon wat die se god voorskryf. Indien van sogenaamde streng gedragspatroon afgewyk word, is die persoon gedoem, en gaan hy vir ewig die ellendigste pyniging ondergaan (wat natuurlik sy god die grootste plesier gaan verskaf! Dit dien ook as afskrikmiddel vir die gelowige wat 'n paar "sondigies" wil pleeg). Ironies dat dit nie geld terwyl jy lewe nie. Die pragtige hemel wat alleenlik na jou dood beskore is, word nie ervaar terwyl jy lewe nie. Merendeels is dit die ongelowige of "sondaar" wat in hierdie (enigste) lewe geluk ondervind, hetsy materiaal, seksueel, of deur middel van persoonlike mag.
Dan weer, die konsep van hemel is so vaag, dat die gelowige vir my nie kan se wat hy in die ewigheid gaan doen nie, behalwe aanhoudende aanbidding (hoe eentoning, ek verkies dan eerder die interesante hel).
Alles wat elke skrywe hierbo te se gehad het bevestig presies wat ek se, die hemel na die se dood is die mikpunt!
Van jou lekker lewende, uiters bevoordeelde, en wat hemelse "bliss" op aarde ervaar,
Jaco Fourie
Beste Pieter
Met betrekking op eunugs wat van geboorte sodanig is, dat dit op gays betrekking het, is nie 'n nuwe argument nie. Ek as gay het dit al deeglik ondersoek, en tot die slotsom gekom dis 'n poging van Christelike gays om die Bybel te verdraai om by hedendaagse sieninge oor gays aan te pas. Jou toepassings patroon is presies soos Kobus gewoonlik te werk gaan, met die verskil, hy noem dit "Spirituele Intellegensie".
Ek aanvaar die Bybel at "face value". Wat daar staan, is presies wat bedoel is. Ek besit nie die "Spirituele Intellegensie" om tussen die Bybelse lyne te kan lees en meer in die Bybel te lees as wat daarin staan nie. Levitikus, Romeine, ens oordeel sodomie in geen onsekere terme, en ek het vrede daarmee. Wat in my gal vassit is dat dieselfde maatstaf wat Fundementele Christene gays oor die kop mee donder, will hulle nie met ander "issues" wat die Bybel noem, ook nie toepas nie, dan is die "Spirituele Intellegensie" skielik daar om uit die verleentheid te help. Vir die wat belangstel, sonder om hier te herhaal, sodanige "issues" word weerspieel in my godsdienstige briewe oor die afgelope twee maande, vir opvolgdoeleindes.
Jaco Fourie
Amigo in Adam,
Ek weet nie uit watse Bybel jy jou "versies" uithaal nie, maar my amptelike vertalings (onderskryf deur groot geeste soos onder andere Dr. A. Boesak en ander Doktore van die Ou en Nuwe testamente) verskil hemelsbreed van jou "aanhalings". Tereg wonder jy of dit in my Bybel is. Die een wat jy het is seker jou eie persoonlike vetaling. Jy weet, ek het al soekende siele raakgeloop wat 'n Bybel vat en dan die hele Bybel oorskryf soos wat hulle dink dit behoort te wees. Jy lyk my jy is een van diegene.
Jy weet seker dat die Bybel egskeidings in sekere situasies toelaat/verskoon, maar dat hierdie toegewing geensins op die praktiserende gay van toepassing gemaak word nie.
Raed-na-Gael (sonder enige ander gode)
Dit behoort uitgesonder te word in die tyd waarin ons leef want dit is nie egskeidings, vloek ens wat tans besig is om die kerke te laat skeur nie maar juis die aanvaarding van hierdie sonde wat so gelate en goed gepraat word deur kerke. Die NG Kerk het al verskeie gay dominees, baie ander praat dit goed en die NG Kerk self ook het vir die Regering aanbeveel dat gay huwelike gewettig word. Dit is totaal en al teenstrydig met die Woord van die Here en hulle het n gevalle kerk geword. En Cornelius, as jy werklik n kind van die Here is sal jy self ook daarteen uitpraat want jy is geroepe om dit wel te doen! Eze 33:8 As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Eze 33:9 Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered. Eze 33:10 En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg—hoe kan ons dan lewe? Eze 33:11 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? Eze 33:12 En jy, mensekind, sê aan die kinders van jou volk: Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie; en aangaande die goddeloosheid van die goddelose, hy sal daardeur nie struikel op die dag as hy hom van sy goddeloosheid bekeer nie; en die regverdige sal deur sy geregtigheid nie kan lewe op die dag as hy sondig nie. Eze 33:13 As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe, en hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg, dan sal aan al sy geregtighede nie gedink word nie, maar deur sy onreg wat hy doen, daardeur sal hy sterwe. Eze 33:14 En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen— Eze 33:15 gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie—dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Eze 33:16Eze 33:16 Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe.
En Jaco wat jy se"<<< Levitikus, Romeine, ens oordeel sodomie in geen onsekere terme, en ek het vrede daarmee>>> beteken maar net bloot dat jy hoor en sien maar doof en blind sal bly. 1 Korintiers 6:9-11 bied egter ook vir jou 'n lig want dit se dat ons wel gered kan word! 1Co 6:11 En dit <<>> sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.
Siestog ou Kobus - jou wensdenkery; waar het ek geseg ek kry koers?
Ek's lankal gatvol vir jou neerhalende en bose spirituele intelligensie onder 'n dekmantel van Christelikheid, maar ek't nog altyd goeie koers ou Kobus.
En dan veins jy voorts; As jy (Cornelius) enigsins insig had, sou jy weet dat dit nie ons, die gelowiges, is, wat homoseksualiste (sic) uitsonder nie, maar hulle wat hulself uitsonder. Hulle is wragtig die enigste tussen al die wat sonde pleeg wat wil ontken dat dit sonde is - en erger nog - dat God hulle so gemaak het!!
Hahaha Kobus; ontken jy en "die gelowiges" in jou kop dan ook nie self die sondigheid van "jul" vieslike gedweep en farisese "skrif-geGoogleheid" (duiwelsbesetene spirituele intelligensie) nie - en erger nog - maak "julle" nie ook nog boonop aanspraak dat dit van God afkomstig is nie?
Ja, jy leef jou rol as aanklaer (Satan) van jou medemens voor God vir jare reeds met oorgawe op die werf uit Kobus!
En dan Kobus; homoseksuele onderdruk hulself net om menslik deel te wil wees van almal (soos hulself vir jare "in die kas" te hou).
Waag homoseksuele dit om uit hul "kas" te kom, dan spring demone soos jy op hulle om hulle behoorlik selfbewus te laat en dan ter helle te verdoem.
Dis hoe jy en jou meelopers enige aanleiding sal misbruik om homoseksuele in jul anderhaat uit te sonder.
Homoseksuele is nes katolieke "anders" as jy en jou huiskerkbende.
Daarom sal jy as hoëpriester sorg dat enige ander wat "anders is" gehaat word sodat jul gewetenloosheid verskuild voortgeset kan word.
Slegte nuus vir jou ou Kobus, ek gaan die Lig in die genade van Jesus Christus onse HERE op jul duiwelsgeestigheid hou - maak nie saak hoe moeg ek raak nie.
Kobus, met alle respek aan homoseksuele en elke ander hart op aarde (in soveel woorde in die aansig van jul haat as dit dan werklik nodig is); ek is nie homoseksueel nie.
Derhalwe is jy lank reeds op rekord dat jy jouself te buite gaan as dit by ander wat jou drogma teenstaan se geliefdes kom Kobus.
Jy't lankal reeds my geliefdes beledig jou boef!
En wyl jy so hard probeer om my verdag te maak met jou ongegronde veronderstellinge, hoef ek natuurlik glad nie te raai oor jou oneervolle stand in die samelewing nie. Kobus de Klerk is daar sleg af op openbare rekord!
Daarenteen het ek nie nodig om my persoonlike lewe weg te steek nie (of soos "hierdie Kobus1" - soos jy op die trant van "give the man a whiskey" wind in sy gat blaas - verskuild "kragtige boodskappe" te lewer nie).
Kobus, en dan ewenwel vir jou ook; "Laat staan maar ander van wie jy niks weet nie, wat in elk geval onder jou tong deurloop waarmee jy geweld pleeg. Let sorgvuldig op wat Kobus1 sê - die implikasie van wat hy sê is, as jy die pad met die HERE stap, die werklike HERE (nie jou eie maaksel waaraan jy die HERE se heilige Naam probeer koppel nie) is die Krag daarvan so dat jy nie die sonde wil ontken nie en ook dan meer in die sonde wandel nie - jy lê die sonde af. Dit is beslis nie wat jy verkondig nie!"
Wanneer erken jy jou dwalinge en uitbuiting langs hospitaalbeddens? Wanneer lê jy jou eiewaan af?
Dis seker maar vanselfsprekend om te verwag van jou en jou meelopers dat waar die Bybel julle in jul waan aanspreek, julle dit as verdraaiinge sal veronderstel.
Ag hel; en hier is ek weereens soos 'n posman met hande vier voete op die grond blaffende vir die keffer aan die anderkant ... dit, wyl ek 'n Groot Boodskap het om te leef ...
Mag Jesus Christus onse HERE ons almal vergewe en die hele wêreld in Sy liefde en genade seën.
Cornelius
Raed-na-Gael,
Net ter wille van dit wat ons daaruit kan leer (jou godsdienstige vyandigheid verskuild agter 'n naampie ten spyt); sal jy asseblief dan Maleagi 2:16 uit jou "groot gees" Bybel (wat so hemelsbreed van my "versies" verskil), vir ons aanhaal?
Jou amigo in Adam,
Cornelius
Kobus1,
Jy antwoord: "Dit (homoseksuele) behoort uitgesonder te word in die tyd waarin ons leef want dit is nie egskeidings, vloek ens wat tans besig is om die kerke te laat skeur nie maar juis die aanvaarding van hierdie sonde wat so gelate en goed gepraat word deur kerke. Die NG Kerk het al verskeie gay dominees, baie ander praat dit goed en die NG Kerk self ook het vir die Regering aanbeveel dat gay huwelike gewettig word. Dit is totaal en al teenstrydig met die Woord van die Here en hulle het n gevalle kerk geword."
Kobus1, jy is duidelik en totaal onderhewig (subjektief) aan 'n gekondisioneerde soort godsdienstige vyandigheid.
Vele Pastoor en NG Kerkpredikant is vir "on-Bybelse redes" geskei en 'n hele paar van hulle kan knoop dat 'n haai hulle nie sal byt nie.
Ja, dis als ook "totaal en al teenstrydig met die Woord van die Here".
Sou egskeidings, vloek ensovoorts met dieselfde soort sensasie vanaf jou preekstoel oorval word, dan sou dit verseker vandag die kwessies wees wat kerke laat skeur.
Egskeidings is na my beskeie mening die hoofoorsaak van verwoesting in ons samelewing.
Om homoseksuele of enige ander sondaar uit te sonder, is eenvoudig boos!
Maar (soos ek reeds geseg het), ek plaas geen sonde op 'n koperaltaar nie en let asseblief wel: ekke pardon ook geen sonde op my eie nie.
En dan Kobus1, demonstreer jy jou drang om te kondisioneer en te onderdruk duidelik oorgawe (nes die ou grote Kobus de K) met; "En Cornelius, as jy werklik n kind van die Here is sal jy self ook daarteen uitpraat want jy is geroepe om dit wel te doen!
Waarom my versoek?
Kobus1, soos ek al menigmaal hier gedeel het; die werf is nie kerk nie. Ons is almal by verskillende mylpale op ons lewensweg.
Dink jy nie dat 'n kannibaal wat vandag Jesus Christus onse HERE in sy hart nooi, dalk nog 'n rukkie gaan neem om te besef mensvleis is taboe nie?
Wat nog iemand soos ekke wat al lang myle in Jesus Christus onse HERE seën ontvang het; hoe verwag jy van my om aan enige ander hul sonde voor God te bring?
Kobus1, "as jy werklik n kind van die Here is sal jy" ... ALLES aan God oorlaat.
Veranderinge kom spontaan in die genade van die HERE. Dit laat 'n mens entoesiasties in die wonder daarvan - mits jy nie "self so 'n bietjie skouer aan die wiel sit nie".
God het nie ons hulp (kondisionering) nodig om wonders tot Sy eer te laat plaasvind nie.
Raak liefs stil en geduldig, en laat God toe om self die tuin in jou hart te bewerk - met of sonder kondisionering.
Ook joune amigo in Adam,
Cornelius
Cornelius jy mis die hele punt en jou skrywe kom meer voor asof jy die sonde (homoseksualiteit) goedkeur. Ja alle sonde is sonde en dit sal jou in die hel laat beland as jy nie daarvan bekeer nie. Maar ons is juis geroepe om vissers van mense te wees en ons getuienisse te bring. Nie dat ons so smart of spesiaal is nie, maar dat die Here ons van die sonde verlos. En om sagkens daarmee om te gaan, roep jy net vrede vrede aan die wat dit beoefen en sal hulle nie bekeer nie. En ons kan nie se dit is minder erg omdat daar ander sondes ook is nie. Die Bybel is ons riglyn of maatstaf en nie ander sondige mense nie. Groetnis 🙂
Amigo in Adam,
Ek voldoen graag aan jou versoek. (Ek sit ook vers15, soos dit hoort, vir konteks by)
(1) Uit die Nuwe Lewende Vertaling:- (Cum 2006)
15. Het die Here dan nie man en vrou
een gemaak nie,
een in liggaam en gees ?
Hoekom het Hy hulle een gemaak ?
omdat God wou hê daar moet
'n nageslag uit voortspruit.
Wees versigting wat jy doen.
moenie ontrou wees
aan die vrou van jou jeug nie.
16. Die Here, die God van Israel, sê:
"Ek haat egskeiding !
Om te skei is net so geweldadig
soos om 'n slagoffer
se bebloede baadjie aan te trek"
Die magtige Here sê:
"Wees verantwoordelik
en moenie ontrou wees nie !"
'83 vertaling:- ( Bybelgenootskap van SA )
15. Die Here het man en vrou een gemaak,
een in liggaam en gees.
En waarom een ?
Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag
moet wees,
wat Hom eer.
Beheers julle,
moenie ontrou wees aan die vrou
met wie jy van jou jeug af getroud is nie.
16, Die Here die God van Israel
sê Hy haat egskeiding.
Egskeiding is niks anders as geweld nie,
sê die Here die Almagtige.
Beheers julle, moenie ontrou wees nie.
Raed-na-Gael (sonder al die ander gode)
Raed-na-Gael,
Ek verset my teen jou versoeking om in 'n ching-chong-cha, 'n duiwelse spel met Bybelverse en vertalings te verval.
Die soort hondegeveg is reeds deur jul anderhaat hoëpriester Kobus de K, tot in die modder van die vuilste varkhok denkbaar met sy geGoogelde spirituele intelligensie gerol.
Wouter het laas met slegs enkele aanhalings uit 'n paar Ingelse vertalings, die ou grote Kobus en sy Henry (en Dolf, - en Alie ...) se eentonige verdagmakery omtrent ander se Bybels en vertalings, hard in die bek geruk.
Ek sal jou egter wel inlig omtrent die bron waaruit my aanhaling van Maleagi 2:16 hierbo kom (anders as jy, sou ek ook liefs vanaf vers 10 tot 16 onder hoofde "Huweliksontwrigting" aanhaal, en nie net vers 15 en 16 soos jy om sogenaamd die "konteks" te bepaal nie).
My bron is; DIE BYBEL met VERKLARENDE AANTEKENINGE onder redaksie van Prof. Dr. B. Gemser, Prof. Dr. A.S. Geyser, Prof. Dr. E. P. Groenewald, Prof. Dr. J. H. Kroeze, Prof. Dr. JAC. J. Muller, Prof. Dr. A van Selms, Prof. Dr. W. J. Snyman, Prof. Dr. S du Toit, Prof. Dr. P. A. Verhoef, Prof. Dr. P. F. D. Weiss, Ds. J. N Geldenhuys (Algemene Redakteur) - DEEL II - Job tot Maleagi - uitgegee deur die VERENIGDE PROTESTANTE UITGEWERS (EDMS.) BPK. KAAPSTAD 1958.
Teer al die Prof. Dr.'s enigsins die pad Hemel toe vir die wat hierdie vertaling op hul rak het?
Nee, dis die bedoeling in ons innerlike - die reinheid van ons harte voor God waarin ons verlos is!
Omdat dit 'n kosbare erfstuk van my oupa Corrie Henn is (met verklarende aantekeninge daarby), deel ek graag ook die verklaring daarin omtrent vers 16 met jou; [16] Want ... egskeiding: vir die eerste keer word in die Ou Testament so uitdruklik teen egskeiding gepraat, vgl. Deut. 24:1-4. Die Godsopenbaring bereik dus hier 'n hoogtepunt, vgl. Matt. 5:31v.; 19:4-9 (egskeiding, lett.:verstoting). en .... bedek: die kleed weerspieël die innerlike van die mens; daarom is die besoedelde kleed beeld van 'n onrein hart, vgl. Jes 64:6; Sag. 3:4; Openb. 3:4; 7:14.
Mag Jesus Christus onse HERE, ons harte rein maak.
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikagroete,
Cornelius
Agge nee Cornelius en Kobus, aan julle praat lei ek af dat julle albei belydende Christene is, daarom praat julle albei van Jesus as "Onse Here" So is dit nou regtig nodig om om n Publieke Forum te gebruik om julle vuil wasgoed te was? Ek stel voor julle maak n afspraak met mekaar en ontmoet iewers by n koffie winkel en praat die ding uit soos dit toegewyde Christene betaam nie in die openbaar nie. Ek ken julle nie maar as ek lees wat julle skryf is daar nie juis motivering vir ongelowiges om Jesus Christus as saligmaker te aanvaar nie. Ghandi het tereg gese "The whole world would have been Christian if it Was'nt for the Christians" Kom nou manne, wys ons bietjie die Vrug van Die Gees
Kobus1,
Kyk of jy die volgende kan insien; ek MAAK 'n/die punt!
Die eentonige "punt" omtrent die sondigheid van homoseksuele, is reeds lankal die grond in tot minder as stof "herbesoek" deur die ou grote Kobus de Klerk (soos hy graag na homself verwys).
Dus MAAK ek 'n punt omtrent farisese spirituele intelligensie (skrifgeleerdheid) waarmee onderdrukkers soos Kobus de Klerk en sy huiskerkbende in hul VERONDERSTELLINGS omtrent ander se werklikhede hier, hul besete en demoniese dwalinge probeer heilig.
Die punte wat ek maak is as volg;
1. Die werf is nie kerk nie.
2. Niemand ken enigiemand hier goed genoeg om soos dit Bybel beveel word, hul vermaninge met sagmoedigheid te kan deel nie. Nee, die "vermaninge" hier is roekeloos en met minagting vir ander se werklikhede en aanbidding tot ons almal se Almagtige Lewende Skepper. Daarom roer geen gekondisioneerde onderdrukker se drogma my nie.
3. Elkeen is by hul eie mylpaal in die lewe. Daarom; hoe kan ander se harte oor Kobus de Klerk en sy gevolg se kam (verwaande veroordelende interpretasie van die Bybel) geskeer word?
4.Ek stel my nie op enige sonde nie. Dis juis wat Satan en sy gesante wil vermag; om harte te knak onder skuld. Soos daar geskrywe staan; Want hulle (die spiritueel intelligentes) bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie (uit Matteus 23).
5. In absolute ooreenstemming met jou woorde; Nie dat ons so smart of spesiaal is nie, maar dat die Here ons van die sonde verlos. En om sagkens daarmee om te gaan, (STOP)!
6. In absolute ooreenstemming met jou woorde; Die Bybel is ons riglyn of maatstaf en nie ander sondige mense nie. Daarom; Johannes 3:16 - Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Matteus 11:28 - Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Openbaringe 22:17 - En die Gees en die Bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.
7. Ja, vrede vir elkeen wat hier lees; mag Jesus Christus onse HERE ons almal vergewe en Self die tuin in ons harte bewerk.
PUNT.
Namaste!
Cornelius
(o ja, gaan enige kerk, sinagoge, tempel, moskee - plek van aanbidding toe) ...
Hou aan boys, moenie nou ophou stry nie, ek grinnik al hoe lekkerder.
Beste Ouma Kind,
Baie dankie vir jou belangstelling. Ek deel jou besorgdheid. Ek aanvaar ook my skuld daarin.
Ek dink egter nie ek en Kobus de Klerk sal kan vergader sonder 'n weermag lyfwagte en 'n skare engele om ons uitmekaar te hou nie.
Die Palestynse- Israeliese berade het veel beter kans op vrede as ek en die ou grote Kobus (soos hy graag na homself verwys).
Maar jy's reg; dis soos die Ingelse se moord op ons vroue en kinders wyl daar vir seën op die kanonne aan beide kante gebid is. Ek verstaan dit self nie ...
Ek hoop my punte aan Kobus1 hierbo verklaar my stand ook aan jou.
Die werf is egter 'n wonderlike plek om baie dinge te leer en ander se beskouinge te deel.
Dis egter NOOIT 'n plek om persoonlik en beledigend te raak en/of oor sonde te dweep nie.
Mag Jesus Christus onse HERE ons almal vergewe.
Cornelius
Vat net baie tyd om al die (“eie”) oortuigings/vertolkings te lees, maar dit bly interessant. Selfs die “NG Sinode” sit soms terug om te herbesin. Die sleg bly maar dat die ouens almal die “Bybel” (sal die regte Jesus opstaan asseblief) as ondersteuning (kan) gebruik. Ek vra maar net. Is die “nou pad” nie dalk ’n “eenrigting voetpaadjie” waar net een ou op ’n slag kan loop nie. Rom 14: 22-23 (as die 1983 vertaling soort van aanvaarbare, bybel mag wees?) probeer Paulus om almal, groente eters (minder ingelig) en alles eters (meer ingelig), mekaar laat verdra. Bloot dit. O-ja. Die eenrigting voetpad.
Is die ouens wat dink hulle is op die voetpad, se gespreksgenoot dalk (net) die Heilige Gees (1 Joh 2:26-27) met die oë gevestig op Jesus. Of kyk julle ouens wat dink julle is op die eenrigting voetpad ook, soos in hierdie “webwerf” gedurig rond om te sien wie is langs jou op sy eie voetpad, om darem, eie aan “ons menslikheid” ’n eiertjie te kan lê.
Pasop, rondkyk maak dat ’n ou struikel. Veral op ’n eenrigting-enkelbaan-voetpad, wat boonop, sonder die wyse manne, opsigself maar ’n ongelyk en vol gate/ strikke (van die ou versoeker) is. Hou kop en hou koers. Deel jou mening met ander, sonder om hom/haar (21ste eeu) van joune te probeer oortuig. Bly maar op jou eie voetpad. Dit lyk darem of jy uit “geloofsoortuiging”, v27(volgens jou) voortstrompel. Jesus is lief vir julle almal.