Estie

  • 2

Foto: Canva.com

Vroeg in 2008 kry ek ’n geleentheid deur ’n vriend van my pa se pel om my vakleerlingskap te gaan doen by ’n nuwe ateljee wat in Irene oopgemaak het.
Nog nat agter die ore en met die enigste knopieshemp in my besit, daag ek toe semi-stiptelik op vir die onderhoud by my eks-baas, die gesiene meneer Pheifer – ’n man só lank, hulle kon hom maar net sowel meneer Sevener genoem het.

In elk geval, ’n kort storie lank; ek hou toe daar stil en gaan klop heel bedees op die maat van ek-is-laat-maar-paraat aan sy kantoordeur.
“Kom binne!” roep hy.
Ek maak toe so en met die intreeslag steek hy sy hand uit met so aweregse pinkie wat apart blad wil vat.
En soos dit maar in ons ingefoeter is op Die Vlakte, haal ek my keps af, vat stewig terug en groet hom ordentlik met ’n “mirrag Oom”.
“Sit,” sê hy en ek maak myself dadelik gemaklik so asof ek die tipe ding al etlike jare doen.

“Ek hoor jy was in Waterkloof?”
“Ja Oom, hulle sê so.”
“Matriek deurgekom?” skerts hy.
“Nee, nee Oom, sommer so Centurion deur.”
“O, jy’s ’n nar nè?” vra hy.
“Nog so bietjie Oom, maar ek het darem al ’n Valoid in.”

Met ’n grynslaggie en gemengde gevoelens in sy oë laat hy my sommer dadelik weet: “Ek like jou. Sien jou môreoggend. Selfde tyd selfde plek. En moet nou nie dat jy laat wees nie!”

“Baie dankie Oom, ek maak so!”
En ek skud weer blad, spring in my Corsa en spin daar weg, want dis mos nou iets groots om te vier vir twee eerstejaars drieuur op ’n klein-Saterdag.

Onderweg na die woonstel gooi ek my tjom, Alanski, ’n Mxit en sê hy moet klim, want so arm soos ons is, het ek vir ons ’n geldige rede om vanaand ’n ietsie te vat. En kyk, vir hom smeek jy nie om agter ’n koue enetjie in te klim nie – hy gehoorsaam uit en uit die beleid van ’n goeie tyd.
En daar vaar ons die middernagtelike ure in.

Volgens ’n vertroulike bron beland ek en my tjom toe omstreeks 04:00 daardie volgende oggend by die woonstel saam met ons nuutgevonde pel, Vlossie, uitgepass onder ’n kombers van steak- en-kidney-vlokkies met die reuk van borrelgombruismelk wat ’n bedompige spaarkamer oorheers.
En nét toe die son ons spyt en verwyt deur ’n gleuf van die gordyn by ons begin inbak, lui my foon.
Hier met die twaalfde lui skrik ek uiteindelik wakker uit ’n vlieërplank-ekspedisie deur die melkweg en antwoord soos Jimmy Abbott wat sopas ontwaak het na ’n mildelike dosis narkose.

“Yès?”
“De Beer! Waar is jy!?”
“Byrie hys, hoekom?”
“Wat soek jy daar!?”
“... Ek bly hie’ ... wag...wie praat nou?”
“Dis jou baas De Beer, en as ek jy is kry ek my gat in rat op pad werk toe, sodat jy vir my kan kom verduidelik hoekom jy op jou eerste dag van werk laat is!”

En met ’n “Jammer Oom! Hou daar ek's nou daar,” vlieg ek uit die bed met my klere en skoene, gelukkig nog aan my lyf.
Met geen tyd om die dou van die lelie af te skud of tande te borsel nie, gryp ek toe sommer so in die uithardloop na ’n proppie mondspoelmiddel en dié sluk ek toe per abuis uit spiergeheue vanweë die vorige aand se manewales.
En da’ gat ek, in my Corsa met die handrat op Afrikaans.

Ek was nét deur die ergste verkeer en byna by die ateljee toe my foon weer lui:

“Hello!”
“De Beer, waar trek jy?”
“Sterk op pad Oom, hier in Boeingstraat.”
“Jy moet asseblief dadelik omdraai en my dogter gaan oppik by die skool en dokter toe vat.”
“Reg Oom, ek maak so. Wat is haar naam en by watse skool?”
“Estie,” sê hy. “Estie Pheifer by Waterkloof Hoërskool. Vra net vir tannie Siska by die voorportaal.”
“Reg so Oom, ek maak so.”

En ek dag by myself, bliksem, ek het nie gedink daai plek sal my weer sien of wil sien nie. Maar ag wat, dié keer word ek darem betaal en as dit pap reën, skep mens moed.
En daar gat ek, voet in die hoek, swak op pad na my alma hater, dié Hoërskool Waterkloof.

Ek het skaars parkeer toe die tienerangs van ouds soos ’n wegloophond van vooraf teen my wil opspring. Maar ek ruk my toe reg, skop hom weg en teug nonchalant aan ’n Lucky Strike terwyl ek die detensielokaal ten alle koste uit my gesigsveld hou.

In die voorportaal kry ek vir tannie Siska en vra of sy my nie asseblief na ’n ene Estie Pheifer in die siekeboeg kan beduie nie.
“Ja,” sê sy. “Ek dink sy lê in een van die laaste kamers op die tweede verdieping. Vra dalk net vir Niel, die nutsman, waar dit presies is. Hy is daar bo doenig.”
En sonder om te probeer onthou, is ek die gang af en al hygend soos ’n handsaag by die trappe op.

By die eerste deur kry ek toe vir ou Niel in ’n vernielde nuwe O’Neill-hemp besig om al wat blom is teen die ablusiedeur te verf. Ek vra toe of hy nie dalk weet waar Estie lê nie.
“Jong, jy moet maar in die gang afloop en hoor by een van die laaste vertrekke,” sê hy. En met ’n kopknik en dankseg, sit ek my soektog volstoom voort.

Aan die einde van die gang by die laaste deur op linkerhand gewaar ek ’n jong blonde verpleegstertjie wat kruisbeen staan en leun teen die deurkosyn, vasgenael op haar selfoon soos ’n junkie aan die tik en sálig onbewus van my woordelose teenwoordigheid.

Ek steek toe maar my kop versigtig verby haar by die kamerdeur in en daar sien ek ’n jong skoolmeisie lê met haar vel oortrek van die rooi knoppies. Ek dag toe by myself, dit moet seker Estie wees, want sy lyk bra olik en kreun soos ’n gewonde wildsbokkie. Teen daardie tyd het ek toe darem al die verpleegstertjie se aandag wat hier digby my in die deur staan en my aangluur asof ék die rondloperkat is wat haar persiese tapyt geru(ur)ïneer het.

“Verskoon tog” vra ek saggies. “Is dit Estie dié?”

En met ’n frons gevolg deur ’n doodsgluur wat my so effe laat rittereer, antwoord sy my in die suiwerste Pretoria-Oos-aksent ooit: “Whirrhiesô, hellouw!? Dis wâtirpôkkiesss ...”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top