Evangelie vir eunigs, gays en Afrikane

  • 0

Met die lees van Pieter se brief Evangelie vir eunigs, gays en Afrikane was ek skielik wakker toe ek lees: "Baie van ons vergeet gerieflikheidshalwe dat die eerste Christen in Afrika volgens die vertelling nie wit was nie." Waarom sou ons so reageer? Geskiedkundig was Afrika tog die kontinent van swart mense en selfs vandag is daar net hier en daar 'n paar kolle wat nie heeltemal swart is nie. Ek is seker maar polities inkorrek gebore maar met die jare het ek begin leer dat jy nie na iemand se kleur verwys nie. Jy kan sê hy is 'n jong man maar los sy kleur uit as jy nie probleme wil kry nie. Hy is nie deursigtig nie maar beslis kleurloos. En hier kom 'n polities korrekte teoloog en sê sowaar vir my: "Moenie stupid wees nie - maak jou oë oop en let op dat die man swart is." Mag ek nou maar sê Bavana Bavana is pikswart of bly ons by die eensydige, bekende ooreenkoms dat jy 'n span met 12 wit Springbokke spierwit mag noem, maar oor swartes en kleur moet jy tjoepstil bly?

Met die eunigs en gays moet ek versigtig wees. Ek het reeds teen ouderdom 12 van hulle gehoor, maar het nooit enige mediese pampiere verwerf nie. Nogtans om homoseksueles en eunigs gelyk te stel lyk vir my na die rek van die waarheid tot verby breekpunt. Dit kan wees dat die meeste eunigs en homoseksueles (vandag) so gebore is. Die groot verskil is dat eersgenoemde nie seksueel aktief kan wees nie en dat laasgenoemde soms baljaar. Ek het ook geen Bybel-pampiere nie en kan nie vir Pieter die oorspronklike tekste aanhaal nie, maar om eunigs en mense wat selibaat lewe min of meer gelyk te stel, kan nie korrek wees nie.

So 'n klompie jare gelede het die gesondheidsafdeling van 'n groot munisipaliteit berig dat by geslagsiektes die persentasies geaffekteerde heteroseksueles en homoseksueles omtrent 50/50 is. Homoseksueles is 'n klein persentasie van die bevolking en daar moet baie van hulle wees wat laat waai. Die arme eunigs droom seker nie eens van seks nie!

Pieter verwys na "bly wit, my volk Bybellesers". Hulle is seker die gevolg van "bly wit, my volk predikante."? Pieter gaan skynbaar van die standpunt uit dat sulke mense noodwendig nie respek vir swartmense sal hê nie. Hiermee verskil ek. As Pieter reken daar is lidmate wat nie kennis dra van die kerk se huidige standpunte oor rassevermenging nie behoort hy ons in te lig. Ek is self onkundig.

Oor die twee moorde stem ek met hom saam. Dit is verskriklik. Almal moet meer verdraagsaam wees teenoor mense wat nie heteroseksueel is nie.

Ek het skoon vergeet om die brief met die positiewe te begin. Pieter gebruik 'n teks uit die Bybel as aanknopingspunt, terwyl teoloë deesdae geneig is om glad nie na die Bybel te verwys nie. Dit is duidelik dat hy (tereg) simpatie het met mense wat seksueel anders as die twee hoofgroepe is. Dit is blykbaar vir die kerk 'n dilemma om hierdie benadering met die Bybel te versoen. Die enigste langtermynoplossing is om eerstens die Bybel te raadpleeg voor daar verder gesoek word.

George

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top