Etienne

  • 1

Dit is een van die hoërklasbuurte in Centurion. Die tuine is groen, skaduryk en noukeurig en puntenerig versorg deur duur arbeid. Die opritte staan vol geparkeer met viertrekvoertuie en luukse sedans. Altyd beter, vinniger, sterker, duurder en met meer aansien. Op, op reis die strewe en ambisie. Binne die huise is daar duur meubels en Persiese matte, besaai met sinnelose speelgoed en spog-geïndoktrineerde kinders. Kleuters wat ure vermaak word met grafiese beelde op plat, tekstuurlose raakskerms van selfone en iPads. Telge wat oordadig gevoer word met tweedimensionele tekenprentsurrealisme, opleiding vir ’n oppervlakkige volwassene-wêreld van streef en materialisme en nabootsing van sepiedrama-menseverhoudings.

Soos bome in ’n woud kompeteer hulle met bure, vriende en familie vir die meeste sonlig. Hoër en hoër streef hulle op na waar die meeste aansien is. Dit móét duurder, blinker, swieriger as die bure. ’n Sinnelose verkwisting van welstand en lewensmiddele.

En in die middel van al hierdie oorvloed staan daar ’n stil, stowwerige handwerkwinkeltjie, die rakke yl gepak met wol en gare, vergeelde papiere op die toonbank, ’n vrou in haar dertigs, haar tienjarige seuntjie, en ek.

"Etienne, Oom. My naam is Etienne."

"Hallo, Etienne, en in watter graad is jy?"

"Ek was nou in graad drie, Oom, ek gaan nou graad vier toe."

Met die eerste oogopslag blyk dit duidelik die seun is nie gesond nie. Hy is bleek en sy bewegings en liggaamshouding is sprekend van sy toestand. Hy stap stadig na die toonbank, stadiger as wat ’n mens van ’n seun verwag in hierdie hoë-energie-fase van sy lewe. Hy gaan sit op ’n hoë stoel langs sy ma en slaan ’n groot skryfboek oop.

"In watter skool is jy, Etienne?"

Hy sê die naam van die skool en soos sy gewoonte is, eindig hy elke antwoord met “Oom”.

"Wie's jou juffrou?"

"Juffrou ... em ..."

"Juffrou Brits," antwoord sy ma namens hom.

Ek verskuif my blik na die vrou voor my.

Etienne se ma is ’n kort, gesette vrou met kort, bruin, krulhare. Sy praat met ’n effense sleep van die tong en ek merk op dat sy gedurig in die rigting van Etienne kyk waar hy sit en skryf in die boek. As sy antwoord, is dit versigtig en ontwykend – veral vrae oor Etienne. Ek kom agter iets skort. Die tekort aan lewenslus is duidelik aan die vrou te bespeur. Swaarkry en bekommernis hang oor haar skouers. Dit kan ek hoor aan die huiwering waarmee sy koeitjies-en-kalfies-vrae beantwoord.

"Hoe gaan dit met julle?"

"Nee, dit gaan maar so-so."

Etienne se ma antwoord eerlik. Haar wêreld is nie een waar jy sê dit gaan goed as dit nie goed gaan nie. Dit is nie ’n wêreld van pretensies waar jy nie die waarheid sal praat oor jou eie welstand nie. Daar is geen ruimte vir ’n maskerade en huigelagtigheid waaragter die werklikheid weg van familie en vriende versteek word nie. Dit maak nie vir haar saak of ander weet van haar swaarkry nie. Sy sal egter voortdurend en onwillekeurig in die rigting van Etienne kyk wanneer sy praat. Ek merk dit op, veral toe ek begin uitvra na Etienne se gesondheid.

"Ons moes maar vanoggend met die bus ry, Etienne is nie lekker nie. Dis te ver vir hom om te loop.

"Dis ses kilometer wat ons moet loop. Dis oukei as ek alleen is, maar nie met Etienne nie. Nie as hy so lyk nie."

"Stap jy werklik ses kilometer hierheen? Elke dag?"

"Ja, ek moet maar, daar's nie geld om elke dag met die bus te ry nie."

"Help jy ’n bietjie vir Mamma?" vra ek vir Etienne.

"Ja, Oom."

Op die toonbank voor Etienne lê ’n groot notaboek waarin hy netjies aantekeninge maak. Sy ma het hom die taak gegee om boek te hou van voorraad met die verkope in die winkel. Hy doen dit sorgvuldig en die handskrif is sekuur. Ongewoon vir ’n seun, besluit ek. Sy vingers werk motories-presies met elke kurwe van elke letter. Hulle vorm ’n gekoördineerde eenheid en dit is duidelik dat die kind groot sorg neem met sy handewerk.

Ek merk die gom aan sy vingers op en vra daarna.

"Ek bou karretjies, Oom."

"Karretjies?"

"Ja, Oom. Van hout, Oom. My pa sê dis goed om te leer om met jou hande te werk. Hy is ook ’n skrynwerker, maar hy het nie nou ’n werk nie."

"Ja, maar hy gaan een van die dae weer werk."

Etienne se ma praat nie die waarheid nie. Ten minste nie ’n waarheid wat sy wil hê Etienne moet van weet nie. Sy kyk na my, sug as ons oë mekaar ontmoet. Ek verstaan en hoop sy kan dit in my blik sien.

Ek vra verder: "Is jy nou besig om een te bou?"

"Ja, Oom."

"Watse soort kar?"

"Nee, dis sommer enige kar, Oom. Met sulke groot houtwiele."

"Doen jy sport by die skool?"

"Nee, Oom, nie meer nie."

"Hy' s bietjie siek, Oom,” sê sy ma.

"Ek kan sien die man is ’n bietjie bleek." Ek wink met my oë in sy rigting.

"Knop hier in die nek." Sy beduie met twee vingers in haar eie nek agter haar regteroor waar die knop sit.

"Pampoentjies?" Vra ek.

"Nee, dis nie pampoentjies nie," antwoord sy beslis.

"Ook nie Duitse masels nie? Dis mos die kliere hier teen die agterkop. Hier bo in die nek," beduie ek.

Etienne se ma skud haar kop.

"Nee, dis ook nie dít nie."

"Ons het toetse laat doen by Kalafong-hospitaal. Ons het die uitslae gekry. Gister."

Buite was dit steeds ’n blink somerdag. Daar was reën vroeër die dag en die middagson weerkaats met uitbundigheid vanaf die nat strate. My gedagtes loop terug na die verkwistende swierigheid waarmee ons omring word in hierdie buurt. Ek bedink die kontras tussen dié wat het en dié wat nie het nie. Dié wat vir hulle ’n lewe kan koop en dié wat nie kan nie. Die peperduur mediese sorg teen dit wat ’n staatshospitaal kan bied. Die geld wat gespandeer word op Land Cruisers en Mercedes-Benze teenoor hierdie vrou wat ses kilometer moet loop om haar kinders aan die lewe te hou.

Binne die winkeltjie daal daar ’n ongemaklike stilte oor ons. Verder uitvra sal onvanpas wees. Oorbodig. Moontlik pynlik.

Ek wil groet toe Etienne sê: "Die mense by Kalafong het gesê ek moet ná Kersfees gaan na daai ander plek. Hoe sê mens nou weer? On... Onk...o...lo...gie.”

  • 1

Kommentaar

  • So goed die twee wêrelde gekontrasteer. Die skrywer het 'n deernisvolle aanvoeling en hope skryfvaardigheid.

    U mag skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top