"Eva" deur Sulani Grobler

  • 0

Eva

ek is Eva
skuldig
op heterdaad betrap

veroordeel
vir my behoefte
aan kennis
wysheid en begrip

ek is die oorsprong
uit my
kom elke man
god en gedig.

ek
ryg my derms uit
hang hulle
blinknat palings
aan geroeste spykers op
stel my seer ten toon
probeer dit winddroog
vir swart kraaie
wat dit sal wegvat
op vlerke
van vergifnis

om my meer mens te maak.

maar ek dra
die gewetes
van huigelaars en priesters
in my gatsak,
smag na ’n kind
van my eie
onvoorwaardelike liefde
die perfekte gedig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top