Ernst van Heerden (1916–1997)

  • 0

Gebore en getoë

Ernst van Heerden is op 20 Maart 1916 op Pearston in die Oos-Kaap gebore, die seun van Pieter en Elsie van Heerden. Hy het ook ’n suster gehad. Sy moeder was ’n onderwyseres.

Hy het aanvanklik op Pearston skoolgegaan, maar is na die bekende Grey Hoër in Port Elizabeth nadat hy standerd agt op Pearston geslaag het. In 1931 was hy eerste in Suid-Afrika in die Hoër Taalbondeksamen. Hy het in 1932 as sestienjarige gematrikuleer met Afrikaans en Engels albei op hoër graad.

Vir Ernst het sy digterskap begin toe hy nog baie jonk was. Hy kon onthou dat sy onderwyseres-ma baie van poësie gehou het en sy het daardie liefde aan hom oorgedra. “Die gedigte wat sy gelees het en van gehou het, sou ek vandag esteties miskien nie baie hoog skat nie, maar dit was in elk geval die basis waarop ek ’n liefde vir die poësie ontwikkel het. My onderwysers het my aangemoedig om gedigte te skryf en ek dink my vroegste gedigte moet ongeveer dateer van my agtste of tiende jaar. Ek kan my nog baie goed voorstel hoe ek ’n soort bloemlesinkie gemaak het van my eie gedigte. Dit was natuurlik uiters romantiese temas, want my pogings was gebaseer op die soort verse wat ek in tydskrifte soos Die Huisgenoot en The Outspan gelees het. En ek het van dié versies van my ingestuur na die kinderhoekies van die Port Elizabethse koerante. Af en toe het ek ’n prys gekry vir ’n gedig of vir ’n stukkie prosa” (Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1970).

Ernst het aan Coenie Rudolph (Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1970) vertel dat hoewel hy sy Engelse tande aan Grey geslyp het, hy in albei skole baie knap en simpatieke Afrikaans-onderwysers gehad het: op Pearston mnr Van Schoor en by Grey mnr De Villiers. Dit was ook aan De Villiers te dankie dat Ernst eerste gekom het in die Taalbondeksamen, wat ’n baie groot prestasie vir ’n Engelse skool was.

Ernst het die rol wat mnr De Villiers in sy lewe gespeel het, redelik hoog aangeslaan, “want die onderwyser was ’n geleerde man en ’n man met ruimer kennis as wat my moeder gehad het. En hy het my veral ingelei in die Afrikaanse poësie. Ek het die Engelse poësie van my moeder dikwels gekry en gehoor. Maar die spesifieke onderwyser het my veral bewus gemaak van die skoonhede van die Afrikaanse poësie. Dit was Jan Celliers, Totius en Leipoldt, nie veel verder as dit nie. Vir die eerste keer kon ek toe sien dat my eie taal ook as ’n poëtiese middel aanvaarbaar en esteties is” (Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1970).

Ernst van Heerden het in 1971 Grey Hoër se afsluitingsrede waargeneem en het aan die skoolkinders dié staaltjie uit sy skooldae daar vertel: “Daar was daardie dae nog nie al die sosiale bedrywighede, rolprentvertonings, lesings van vooraanstaande mense, uitstappies en so meer om tot die kultuurvorming van die kinders by te dra nie. Tog het meneer Ronald Graham ’n keer ’n uittreksel uit Sophocles se Antigone in die Gilbert Murray-vertaling opgevoer.

“And I was cast in the role of the tragic Theban heroine and appeared on this stage in a flowing classical robe with headdress and sash, to the derisive laughter of my schoolfellows!” (Die Burger, 7 Desember 1971).

Ernst van Heerden se Die aamborstige klok is in 1966 gepubliseer en het gehandel oor sy jeugjare tot op 14-jarige ouderdom op Pearston. “My moeder het niks van die boek gehou nie,” het hy aan Gus Cluver vertel (Oggendblad, 16 Maart 1974). “Sy het altyd gesê dit stel die Van Heerdens in ’n swak lig voor, want net armlastiges het aamborstige klokke in hulle huise!”

Sy pa, wat ’n winkel gehad het, het ’n vrygewige gees gehad. Daar was altyd iets van alles in die winkel. Hy kon hom dit herinner dat gedurende die depressiejare sy pa heelwat wolboere moes bystaan totdat dit weer beter gegaan het.

Verdere studie en werk

Ná skool is Ernst na die Universiteit Stellenbosch, waar hy vir sy BA begin studeer het. Sy hoofvakke was Afrikaans en Engels en reeds in sy eerste jaar het beide Afrikaanse en Engels gedigte van hom in die studenteblad verskyn. Hy was ’n jeugdige 19 jaar oud toe hy sy BA-graad in 1935 verwerf het, waarna sy MA (1936) gevolg het.

Op Stellenbosch was die jong Ernst se leermeesters EC Pienaar en FEJ Malherbe, wat elkeen hulle eie bydrae tot Ernst se ontwikkeling gelewer het. Hy het verder aan Coenie Rudolph vertel (Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1970) dat hy ook op die gebied van die taalkunde goeie professore gehad het, naamlik JJ Smith en AC Bouman.

In 1936 is die Porter Stipendium aan Ernst toegeken, en in 1938 en 1939 het hy aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam die doktoraalkursus gevolg met proff NA Donkersloot, AA Verdenius, J van Dam en JQ van Regteren Altena as sy leermeesters.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog moes Ernst vroeër na Suid-Afrika terugkeer as wat hy aanvanklik beoog het. Hy het ook aan Rudolph gebieg dat hy in Amsterdam “miskien (...) minder gestudeer en meer gesels (het)”. “My groot maats daar was WJ du P Erlank, die skrywer Eitemal, en WEG Louw wat in dieselfde huis as ek gewoon het.”

Hy het hom derhalwe weer as student aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf en in 1941 die Sekondêre Onderwysdiploma behaal, sowel as die Onderwysersertifikaat in Spraak en Toneel.

Ernst is in 1942 vir ses maande na die destydse Universiteitskollege van Natal in Pietermaritzburg, waar hy ’n tydelike lektoraat in Afrikaans gehad het. In 1943 is hy aangestel as junior lektor in Engels in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en in 1945 het hy lektor in Afrikaans geword tot 1959.

’n Uitruilbeurs van die Belgiese regering is in 1951 aan hom toegeken en hy is na die Rijksuniversiteit te Gent, waar hy sy DLitt et Phil met die hoogste onderskeiding behaal het. Sy proefskrif was getitel “Die digterlike beeld, met spesiale verwysing na die poësie van NP van Wyk Louw”.

Ernst is in 1959 na Amerika met ’n reisbeurs van die Carnegie Corporation of New York met die doel om kursusse in moderne letterkunde aan verskeie Amerikaanse universiteite te volg en ook om self lesings oor die Afrikaanse poësie te lewer. In Amerika was hy bevoorreg om Amerikaanse digters soos Randall Jarrell, Theodore Roethke, Richard Wilbur en EE Cummings te ontmoet. Sy reisjoernaal, Etikette op my koffer, was die gevolg van hierdie verblyf.

NP Van Wyk Louw het vir Ernst ’n lektoraat in die Universiteit van die Witwatersrand se Departement Afrikaans en Nederlandse aangebied en op 1 Maart 1960 het hy diens aanvaar. Op 1 Oktober 1960 het hy senior lektor geword. In 1965 is hy tot “reader” in die algemene poëtiek benoem en op 1 Maart 1967 het hy professor in Afrikaans en Nederlands geword. Ná die afsterwe van Van Wyk Louw in Junie 1970 het Ernst hom opgevolg as hoof van die departement, waar hy tot sy aftrede in 1981 gewerk het.

Oor hierdie verhuising na Johannesburg het hy aan Wilma de Bruin vertel: “My verhuising Johannesburg toe was ’n reddende faktor ten opsigte van ’n hele paar dinge: ek kon my akademies bewys; ek moes my heraanpas ten opsigte van Engelssprekendes; dit het my kreatief tot nuwe dinge gestimuleer en as kritikus kon ek ook meer aktief optree” (Volksblad, 10 Mei 1981).

Oor wat NP Van Wyk Louw vir hom beteken het, het Van Heerden aan Rudolph (Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1970) vertel dat Louw “by my ingeskerp het daardie kompromislose instelling teenoor die literatuur: dat die estetiese altyd die eerste woord in enige beoordeling moet spreek. En dat ’n mens eintlik in jou siening van die literatuur alles van jou beskouing moet afstroop wat nie suiwer en onbesmet met die literatuur self te doen het nie. Dit wat ek van hom as betreklik abstrakte persoonlikheid in sy skryfwerk geken het, is toe vir my bevestig in die lewende, persoonlike kontak met die man.

“Daarby moet ek noem dat hy vir my ook laat nadink en besin het oor die grondslae van die nasionalisme, die nasionale opvatting in my eie lewensbeskouing. (...) Maar Van Wyk Louw was so ’n onbewimpelde, eerlike mens, so in murg-en-been nasionalis, nè? In die ruimste sin van die woord, dit móés op ander persone ’n indruk maak wat daagliks met hom omgegaan het. Dan was ek ook altyd onder die indruk van sy volkome spontane reaksie teenoor wat goed en wat mooi is in die literatuur. Daar was sekere gedigte wat hy nooit kon lees sonder om aangedaan te raak nie.”

Ernst was gedurende sy lewe lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde, Leiden, asook buitelandse erelid van die União Brasileira de escritoires do Amazonas van Manaus in Brasilië en die Centro studi e scambi internazionali Accademia Leonardo da Vinci in Rome. Hy is in 1991 tot erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie verkies.

Die Akademie het in 1991 die Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek aan Van Heerden toegeken. AP Grové het die huldigingswoord gelewer en het gesê dat Ernst van Heerden “sy volle energie in diens van die literatuur en die literêre besinning gestel het en het selfs ná sy aftrede nie gaan rus nie. Die prys gee erkenning aan die ontvanger se statuur en status as literatuurwetenskaplike” (Beeld, 6 September 1991).

Ernst van Heerden het geantwoord: “Daar was my eerste oorsese studieverblyf en die prikkeling wat daar van my Amsterdamse hoogleraar, Anthonie Donkersloot, uitgegaan het. Hy het die voorbeeld gestel van ’n digter wat self kritikus kan wees en wat waardevolle werk op albei gebiede gelewer het. My belangstelling as kritikus is van die begin af toegespits op die meganika, die instrumentarium waarmee die digter werk; dus die taal in al sy moontlikhede, nuanserings, sy menigvuldige verskyningsvorme. (...)

“Dat die Akademie dit goed gevind het om my werk as kritikus met die Gustav Preller-prys te beloon, is ’n groot eer en aansporing. Om as bekroningsgenoot jou plek in te neem naas kritici van die kaliber van ’n Antonissen, Opperman, Scholtz, Botha, Grové, Cloete en Kannemeyer, is voorwaar ’n mylpaal in ’n mens se lewe as letterkundige. (...) Ek wonder hoe dikwels, indien ooit, dit voorkom dat iemand by dieselfde geleentheid ’n belangrike prys én die erelidmaatskap van die Akademie in ontvangs mag neem. Daarom waardeer ek dit des te meer om tot die deurlugtige groep van die Akademie se erelede toegelaat te word” (Nuusbrief van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, September en Desember 1991).

Ernst was ’n uitstekende sportman, ’n aktiewe deelnemer aan atletiek, swem en gimnastiek. Hy was veral bekend vir sy prestasie op die gebied van gewigoptel. Hy was die stigter van die gewigoptelklub aan die Universiteit Stellenbosch, asook van die WP-Gewigoptelunie. Op sy dag was hy die Suid-Afrikaanse gewigoptelkampioen en het hy as skeidsregter gekwalifiseer. Hy het ook vir Danie Craven gehelp om beseerde rugbyspelers met die regte gebruik van gewigte te help herstel.

Na aanleiding van sy belangstelling in sport is ’n groep sportgedigte van Ernst van Heerden in 1948 tydens die Olimpiese Spele in Londen met ’n silwermedalje bekroon. Met die Olimpiese Spele in Helsinki was Ernst ’n beoordelaar, asook bestuurder van die Suid-Afrikaanse gewigoptellers.

Van Heerden het in 1942 as digter gedebuteer met Weerlose uur. In Die Huisgenoot van 9 Oktober 1942 het HA Mulder geskryf dat daar nie net reëls en strofes in die bundel is wat belofte inhou nie, maar ook hele gedigte wat ’n bydrae tot die Afrikaanse verskuns lewer. Daar is vir Mulder nog ’n “sekere ongelykheid van waarde en ook ’n sekere verwardheid en onbeholpenheid van uitdrukking nou en dan”. Daar is drie afdelings in die bundel: die eerste een bevat hoofsaaklik godsdienstige verse, die tweede liefdesverse en die derde afdeling verse van alleenheid en inkeer. Tussendeur dit alles gevleg, is daar persoonlike belewing van die natuur.

Van Heerden se tweede bundel, Verklaarde nag (1946), bevat vir DJ Opperman (Die Burger, 5 Oktober 1946) meer gedigte as die debuutbundel wat “suiwerder verwoord” is, asook “treffende objektiewe sienings en helde gestaltes, soms met fyn en roerende toespelings. ’n Mens word ook onmiddellik getref deur die groter volwassenheid en die ontwikkeling op verstegniese gebied. Verklaarde nag is ’n belangrike vooruitgang op Weerlose uur.”

Ernst Lindenberg het Koraal van die dood (1956) beskryf as Van Heerden se beste bundel ná Verklaarde nag, wat ’n klompie baie mooi verse bevat. Vir T de Weerdt (Dagbreek en Sondagnuus, 2 Junie 1957) maak Van Heerden te veel gebruik van “woordsport”, hoewel dit aanleiding kon gee tot interessante beelde en “vondste wat saamhang met sy kunstenaarsaard as ekspressionis en soms surrealis. Op sy beste gee hy ons ’n merkwaardige woordkuns, maar ten slotte bly sy oeuvre te eng-persoonlik om standhoudend te bly.” Vir De Weerdt was daar wel “egte” verse in Koraal van die dood – dit is die verse waar hy gebruik maak van die normale taalmedium.

Van Heerden ontvang in 1962 die Hertzogprys vir poësie vir sy bundel Die klop (1961). AP Grové het die toekenning gemotiveer. Vir hom was daar nuwe motiewe aanwesig, asook nuwe gebruik en skepping van die woordeskat. Ook is die gebruik van beelde en die verstegniek van die digter vernuwe. “In die ses bundels wat hy gepubliseer het, het hy met sy geraffineerde, byna gesofistikeerde vers ’n besliste eie plek onder die digters van veertig ingeneem.

“Hy het nuwe motiewe in die Afrikaanse digkuns ingebring waardeur onontgonne gebiede van menslike ervaring in Afrikaans in woorde gestel is. Ook tegnies het die digter met sy besonder kriptiese beeldgebruik ’n groot bydrae tot die Afrikaanse digkuns gelewer. Die glasskerwe van die kaleidoskoop kan hy met ’n handomdraai so rangskik dat die gestorwe prinses triomfantlik en lewend daaruit opstaan. By die betragting van ’n bergskilpad kan hy ’n boeiende perspektief gee op die geskiedenis van die mensdom.”

In 1963 het die eerste keur uit Ernst van Heerden se gedigte onder die titel Op die mespunt verskyn, saamgestel deur AP Grové. Vir FEJ Malherbe (Die Huisgenoot, 16 Julie 1964) was dit ’n baie mooi bundel. Dit het ook enkele verse bevat wat nog nie vantevore in bundels opgeneem is nie. “Die gees van die digter het met die jare milder geword en meer versoend, die aarde vir hom kleiner en ryker, die ‘inherente lewe’ weerbaarder teen die verlies en die dood. ’n Kosbare bundel.”

Drie jaar het verloop tussen dié bloemlesing en Van Heerden se volgende bundel, Anderkant besit (1966). Elf van die gedigte in die nuwe bundel het in Op die mespunt verskyn, maar daar is ook meer as veertig nuwe gedigte in Anderkant besit. In die nuwe bundel is daar nog die bekende Van Heerden-stempel, soos AP Grové (Die Vaderland, 23 September 1966) dit noem, maar daar is tog ook besliste tekens dat die digter besig is om te vernuwe. Hy het begin om nuwe woorde en beelde te toets en daar is ook ’n nuwe ingesteldheid merkbaar.

Ook vir FIJ van Rensburg was die nuwe pad wat Van Heerden begin inslaan het met Anderkant besit, verblydend, en dit is ’n pad wat nog baie vondste kon oplewer (Volksblad, 1 September 1966).

In November 1973 het die rampspoed vir Ernst van Heerden getref. Nadat daar vroeër ’n aar uit sy linkerbeen verwyder is as gevolg van trombose, asook van die beensenuwees om die pyn te verlig, moes die been net onder die knie afgesit word, aangesien die eerste operasie nie ’n sukses was nie. Die been is later dieselfde maand bokant die knie afgesit. Op 5 Mei 1974 moes die regterbeen ook net bokant die knie afgesit word. Hy het aan Gus Cluver in Oggendblad van 16 Maart 1974 gesê: “Ek hoop om die kwale wat my nou so ’n bietjie vasdruk, te bowe te kom – sodat ek so gou moontlik met my werk by die universiteit kan voortgaan.”

Daarna moes hy terapeutiese behandeling ontvang en op 6 Julie 1974 was hy terug by die huis. Hy het sy werk by Wits aan die begin van die derde kwartaal hervat.

In 1975 is sy bundel Teenstrydige liedere met die WA Hofmeyr-prys bekroon en is Tyd van verhuising gepubliseer. Hy het ook “wiele” gekry, naamlik sy motor wat aangepas is sodat hy dit met handkontroles kon bestuur. Ook was die vreeslike pyn waarmee hy die vorige jare moes saamleef, vir eers verby.

Hy het aan Die Transvaler (5 Julie 1975) vertel dat dit nie maklik was om die verlies van beide sy bene te verwerk nie, “maar ’n mens leer daarmee saamleef. Dit bring nuwe waardes. Die klein dingetjies word vir jou belangrik en mense – jy kyk skielik inniger na hulle en waardeer hulle meer.”

Van Heerden het aan Piet Muller (Beeld, 20 Maart 1981) vertel dat daardie tydperk vir hom ’n “vae tydperk, deurtrek met pyn” was, maar dat dit hom tog “meer verdraagsaam met hebbelikhede gemaak het. Of miskien is deernis die regte woord. My poësie het deur die ondervinding oper en mensliker geword. Dit is nie meer so vasgevang in duistere metaforiek nie. Ook na vorm is dit effens losser.”

Wat hy die meeste gemis het na sy verlies van sy bene, was die feit dat hy nie meer kon oefeninge doen nie. Hy het probeer om in oefening te bly deur met gewigte te oefen en ander oefeninge te doen wat sy maag- en armspiere kon versterk. En toe het hy begin swem. Hy het ’n verhitte swembad by sy huis gehad en het aan Elsa Krüger vertel (Beeld, 15 Augustus 1987): “Maar die groot vreugde is swem, want dit is die enigste sportsoort wat ek nou kan beoefen waarin ek volkome vry voel. Dié paar minute is ek nie bewus van swaartekrag nie, van ’n masjien wat my moet voortdra nie. Ek plas in die water soos ’n hond, maar daar is iets byna dierliks in die vreugde wat ek daar ondervind.”

In sy outobiografiese vertellings, Die ligtende trein, wat in 1988 verskyn het, het Ernst dieper ingegaan op hierdie trauma in sy lewe: “Een van die groot uitdagings in ’n toestand soos myne is om daarvoor te sorg dat jy enige beduidenis van martelaarskap vermy. Dit is al ’n wins as jy deur die smeltkroes kan gaan en net met ’n veeg kruitbrand anderkant kan uitkom. Dit mag swaar wees, maar ’n mens moet aanvaar: in ’n wêreld van haat en bitterheid en naakte geweld is jou persoonlike verlies iets nietigs en betekenisloos ... As daar ’n ‘betekenis’ in dit alles verskuil lê, is die oorheersende dat ek juis nóú ... elke voordeel moet uitbuit, met elke ademteug bewys dat dasein sterker is as nichtsein” (Volksblad, 21 Maart 1996).

By die ontvangs van die WA Hofmeyr-prys in 1975 het Van Heerden “met waardering kennis geneem van die norm van gehalte wat onkreukbaar toegepas word in die beoordeling van werk wat vir die Hofmeyr-prys in aanmerking kom,” het Hannes van Zyl verslag gedoen in Die Burger (13 November 1975).

Van Heerden het voortgegaan: “Die publikasie van gedigte het iets gemeen met die skipbreukeling wat in wanhoop op sy onbetrede eiland sy boodskap in ’n bottel op die golwe werp. Waar spoel dit uit? Wie gaan dit lees? Sal daar erkenning en redding kom? Ja, dit bly steeds vir die digter ’n bron van verwondering as jy die verkoopstate van jou boeke ontvang en skielik besef dat 500 mense (as jy gelukkig is, natuurlik) bereid was om R4,20 vir jou verpuurde wysheid te betaal.

“Ek is waarskynlik skuldig aan ’n cliché as ek beweer dat my verse ’n vorm van uitreiking van kommunikasie wil wees – onvolmaak, onvolledig, ondoeltreffend soos hulle is. Maar die skryfbedryf is deels ook ’n soeke na identiteit, ’n bevestiging van jouself, ’n aankondiging van iets persoonliks en aparts. Miskien sal die sinikus met reg kan sê: die skrywery is niks meer as gesofistikeerde graffiti nie: ek was hier, hier laat ek iets agter, hier lê my stempel, hier is my vingerafdruk of voetspoor. (...)

“As ek as digter deur my werk (wat ook soms so duidelik teruggeroepte herinnering is) nie ’n soort bevryding ervaar nie, is die hele bedryf sinloos en ’n verfynde marteling” (Die Burger, 13 November 1975).

Wat die titel, Teenstrydige liedere, betref: die teenstrydigheid het vir Ernst van Heerden op verskillende terreine gelê. “Daar is byvoorbeeld die tegniese teenstelling tussen gebonde en ongebonde verse, die losse soms plat spreektaal teenoor ’n meer gedronge (soms metaforiese) en gestileerde woordgebruik. Maar daar is ook tematiese teenstellings, byvoorbeeld tussen verse sê nou maar oor ’n olifant, ’n timmerman, ’n Kaapse herehuis en ’n surrealistiese simfoniekonsert. (...)

“Die woord liedere in die titel het sy eie ironiese inslag: Ek glo nie die meeste van die verse het juis ’n singbare kwaliteit nie. Miskien is die woord liedere hier aanduidend van ’n sekere soort vrye gevoelsuiting, ’n strewe om met ’n spontane woordvloei die irrasionele lewe minstens aanvaarbaar en leefbaar te maak. Maar kan ’n mens so ’n titel rasioneel ‘verklaar’? Buitendien dek die titel-vlag nooit die hele lading nie” (Oosterlig, 14 November 1974).

In Rapport van 17 Augustus 1975 het André P Brink Teenstrydige liedere as ’n besliste hoogtepunt in Van Heerden se digkuns beskryf. Dit “verteenwoordig ook een van die fynste bydraes tot ons poësie van die vroeë 1970’s.”

Ter viering van Ernst se 60ste verjaardag in 1976 het Tafelberg Uitgewers ’n faksimilee-uitgawe van 18 ongepubliseerde, met die hand geskrewe gedigte van hom uitgegee. Die bundel, Die ysterwoud, is in ’n beperkte oplaag van 300 eksemplare wat elkeen deur Van Heerden geteken is en genommer is, uitgegee. Dit is ook op spesiaal ingevoerde handgemaakte Zerkall Büttenpapier gedruk en is versier met ’n afdruk van ’n houtskoolportret van die digter deur Jean Welz. TT Cloete het in Tydskrif vir Letterkunde (Junie 1977) gesê dat Die ysterwoud ’n baie goeie bundel is en van Van Heerden se beste verse bevat.

Hennie Aucamp het ter herdenking van Ernst se 60ste verjaardag ’n huldeblyk in die radioprogram Monitor uitgesaai en gesê dat Ernst van Heerden se bydrae tot die uitbreiding en vergroting van Afrikaans se taalregister nie genoeg na waarde geskat word nie. “In een stadium was dit mode om van Ernst van Heerden as salondigter te praat, maar langsamerhand daag die besef dat die salon-, studeerkamer-, watter bestaansvorm dan ook, bestaansreg het in ’n taal; ook in Afrikaans. Sekerlik is dit een van die belangrikste funksies van Sestig: dat dit onhoudbare taaltaboes en vooroordele begin afbreek het. (...)

“Dit is ironies dat juis Ernst van Heerden eenmaal aan my gesê het: ‘Ek wonder soms of Afrikaans werklik gesofistikeerd kan wees.’ Want juis Ernst van Heerden bewys hóé verfynd en wêreldwys Afrikaans kan klink. Juis hý bring ‘the third stream of consciousness’ na die poësie, waardeur vroeër ‘nooit gehoorde’ dinge táál word. En dis tog een van die oudste maniere waarop die register van ’n taal uitgebrei word: deur die vreeslose verkenning van eie emosies.

“Ernst van Heerden is ’n wegbepaler. Sy bydrae tot ons menswees en ons taal het ’n eie stempel, en is duursaam.”

In 1981, toe Ernst 65 word, is ’n versamelbundel van sy eerste ses bundels getiteld Kleur van donkerte deur Human & Rousseau uitgegee. Ook het daar by Tafelberg Uitgewers ’n bundel artikels onder redaksie van Ampie Coetzee onder die titel Hulsels van kristal verskyn en is die hele uitgawe van Standpunte 152 aan hom gewy waarin nuwe gedigte van hom verskyn het, asook ’n fotobeeld. Artikels deur onder andere Hennie Aucamp, FR Gilfillan, DJ Hugo, Gerrit Olivier en Henning Snyman is in die uitgawe opgeneem.

In Maart 1981 het Van Heerden hom as volg teenoor Die Vaderland uitgelaat oor die kwessie van sensuur: “Ek en my departement was nog altyd gekant teen sensuur. Die huidige sensuurbedeling in die land is vir die intellektueel ’n belediging, want dit weerhou hom daarvan om kennis te neem van beduidende letterkunde is sy eie land én in ander lande.”

In 1982 het die Universiteit van die Witwatersrand ’n eredoktorsgraad in die letterkunde (D Litt) aan Van Heerden toegeken vir sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, asook vir sy werk as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan Wits. In 1985 het Rhodes Universiteit hom eweneens met ’n eregraad vereer – die tweede maal dat hy as Afrikaanse skrywer ’n eregraad van ’n Engelse universiteit ontvang. “’n Mens kan nie sê jy is geskok nie. Jy is dankbaar en voel bly. Dit is altyd verblydend as ’n mens erkenning vir jou werk kry.”

Ook die Universiteit van die Vrystaat het ’n eredoktorsgraad (D Litt) aan Van Heerden toegeken (1991), en in 1995 het die Universiteit Stellenbosch gevolg toe hulle die graad DLitt honoris causa aan hom toegeken het.

Ernst van Heerden was baie lief vir speurverhale en van sy gunstelingskrywers was John D MacDonald, Ellery Queen, Earl Stanley Gardner en Raymond Chandler.

Hy het aan Gerrit Olivier (Die Burger, 31 Julie 1982) vertel dat sy versameling kassette vir hom ’n “groot vreugde is. Hulle is amper makliker hanteerbaar as plate. Ek luister na alles: vanaf Larry Adler se mondfluitjie tot John Williams se kitaar, met Mozart, Beethoven, Mahler en Brahms tussenin.” Hy het ook ’n groot versameling klassieke plate gekoop, op advies van Con de Villiers.

Toe die nuus Van Heerden se ore bereik dat sy ou alma mater, die skool op Pearston, se leerlinggetalle só begin krimp het dat daar straks van ’n onderwyser ontslae geraak moes word, het hy baie gou sy beursie oopgemaak en ’n beursfonds gestig om kinders van elders na die koshuis te bring sodat die leerlingtal op ’n veilige vlak gehou kon word en die onderwysers almal hulle poste kon behou. In 1985 het hy Pearston weer besoek om sy bydrae tot die fonds te verhoog.

In ’n onderhoud met Gerrit Olivier in Julie 1982 in Die Burger het Van Heerden dit oor die destydse Afrikaanse poësie gehad: “Die jongste Afrikaanse poësie vind ek ’n redelik deprimerende aangeleentheid. Afgesien van die uiters interpunksieloosheid is daar dikwels ’n totale gebrek aan wat ’n mens ‘interne’ dissipline kan noem. Die lewenservaring wat daarin uitgebeeld word, is ook baie keer beperk en soms heeltemal onbenullig.”

Hy het teenoor Olivier erken dat hy die sogenaamde Tagtigers “uiters kunsmatig” vind. “Die hele periodisering in dekades is van beperkte waarde. Neem byvoorbeeld die Dertigers: waar wil jy ’n groter kontras kry as dié tussen ID du Plessis en Van Wyk Louw.”

Hy het ook vir Olivier gesê dat toe hy van die plattelandse Pearston na Grey in Port Elizabeth is, dit vir hom ’n ander wêreld oopgemaak het. “Dit was georganiseer volgens die beginsels van die English Public School. Eers later toe ek my in die opvoedkundige teorie moes inwerk, het ek besef watter krag daardie konserwatiewe opvatting van ’n Engelse opvoeding het. Cyril Norwood, eertydse skoolhoof van Harrow, noem in sy The English tradition of education die grondvestings van hierdie soort opvoeding, naamlik ‘Religion, discipline, culture, athletics and service’ as teengif vir sy diagnose dat ‘it is certain that an ignorant democracy must fail’.

“Hierdie idealisme met sy Victoriaanse agtergrond sal miskien vandag deur baie geminag word, maar vir my het dit oneindig baie beteken. Die spronge van Pearston na PE en vandaar na Stellenbosch en Europa het elke keer ’n nuwe stimulus gebring.”

Nog ’n erkenning van Ernst van Heerden en sy werk het in 1983 gekom toe sy geboortedorp die ereburgerskap van Pearston aan hom toeken. Hy het aan Helena Kolbe (Oosterlig, 3 November 1983) vertel dat dit vir hom een van dié oomblikke in sy lewe as skrywer was. “Dit is vir my ’n groot eer om hierdie gebaar van liefde van my geboortedorp te ontvang.” Benewens Die aamborstige klok, wat oor sy jeugjare op Pearston handel, figureer die dorp ook gereeld in sy verse, want “dit is waar dat ’n mens se agtergrond deel van jou wese is en dat jy daaraan nooit kan ontkom nie.”

Kanse op ’n wrak (1982) is in een band uitgegee saam met Die ysterwoud, wat nie meer in druk was nie. TT Cloete (Volksblad, 12 Oktober 1982) het Kanse op ’n wrak beskryf as “poësie van die kwesbaarheid, van kerf en vermink (‘Rustende atleet'), van messe. Meestal is die verminking van die eie persoon betrek, op die eie lewe, maar soms is dit geobjektiveer. Daar is nog gedigte van ruïnering, van fnuiking. Hierdie gedigte, met hul onverbloemde realisme en ruheid, het ’n gesonde kragtigheid in die poësie van Ernst van Heerden gebring. (...)

“In ’n lang, groeiende digterskap het Ernst van Heerden met sy jongste bundel sy verfynde talent bevestig, en ’n nuwe kragtige realiteitsin het ’n pragtige aspek tot sy poësie toegevoeg. Dit is die werk van ’n gerypte, geteisterde menslikheid, met die poësie as triomf, ook daar waar dit die menslike ellendigheid onverbloemd by die naam noem.”

Met die verskyning van Die swart skip in 1985 het hy aan Koos Prinsloo in Die Burger (31 Desember 1985) gesê dat hierdie bundel nie die tema van fisieke terugslae verder voer nie. “Ek dink ek kon nou genadiglik loskom van daardie traumatiese geskiedenis en met ’n meer objektiewe oog na ander ervarings kyk – soms skokkend, soms weemoedig, altyd retrospektief. Miskien is dit juister om te sê dat die nuwe gedigte meer te doen het met la condition humaine as met my eie kondisie.”

Vir Van Heerden word dit in ’n mate al deur die titel van die bundel aangedui. “Jy kan vanuit minstens twee gesigspunte na die titel kyk: basies is daar die direkte verwysing na die skedelvlag van die 17de-eeuse seerowers, en verder dan die simboliese toepassing: is die vers self in sy wroeginge nie ’n plundering van ’n taalskat nie, of anders gestel, is die gedig nie dalk ’n kaping van die taal nie? In elk geval die kaping van ’n stuk emosie, ’n visie op die werklikheid as jy wil.

“Ons moet onthou dat daar altyd ’n enorme verskil is tussen wat die digter ervaar en wat in sy gedig as taalgestalte bestendig word. Die een is dikwels ’n onvoldoende, selfs gebrekkige afspieëling van die ander. Baie van die verse in Die swart skip het ook te make met die skrywersamp, die skeppingsproses self” (Die Burger, 31 Desember 1985).

Volgens Van Heerden het heelwat van die verse in Die swart skip te make met die uiteindelike totnietmaking van die waardes waarvoor die poësie juis staan: eerlikheid, deernis, medemenslikheid, waarheid en skoonheid.

Oor Die swart skip het André P Brink gesê: “Só ’n bundel verskyn in enige literatuur maar selde” (Rapport, 10 November 1985).

Vanaf Die swart skip het Van Heerden se gedigte meer geneig na ’n struktuur wat effe losser is, “’n langer uitgewerkte argument en ’n meer beskoulike opweeg van keerkante. Resensente was dit eens dat dié bundel ’n besonder digte tekstuur vertoon met ’n ryke hiërargie van kodes wat op mekaar inbuig en tegelyk terugwerk na sy vroeër werk. ’n Algemene beswaar was dat ’n sekere literêre bewustheid dié bundel vir die gewone leser ’n moeilik toeganklike netwerk van verwysing en belesenheid maak”, aldus Lucas Malan in De Kat (September 1987).

Vir Malan is daar ook baie voorbeelde van die feit dat Van Heerden nog steeds die vermoë het om die “onthutsende teenstrydigheid in dinge raak te sien en dit met ’n vernuftige ommekeer aan die lig te bring. Amulet teen die vuur is ’n bundel van besondere rypheid waarin die besinning oor die menslike lot groot hoogtes bereik.”

Ook by geleentheid van Ernst se 70ste verjaardag het Jean Branford, mederedakteur van die Dictionary of South African English aan Rhodes Universiteit, 34 van sy gedigte in Engels vertaal en die bundel as The runner and the shadow gepubliseer. Branford het aan Oosterlig (15 Mei 1986) vertel dat sy een of twee gedigte vir Van Heerden vertaal het toe hy sy eredoktorsgraad by Rhodes ontvang het. “Hy was so tevrede daarmee dat die idee vir die bundel ontstaan het.”

In die bundel is die Afrikaanse gedigte aan die linkerkant en die Engelse verwerking op die teenblad. Ses van die belangrikste gedigte is deur Van Heerden self vertaal. In sommige instansies, soos “Die gewigopteller”, het hy dit nie eintlik vertaal nie, maar eerder ’n nuwe gedig geskryf.

Vir Barrie Hough (in Die Burger, 15 Mei 1986) is Van Heerden se werk goed verteenwoordig en Engelssprekende lesers behoort, nadat hulle die gedigte gelees het, goed onder die indruk van Van Heerden se statuur in die Afrikaanse poësie te kom.

Ernst van Heerden het nie na sy aftrede stilgesit en ontspan nie. Nege publikasies, waarvan sewe digbundels, het na 1981 uit sy pen verskyn. En Amulet teen die vuur, sy veertiende digbundel,wat in 1987 verskyn het, het die CNA-prys sowel as die WA Hofmeyr-prys verower.

Oor die titel van Amulet teen die vuur het hy aan Elsa Krüger verduidelik: “(‘n) Amulet is ’n snuistery om die euwel af te weer, veral by primitiewe volkere, waar dit ’n halsband of polssnoer kan wees wat die draer teen die onheil moet beskerm. Die vuur wat die amulet moet keer, neem verskillende gedaantes aan. Die vuur van opstand en revolusie, letterlik van oorlog dus, maar ook die vuur van ’n vervreemding van God, die vuur van siekte, aftakeling en doodsangs, en met alles deurtrek, die vuur van die gewete” (Beeld, 15 Augustus 1987).

Nadat die CNA-prys aan Amulet teen die vuur toegeken is, het Van Heerden aan Herman Fourie van The Argus (29 Julie 1988) vertel: “In particular it is gratifying to see that the role of the poet is still being valued in our society. We send our words into the void, but we have also been called ‘unacknowledged legislators’ whose ideas help to shape our destiny. (...)

“Writing poetry is an urgent necessity for me – I still have so much to explore and say that I will certainly continue writing while I have the strength. Old age needs to be exploited positively. Apart from gaining more wisdom about life and a greater perception of its faults and injustices in old age, I find that newspaper vendors and waiters treat me with much more deference than before.”

As hy ’n boodskap aan die jonger skrywers kan gee, dan is dit dat die ouderdom vol gebreke is, het hy aan Elsa Krüger gesê. “Elke dag is ’n genade wat benut moet word, afgesien van jou persoonlike omstandighede. Jy moet geloof hê in wat jy doen, en jy moet nie jou vermoëns oorskat nie, maar ook nie onderskat nie. Om op ’n enigsins weemoedige toon te praat – op my leeftyd sien jy natuurlik hoe jou tydgenote een ná die ander wegval. Jy besef hoe betreklik alles is. En op die ou end wat bly oor? Die liefde. Ek lees nou die dag Love is the pity we feel for one another en ek dink dit som dit op” (Beeld, 15 Augustus 1987).

In ’n onderhoud met Van Heerden in Zuid-Afrika (Oktober 1990) wou Hans Ester weet hoeveel hoop hy vir die toekoms van die wêreld het (dit is na aanleiding van gedigte in Kwadratuur van die sirkel). Van Heerden het geantwoord: “Die toekoms van die wêreld? Waarlik ek is geen kultuurfilosoof of profeet nie, maar beleef ons reeds ’n nuwe soort ‘Untergang des Abendlandes’? Miskien moet ons maar in die mikrokosmos van eie hart die geloof brandend hou. Want as ek as mens en as digter voel dat al die spreke oor God klatergoud geword het, kom daar bewyse (oorvloedig!) dat die hoop op ’n betere wêreld nie beskaam nie. Want onthou: ‘’t had zoveel erger kunnen zijn’.”

Johann de Lange skryf in Rapport (25 Maart 1990) dat die grootste gedeelte van Kwadratuur van die sirkel (1990) ’n politieke konteks het. “In Kwadratuur wat aldus die ‘program’-gedig ‘Matesis’ onder meer om die digterlike onmag handel, word die bundel egter tegelyk intens persoonlik deurdat die liggaamlike aftakeling, maar ook kreatiewe dood, gekoppel aan die ondergang van ’n beskawing onder meer omdat júis die medium van verset en léwe, naamlik die taal self, sélf aangevreet deur die ondergang, eweneens bedreig staan. (...)

Kwadratuur van die sirkel is Van Heerden se somberste boek nóg, swartgallig, sinies; maar altyd vraend, ondersoekend. Dit is die werk van ’n ryp, deurwinterde digterskap, die testament van ’n onblusbare kreatiewe gees wat steeds ‘blink mirakels’ soek.”

Met Ernst van Heerden se 75ste verjaardag in 1991 is hy vereer met ’n besonderse digbundel waarin verse van 31 Suid-Afrikaanse digters opgeneem is. Die bundel, met die titel Verse vir Ernst, is deur Lucas Malan en Gerrit Olivier saamgestel en is in ’n beperkte oplaag deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. Radio Suid-Afrika se Skrywersfonds het ’n ruim subsidie vir hierdie publikasie beskikbaar gestel. Vyf geslagte digters se gedigte is in die bundel opgeneem.

In 1991, tydens ’n besoek aan die Universiteit van die Vrystaat om sy eredoktorsgraad te ontvang, het Van Heerden oor die belangrike rol wat godsdiens in sy poësie speel, aan Cobus du Plessis verduidelik: “Per slot van sake is die godsbegrip, die godsbelewenis ’n baie persoonlike, baie intieme saak. Gelukkig het Afrikaans op dié gebied voortreflike skrywers opgelewer; op die een of ander tyd sal elke digter sy verhouding met God, of ’n godheid, blootlê, al is dit hoe indirek. Vanaf my vroegste poësie is ’n geding-met-God (om nou die Dertiger-cliché te gebruik) merkbaar. Later word dit ’n soort weemoed oor God, ’n soeke, ’n bevestiging. As gestremde is daar vir my baie vrae en kwellinge, en God staan sentraal in verskeie verse oor onbegrip, aanvaarding, deemoed, selfondersoek, die Hiernamaals” (Dolos, 1991:2).

Ter viering van Ernst se 77ste verjaardag in 1993 is hy tydens ’n geselligheid deur die Universiteit van Pretoria vereer vir sy gedigte oor sport. Dit was die eerste maal dat ’n Afrikaanse digter op so ’n wyse vereer is. Sy bundel, Sportgedigte, wat in ’n oplaag van 350 getekende en genommerde eksemplare uitgegee is, is daar aan hom oorhandig. Terselfdertyd het die Sportburo van Tukkies aan hom ’n beeld van ’n gewigopteller deur die kunstenaar Chris de Jager oorhandig (Die Transvaler, 22 Maart 1993).

As ’n mens deur Sportgedigte lees, kom dit duidelik na vore dat Van Heerden nie net heelwat sportgedigte geskryf het nie, maar dat hulle van sy beste gedigte is en dat daar baie eienskappe van sy digwerk ook in hulle te sien is (Volksblad, 5 Julie 1993).

Ook in 1993 is sy nuwe bundel, Najaarswys, gepubliseer. Hy het aan George Boshoff vertel dat die titel dui “op die beleënheid, die rypheid, die insig wat die ouderdom bring. Die woord kan natuurlik ook sinspeel op ‘op die wyse van’, dit wil sê op die manier van ’n ou man wat sy lewe oorskou.” Die titels van die bundel se twee afdelings bevestig ook die hooftitel: “Sonnewende”, wat dui op oorgang, meer bepaald die kortste dag van die jaar wat die begin van die winter aandui, en “Vergissmeinicht”, waarin die digter pleit vir voortbestaan en om nog erken te word.

Vir Joan Hambidge is Najaarswys nie ’n meer teder of swakker bundel as van sy voriges nie, maar in hierdie bundel het Van Heerden in ’n ander sleutel gedig. “As die sogenaamde ironiese taaiheid in dié bundel afwesig is, en die formele pantser agtergelaat word, vind hierdie leser juis die gevoelige, weerlose mens wat praat eerder as die slim digter (soos in die twee vorige bundels), ’n interessante afwisseling.”

Hambidge vind Najaarswys “‘n roerende bundel: Een vir die handvol lesers en een wat my in die besonder geïmponeer het omdat ons die naakte mens sien. Ernst van Heerden het ’n ryk, verwikkelde en uiteenlopende oeuvre geskep wat sy lewe dus nié ongedaan óf oorbodig maak nie. Inteendeel” (Die Burger, 30 Maart 1993).

Op sy 80ste verjaardag het Ernst se 15de digbundel, Die herfstelike lig, verskyn. Hy self het die bundel sy “afskeid” genoem, maar Charles Fryer maan die leser dat die bundel glad nie morbied is nie. “Die gees wat deur die bundel straal, is steeds veerkragtig, die verbeelding verrassend soepel. Dit is ’n digter wat afreken met opgegaarde briewe en met sy dodes wat sy gemoed in beslag wil neem” (Volksblad, 21 Maart 1996).

Voorin Die herfstelike lig is daar ’n aanhaling van Thom Gunn wat ook beskou kan word as die tema van die bundel in kort, naamlik aan die een kant herinneringe en aan die ander kant ’n testament van ’n digterlike oeuvre. Die motto is: “When near your death a friend / Asked you what he could do,/ ‘Remember me’, you said./ We will remember you.”

In Insig van Junie 1996 het Henning Snyman geskryf dat die titel van die eerste afdeling, “Spieëls en vensters”, terugkyk, maar tog ook in die toekoms inkyk; terwyl die tweede afdeling, “Stroomversnelling”, op die hede fokus, die berusting by die oudwordproses en die besef dat ’n mens nie vir ewig gaan lewe nie. “Binne hierdie breë tematiek is die titel vanpas,” skryf Snyman. “Die oënskynlike retoriek van die herfs as teken van verganklikheid kry sin in die onpretensieuse aard van die gedigte. Dit bring die poësie op die vlak van doodeenvoudig menswees.

“In die intense menslikheid van die bundel lê die grootste bate daarvan. Dit is ’n verslag van die emosies wat mense ervaar by die oudword. En as die poësie verslag moet doen oor elke faset van die menslike kondisie, is dit gepas dat oudword en doodsbesef volledig in die poëtiese ervaring beslag moet kry. Te meer so as dit kan geskied deur die ervaring van ’n deurwinterde digter soos Ernst van Heerden. (...)

“In ’n sekere sin sou ’n mens van hierdie bundel as emblematiese poësie kon praat. Die beeld word gegee en daarna as ’t ware verklaar. Hierdie sonnet-agtige aard van Van Heerden se poësie was vroeër ook merkbaar, maar in Die herfstelike lig word dit as ’n digterlike metode uitgebou. Dit is ’n wins, want dit bring mee dat die gedigte causerie word, maar causerie in die beste sin van die woord. Op sigself verhoog dit die menslikheid van hierdie poësie. In die hand van ’n mindere digter sou dit noodlottig kon wees; by Van Heerden word dit pragtige literatuur wat ’n ou kunstradisie sierlik laat herleef.”

George Weideman het sy resensie in Rapport (24 Maart 1996) so afgesluit: “Wesenlik bly Van Heerden ’n gewikste hanteerder van Afrikaans. Die herfstelike lig is ’n beskeie, maar gepaste viering van die digter se tagtigste verjaardag. Daar is genoeg voorkrag in dié herfstelike takies om genoeg lesers nog lank hierna te laat terugkom.”

Beeld het in 1996 aan Ernst van Heerden gevra wat hy lees. “As digter lees ek graag poësie, veral Amerikaanse poësie, wat vir my ’n wêreld oopmaak wat skakel met die Afrikaanse wêreld. Ek is volkome subjektief, want ek lees graag die werk van Jarrell en Theodore Rotke, digters wat ek ontmoet het toe ek ’n jaar daar was. Van die moderne Afrikaanse poësie verkies ek die werk van Lucas Malan en Johann de Lange. Ander Afrikaanse poësie is vir my ’n bietjie te pretensieus en skakel te weinig aan die wêreld van die digter self.

“Dan lees ek wat prosa betref ou Afrikaanse prosa, byvoorbeeld van Van Melle, omdat dié skrywers in die eerste instansie landryke Afrikaans skrywe en ’n wêreld skep wat ek in my jeug geken het. Ek lees weinig drama, want ek verkies om drama op die verhoog te sien” (Beeld, 20 Mei 1996).

In Junie 1997 is Ernst van Heerden in ’n Randburgse kliniek opgeneem weens algehele verswakking. Hy het aan atrofie gely. Hy is daarna na ’n oord en het sy laaste paar maande weer in sy huis in Greenside gewoon. Op 30 September 1997 is hy in die Olivedale-kliniek in Johannesburg oorlede. Hy is oorleef deur sy suster, Elize, en haar twee seuns.

Huldeblyke

  • André P Brink: “Met die dood van Ernst van Heerden is iets van ’n era in die Afrikaanse poësie nou byna afgesluit: daardie vernuwende generasies van Dertig en Veertig vir wie die lewe ’n gedig was en die poësie ’n manier van lewe. Dit was nie maar toewyding aan ’n werksetos of aan ’n lewenstaak wat gemaak het dat in haas elke gesprek met Ernst van Heerden hy sou verwys na ’n nuwe gedig of ’n nuwe bundel wat hy aan die skryf was nie: vir hom kon dit nie anders nie, want lewe en poësie het metafore van mekaar geraak. (...) Wat bly vir my, is die stil virtuositeit van die láát, deurwinterde skoonheid waarmee hy sterflikheid en menslike broosheid met so ’n oneindige deernis deurstraal het:

Dra saggies, gode
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van ’n lewe
kan so maklik breek”
(Uit: “Aan die verhuisingsmanne” in Tyd van verhuising) (Insig, November 1997)

  • Stefans Grové: “As een van duisende Suid-Afrikaners wie se lewens deur Ernst van Heerden onmeetbaar verryk is, wil ek ook graag hulde aan hierdie besonder unieke ontslape digter en mens bring. (...) Ek het hom deur sy besonder musikale verskuns dieper leer ken en waardeer. ’n Mens kan dit as woordmusiek beskrywe. Maar hom as mens het ek in Wolk van die mooi weer: ’n Suid-Amerikaanse reisjoernaal deur en deur leer ken. Opvallend daarin was sy fyn waarnemingsvermoë, sy humorsin wat hom nooit in die steek gelaat het nie, en sy gawe om selfs nietighede ten volle te kon geniet.” (Beeld, 7 Oktober 1997)
  • Die Burger-hoofartikel, 11 Oktober 1997: “Die gevaar was groot dat Van Heerden in die ban van NP van Wyk Louw en DJ Opperman sou voortskryf. Betreklik gou ontworstel hy hom egter aan die estetisering van Dertig, terwyl hy met die jare in staat was om sy eie stem naas dié van Opperman te handhaaf en ’n tipe gedig te skryf waarop hy sy eie stempel kon afdruk. (...) Vir iemand wat só ingestel was op die spierkrag van die sportman, moes die aftakeling en verminking van die liggaam ’n verskriklike vooruitsig gewees het. (...) Vir sy vriende was dit ’n verrykende ervaring om te sien met hoeveel lewensdrif en blymoedigheid Van Heerden hierdie trauma kon verwerk, met sy werk as letterkundige en digter kon voortgaan en met die fyn vakmanskap van sy beste verse ’n beduidende bydrae kon lewer. (...) En ten spyte van alles kon daardie blymoedigheid wat so kenmerkend van hom was, bly voortbestaan en kon hy enige sweem van selfbejammering met ’n selfspot en sprankeling van hom afweer. Dit is hierdie aspek van sy samestelling wat sy mededigter Elisabeth Eybers so treffend in ’n huldevers verwoord: 

Soek ek in my geheue asiel
dan wil ek, Ernst, op my stram knieë kniel
waar jy met sprankeloë en milde spot
– jou wesenlike veerkrag ongeknot –
die helder lesse uit jou donker uur
meedeel: van vreugde, sterflikheid en duur.”

  • Réna Pretorius: “Die gemis aan Ernst: die mens en leermeester, sal vorentoe versag word deur die versskepper Ernst van Heerden se ryke nalatenskap aan goeie, suiwer en tydelose verse. Mag sy kunsbeskouing dat die digter deur kunsvolle woorde-op-papier, dus in en deur sy digterskap, oor die reële verganklikheid kan triomfeer, in die jare vorentoe verwerklik word. (...) Dit kan met reg gesê word: elkeen van ons en elkeen wat na ons kom vir wie die liefde vir die Afrikaanse taal en die fyn geestespel van die poësie betekenis het/sal hê, sal Ernst van Heerden se waardevolle bydrae tot ons taal en letterkunde onthou.” (Tydskrif vir Letterkunde, Desember 1997)
  • Johann de Lange: “Met die dood van Ernst van Heerden het daar ’n einde gekom aan die skeppende lewe van een van Afrikaans se bekendste en mees gerespekteerde digterstemme. (...) ’n Ou gesegde lui: As iemand sterf, is dit soos ’n biblioteek wat afbrand. Des te meer so wanneer daardie persoon ’n skrywer en kreatiewe gees is. (...) In ’n brief skryf hy na aanleiding van ’n vriend se verlies: ‘The death of love evokes the love of life.’ En dit is wat Ernst se laaste maande so pynlik gemaak het vir sy vriende: dat hy geen plesier meer aan die lewe gehad het nie. Sy laaste twee bundels was sterk elegies, beide het in die seisoen van afskeid gestaan. Daar was by Ernst ’n droefheid oor wat van ons land geword het, en oor sy greep op die lewe wat sienderoë begin glip het. Ten slotte, in sy ‘weerlose uur’, was hyself die gefusilleerde wat in sy laaste verse momente van vreugde opgeroep het, maar dan gesien in herfstelike lig; wat die laaste maande en weke voor sy dood soos ’n veroordeelde daardie sekondes voor die skietbevel as ’n ewigheid ervaar het.” (Radio Sonder Grense: Skrywers en Boeke, 12 Oktober 1997)
  • Aart de Villiers: “Ernst het die poësie onder meer gesien as ’n poging om met die lewe versoen te raak. Die beoefening daarvan bring selfkennis, het hy gesê. Hoe meer hy geskryf het, hoe beter het homself leer ken. Wat hy veral aantreklik gevind het, was die vormgewing wat poësie geverg het, die dissipline van die genre. Vir hom word 'n gedig 'n oefening in taalbeheer, en om beheer te kan word, is een van die taal se fassinerendste eienskappe. Hy het altyd gewerk, geskaaf, verfyn aan sy gedigte sodat hulle perfek afgewerkte kunsvoorwerpe geword het. (...) Voor in Die herfstelike lig staan reëls van Thom Gunn (‘Memory unsettled’) wat vir Ernst besondere betekenis gehad het:

When near your death a friend
asked you what he could do,
‘Remember me,’ you said,
We will remember you.

“Ons sál, Ernst, ons sal inderdaad, ou vriend!” (Rapport, 5 Oktober 1997)

  • Hans Ester: “Zijn geest was van zijn jeugd af aan gericht op het vastleggen, het laten stollen van beelden. Poëzie was voor Ernst van Heerden altijd een verovering van een ding, een houding, een gestalte op de tijd. Het verbale en visuele zijn bij hem vanaf het gegin zeer nauw met elkaar verbonden.” (Zuid-Afrika, November/Desember 1997)
  • Joan Hambidge: “Tog kan ’n mens nie ons digkuns sonder Ernst van Heerden voorstel nie. Die sterk beeldende vermoë en onvergeetlike reëls soos die vlermuis wat ‘aan sagte tepels van die sterre drink’! Om sy sterk metaforiek, sy geweldige erudisie, sy kompromislose besegging van verlies (liggaamlik en geestelik) sal ons Ernst van Heerden se digkuns herdenk:

Aan die verhuisingsmanne:
Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit ’n hele lewe
met sy drome
en verlanges in;
(Uit: Tyd van verhuising)
“Mag die lesers van Ernst van Heerden hom ook saggies dra.” (Beeld, 10 Oktober 1997)

  • Charles Fryer (op Ernst van Heerden se 80ste verjaardag): “Deur poëtiese skepping het Ernst van Heerden nie net sin gegee aan sy verminkte hier-wees nie, maar opnuut getoon poësie is meer as net ’n tydverdryf of ’n gebruiksartikel. Dis so wesenlik deel van ons bestaan as vriendskap of pyn. (...) Ek onthou hoe hy met gepaste byvoeglike naamwoorde help as jy sukkel om jou presiese reaksie op sy skryfwerk te formuleer. Baie van hierdie indrukke sal dalk later vervaag, maar sy mooiste en waarste reëls, dié wat jy in jou bloedstroom opgeneem het, sal ’n menstyd lank onvervreembaar deel van jou wees. En aan die digter op tagtig: Mag jy in die aand wat ‘vroeër as wat verwag is’ gekom het, skrynend helder brand. Die veeg kruitbrand aan jou is bewys van die smeltkroes waardeur jy as mens gekom het, met die deernis van die liefde as wapenrusting. ‘Dra saggies, gode ...’” (Volksblad, 21 Maart 1996)
  • Grütter, Wilhelm: “Ernst van Heerden was iets heel anders as ander professore. Hy was ’n sportmens, wat in frokkie en drafbroekie, natgesweet op Coetzenburg, vir jou sou wuif terwyl hy hom uitleef: dosent en digter en gewigopteller tegelyk. (...) Lewe en letterkunde, liggaamskultuur en die digkuns, kon ’n mens by hom leer, was een. Daar was aan hom iets heel en vol, verrykend ook vir almal om hom. Daarom dat ’n mens sowat 20 jaar later, toe albei sy bene afgesit moes word, dit diep nadenkend oor die ironiese lot van die lewe ervaar het. Maar juis omdat hy so ’n deurleefde mens was, kon Van Heerden dit meesterlik verwerk, ook vir diegene rondom hom. (...) Die herfstelike lig toon egter ook dat die digter – wat hom vorstelik kon verlustig in die Engelse poësie – reeds die klop van die wiel in sy lewe gehoor het. (...) Die gedig ‘Jarig’ sluit af met:

Tog: al meer en meer aandringend
word die kruisswaar las
van net eenvoudig aanhou te moet leef.

          “Om hom te vergeet sou onmoontlik wees.” (Volksblad, 4 Oktober 1997)

  • JC Kannemeyer (op Ernst van Heerden se 75ste verjaardag): “In die geval van Van Heerden bly die beeld van sy poësie as sodanig die leser by. Die geheel van sy oeuvre is dus meer as die som van sy onderdele. Trouens, as ’n mens Van Heerden se latere poësie nagaan, is dit opvallend hoe temas uit sy vroeëre werk in gewysigde vorm en met groter emfase terugkeer, ’n aanduiding van die wyse waarop hy deur die jare aan homself getrou gebly het en tot ’n digter van formaat ontwikkel het.” (Volksblad, 21 Maart 1991)
  • Tim Huisamen (op Ernst van Heerden se 75ste verjaardag): “’n Ou grappie – miskien van die self-ironiserende digter self – is dat Ernst van Heerden ’n ‘minor poet’ is. Nou in die maand van sy 75ste verjaardag, weet ons dat die ‘minor’ geskrap kan word: Van Heerden is nie net senior digter nie, hy is ’n meesterlike digter. Min digters kon die slytasie van die tyd so lyflik ervaar het soos Van Heerden. Wat hy betaal het aan lyding en liggaamlike verlies, het mildelik in van die skoonste poësie in Suid-Afrika teruggekeer. Groei, aftakeling, tyd, tydloosheid en die dood was altyd in sy werk aanwesig. Die mens staan in die dwang van sy tyd, maar by Van Heerden het ’n mirakel geskied: Hy het nie net saam met die tyd gegroei nie, maar ook in die tyd en uiteindelik buite die tyd. (...) Die digter is nie net profeet nie, maar rook magus. Ernst van Heerden het iets blywends geskep wat die tydelike van ons liggaamlike gaan oorleef. Die digter skep waar niks was nie en so oorleef hy ook die verskrikking van die koraal van die dood en skenk hy aan ons die amulet van die vuur.” (Insig, Maart 1991)

Ná sy dood het Ernst van Heerden sy versameling van Afrikaanse poësie aan die Suid-Afrikaanse digter Lucas Malan nagelaat, maar hy het dit goedgunstiglik geskenk vir opname in die Poëziecentrum in Gent, Vlaandere (wat die grootste en mees geraadpleegde poësieversameling in die Nederlandse taalgebied is). Toe Van Heerden voor sy dood in September 1997 gepols is oor die moontlikheid om sy poësieversameling in die Poëziecentrum in hierdie kultuurryke Belgiese stad te laat opneem, was hy heel inskiklik, aangesien hy sy doktorale studie aan die RU Gent gedoen het. Hierdie versameling is op 27 November 1998 in Gent, Vlaandere, amptelik tydens ’n geselligheid in ’n historiese gebou op die Vrijdagmark aan die Poëziecentrum oorgedra. http://www.poeziecentrum.be/de-ernst-van-heerden-collectie-ontstaan-en-context-4

Ernst van Heerden se testament het bepaal dat R10 000 aan die Universiteit van die Witwatersrand moes gaan vir die Ernst van Heerden Kreatiewe Skryffonds. R5 000 elk is ook aan Rhodes Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat bemaak vir beurse in die onderskeie taaldepartemente.

Publikasies

Publikasie

Ses gedigte / Six poems

Publikasiedatum

19–

ISBN

(sb)

Uitgewers

Stellenbosch: Pro Ecclesia

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Weerlose uur

Publikasiedatum

  • 1942
  • 1943
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Verklaarde nag

Publikasiedatum

  • 1946
  • 1956

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Die sewe vrese

Publikasiedatum

1951

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Constantia

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Die bevryding

Publikasiedatum

1952

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Balkema

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Reisiger

Publikasiedatum

  • 1953
  • 1977

ISBN

0798107316 (hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Koraal van die dood

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Balkema
  • Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

The language of the poet

Publikasiedatum

196–

ISBN

(sb)

Uitgewers

Onbekend

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Die klop

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1962

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Etikette op my koffer: bladsye uit ’n Amerikaanse reisjoernaal

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1965
  • 1966
  • 1967

ISBN

Kaapstad: Human & Rousseau

Uitgewers

Reisjoernaal

Literêre vorm

 

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

NP van Wyk Louw

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1967

ISBN

(sb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Studiegids

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Op die mespunt: ’n keur uit sy gedigte. Deur AP Grové

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Rekenskap: letterkundige opstelle

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewers

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Wolk van die mooi weer: ’n Suid-Amerikaanse reisjoernaal

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reisjoernaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Aamborstige klok: herinneringe aan ’n Karoojeug

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1968

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Herinneringslektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Anderkant besit

Publikasiedatum

  • 1966
  • 1970

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Die ander werklikheid: letterkundige beskouings

Publikasiedatum

1969

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Nasionalisme en literatuur

Publikasiedatum

1969

ISBN

(sb)

Uitgewers

Johannesburg: Witwatersrand University Press

Literêre vorm

Intreerede

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Teenstrydige liedere

Publikasiedatum

1972

ISBN

O624003140 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1975

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Tyd van verhuising

Publikasiedatum

  • 1975
  • 1976
  • 1989

ISBN

  • 0624006603 (hb)
  • 0624028046 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Die ysterwoud

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008401 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Digterlike diagnose

Publikasiedatum

1977

ISBN

0624009874 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Die digter as chromatometer: aspekte van kleurgebruik in die poësie van NP van Wyk Louw

Publikasiedatum

1978

ISBN

0869701231 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

NP Van Wyk Louw-gedenklesing

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Kleur van donkerte: Verse 1942–1956

Publikasiedatum

1981

ISBN

0798111259 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Kanse op ’n wrak

Publikasiedatum

1982

ISBN

0624018067 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Publikasie

Huis van stemme: aantekeninge oor die poësie

Publikasiedatum

1984

ISBN

0624020738 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

Die swart skip

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022137 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

Publikasie

The runner and the shadow: a selection

Publikasiedatum

1986

ISBN

0624023613 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertalings van sy gedigte deur outeur self en Jean Branford

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geskrifte oor Ernst van Heerden en sy werk:

Artikels oor Ernst van Heerden beskikbaar op die internet:

 Gedigte en artikels deur Ernst van Heerden beskikbaar op die internet:

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-07-09
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top